Jesus as mens

Jesus as mens

Jesus is die Seun van God wat mens geword het. Nou is daar mense wat sê dat Jesus nie regtig mens geword het nie, terwyl ander weer sê dat Jesus net mens was en nie God ook nie. As ons na die Bybel kyk, is een ding seker: Jesus was regtig mens gewees

Ons hoef nie ver te soek om te sien hoekom ʼn mens so kan sê nie. Jesus is soos ʼn mens uit ʼn ma gebore (Matteus 1-2 en Lukas 1-2). Hy het nie uit die hemel geval nie. Hy het tussen broers en susters in ʼn familie grootgeword. Hy het ook honger gekry en was ook dors na ʼn lang stap in die warm son (Johannes 4). Sy hart kon ook seer word, ja, Hy kon selfs huil (Johannes 11:33,38). Net soos ons het Hy ook liefgehad (Johannes 11:5) en was ook bang (Matteus 26:37). Hy het ook fisies gely toe Hy geslaan en uiteindelik aan die kruis vasgespyker is. Daar is Hy ook as mens dood.

Jesus was mens… maar Hy was ook meer.

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




God was self betrokke by die totstandkoming van die Bybel (Inspirasie van die Bybel)

God was self betrokke by die totstandkoming van die Bybel (Inspirasie van die Bybel)

In 2 Timoteus 3:16 staan daar dat die hele Skrif deur God geïnspireer is.

Hoewel Paulus waarskynlik hier net Ou-Testamentiese boeke in gedagte gehad het (die Nuwe Testament het toe nog nie bestaan nie), kan die woorde net so wel op die hele Bybel van toepassing gemaak word. God was betrokke by die totstandkoming van die Skrif. Die vraag is hoe? Hier word gesê dat Hy die Skrif geïnspireer het. Dit word natuurlik op verskillende maniere geïnterpreteer. Sommige sê dat dit beteken dat die Heilige Gees self die skrywer van die Bybel was. ʼn Mens kan jou byna voorstel dat die Gees die hand van die skrywer van ʼn betrokke boek van die Bybel gevat en daarmee “geskryf” het. Ons noem dit meganiese inspirasie. Ander sê dat die Gees nie die hand van die skrywer rondgestoot het nie, maar wel gesorg het dat die skrywer die waarheid neerskryf. Die skrywer was dus deur die Gees beïnvloed om die waarheid neer te skryf. Dan is daar mense wat sê dat die lees van die Bybel deur God geïnspireer is. Met ander woorde, die woorde op die papier is nie geïnspireer nie, maar wanneer jy dit lees, maak God die woorde en boodskap in jou kop lewendig. So is daar baie teorieë oor wat presies die inspirasie van die Skrif beteken. Hoe ons dit nou ook al mag verstaan… een ding is seker: God staan agter die boek wat ons as die Bybel ken. Dit is sy boodskap en sy woord

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Ons wete dat God sy beloftes hou (Hoop)

Ons wete dat God sy beloftes hou (Hoop)

Hoop is vir Christene belangrik, soos vlerke vir ʼn arend.

Soos vlerke die arend die ruimtes indra, dra hoop die Christen die toekoms in. Christelike hoop is nie iets soos om te “hoop dit reën” nie. Dit is nie iets onsekers nie. Nee, Christelike hoop is om seker te wees iets gaan gebeur, jy weet net nie wanneer nie. Jy kan seker wees, want Christelike hoop is altyd op die beloftes en teenwoordigheid van God gebou. Daarom is die hart van Christelike hoop vertroue. Ons hoop byvoorbeeld op die koms van Jesus… dit is seker dat Hy weer gaan kom, ons weet net nie wanneer nie. Ons hoop om saam met God in die hemel te wees… ons weet ons gaan, maar wanneer dit gaan gebeur, is nie seker nie. Daarom is hoop die Christelike eienskap wat ons laat volhard as dit swaar gaan, wat ons ʼn vaste doel in ons lewe gee. Ons weet ons kan op God vertrou. Dit laat ons die toekoms inkyk op die vlerke van die beloftes van God.

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Man en vrou moet een wees (huwelik)

Man en vrou moet een wees (huwelik)

Hoewel die manier waarop ons vandag trou en die manier waarop mense in die Bybelse tyd getrou het, verskil, staan die feit dat mense moet trou vas. God wil dit so hê. Die “hoe” is nie so belangrik nie, maar die “dat”.

Volgens Genesis 2:20-25, wat nogal dikwels in die Nuwe Testament aangehaal word, het God man en vrou vir mekaar gemaak. Die plek waar hulle saam moet bly, is die huwelik. Dit is die ruimte wat God vir hulle gegee het om saam met mekaar te leef, seks te hê, ʼn gesin groot te maak, en mekaar sommer net te geniet. Binne die huwelik moet hulle egter “getrou” aan mekaar wees; daarom sê ons man en vrou “trou” met mekaar. As hulle met mekaar trou, moet hulle ook besef dit is ʼn band wat hulle lewenslank bind. Hulle kan nie maar net vir ʼn rukkie saam wees en dan sommer koers verander en saam met iemand anders gaan bly nie. Dit doen jy as jy met iemand uitgaan of net saam is. As jy egter besluit om met iemand te trou, is dit lewenslank.

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy