Ou-Testamentiese gebruike steeds geldig vir Nuwe-Testamentiese gelowiges? – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Boodskapteks: Waarom preek sommige predikers teen die Ou Testament en die gebruike daarin, soos: die blaas van die ramshoring; die Sabbat van Vrydagaand tot Saterdagaand; bid onder ’n tallit?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die saak wat aangeroer word het te make met die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament. Wát van die Ou Testament (OT) is steeds geldig vir Nuwe-Testamentiese (NT) Christene en wat kan laat vaar word? Dis nie so ’n eenvoudige vraag nie, want dink maar aan die bestaan van die Sewende Dag Adventiste Kerk wat weliswaar NT-Christene is maar steeds die OT Sabbat onderhou; met ander woorde, hulle vier die rusdag op die sewende dag van die week (Saterdag) en nie op die eerste dag van die week (Sondag) soos wat die meeste Christene vandag doen nie.

Die verhouding OT en NT kan basies in terme van kontinuïteit en diskontinuïteit verstaan word. Oor kontinuïteit: Dat daar ’n duidelike lyn loop tussen OT en NT, en dat die NT outeurs gedrenk is in die OT agtergrond ly geen twyfel nie. Dink maar net aan ’n boek soos Openbaring wat onverstaanbaar is as jy dit nie teen die OT agtergrond verstaan nie. Die beeldspraak en uitdrukkings wat in Openbaring voorkom het almal ’n OT herkoms. Dieselfde met ’n boek soos Hebreërs. Hier word Jesus as die eenmalige Hoëpriester voorgehou wat Homself as volmaakte en ewige offer aan die kruisdood oorgegee het. Die hele argument van Hebreërs en die uitvoerige redenasie in Hebreërs 7-9 oor Jesus se hoëpriesterskap sal heeltemal by ’n mens verbygaan as jy dit nie verstaan teen die agtergrond van die OT offerkultus en die hoëpriesterfiguur soos dit in die tabernakel- en tempelkultus gefigureer het nie. En dan moet ons ook onthou dat die eerste Christene oorwegend Jode was. En hulle het ’n messias uit die koningshuis van Dawid verwag. As Jesus dan die Seun van Dawid genoem word (vgl Matt 1:1), is dit slegs te verstane vanuit hierdie OT verwagting. Jesus se Messiasskap staan dus in direkte kontinuïteit met die beloftes wat God in die OT aan die Dawidshuis gemaak het (2 Sam 7:16,25-29; Luk 1:32-33; Hand 2:29-30; 13:22-23).

Maar daar is ook diskontinuïteit tussen OT en NT. Alles wat die vroeë Christene geglo het was nie bloot net ’n voortsetting van hulle OT geloof nie, maar het dikwels ook ’n breuk daarmee veroorsaak en ’n nuwe koers ingeslaan. Neem weereens die konsep “messias”: die populêre verwagting onder die Jode was dat die messias ’n militêre figuur sou wees, maar Jesus het die messiasverwagting nuut gevul toe Hy as die lydende Messias geopenbaar is, ’n idee wat lynreg teen die Jode se populêre messiaanse verwagtinge ingedruis het. Dan is daar die nagmaal. Die agtergrond hiervan lê in die OT pasgamaal, wat gevier is ter herdenking van die verlossing uit Egipte waar die Israeliete slawe was. Maar die pasgamaal kry ’n nuwe betekenis as Jesus Self as die paaslam gesien word, en die brood en wyn, wat vaste elemente van die pasgamaal was, nou heenwys na die liggaam en bloed van Jesus wat aan die kruis gebreek is en gevloei het as versoening vir ons sondes. So ook die Christelike doop: waar in die OT die besnydenis dié teken was van inlywing by die verbond met God, word dit nou die doop in die Naam van Jesus, en later in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees (vgl Kol 2:9-12; Matt 28:19). Dit het weliswaar lank geduur voordat besef is dat nuwe volgelinge van Jesus uit die heidendom nie eers Jode hoef te word en dus die besnydenis moet ondergaan voordat hulle volwaardige Christene kan wees nie. Hierdie stryd word vir ons in Handelinge 15 beskryf. Dieselfde met die Sabbatsviering wat Sondagviering geword het. Die rede vir laasgenoemde was die opstanding van Jesus wat op die eerste dag van die week (Sondag) plaasgevind het. Aanvanklik het die Jode-Christene steeds die Sabbat gevier, maar ook op die eerste dag van die week bymekaargekom om die opstanding van Jesus uit die dood te vier. Gaandeweg het dit egter net die Sondagviering geword en is die Sabbat nie meer onderhou nie, hoewel elemente van die Sabbat behoue gebly het, soos die rus, viering van die verlossing en van die gemeenskap van die gelowiges. In dié sin onderhou Christene steeds die vierde gebod (“Sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou”), maar nou soos verstaan vanuit die koms en opstanding van Jesus Christus.

Dit alles dui dus daarop dat daar wel kontinuïteit met die OT geloof en gebruike is maar terselfdertyd diskontinuïteit; alles het eenvoudig ’n nuwe inhoud en betekenis gekry in die lig van die gebeure rondom Jesus Christus. Die Christendom / Nuwe Testament is dus in hierdie sin van die woord nie bloot ’n “opgewarmde” Jodedom / Ou Testament nie, maar ’n radikale herinterpretasie van die oue. Ons moet dus baie versigtig wees om sekere OT gebruike op ’n lukraak manier te laat herleef net omdat dit in die OT voorkom en ’n interessante godsdienstige kleur het. Paulus waarsku ook hierteen in Kolossense 2:16-23, dat mense (waarskynlik Jode-Christene) nie aan die gemeente moet probeer voorskryf om steeds die jaarlikse Joodse feestye, nuwemaansfeeste of die Sabbatdag te onderhou nie. Hierdie feeste was net ’n skaduwee van wat sou kom, naamlik die nuwe werklikheid in Christus. Indien ’n mens dus die oue teen alle goeie sin in sou laat voortduur, sit jy later met allerlei wettiese voorskrifte wat die skyn van vroomheid het maar eintlik net ’n selfgemaakte godsdiens is en nie blyke daarvan gee dat daar ’n nuwe werklikheid in Christus tot stand gekom het nie.

Hiermee wil ek egter nie sê dat die OT nie ontgin kan word vir sinvolle gebruik deur NT gelowiges nie. Die blaas van die ramshoring (Hebreeus: sjofar) by bepaalde uitgesoekte geleenthede kan seker dramaties en inspirerend vir die geloof wees. Maar ons moet ook besef dat die ramshoring as sodanig uit ’n bepaalde kultuur en tyd stam wat nie noodwendig vandag verstaanbaar sal wees nie. Dieselfde met die tallit. Dit lyk baie mooi om so met ’n Joodse kop- en skouermantel te aanbid, maar dan moet die simboliek daarvan verduidelik word (bv uit Num 15:37-41). Dit moet ook deeglik besef word dat hierdie gebruik geen waarborg is vir groter geestelikheid nie. Dit is bloot ’n simboliese gebaar dat jy jou ten volle oopstel vir die Woord van God, wat in bepaalde omstandighede sinvol kan wees. Weereens: oppas vir ’n nuwe wettisisme wat OT gebruike laat herleef omdat mens dink dat daarmee ’n meer egte geloofsomgang met God herwin of bewerkstellig kan word. Ons moet steeds Paulus se waarskuwing in Kolossense 2 onthou (kyk hierbo), om nie die een in Johannes 4:24 te vergeet nie: “God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Ons is in die eerste instansie NT gelowiges, ons aanbid die lewende God wat Hom in Christus geopenbaar het. Ons kan nie terugkeer na ’n voor-Christelike, OT era en dink dat ons daardeur God beter sal dien nie.

Ten slotte wil ek die vraagsteller graag verwys na ander bydraes op die Bybelkennis.co.za-webblad waar uitvoerig oor die verhouding Sabbat en Sondag gehandel word, asook oor die ramshoring. Sleutel net “Sabbat” in by die soekblokkie en lees die artikels oor dié onderwerp. My eie artikel hieroor kan onder die titel “Geld die Tien Gebooie steeds?” gevind word. In laasgenoemde word ’n hele uiteensetting gegee van hoe die oorgang van Sabbat na Sondag plaasgevind het. Oor die ramshoring kan die interessante artikel van prof Adrio König gelees word. Titel: “Terug na die Ou Testament: Allerlei (2). 6.2 Die ramshoring.”

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Wie mag inseën? – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Ek het u artikel gelees rondom die verskil tussen doop of inseën. Die beplanning is dat my kleindogter binnekort ingeseën word. Ons is Gereformeerd en haar ouers Pinkster. Hulle predikant is onlangs oorlede en my kleindogter se pa het besluit hy wil self sy dogter inseën. Ons stem nie daarmee saam nie en dit veroorsaak spanning, ook omdat ons nie die geleentheid wil uitstel nie.

Wie mag ’n inseëning behartig? My gedagte was dat my man die seremonie waarneem en dan steeds die ouers toelaat om hul dogter in te seën. (My man is tans ’n diaken; hy moes as ouderling bevestig word maar weens die Covid-regulasies het die bevestiging nog nie plaasgevind nie.)

Ek soek asb raad hieroor, want my man sê hy is nie in ’n posisie om sy kleindogter aan die Here te wy en die seremonie waar te neem nie. Sy gevoel is dit moet ’n predikant (geordende leraar) van die kerk wees. Ons kinders bly ook nie meer in dieselfde dorp as waar hulle gemeente was nie, met die gevolg dat hulle nie ’n kerk bywoon nie, slegs selbyeenkomste. U bydrae sal hoog waardeer word.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hier is ’n hele paar kwessies wat liefs persoonlik met al die betrokkenes rustig deurgepraat moet word, omdat mens met sulke sake nie oorhaastige besluite wil neem waaroor jy later spyt mag wees nie. Veral nie as daar verskil van mening is oor wat moet gebeur nie. Dit is ook nie vir my heeltemal duidelik wat die status van die selgroep is waaraan die ouerpaar behoort nie; funksioneer dit op sy eie of is dit deel van ’n groter gemeente? Indien laasgenoemde, dan sal my redenasie hieronder nog meer sin maak.

Ek wil graag voorstel dat julle met ’n leraar van die ouerpaar se kerk gaan gesels om te hoor wat hy of sy voorstel. (Dit is per slot van sake die ouerpaar se kerkgenootskap wat hier die deurslag behoort te gee, want dit is waar die kind gaan opgroei.) Al is die leraar van die gemeente waaraan die ouerpaar behoort, oorlede, kan mens steeds met ’n ander leraar uit daardie kerkgenootskap gaan praat sodat hy/sy kan leiding en raad gee. En weer eens, daar is geen haas nie, want wat met ’n inseëning of doop gebeur, is in ’n sekere sin slegs ’n de jure (amptelike) voltrekking van ’n de facto (feitelike) situasie. Daarmee bedoel ek: die feit dat daar bietjie gewag word om duidelikheid oor alles te kry, gaan niks verander aan die dogtertjie se “sielestatus” voor God nie. As kind van gelowige ouers is sy in elk geval opgeneem in God se genade en veilig in sy hoede.

Voortvloeiend uit bostaande gedagtes gaan ek ’n paar algemeen teologiese opmerkings maak wat dalk ’n breër perspektief kan gee op die kwessie van wie mag inseën of doop.

Ons moet onthou dat die doop of inseëning van ’n kind ’n amptelike kerklike handeling is, nie ’n privaat aangeleentheid nie. Daarom is dit nie aan te beveel dat die pa of oupa dit waarneem nie. Die reël wat die meeste kerke volg – hetsy Gereformeerd of Pinkster – is dat die inseëning of doop deur ’n geordende leraar van die kerk uitgevoer word. Want so word die kind amptelik lid van die kerk. In die Gereformeerde tradisie praat ons byvoorbeeld van so ’n kind as ’n dooplidmaat, met ander woorde hy/sy, hoe klein ook al, is reeds lidmaat van die gemeente, al het hy/sy nog nie belydenis van geloof afgelê nie. Dooplidmate se name word ook amptelik in die kerklike rekords opgeneem, en die gemeente neem dus – saam met die ouers – verantwoordelikheid vir hulle geloofsopvoeding.

Die rede waarom die doop of inseëning deur ’n geordende leraar waargeneem moet word, is die noue verband tussen Woord en sakrament. Die sakrament van die doop is nie ’n magiese, selfstandige handeling op sy eie, los van die Woordverkondiging nie, maar kry juis sy betekenis vanuit die bediening van die Woord. Dis dan ook een van die redes waarom in kerke wat net groot doop, daar eers ’n belydenis van geloof moet wees voordat die doop bedien word. Die Woord moes eers ingang gevind het by die dopeling voordat gedoop word. En dit kan net gebeur as iemand die Woord verkondig het. En daardie iemand – afgesien van die ouers – is die leraar; dis by uitstek die taak van die leraar om amptelik die lewende Woord van God te verkondig. Daarom is hy/sy ook die een wat die sakrament moet bedien, die sakrament wat sy “krag” uit die Woord kry. Natuurlik, in die Pinksterkerke is die inseëning nie ’n sakrament (soos die doop en nagmaal) nie, maar dis tog ’n amptelike handeling. En gewoonlik is dit so dat as die leraar dit nie kan waarneem nie, dit amptelik aan ’n ouderling of ander ampsdraer in die kerk opgedra word. Verder, die doop/inseëning is nie net ’n amptelike handeling nie, maar vind ook in die openbaar plaas, voor die oë van die hele gemeente. Almal neem kennis dat kind so-en-so nou opgeneem word in die gemeente en deel daarvan is. Soveel te meer rede dus dat die inseëning deur ’n geordende leraar gedoen word.

Met hierdie beredenering het ek net ’n teologiese konteks probeer skets waarbinne my raad verstaan moet word, naamlik dat dit beter is om die amptelike weg te loop, veral as die selgroep waaraan die ouerpaar behoort deel is van ’n groter gemeente of kerkgenootskap. Dan is dit altyd beter om eers te wag dat daar ’n nuwe leraar kom of dat ’n ander leraar die inseëning doen. Ook ter wille van die dogtertjie soos sy groter word. Dan weet sy presies waar sy tuishoort. Ek is oortuig daarvan dat die kerk waaraan die ouerpaar behoort ’n spesiale reëling sal tref met die inseënings terwyl die gemeente tans sonder leraar is.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Name in die Ou Testament – Francois Malan

Leser vra:

Waar staan dit dat twee kinders die name wat plunder en roof moet wees?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die 2020-vertaling van die Afrikaanse Bybel is nader aan die oorspronklike Hebreeuse teks en word hier gevolg. In Jesaja 8:3-4 staan dat Jesaja by die profetes ingegaan het en sy het swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring. Toe het die HERE vir my gesê: Noem hom ‘Vinnig-buit-spoedig-roof’ in Hebreeus maher-sjalal-gasj-baz. Want voor die seun weet om te sê: ‘Pa!’ en ‘Ma!’ sal hulle die rykdom van Damaskus en die buit van Samaria voor die koning van Assirië uitdra. Dit volg op Jesaja 7. Damaskus, die hoofstad van Sirië, en Samaria, die hoofstad van Israel se tien noordelike stamme, het ’n verbond gesluit om Juda se gebied in te val en oor te neem, waar Agas koning van Juda in Jerusalem regeer het. Agas het toe vir Assirië ’n klomp goud gestuur wat hy van die tempel en die paleis gestroop het, om hom te kom help teen sy twee bure wat besig was om Juda se gebied oor te neem. Die HERE het vir Jesaja gestuur om vir Agas te sê die HERE sal hom help en hy kan ’n teken vra om dit te bevestig. Maar Agas het klaar sy hoop op Assirië geplaas en gesê hy gaan nie die HERE versoek nie. Toe gee Jesaja aan Agas ’n teken van die HERE: 7:14 en 16: Kyk, ’n jong vrou is swanger, en gaan ’n seun in die wêreld bring. Sy sal hom Immanuel (‘God is by ons’) noem… voordat die kind weet om die kwaad te verwerp en die goeie te kies, sal die grondgebied van die twee konings oor wie jy verskrik is, verlate lê. Jesaja het toe reeds by sy jong vrou ingegaan, wat swanger geword het en die seun in die wêreld gebring het. Die HERE het toe gesê hy moet die seun ‘Vinnig-buit-spoedig-roof’ noem. Dit is wat met Damaskus en Samaria gebeur het toe Salmaneser van Assirië hulle beleër het en Israel se tien stamme na Assirië in ballingskap weggevoer het (2 Konings 18:9-12). Dit het gebeur omdat die HERE by Juda was (Immanuel). Die Griekse vertaling het die Hebreeuse ‘jong vrou’ (‘alamah) met ‘maagd’ (parthênos) vertaal en Matteus 1:23 het die Griekse vertaling se maagd op Maria toegepas oor die geboorte van Jesus as God met ons, ‘Immanuel.’

Skrywer: Prof Francois Malan




Die skeldnaam Christen – Hermie van Zyl

Leser vra:

Hoe kan julle almal praat van Christene, as daar nie vir God so iets soos ’n Christen bestaan nie? Die Satan het tog die woord geskep in die mond van die vervolgers van die gelowiges/dissipels (kinders van God) om hulle te vloek (Hand 11:26).

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraagsteller aanvaar as vanselfsprekend dat die benaming “Christen” onder aanstigting van die Satan as ’n skeldnaam ontstaan het vir die volgelinge van Jesus, en verwys dan na Handelinge 11:26 as bewysplaas vir sy stelling. Maar hierdie aanname berus nie op goeie getuienis nie. Laat ek verduidelik.

Daar is slegs drie plekke in die Nuwe Testament waar die woord Christen voorkom: Handelinge 11:26; 26:28; en 1 Petrus 4:16. Laasgenoemde teks is die enigste van die drie waar “Christen” deur ’n Christen self (die skrywer van 1 Petrus) gebruik word om na die volgelinge van Jesus te verwys. Kennelik word dit hier in ’n positiewe sin gebruik: dit verwys na die lyding van gelowiges omdat hulle Christene is. Dit is dus al klaar ’n aanduiding daarvan dat “Christen” nie van huis uit ’n skeldnaam was nie maar ten tyde van die skrywe van 1 Petrus (waarskynlik in die tagtiger jare van die eerste eeu nC) as ’n selfbenaming deur Christene gebesig is.

Hierdie waarneming klop ook met die twee tekste in Handelinge, hoewel “Christen” hier nie in die mond van gelowiges voorkom nie. In Handelinge 26:28 word dit deur die Joodse koning, Herodes Agrippa II, gebesig, waarskynlik as ’n speelse manier om Paulus se vraag in v27 te ontduik. Hy wat Agrippa is glo weliswaar die Ou-Testamentiese profete, soos Paulus in v27 suggereer, maar dit beteken nog nie dat Paulus vinnig van hom (Agrippa) ’n Christen kan maak nie. Ongeag hierdie “speelse” antwoord is daar niks veragtelik of verkleinerend in die manier waarop Agrippa die woord Christen gebruik nie. So tref ons dit ook aan in Handelinge 11:26. Hier word vermeld dat die gelowiges in Antiogië vir die eerste keer Christene genoem is. Die vraag is, deur wie? Die waarskynlike antwoord is: deur die nie-Christelike Griekse bevolking van die stad. Want die Jode het die volgelinge van Jesus nie Christene genoem nie, maar “Galileërs” of “Nasareners” (vgl Luk 22:59; Hand 24:5), laasgenoemde waarskynlik ’n verkleinerende term (vgl Joh 1:46). En die gelowiges het na hulleself as “broers”, “dissipels”, “heiliges”, “mense van die Weg”, en “die kerk van God” verwys.

Maar hoekom “Christene” vir die eerste keer in Antiogië? Dit was hier dat die evangelie veral onder die heidene ingang gevind het en baie van hulle gelowig geword het (vgl Hand 11:20-26). Op sy beurt het dit tot allerlei spanninge in die gemeente gelei, wat bestaan het uit gelowiges uit die Jodedom en dié uit die heidene. Die geskilpunte het gegaan oor die besnydenis en Joodse eetgebruike wat van die heiden-gelowiges verwag is; ons lees hiervan in Handelinge 15 en Galasiërs 2:11-14. Die punt is egter dat die gelowiges in Antiogië vir die eerste keer nie net uit Jode bestaan het nie, maar ook uit Griekssprekende heidene. Dit het tot gevolg gehad dat die gemeente al hoe meer as ’n afsonderlike groep naas die Joodse sinagoge deur die mense van Antiogië beskou is, wat ook tot ’n aparte benaming vir die gelowiges gelei het. Dit was veral die Griekssprekende deel van die bevolking wat die titel Christus (Grieks: Christos) as ’n eienaam verstaan het en dit ook op Christus se volgelinge begin toepas het (Christianoi). Dit was dus glad nie as ’n skeldnaam bedoel nie, maar was bloot ’n neutrale verwysing na daardie groep mense wat volgelinge van Christus was.

Vir volledigheid kan net genoem word dat daar ’n interpretasie bestaan dat die naam “Christene” deur die Romeinse owerhede van Antiogië vir die gelowiges gebruik is, om laasgenoemde as ’n vyandige groep te brandmerk. Maar hierdie siening gaan nie op nie. Afgesien daarvan dat daar niks in die teks of konteks van Handelinge is om dit te ondersteun nie, is dit ook hoogs onwaarskynlik dat Lukas, die skrywer van Handelinge, die Romeine so in ’n slegte lig sou stel. Een van die kenmerke van Handelinge is juis dat die Romeine telkens in ’n gunstige lig geplaas word en selfs as “beskermers” van die evangelie voorgehou word. Paulus word byvoorbeeld deur die Romeinse kommandant in beskerming geneem teen die Jode (Hand 21:34-40; 22:22-30; 23:10,16-35). Die Christene word ook deurgaans as ’n beweging voorgestel wat geen gevaar vir die Romeinse owerhede inhou nie (vgl bv Hand 26:30-32). Trouens, die leser van Handelinge kry die indruk dat die evangelie sy vrye loop kan neem, ten spyte van baie struikelblokke, juis omdat die Romeinse staatsbestel nie as sodanig vyandig ingestel is teen die Christelike boodskap nie. Dit alles dui maar net daarop dat die naam “Christen” nie ’n skeldnaam was nie, in elk geval nie in Handelinge nie.

Hiermee word natuurlik nie beweer dat die Christene nie erge verkleinering, bespotting en vervolging in die beginjare moes verduur nie. Die Romeinse geskiedskrywer, Tacitus, het die Christene byvoorbeeld gebrandmerk as “haters van die mensdom” (odium humani generis). Daarmee het hy bedoel dat hulle met hulle afkeer aan praktyke wat van alle gehoorsame onderdane verwag is, byvoorbeeld die keiserverering en deelname aan die staatsgodsdiens, die gramskap van die gode kon ontlok en so die gemeenskap in gevaar stel. Die Christene is ook vals beskuldig van bloedskendige gebruike (omdat almal mekaar broer en suster noem), en dat hulle gereeld ’n kind offer en dan die bloed en vleis verorber (die nagmaalsviering). En nog baie ander absurde aantygings uit onkunde. Die naam Christen sou dus seer sekerlik in bepaalde kringe allerlei negatiewe konnotasies opgeroep het, soos in die omgewing waaraan die eerste Petrusbrief gerig is. Hierdie brief word omtrent in sy geheel gewy aan die sosiale uitsluiting en verontregting wat Christene in Klein-Asië moes verduur weens die feit dat hulle Christene was (1 Pet 4:16). Geen wonder dat hulle deur die skrywer van 1 Petrus “vreemdelinge” en “bywoners” genoem is nie (1 Pet 1:1; 2:11). Maar dit beteken nie dat die naam Christen as ’n skeldnaam ontstaan het nie. Nee, die ontstaan lê gewoon in die feit dat dit afgelei is van die naam Christus, en dat dit oorspronklik die volgelinge van Christus aangedui het. Dit bly dus steeds ’n naam wat elke volgeling van Christus vandag met groot dankbaarheid kan dra, selfs al moet mens soms die koue skouer ontvang weens die negatiewe konnotasies wat buitestanders aan die naam heg.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl