Nuwe Bladbaas vir Bybelkennis.co.za

Dit was vir die span van Bybelkennis.co.za ‘n groot hartseer dat dr Coen Slabber, die bladbaas (administrateur) van die begin van die webblad se bestaan af, ons ontval het.

Dr Johan Voges, emeritus predikant van die Ned Geref Gemeente Lynnwood, het egter goedgunstiglik ingewillig om die administratiewe sake van Bybelkennis.co.za oor te neem. Die Bybelkennisspan sien daarna uit om met hom saam te werk. Wie meer oor hom wil weet kan gerus na sy lewensloop kyk wat elders op die webblad verskyn. Biografie




Onvergeeflike Sonde – Hermie van Zyl

Van: Shaun Reed

Onderwerp: Die onvergeeflike sonde

Boodskapteks: Ek het na verskillende mense geluister in verband met die onvergeeflike sonde. Ek wil net by julle hoor of ek korrek verstaan. Wat ek verstaan, is: God vergewe ’n persoon alles, alle sondes, behalwe as iemand sy rug op Jesus Christus draai, dit wil sê, as iemand Jesus Christus verwerp. As iemand geloof in Jesus Christus weier, kan God dit nie vergewe nie. Met ander woorde, God vergewe die Christen (die gelowige in Jesus Christus ) alles, al sy sondes, want hy het Jesus Christus aanvaar en glo in Jesus Christus.

 

Prof Hermie van Zyl Antwoord

Die onvergeeflike sonde (Matteus 12:31-32) of “sonde tot die dood” (1 Johannes 5:16-17) word ook die sonde teen die Heilige Gees genoem. Hulle handel almal oor een en dieselfde saak. In my behandeling hieronder hanteer ek hulle dus saam.

Baie gelowiges is bekommerd daaroor dat hulle dalk die sonde teen die Heilige Gees begaan het. Maar die blote feit dat iemand bekommerd is daaroor wys al klaar dat hy/sy nie die sonde teen die Heilige Gees begaan het nie. Hierdie sonde gebeur net wanneer iemand volhardend die Gees se werking in sy lewe uitblus (Efesiërs 4:30; 1 Tessalonisense 5:19), of wanneer iemand die Here verwerp en totaal afvallig word (Hebreërs 4:4-6; 10:26-31). Maar ons moet die kontekste waar hierdie uitsprake voorkom, deeglik in ag neem. Hierdie uitsprake is in die eerste plek waarskuwings aan gelowiges om nie ligtelik met God se genade in Christus om te gaan nie. Dis nie beskuldigings dat hierdie sonde reeds tot stand gekom het by die lesers nie. ’n Ander geval van die sonde teen die Heilige Gees is waar veral ongelowiges moedswillig die werk van die Gees aan die werk van die duiwel toeskryf (Matteus 12:22-32). Maar in al bogenoemde gevalle moet ons net besef dat dit nie vir ons is om te bepaal wanneer iemand die sonde teen die Heilige Gees begaan het nie. Niemand van ons weet wanneer iemand in sy of haar lewe daardie punt van verharding of van geen-omdraai-meer bereik het waar jy nie eens meer omgee of jy gered is of nie. (Laasgenoemde is presies die gevolg van die sonde teen die Gees.) Die punt is, dis nie vir ons om daaroor te oordeel nie. Net God, die hartekenner, kan dit doen. Daarom moet ons ons daarvan weerhou om uitsprake oor ander se geestelike gesteldheid te maak, selfs dié van ongelowiges. Oënskynlik geharde Godloënaars het al verras deur tot bekering te kom. Ons taak as gelowiges is maar net om die evangelie te verkondig en te waarsku teen afvalligheid. Die finale oordeel kan ons rustig in God se hande laat.

Om dit nog eens te beklemtoon: Die onvergeeflike sonde, of die sonde teen die Heilige Gees, gaan oor ‘n besondere soort sonde. Alle sonde bevat ‘n element van opsetlikheid en moedswilligheid, maar hierdie sonde gaan daaroor dat mens die enigste manier waarop God kan red, verwerp, of dat jy die offer van die Seun van God openlik tot ’n bespotting maak asof dit nooit vir jou iets beteken het nie (Hebreërs 6:6), of die werk van die Gees aan die werk van die duiwel toeskryf (Matteus 12:24,31-32), of die Gees hardvogtig oor ‘n lank tyd weerstaan, op so ’n manier dat God nie toegang tot jou hart kry nie. Want onthou, die enigste manier waarop God jou hart kan sag maak, is deur die werking van sy Gees. Verder, daar is geen ander offer vir redding as die een wat Jesus gebring het nie. As hierdie heilsmiddele verwerp word, dan kan selfs God jou nie vergewe nie, nie omdat Hy nie wil nie of omdat jou sonde te groot is nie, maar omdat jy Hom nie toelaat om dit te doen nie. Jy wil nie sy “medisyne” vir jou sonde aanvaar nie. En God dwing niemand teen sy of haar wil nie. Hy kom altyd met die sagte aanslag van die liefde. Wie hierdie liefdesaanslag volhardend verwerp, word dan later immuun teen God se liefde en wil dan ook geen genesing meer hê nie. En dan láát God jou in jou keuse, die keuse wat jy uitoefen om Hom volhardend te bly verwerp. Maar solank mens nog God se vergifnis wil hê, is jou hart ontvanklik vir sy redding en kan jy sy vergifnis in die geloof omhels en aanvaar, en vergewe word.

Dus, dit is inderdaad soos die vraagsteller sê: daar is geen sonde wat God nie kan vergewe nie, behalwe wanneer jy volhardend weier om vergewe te word.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Huldeblyk – Dr Coen Slabber

Dit is met groot hartseer dat die Bybelkennis.co.za-familie “afskeid” neem van dr Coen Slabber (“oom Coen” soos hy by baie van ons bekend was), een van die stigters van Bybelkennis.co.za en die bladbaas van die begin van die bestaan van die webblad af. Hy is op 18 September 2023 na ’n langer periode van ongesteldheid oorlede. Ons gaan hom besonder baie mis.

Dr Slabber, ’n ginekoloog van beroep, later professor asook die dekaan van die Fakulteit Geneeskunde aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (soos dit destyds bekend gestaan het), en ook uiteindelik Direkteur-Generaal van die nasionale Departement van Gesondheid van Suid-Afrika, het absoluut onbaatsugtige diens aan die webblad gelewer. Ten spyte van die hoë profiel wat hy tydens sy lewe geniet het, het hy agter die skerms elke dag die administratiewe sake van Bybelkennis.co.za behartig, het ’n baie leersame blog, veral oor leierskap geskryf, en het gesorg dat al die lesersvrae by die regte medewerkers uitkom om te beantwoord. Dit het hy gedoen sonder enige vergoeding, maar eenvoudig omdat hy diens wou lewer aan mede-gelowiges.

Wat ’n voorbeeld was en is dit steeds vir elkeen van ons. Hy het geen erkenning gevra nie, het nie verwag dat iemand vir hom moet dankie sê of prys nie. Hy het eenvoudig elke dag net sy deel vir die Here gedoen. Ons gaan hom baie mis en is besonder dankbaar vir alles wat hy gedoen het en vir ons beteken het … en ja, veral vir die voorbeeld wat hy gestel het.

Ons eer sy nagedagtenis, en ons harte gaan uit na sy familie in hierdie tyd van rou en afskeid neem.

 

Die Bybelkennis-span




Vraag: Kerkbesoek – Jan van der Watt

Theuns Vra:

In die wereld waarin ons leef speel tegnologie so n groot rol. Ek kyk gereeld na die erediens op TV, ons plaaslike predikant stuur twee maal per week “huisbesoek “stukkies op WhatsApp .Ek is deel van ‘n aanlyn gemeente se gebedspan, ek is n Tutor by ‘n Teologiese Kollege. Feit is aanlyn boodskappe is meestal van hoogstaande gehalte, dit is nie sommer net ‘n oppervlakkige sede prekery nie – ek gaan nie meer gereeld kerk toe nie en soms voel ek baie skuldig hieroor.

Is dit verkeerd om myself te beskou as ‘n aanlyn gemeente lid of moet ek in ‘n fisiese kerk wees? My verhouding met die Here is vir my die heel belangrikste saak in my lewe.

Antwoord van Prof Jan van der Watt

Jy roer ‘n baie belangrike saak aan, naamlik die nuttigheid van tegnologie vir Christene, veral na Covid 19 waar dit duidelik geword het dat aanlyn boodskappe en preke ‘n baie belangrike rol in Christene se geestelike lewe kan speel. Eerstens  moet ons se dat ‘n mens op baie maniere die boodskap van die Here kan hoor, nie net in die kerk nie. ‘n Mens vind soms baie meer aanklank by ‘n boodskap wat ‘n mens elektronies kan kyk. Hier moet mens vra hoe jy op die beste manier moontlik geestelik verryk word en kan groei.

Tweedens is dit tog belangrik om met mede-Christene kontak te hê, al is dit net met ‘n paar. Ook dit gebeur nie net in ‘n kerk nie. Christenskap is baie meer as net die kerk – dit sluit die alledaagse lewe in waar ‘n mens met ander gelowiges en ongelowiges in aanraking kom. Gesprekke met ander Christene help ‘n mens ook om geestelik te groei – dit help soms om raad te vra, om te hoor dat ander ook met probleme sukkel en nie net jy nie, ens.

Derdens help dit nie om net kerk toe te gaan uit gewoonte nie. Daar moet werklik geestelike groei plaasvind met kerkbesoeke, jy moet voel jy beleef die gemeenskap van die gelowiges. Dit help nie om krities, gefrustreerd of teleurgesteld uit die kerk te stap nie. Dit breek meer af as wat dit opbou. Onthou, ons dien die Here en nie die kerk nie. ‘n Mens moet dus eerlik met jouself wees.

Vierdens moet ‘n mens onthou dat Jesus baie klem daarop gele het dat ons as sy dissipels vir mekaar moet omgee. Jy het dus ook ‘n taak teenoor ander Christene vir wie jy moet help. Christenskap funksioneer altyd in ‘n groep van liefde waar die een daar is vir die ander. Dit gaan dus nie net oor jouself nie.

In kort, as jou geestelike lewe deur die aanlyn betrokkenheid groei en gevoed word – baie goed vir jou. Vir geestelike groei is betrokkenheid by ander gelowiges in die lewe nodig, nie noodwendig in die gemeente nie, hoewel die gemeente ook ‘n goeie plek is om tussen mede-Christene te wees. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt