God se skepping – Lodewyk Sutton

Daan vra:

Wie/Wat is reg ?
Ek as gelowige Christen word gekonfronteer met dat evolusie die WAARHEID is.

Antwoord

Lodewyk Sutton antwoord:

Die skeppingsverhale in die Ou Testament is werklik besonders. Dit is van die mooiste omskrywings van die skepper God van Israel. Dit is sekerlik die eerste gedagte wat ons moet besef wanneer ons begin praat oor die skepping. Dat daar nie slegs een skeppingsverhaal in die Ou Testament is nie. Daar is menigte, onder ander: Gen 1; Gen 2; Job 9, 34-38, 39-42, Pss 8, 19, 33, 65, 104, 139, Spr 8 en nog baie meer. Hierdie tekste se verhale verskil in hul inhoud en omskrywing van die skepping. Kyk maar net hoe verskil die Genesis 1 verhaal van die Genesis 2 verhaal.

Dit bring ons by ons tweede belangrike gedagte. Dat ons moet besef dat die skeppingsverhale tekste is wat geskryf is in verskillende skryfstyle of anders gestel genres. Van hulle is narratiewe, van hulle is poëtiese tekste of ʼn kombinasie. Dit maak dat hoe ons elkeen van hierdie tekste moet benader, ook verskil.   

Dit bring ons by die derde gedagte. Dat hierdie tekste deur verskillende skrywers, in verskillende tye as gevolg van verskillende kontekste geskryf is. Alhoewel die Genesis 1 teks deel is van die oer tekste in Genesis 1-11, beteken dit glad nie dat die teks noodwendig so oud is nie. Die teks het in alle waarskynlikheid eers sy ontstaan gekry na die Babiloniese ballingskap, met ander woorde na 586vC. Die konteks van die ontstaan van die teks (rede vir ontstaan) is die ballingskap en die reaksie van die priesters op die ander skeppingverhale van die antieke Nabye Ooste. Daarom is die Genesis 1 teks ʼn pragtige teologiese geloofsbelydenis oor God. Die Genesis 1 teks se fokus is nie om ʼn historiese omskrywing te kom bied oor hoe God die aarde geskape het nie, maar handel eerder oor wie die God is wat die aarde geskape het. In ander woorde nie die hoe nie, maar die wie. As dit oor die hoe sou gaan bring dit ons by ʼn probleem wanneer ons besig is met die ander skeppings verhale in die Bybel. Die een kan tog nie reg wees en die ander verkeerd nie. Daarom moet ons besef dat ons is besig met ʼn teologiese teks wat deur die narratief of poëtiese taal kom verduidelik oor wie is die skepper God.

Dit bring ons by ons vierde gedagte, die verhouding tussen Genesis 1 en evolusie. Genesis 1 is ʼn teologiese teks wat vir ons verduidelik wie die skepper God is, terwyl evolusie ʼn natuurwetenskaplike teorie is oor hoe die aarde en heelal tot stand gekom het. Net soos wat die Genesis 1 teks nie verduidelik hoe die aarde geskape is nie, net so kan die wetenskaplike teorieë nie kom en verduidelik wat die teologiese belydenis omtrent God moet wees nie. Indien ʼn persoon dit sou verduidelik in terme van sport sou jy kon sê dat jy nie krieket met rugby reëls kan speel nie of andersom. So sou mens nie met die Genesis 1 teks kon sê dat evolusie nie ʼn moontlike teorie vir die totstandkoming van die heelal is nie. So ook sou natuurwetenskaplikes nie kon sê as gevolg van evolusie dat God nie bestaan nie. Die skeppingsverhale in die Bybel kom en bely wie die skepper God is. Die fokus is nie om te verduidelik hoe God dit gedoen het nie, daarop sou die natuurwetenskaplikes vir ons ʼn beter antwoord of moontlikehede kan bied. Daarom hoef die twee nie teenoor mekaar te staan nie.

Skrywer: Lodewyk Sutton




Oorlog – Jan van der Watt

Pieter vra:

Is oorlog tussen lande sonde?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

In die Nuwe Testament word passifisme sterk voorgestaan. Neem byvoorbeeld Openbaring: daar word nêrens gesê dat gelowiges wapens moet opneem as hulle vervolg word nie. Hulle enigste wapen is die Woord en die verkondiging daarvan (vgl. hf. 11). God sal verder sorg vir geregtigheid en oordeel en sal vir sy volk sorg (hf. 12 – nie een van hulle sal skade aangedoen word nie – hf. 14:1-3) – Jesus is immers altyd by sy gemeentes (hf. 2-3).

Jesus self neem nooit ’n wapen op om die Romeine omver te werp nie. As Petrus Malgus se oor afkap om Jesus te probeer beskerm, dat berispe Jesus hom en maak Malgus gesond. Ons lees ook nie van Paulus of Petrus wat geweld aanstig of oproep tot oorlog nie.

Dit is die een kant van die saak. Die ander kant is dat party meen dat Jesus self blykbaar geweld gebruik as Hy die handelaars met hulle diere met ’n swepie uit die tempel uitjaag (vgl. Joh 2:15). Sommige verklaarders meen egter dat die swepie nie vir die mense bedoel was nie, maar vir die diere, wat beteken dat Jesus nie so gewelddadig teenoor die mense was nie. Dit lyk moontlik omdat die Joodse ‘polisie’ Hom glad  nie keer nie. Die ander gedeeltes waarna mense wys om geweld te regverdig is dat Jesus sê Hy het nie vrede gebring nie, maar geweld en die swaard. Pa’s sal seuns oorgee om doodgemaak te word, en omgekeerd, ma’s hulle dogters ens. (vgl. Mat 10:27-36). Die gedeeltes verwys egter na ongelowige familielede wat gelowiges gaan vervolg en verwerp en nie omgekeerd nie. Gelowiges moet getrou bly aan Jesus te midde van sulke gedrag van die kant van die ongelowiges. 

Nou is daar verwysings na oorloë op plekke in die Nuwe Testament waar daar van die einde van die tyd gepraat word (bv. Mat 24:6; Mk 13:7-8). Dit sal tekens wees dat die einde van die tyd oppad is, hoewel dit nog nie die einde is nie. Dit is egter duidelik dat die oorloë nie die Christene is wat oorlog maak nie, maar dat dit tekens is van die bose wat net voor die laaste oordeel verwoed gaan losbars. Daarom word daar gesê dat die oorloë daar moet wees – eintlik was oorloë nog altyd daar omdat die wêreld nog altyd aan boosheid blootgestel is.

In die Ou Testament word daar baie van oorloë en gevegte gepraat. God beveel selfs sy volk om oorlog te maak teen volke wat teen God is. Met die koms van Jesus het die Vredevors egter gekom en sy volgelinge kom leer om in vrede en liefde met mekaar saam te leef. Hulle moet nie onder mekaar baklei nie (bv. Kol 3:12-17) en moet dus ook nie oorlog onder mekaar maak nie. Dit sou teen God se wil (en dus sonde) wees. As ongelowiges oorlog maak is dit onder andere ’n teken van hulle ongelowigheid en strewe om te heers en hulle mag te laat geld.

Nou moet genoem word dat teoloë deur die eeue in die kerk baie oor hierdie saak gedebateer het en die opinies het in alle rigtings gegaan. ’n Sterk siening is dat oorlog nie goed is nie, maar as ’n mens se lewe of besittings bedreig word, mag jy dit verdedig. Selfverdediging of om die slegte te beveg is dus volgens hierdie teoloë geregverdig. Jesus se dissipels dra wel twee swaarde, maar dit is vir selfverdediging en nie om met ander ‘oorlog te maak’ nie (Luk 22:38).

Om dus saam te vat: vanuit die perspektief van die Nuwe Testament moet gelowiges nie oorlog maak nie en moet hulle die wraak aan God oorlaat, veral as hulle as Christene vervolg word. Baie toeloë meen egter dat as jou lewe deur die ‘bose’ onregverdig bedreig word, het jy die reg om dit te beskerm.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Beeldspraak – Jan van der Watt

VRAAG: In Joh 16:23-25 staan daar: “Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. 24Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” 25“Dit het Ek deur beeldspraak vir julle gesê. Daar kom ’n tyd wanneer Ek nie meer deur beeldspraak met julle sal praat nie maar julle reguit van die Vader sal vertel” Wat bedoel Jesus hier as Hy van gebed en ‘beeldspraak’ praat?

Prof Jan Antwoord

Om die vraag te beantwoord, moet ons eers by die woord ‘beeldspraak’ begin. Die Griekse woord wat in Afrikaans met ‘beeldspraak’  vertaal word, is paroimia. In party kontekste  kan paiomia as ‘beeldspraak’ vertaal word, maar die woord kan ook na ’n kort spreuk verwys wat net deur mense in ‘n binnekring begryp word, met ander woorde, daar word ‘n figuurlike beeld gebruik wat nie almal kan verstaan nie, maar mense wat weet waaroor dit gaan, kan dit verstaan, byna soos ‘n tipe kodetaal. Die gelykenisse in die ander Evangelies werk net so (Mark 4:10-12).

In Joh 10:6 sien ons hoe ‘n paroimia werk (daar word die woord paroimia ook gebruik). Jesus vertel ‘n verhaaltjie oor skape en herders in 10:1-5. Die verhaaltjie kan op enigiemand van toepassing gemaak word. Die Fariseërs kon bv. die verhaal so verstaan dat Jesus die dief is en hulle die goeie herder. Daar is niks in die verhaal wat die interpretasie teëgaan nie. In 10:6 sê Jesus dan ook dat die mense dit nie mooi verstaan het nie. Die wat in Jesus glo (die binnekring) weet Jesus is die herder en die enigste ware hek na die skape toe en dat gelowiges die skape is.

Jesus neem van sy dissipels afskeid in Joh 13 tot 16. Die vraag verwys na hoofstuk 16 se laaste verse waar die Here met sy finale woorde hulle bemoedig deur te sê dat hoewel Hy weggaan alles goed gaan eindig (met ‘n ‘ paroimia’– 16:19-22: soos ‘n vrou wat deur pyn ‘n baba kry en dan bly is as die baba gebore is). Die pyn verwys na Jesus se kruis en die vreugde na die tyd na sy opstanding en hemelvaart wanneer Hy deur die Heilige Gees weer by sy dissipels sal wees (14:15-20; 16:12-16). Wat Jesus hier sê is dus dat na sy kruis en opstanding dinge anders gaan wees. Jesus gaan Homself immers aan die kruis as die glorieryke Koning van Israel openbaar en met sy hemelvaart as Seun van die hemelse Vader – die hele wêreld sal dit dan weet (14:31). Hy hoef en  gaan nie meer in paroimia leer nie, maar a) die Heilige Gees sal hulle nou direk leer en lei in wat hulle moet weet (16:12-15; 14:25-26) en b) die dissipels kan nou direk met God die Vader praat en Hom in die naam van Jesus vra wat hulle wil hê vgl. 16:26-27 – Jesus hoef dan nie meer vir hulle voorbidding te doen soos in Joh 17 nie. Hulle gaan in ‘n direkte verhouding met hulle Vader staan en dus die werklikheid van God, wat met beelde aan hulle verduidelik is, duidelik verstaan.

Die verwysing na beeldspraak hier verwys dus nie spesifiek na gebed nie, maar het ‘n breer toepassing – dit verwys na Jesus se verhale en vergelykings deur die hele Evangelie waarmee Hy sy dissipels tot nou toe geleer het (bv. die wind in 3:7-8; die brood en wyn in 6:39 en verder; die herder en skape in 10:1 en verder; die saad in 12:24-25; die huis van sy Vader in 15:1-3; die wingerdstok in 15:1 en verder of die swanger vrou in 16:19-22). Die kruis is egter die groot teken wees van wie Hy regtig is en dan sal Hy nie meer vir sy dissipels in verhale hoef te vertel wie Hy is nie (16:26-30). Daar verander alles. Sy kruis en opstanding spreek dan vanself (20:27-29) en word deur die teenwoordigheid van die Gees bevestig.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Voorwaardelike redding – Hermie van Zyl

Kobus vra:

Ek glo vas dat enige persoon gered kan en sal word as die persoon Jesus aanneem en sy sonde bely. God skep alle mense, maar party verval in sonde en sal nie die ewige lewe saam met God hê nie.

My vraag is nou: Skep God hierdie mense met die doel om hulle te straf? As ek Spreuke 16:4 lees, wil dit so voorkom, maar ek kan nie verstaan hoekom God dit sal wil doen nie. Hoekom sal hy lewens so mors? En sê nou maar ek is een van daardie siele, gaan ek dan my geloof verloor en teen Jesus draai?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ons vraagsteller se vraag kan die beste teen die agtergrond van die sogenaamde dubbele uitverkiesingsleer beantwoord word. Hiervolgens is daar twee soorte uitverkiesings: Sommige mense word tot die lewe uitverkies, maar ander word “uitverkies” tot die dood. Laasgenoemde mense is dan die voorwerp van God se wraak en oordeel oor die sonde, en sal die ewige dood sterf, ongeag of hulle tot bekering gekom het. Hulle is immers “verordineer” tot die ewige dood, en hulle keuses speel gevolglik geen rol in hulle ewige bestemming nie.

Hierdie siening (dubbele uitverkiesing) is egter nie hoe ons die uitverkiesing moet verstaan nie. By die uitverkiesing moet mens baie versigtig wees om nie in determinisme te verval nie. Dit beteken dat God “voor die grondlegging van die wêreld” sou bepaal (“gedetermineer”) het dat sekere mense uitverkies word tot die ewige lewe (hulle name is opgeskryf in die boek van die lewe) en dat ander verwerp word tot die ewige verdoemenis. Hierdie getalle en name is dan voor die tyd reeds vas en afgesluit. Dit maak dus nie saak wat elke kategorie mense in hulle lewe op aarde doen nie, maar hemel toe sál jy gaan as jy uitverkies is, en die hel ís jou voorland as jy verwerp is; om dit in sulke krasse terme te stel. Hierdie voorstelling van sake bring mee dat ’n mens se lewe dan eintlik volgens ’n vooraf opgestelde program verloop waarin jy nie veel keuses het nie. Jou lewensloop is vir jou bepaal (gedetermineer), en so sal jou lewe verloop.

Hierdie siening klop egter nie met die gegewens in die Bybel nie; hiervolgens staan mense in ’n dinamiese verhouding tot God en ander mense. Mense maak foute, verhard daarin, of kom tot bekering. En selfs God kan van plan verander oor besluite wat Hy geneem het om uit te voer. Dink hier aan sy plan om Nineve te vernietig, maar dan verander Hy van plan as hulle tot bekering kom. Die een wat by die oorspronklike plan wou bly – Jona – en wat God verkwalik dat Hy nie by hierdie plan hou nie, is die een wat bedroë daarvan afkom, terwyl die Een wat “van plan verander” juis die genadige God is. God is dus in voortdurende interaksie met mense se gedrag en besluite. Die enigste besluit wat onveranderlik vasstaan in God se raad, is dat Hy geen behae het in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat hy hom bekeer en lewe. God stel alles in werking om mense na Hom te trek om hulle van hulle doodsbestaan te red. Die verhouding tussen God en mense is dus baie meer dinamies as wat in ’n deterministiese uitverkiesingsleer uitgebeeld word.

Die bedoeling van tekste wat praat oor God wat mense uitverkies “voor die grondlegging van die wêreld” (bv Ef 1), is nie dat ons daaruit allerlei afleidings sal maak oor die arbitrêre manier waarop God red nie (Hy kies en verwerp na willekeur), maar dat gelowiges die troos sal hê dat hulle verlossing vasstaan in God se raad. Let ook daarop dat die verkiesing “in Christus” plaasvind (Ef 1:4). Wat vasstaan van “voor die skepping” is dus nie die individuele name van mense nie, maar God se verlossingsplan “in Christus” wat in die kerk sigbaar word. Dit gaan oor die verlossing wat in Christus voorberei is en oor mense wat tot geloof moet kom voor hulle die voordele van “uitverkies” te wees, kan geniet. Om dit pront te stel: As jy in Christus glo, wéét jy jy is uitverkies. Maar as jy nie glo nie, is daar niks te sê oor jou uitverkiesing nie. God se ewige besluite en mense se daadwerklike bekering en geloof in Christus staan dus nie teenoor mekaar nie, maar is die Goddelike en menslike kant wat sáám die totale prentjie van uitverkiesing en ewige lewe uitmaak. Soos ’n bekende teoloog uit die verlede dit treffend gestel het: “God neem sy ewige besluite altyd op die allerlaaste oomblik.” Ons moet “ewig” dus nie gelyk stel aan iets wat vóór tyd, vóór die skepping van die wêreld plaasgevind het, en toe die wêreld tot stand gekom het (tyd ontstaan het), het God se ewige plan in werking begin tree en so loop dit onverbiddelik af tot by die einde nie. Nee, “ewig” is eerder ’n dimensie wat voortdurend die tyd oorspan. Op enige gegewe oomblik in die tyd kan God “vanuit die ewigheid in die tyd inbreek” (om dit baie simplisties te stel) om sy heilsplan in werking te stel – of te verander! Toegepas op die uitverkiesing beteken dit dus dat Goddelike alwerksaamheid vanuit die ewigheid en mense se reaksie daarop ’n dinamiese aangeleentheid is wat mense se keuses insluit. En presies hoe God se alwerksaamheid (ewige verlossing in Christus) en menslike werksaamheid (bekering en geloof in Christus) presies werk, is uiteraard ‘n misterie. Maar dit kan beslis nie in terme van ’n deterministiese uitverkiesingsleer verstaan word nie waar die mens geen keuses het nie.

Om dus die vraagsteller se vraag direk te beantwoord: God mors nie met menselewens nie; Hy skep nie lewens met die uitsluitlike doel om hulle vir die ewige verderf groot te maak nie. Nee, as jy glo en volhard in Christus, behoort jy aan Hom, vir tyd en ewigheid. Daar is nie ’n donker kant aan God waar jy dalk – ten spyte van jou geloof in Christus – die ewige lewe kan misloop net omdat God miskien “ander planne” met jou het waarvan jy nie weet nie. Niemand wil in so ’n God glo wat sulke speletjies met sy skepsels speel nie. Met so ’n God het jy nie ’n duiwel nodig nie. Maar gelukkig is dit nie soos die uitverkiesing werk nie, en ook nie hoe die Bybel God uitbeeld nie.

Wat Spreuke 16:4 betref, die volgende: Hierdie teks weerspreek oënskynlik ons slotsom hierbo, want hier staan dan dat God die goddelose gemaak het met die doel om hulle te straf. Beteken dit God vooraf besluit watter mense hel toe gaan, en dat sulke mense geen kans op redding het nie; of as hulle dalk tot bekering kom, hulle weer in ongeloof sal verval? ’n Mens mag egter nie uit Spreuke 16 aflei dat sekere mense nie ’n keuse het in die saak nie, dat hulle eenvoudig ewig gestraf sal word net omdat God so besluit het. Die bedoeling van hierdie gedeelte uit die Spreukeboek (15:33-6:9) lê in ’n ander rigting, naamlik dat God die lewe se struktuur bepaal – wat goed en wat sleg is. Hy bepaal die orde vir ware lewe. As jy ware geluk en seën wil vind, moet jy binne hierdie orde lewe. Daarom, die goddelose – die een wat self kies om buite hierdie God-gewilde orde te leef – moet weet dat hy opgeskryf is vir die oordeel, die dag van straf. So het God dit bepaal: Straf is gemaak vir hulle wat hulle eie weg wil volg en God se weg verwerp, dit is die goddelose van Spreuke 16:4. Hierdie vers het dus niks daarmee te make dat God sekere mense na willekeur “verordineer” tot straf nie; inteendeel, jy kies self jou lot as jy God se weg verlaat; dan plaas jy jouself buite God se orde vir ’n goeie lewe, dan beland jy daar waar God bepaal het dat goddeloses sal heengaan as hulle hulle nie bekeer van hulle eiesinnige weë nie.

Naskrif: Daar is heelparty ander artikels op Bybelkennis se webblad wat ook oor die uitverkiesing handel, en ons vraagsteller verder sal help. Sleutel net “uitverkiesing” by die soekvenster in om hierdie artikels te vind.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl