Amos(16) – Francois Malan

’n Mandjie vrugte (die vierde gesig, Amos 8:1-3)

8:1 ‘So het my Heer, die HERE vir my laat sien en kyk! ’n mandjie somervrugte (veral vye).’
2020: ‘dit’ vir ‘so;’ LXX het ’n voëlvanger se mandjie;

Waarskynlik was dit die laaste mandjie ná die vrugte eintlik al af is, die teken van die einde van die oes. Dit wek die
verwagting dat die nuwe seisoen gaan aanbreek. Die laaste mandjie word dan na die tempel gebring as offer vir
voorspoed vir die nuwe oesjaar – die dag van die HERE waarna hulle uitsien.

8:2 ‘Hy vra vir my: Wat sien jy Amos? En ek sê: ‘n mandjie somervrugte.
En die HERE sê vir my: die einde het gekom vir my volk Israel.
Ek gaan nie voortgaan om hulle oor te sien nie.’ (2020: by hulle verby te gaan nie)

Hierdie beeld is nie ’n simboolvisioen soos by die vorige drie gesigte nie, maar ’n woordspelvisioen. Die Hebreeuse
woord vir somer (qājits) klink soos die Hebreeuse woord vir ‘einde’ (qēts), die einde van die lewe van ’n persoon, hier
van ’n volk. Hier sê die HERE die einde van Israel as ‘my volk’ het gekom. Soos die mandjie ryp vrugte is Israel se
ondergang ook ryp (vgl. Matt 13:39 die oes is die voleinding van die wêreld). Terwyl die derde visioen van die
skietlood verduidelik het dat die HERE vir Israel nie langer sal oorsien nie (7:8) wys die vierde visoen die verskriklike
gevolg daarvan. Die HERE het finaal besluit om ’n einde te maak aan Israel se volksbestaan. Met die byvoeging ‘my’
by die volk Israel word die smarte gehoor wat dit vir die HERE veroorsaak om die einde van sy volk aan te kondig.

8:3 ‘Op daardie dag moet die tempelsange weeklaag,’ is die Godspraak van my Heer, die HERE,
Hy gooi baie lyke op elke plek neer. Wees stil!

Die Hebreeuse woord sjirōt ‘sange’ word nie elders gebruik nie en word deur 2020 beskou as sjārōt
‘sangeresse’ omdat 2020 hekāl wat tempel of paleis kan beteken as paleis vertaal; LXX lees iets soos
sjōrōt ‘plafonne van die tempel’ wat die dag moet weeklaag.

‘Daardie dag’verwys na die dag van die HERE waarvan 2:16; 5:18-20 sê dat dit vir Israel nie lig nie, maar duisternis
bring. Die Godspraak beskryf Israel se einde as ’n begrafnis waar Bet-El se tempelsange ’n geweeklaag word. Amos
gee die rede daarvoor. Hy sien die baie lyke wat die HERE op baie plekke in die land neergegooi het – die passiewe
vorm van die werkwoord veronderstel dat dit die HERE is wat dit doen of laat doen. Dit word waarskynlik deur ’n
vyandige leër gedoen (waarskynlik deur die leërs van Assirië wat vir Israel tusen 733-722 v.C. uitgeroei het; vgl. 2 Kron
5:26 en 2 Kon 17:6). Dat die lyke orals lê, is ’n skande omdat hulle nie begrawe word nie. Waarskynlik sal die lyke deur
die vyandelike leërs op die slagveld gelos word. Dit is ook ’n aanduiding van ’n grootskaalse uitwissing van die
bevolking, waarvan Amasia se kinders ‘n voorbeeld is (7:17).

Die opdrag om stil te wees in dié omstandighede waar die dood sy rondte doen, is om nie die vyand se aandag te trek na
enkeles wat nog lewe nie (soos in 6:10). Alles wys na ’n onbeskryflike ellende wat Israel sal oorval. Die finale oordeel
oor Israel se sondige lewenswyse is deur die HERE aan sy dienskneg Amos geopenbaar. So het Jesus ook die ewige
straf vir die mense wat Hom nie as hulle Verlosser wil aanneem nie, geopenbaar (Joh 3:18-20; Matt 25:41,48).

Godsprake oor die einde (Amos 8:4-14)

Tussen die vierde gesig wat Amos gesien het en die vyfde in 9:1-7, is vyf uitsprake van God ingevoeg. Dit is
uitbreidings oor die einde vir Israel, wat in die vierde visioen aangekondig is.

Die eerste uitspraak – die lewe van die rykes (Amos 8:4-6)

8:4 Luister hierna, julle wat daarop uit is om op die behoeftiges te trap en die weerloses van die land uit te wis.

Die eerste uitspraak begin met ’n oproep om te luister na die uitspraak van die HERE. Israel se voorspoed in die tyd van
Jerobeam II is deur die rykes genadeloos misbruik. Samaria se markplein, waar die besigheid gedoen is, is die mees
waarskynlike plek waar Amos die uitspraak van die HERE uitbasuin het.

Die woord sj’ af wat met ‘trap op’ vertaal is soos in LXX, hou ook in om hulle met ’n skelmstreek te vang. Amos praat
hier met ’n groep wat besig is om die swakkeres in die samelewing te druk totdat hulle niks het nie. Dit het reeds geblyk
uit 2:6-8; 5:7,11-12. Hulle onderdrukking van die armes beteken dat hulle nie lewe soos die volk van die HERE nie.
Eintlik is hulle besig om die einde van hulle bestaan as volk van die HERE te verhaas omdat hulle lewe nie die beeld
vertoon van die verloste volk van die verbond met die HERE nie. Hulle einde sal die gevolg wees van hulle
lewenswyse.

8:5 deur te sê/dink: ‘Wanneer is die dag van die nuwemaan tog verby dat ons graan kan verkoop,
en die Sabbat, om graan te open (te koop aanbied) met ’n kleiner efa en ’n groter sikkel
en bedrieglike gebruik van die weegskaal!’

Op die eerste dag van elke maand word dankoffers en sondeoffers vir die HERE gebring (Num 28:11-15). Maar die
besigheidsmanne dink nie op die Nuwemaansfees om die HERE te dank vir hulle lewe en hulle voorspoed deur die
maand, of om boete te doen vir hulle oortredings van sy wil nie. Die weeklikse Sabbatdag moet aan die HERE gewy
word om te besef dat die HERE hulle geheilig het om hulle aan Hom toe te wy (Eks 31:13,15). Die skelm handelaars
dink nie aan die HERE en sy riglyne nie, maar aan bedrieglike maniere om wins te kry.

Hulle sê by hulleself, die woord kan ook met ‘dink’ vertaal word – die HERE ken egter mense se gedagtes (Ps 94:11),
van ver af verstaan (Ps 139:2). Hy weet dat die graanhandelaars van Samaria die feesdae vervelig vind en dat hulle
smag na die volgende dag se graanverkope en hoeveel hulle daaruit gaan maak. Om graan oop te maak verwys na die
sakke waarin die graan gebêre word of die stoorplekke oopmaak.

’n Efa was’n inhoudsmaat van ongeveer 22 liter; ’n sikkel ongeveer 11.4 gram silwer. Destyds was daar nog nie munte
nie en is los silwerstukke op die skaal geplaas. Maar wanneer die valse handelaar graan afweeg vir ’n koper, gebruik hy
’n maat wat minder as 22 liter bevat. En as die koper se silwer afgeweeg word op die skaal met twee bakke, is die
handelaar se gewigte in die bak met sy swaarder sikkels, sodat die koper meer silwer op die ander bak moet sit om die
skaal te laat balanseer. Die Hebreeuse woord vir twee skaalbakke kan ook vertaal word met ’n valse skaal. Dieselfde
woord word gebruik vir buig, wat kan beteken dat die skaal se dwarsbalk gebuig is om die een kant swaarder te maak as
die ander; alles plannetjies wat die handelaars op die Sabbat en Nuwemaansfees uitdink om die kopers te bedrieg.

In Levitikus 19:35-36 sê die HERE, die God wat Israel uit Egipte laat wegtrek het: ‘Julle mag nie bedrog pleeg wanneer
julle meet of weeg of inhoud bepaal nie. Julle moet ’n betroubare skaal en die regte gewigte en inhoudsmate gebruik.
Gehoorsaam al my voorskrifte en leef daarvolgens (vgl. ook Deutr 25:13-16; Spr 11:1 die HERE het ’n afsku van ’n
skaal wat nie reg weeg nie; Spr 20:10,23).

8:6 ‘So koop ons die armes vir geld en ’n behoeftige in nood, vir ’n paar sandale
en ons verkoop selfs uitskotgraan.’

Die ryk handelaars bedink op die Sabbat nie slegs hoe om met elke transaksie onregverdige wins uit die eiendom van
die armes te maak nie, maar tas ook hulle persoonlike vryheid aan. As die arme se skuld by die handelaar opgeloop het
tot by die prys van ’n slaaf, kom bied die man homself aan as ’n slaaf om as slaaf kos te kry vir hom en sy gesin. En die
prys vir ’n slaaf word so vernederend afgebring dat dit dieselfde is as die prys vir ’n paar sandale. Daarby is dit koring
van swak gehalte wat die handelaar aan die armes teen ’n verhoogde prys verkoop.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Johannes die Doper en Elia – Hermie van Zyl

Vraag: Zanke vra:

In Matteus 11:13 word gesê: “Al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer, en as julle dit wil aanvaar: Johannes is die Elia wat sou kom.”

En in Matteus 17:11 staan daar: “maar Ek sê vir julle Elia het al gekom, maar hulle het hom nie herken nie en met hom gemaak net wat hulle wou.” En vers 13: “Toe het die dissipels verstaan dat Hy (Jesus) met hulle van Johannes die Doper gepraat het.”

Maar dan staan daar in Johannes 1:21 dat Johannes die Doper van homself gesê het dat hy nie Elia is nie.

So, ek wil graag beter verstaan: Was Johannes die Doper Elia of het hy net dieselfde eienskappe gehad en gekom “in dieselfde gees en krag as Elia” (Lukas 1:17)?

Antwoord

Prof Hermie van  Zyl antwoord:

Daar is ’n duidelike tendens in die Evangelies wat Johannes die Doper verbind met Ou-Testamentiese tradisies. So vind ons in al vier Evangelies die gedagte dat die Doper verbind word met Jesaja 40:3-5. Hierdie teks word in Matteus 3:3, Markus 1:3, Lukas 3:4 en Johannes 1:23 aangehaal. Dit ondersteun die gedagte dat die Doper gekom het om die weg van die Here (= Jesus) voor te berei. Die Jesaja-teks vertel dat die Jode sal terugkeer uit die Babiloniese ballingskap na Palestina (6e eeu vC), en dat ’n grootpad deur die woestyn gereed gemaak moet word hiervoor. Die Here sal vir sy volk die pad huis toe gelyk maak om verlossing vir hulle te bewerkstellig. Hierdie gedagte word nou deur die Evangelies toegepas op die koms van die Verlosser, Jesus Christus, wat sy volk van hulle sondes sal verlos, en die Doper is die een wat die pad vir Jesus reguit maak.

’n Ander Ou-Testamentiese tradisie waarby die Evangelies aansluit, is die gedagte dat die profeet Elia die wegbereider vir die Here se groot dag van verlossing sal wees. In die eeue voor die Christelike era, en ook kort daarna, het die Jode verwag dat Elia sou kom om die dag van die Here in te lui, ’n verwagting wat waarskynlik sy oorsprong het in die vermoede dat Elia nooit gesterf het nie, maar direk in die hemel opgeneem is (vgl 2 Konings 2). Die konsep dat Elia weer sou kom om die dag van die Here aan te kondig en voor te berei, word in ’n hele paar voor-Christelike, buite-Bybelse Joodse geskrifte gevind, asook in die Bybelboek Maleagi 3:1 en 4:5. Die Evangelies van Matteus, Markus en Lukas sluit by hierdie tradisie aan, maar pas dit toe op die optrede van Johannes die Doper as die wegbereider van die Here Jesus Christus. Met ander woorde, die Doper is niemand anders nie as Elia wat sou kom (vgl Matteus 11:13-14; 17:9-13; Markus 9:11-13; Lukas 1:17).

Die interessante is egter dat die Johannesevangelie nie die opvatting van die eerste drie Evangelies omtrent die identifisering van die Doper met Elia, huldig nie. Trouens, die Doper self ontken in soveel woorde dat hy Elia is (Johannes 1:21). Waarom hierdie verskil in siening tussen die Johannesevangelie en die ander Evangelies omtrent die identifisering van die Doper met Elia? Verskeie oplossings is al aan die hand gedoen vir hierdie diskrepansie, waarvan ek ’n paar noem, en dan afsluit met die verklaring wat ek dink die mees waarskynlike is.

Eerstens, daar is voorgestel dat die Doper, wanneer hy ontken dat hy Elia is, bedoel dat hy nie in die fisiese en persoonlike sin van die woord Elia is nie. Om dit pront te stel, hy is nie Elia wat herleef het nie; hy is nie die reïnkarnasie van Elia nie. Die konsep van die herlewing van ’n Ou-Testamentiese figuur is nie so vergesog nie, want Lukas 9:7-8 berig byvoorbeeld dat daar mense was wat sulke “herlewingsgedagtes” oor Jesus gekoester het. Hulle het geglo Hy is moontlik Johannes die Doper wat uit die dood opgewek is, of Elia wat verskyn het, of een van die profete uit die ou tyd wat opgestaan het. Die Doper wil dus met sy ontkenning net alle twyfel uit die weg ruim: hy is nie Elia wat herlewe het nie. Hierdie oplossing impliseer dat daar nie regtig ’n verskil tussen die eerste drie Evangelies en die Johannesevangelie is nie. By eersgenoemdes is dit Jesus en die Evangeliste wat die verband lê tussen die Doper en Elia, nie die Doper self nie. Hierdie Evangelies bedoel dit ook nie letterlik nie, maar metafories, soos Lukas 1:17 suggereer – dat die Doper in die gees en krag van Elia opgetree het. Die Johannesevangelie lê dus eintlik net die klem daarop dat dit nie die Doper self is wat hierdie verband tussen hom en Elia gelê het nie. En verder, dat hy alle misverstand uit die weg wou ruim: Hy is nie dieselfde Elia van die Ou Testament wat fisies herleef het nie.

Hoewel daar waarheidsmomente in hierdie oplossing is (bv dat die Doper nie ’n soort reïnkarnasie van Elia is nie), is dit in terme van die Johannesevangelie se samestelling en eie oogmerke nog nie die volledige oplossing nie.

Tweedens, daar is aan die hand gedoen dat die Johannesevangelie in die tyd toe dit tot stand gekom het ’n gedagte wou afwys wat by ’n Johannes die Doper-splintergroep (= aanhangers van die Doper lank nadat hy nie meer daar was nie) voorgekom het. Hierdie groep sou dan die Doper as Elia gepropageer het omdat hulle Elia as ’n messiaanse figuur voorgehou het. By implikasie sou die Doper dan die eintlike messias gewees het en nie Jesus nie. Daar heers egter onsekerheid by geleerdes of daar messiaanse verwagtings rondom Elia was in die tyd toe die Johannesevangelie geskryf is, en verder is dit ook nie duidelik of die splintergroep aan Johannes die Doper as Elia gedink het nie. Hierdie oplossing het dus nie baie veld gewen nie.

Derdens, die oplossing wat myns insiens die meeste gewig dra, is die gedagte dat in die Johannesevangelie die rol van Elia gereserveer word vir Jesus, nie vir die Doper nie. Enige identifikasie tussen die Doper en Elia word dus deur die Johannesevangelie vermy. Vandaar die eksplisiete ontkenning van die Doper – hy is nie Elia nie. Die Doper is hoogstens iemand wat getuig omtrent Jesus, ’n “stem roepende in die woestyn” wat die pad van die Here reguit maak (Johannes 1:17). Nog meer, Jesus is volgens die Johannesevangelie alles wat die Doper omtrent homself ontken het: die Messias, Elia en die profeet (Johannes 1:19-21).

Met betrekking tot Elia het verskeie geleerdes gewys op die ooreenkomste tussen Elia en Jesus in die Johannesevangelie, wat die gedagte versterk dat die Vierde Evangelie Jesus as die vervulling van alle Joodse verwagtinge wou teken, insluitende die verwagting dat Elia in die eindtyd sou terugkeer. Dit word egter nie in soveel woorde verkondig nie, maar vir die lesers wat geskool was in die Ou Testament sou die ooreenkomste tussen Elia en Jesus in die Johannesevangelie opvallend gewees het. Byvoorbeeld, die temas van lewe en dood is prominent in die Ou-Testamentiese tekste wat oor Elia handel. Elia is die verteenwoordiger van die lewende en ware God wat oor lewe en dood beskik, en oor sy skepping regeer. Geen wonder nie dat die skrywer van die Johannesevangelie juis hierdie temas in die lewe van Jesus prominent plaas. Baie geleerdes wys byvoorbeeld op die ooreenkomste tussen 1 Konings 17:17-24 (die opwekking van die weduwee van Sarfat se seun deur Elia) en Johannes 4:46-54 (die genesing/opwekking van die regeringsamptenaar se seun deur Jesus) asook Johannes 11 (die opwekking van Lasarus), en beweer selfs dat die Johannesevangelie sy weergawes van hierdie gebeure gemodelleer het op die 1 Konings-gebeure. En so is daar ook die ooreenkomste tussen Elia se gebed tydens die Baäl-episode (1 Konings 18:36-37) en die begin van Jesus se gebed in Johannes 17:1-5. Wat hier uitstaan is die verheerliking van die enigste en ware God, beide deur Elia en Jesus. Talle ander ooreenkomste kan nog uitgewys word, maar bostaande is voldoende om die gedagte tuis te bring dat die skrywer van die Vierde Evangelie op ’n subtiele manier die band tussen Elia en Jesus gelê het, om so te wys dat Jesus, en nie die Doper nie, die eintlike Elia is wat sou kom.

Om saam te vat: Is daar ’n teenstrydigheid tussen die eerste drie Evangelies en die Johannesevangelie omtrent Johannes die Doper en Elia? Gesien vanuit bostaande uiteensetting moet ons sê, nee, dis net oënskynlik so. ’n Mens moet eerder oog kry vir die spesifieke oogmerke van elke Evangelie, dan word die sogenaamde teenstrydighede nie strydpunte nie maar maniere om die unieke boodskap van elke Evangelie te ontdek. So gesien wou die eerste drie Evangelies aansluit by die ooreenkomste tussen die Doper en Elia, waardeur veral die oproep tot bekering beklemtoon is. So is die pad voorberei vir die koms van die Messias, Jesus van Nasaret. Die Johannesevangelie sluit ook by hierdie voorbereidende werk van die Doper aan (“maak die pad van die Here reguit”), maar doen dit nie met ’n beroep op Elia nie omdat hy laasgenoemde rol vir Jesus reserveer. Jesus is die nuwe Elia, nie die Doper nie.

Skrwer: Prof Hermie van Zyl




Amos(15) – Francois Malan

Amos antwoord Amasia (7:14-17).

7:14 Met drie kort beskrywings van homself – drie maal ‘ek’ in vers 14 en drie maal langer sinne oor die HERE in verse
15-16 ontken Amos die beskuldigings van Amasia teen hom.

‘Amos het Amasia geantwoord en gesê:
Ek is nie ‘n beroepsprofeet nie; ek is nie ’n lid van ’n profetegroep nie;
ek is ’n veewagter en prik wildevye.’

Amos het nie in Israel kom preek om sy brood te verdien, soos Amasia geïnsinueer het nie (7:12). Hy is ook nie ’n seun/
leerling van ’n profeet, wat in die profete-amp opgelei is nie. Sy veeboerdery verskaf sy lewensonderhoud, en hy prik
wildevye wat in die Laeveld floreer en drie tot viermaal per jaar dra (1 Kon 10:27). Die vye word geprik om hulle ryp te
kry. Die frank sap drup dan uit en die vy word eetbaar soet. Uit dié twee bronne van inkomste het hy genoeg om van te
lewe.

7:15 ‘Maar die HERE het my van agter die kudde af weggevat en die HERE het gesê: Gaan! Profeteer vir my volk
Israel.’

Amos was nog besig om agter sy kudde aan te loop om hulle te versorg toe die HERE hom daar kom wegruk het, en op
hom beslag gelê het. Vers 14 impliseer dat dit ’n tydelike roeping kan wees. Die HERE bepaal die inhoud van Amos se
profesieë en ook die plek waar hy dit moet gaan doen. Daarom is Amasia se opdrag dat hy na Juda toe moet gaan en
daar gaan profeteer (7:12) direk teen die HERE se opdrag en daarom ’n verwerping van die HERE en sy gesag.

Dat die HERE Israel nog ‘my volk’ noem, beklemtoon die HERE se seggenskap oor hulle. Hy het met hulle ’n verbond
gesluit wat lui: ‘Ek sal julle God wees, en julle sal my volk wees’ (Gen 17:7 aan Abraham; Eks 6:6 aan Moses; Lev
20:24). Daarby het die HERE die opdrag gegee: ‘Wees heilig, want Ek, die HERE julle God, is heilig’ – heilig beteken
om aan die HERE toegewy in gehoorsaamheid te lewe (Lev 19:2). Hy het die seggenskap oor Israel en oor Bet-El (‘huis
van God,’ waar Jakob belowe het dat dit sy tempel vir die HERE sal wees, Gen 28:18-22). Jesus is God se nuwe tempel
vir die gelowiges (Joh 2:21). Hy maak van sy gemeente die tempel van God waarin die Gees van God woon (1 Kor
3:16). Elke gelowige se liggaam behoort nie aan homself nie, maar is ’n tempel waarin die Heilige Gees woon (1 Kor
6:19; Joh 14:16,17,23).

Bet-El is nie koning Jerobeam II se koninklike heiligdom en Amasia se staatstempel nie (7:13). Die hele Israel behoort
aan die HERE. Daarom verwerp Amos in die Naam van die HERE die opdrag van Amasia. Hy plaas Amasia onder die
oordeel van die HERE in vers 17. Die HERE het hierdie gewone man gevat en hom in die middelpunt van sy kerk
geplaas om sy mondstuk te wees. Hierdie gewone man stel hierdie ‘hoë geestelike’ Amasia voor die lewende God self.

Die straf op Amasia (Amos 7 vers 16-17)

Ná die vooruitsig op ’n beter bedeling vir die huis van Dawid in die toekoms (7:14-15) volg die HERE se
oordeelswoord aan Amasia.

7:16 ‘En nou, hoor die woord van die HERE: Jy sê:’Moenie teen Israel profeteer nie en moenie teen die huis van
Isak (woorde) drup/laat vloei nie.

Die HERE het gehoor toe Amasia vir Amos Israel verbied het om teen Israel se ‘staatstempel’ te praat, en hom beveel
het om Israel se gebied te verlaat. As hoëpriester verteenwoordig hy die volk se verset teen die HERE. Die Hebreeuse
woord nātaf ‘drup/laat vloei’ beteken so iets soos praat dat die spoeg spat. Die LXX vertaal dit as ‘opsweping van die
mense;’ 2020 as’ driftig preek.’ Die HERE se opdrag was dat Amos vir ‘sy volk’ moet gaan optree as profeet. Amasia
maak daarvan ‘teen Israel profeteer,’ en ‘teen die huis van Isak laat drup’ asof Amos ’n vyand van Israel is. Dit
impliseer dat Amasia en Israel vyande is van die HERE wat vir Amos gestuur het. Amasia stel Amos se prediking ook
as waansinnig voor met woorde wat deurmekaar vloei. Daarom moet Amos die HERE se oordeel oor Amasia uitspreek
in vers 17.

7:17 ‘ Daarom, so sê die HERE: jou vrou sal in die stad hoereer, jou seuns en jou dogters sal deur die swaard val,
en jou grond sal met ’n maatlyn uitgedeel word, en jy sal in ’n onrein land sterf, en Israel sal vir seker in
ballingskap gelei word uit sy land uit.’

Die woorde beskryf wat die aanval van ’n vyandige leër vir Israel en vir ’n individuele persoon sal behels, in hierdie
geval vir die priester van Bet-El. Sy gesin word ook daardeur geraak. Sy vrou sal, ontrou aan hom, met die soldate van
die vyand hoereer tot sy skande. Sy seuns en dogters sal met die swaard sterf en so die moontlike opvolging as priesters
uitwis, sowel as Amasia se hoop op ’n nageslag. So ook sy besittings. Sy grond sal onderverdeel word tussen die
vyandelike mag se emigrante (2 Kon 17:24). Hy sal self sterf op onrein grond, waar die HERE nie geken of gedien
word nie. Die priesterskap wat Jerobeam I ingestel het, sal nie verder bestaan nie. Israel verloor die land wat die HERE
aan hulle geskenk het en die hele volk word as bannelinge weggevoer uit die HERE se belofteland, omdat hulle Hom
verlaat het. Israel se ballingskap word ook in 5:5,27; 6:7; 7:11; 9:9 vermeld.

Volgens 2 Kor 17:6 het die Assiriërs Israel na Assirië toe weggevoer en in die Assiriese ryk verstrooi. Dit was in 722
v.C. amper 40 jaar na Amos se profesie.

Skrywer: Prof Francois Malan




Amos(14) – Francois Malan

Amos en Amasia (7:10-17)

Die verslag van die gebeure wat hier ingevoeg is voor Amos se vierde gesig in die reeks in 8:1-3.

7:10 ‘Amasia, die priester van Bet-El, het Jerobeam, die koning van Israel laat weet: Amos het ’n komplot teen u
gesmee in die midde van die huis van Israel. Die land sal nie kan uithou om al sy woorde te bevat nie
(2020:…die land sal dit nie kan uithou onder al sy woorde nie).

Amasia is ’n afstammeling van die onwettige priesters wat Jerobeam I aangestel het (1 Kon 12:31). Waarskynlik het
Jerobeam II hom as leierpriester van Bet-El aangestel. As staatspriester rapporteer hy aan Jerobeam. Jerobeam weet
blykbaar van Amos, want hy word nie aan Jerobeam voorgestel nie, net sy naam word genoem. Amos het ook in
Samaria waar Jerobeam bly, sy boodskap verkondig (3:9,12; 4:1; 6:1).

Amos se uitsprake het nou vir Amasia net te veel geword. Twee maal het Amos ballingskap vir die volk voorspel
(5:5,27; 6:7), verwoesting van die altare (3:14) peste en die uitwissing van die leër. En nou het hy ook Jerobeam se dood
met die swaard voorspel (7:9). Amasia beskou Amos se uitsprake as politieke uitsprake wat hoogverraad pleeg teen
Jerobeam as leier en teen die hele volk.Vir Amasia lê die godsdiens en die politiek op dieselfde bladsy. Amos se oproep
tot ’n opstand, soos hulle meen, geskied openlik by die volksfees te Bet-El (vgl. 2 Kon 12:32: in die agtste maand met
die loofhuttefees na die druiwe-oes met volop wyn, Num 29:12-38).

Die kerkleiers span saam teen die profeet van die HERE en roep die staatsgesag op teen Amos. So het die Joodse
leierpriesters vir Jesus by die Romeinse owerheid aangekla as ’n staatsgevaarlike profeet (Luk 23:1-2).

7:11 ‘want so het Amos gesê: met ’n swaard sal Jerobeam sterf en Israel sal beslis in ballingskap gaan, weg van sy
grondgebied af.’ (LXX het ‘as krygsgevangenes uitgedryf word,’ vir ‘in ballingskap gaan.’)

Amasia rapporteer die twee hoofsake van Amos se prediking korrek: die bedreiging van die koning se lewe. Maar
Amasia bring ’n kritiese verandering in Amos se dreigemente. Hy beweer dit is wat Amos gesê het, sonder om enigsins
na Amos se beklemtoning te verwys, dat dit alles die HERE se woorde en besluite is. Amasia het die twee gewraakte
uitsprake van Amos nie as die HERE se straf oor Jerobeam en sy volk gehoor nie, maar as ’n verkondiging van ‘n
gewelddadige opstand wat die volk tot ’n rebellie opwek. Amasia se redusering van Amos se woorde tot ’n blote
politieke krisis is ’n aanduiding van die stand van Israel se godsdiens. Hulle hoor nie meer die woord van die HERE nie.

2 Konings 14:29 sê net dat Jerobeam oorlede is, en spesifiseer nie hoe hy dood is nie. Sy seun Sagaria is egter ses
maande later deur Sallum voor die oë van die volk doodgemaak (2 Kon 15:10). Die ballingskap van Israel is reeds in
5:5,25 genoem en in Samaria aangekondig (6:1,7). Dit het stelselmatig gebeur, eers met die stamme oos van die
Jordaan, toe die noordelike stamme, en in 722 v.C. is Samaria se bevolking in ballingskap na Assirië weggevoer (2 Kon
17:5-6).

Amasia val Amos aan (7:12-13)

7:12 ‘Amasia het vir Amos gesê: Siener gaan weg, vlug vir jou (beswil) na die land van Juda;
gaan verdien jou brood daar en gaan gedra jou daar as ekstatiese profeet.
LXX … gaan lewe daar en gaan verduidelik die woorde van die gode daar.
2020 … siener, trap! en vlug vir jou eie beswil na die land van Juda; gaan verdien jou brood daar en
profeteer daar.

Die woord ‘siener’ vir iemand wat die openbarings van God sien, word deur Israel se hoofpriester Amasia
geringskattend, neerhalend, gebruik. Hy glo nie die woorde van Amos kom waarlik van die HERE af nie (vir die term
‘siener’ vir ’n profeet, vgl. 1 Sam 9:9; 2 Sam 24:11).

‘Gaan weg!’ – Amasia, as die hoof van die staatstempel (vers 13) jaag Amos weg uit Israel, as ’n ongewenste politieke
opsweper en vyand van die staat Israel en die regering van Israel. Daarby gee Amasia sy idee van ’n profeet as iemand
wat om den brode in ekstase raak, soos daar blykbaar baie profete in Israel was, soos die ongeveer 400 van Agab se
profete wat ’n gunstige uitspraak vir hom gegee het (1 Kon 6,13; vgl. Miga 3:5,11). Jesus het sy kerk ook gewaarsku
teen valse profete (Mark13:22; Matt 24:24; vgl. 2 Petr 2:1). `

7:13 ‘Maar in Bet-El mag jy nie langer as profeet optree nie, want dit is die koning se heiligdom, dit is ’n tempel
van die koninkryk.
LXX Maar in Bet-El mag jy nie langer as profeet profeteer nie, want dit is die heiligdom van die
koning, en die huis van die koninkryk.

Die tempels in Bet-El en Dan was van die begin af bedoel as politieke sentrums. Jerobeam I het die tempels gebou sodat
die koningskap nie teruggaan na die huis van Dawid nie’ en ‘hy het sommer self besluit oor die maand waarin die
Israeliete die fees moes vier’ en ‘hy het self die offer op die altaar aan die brand gesteek’ (1 Kon 12:26,33; 13:1).
Jerobeam II het ook nie afgesien van enige van die sondes wat Jerobeam die seun van Nebat vir Israel laat doen het nie
(2 Kon 14:24). Daarom noem Amasia dit die koning se heiligdom en die tempel van die koninkryk. Teen dié tempels
mag niemand iets sê nie, want dit is opstand teen die regeerder en die volk. Die HERE is nie die middelpunt van hulle
godsdiens nie. Die volk en die koning het die middelpunt geword van hulle soort godsdiens. Dit is afgodsdiens met
hulleself en hulle koning as hulle afgode waarop hulle vertrou. Hulle tempel en hulle heiligdomme moes die staat se
voortbestaan verseker. Daarom is hulle so ywerig godsdienstig. Dit is in eie belang, om den brode, soos Amasia die
profetiese werk van Amos misverstaan het.

Skrywer:  Prof Francois Malan