Vraag: Gesig van die Vader – Jan van der Watt

Vraag:

Tjaart vra hoe dit verstaan moet word dat daar in Eksodus 33 staan dat niemand God se aangesig sal sien nie, maar dat Moses het God wel van agter gesien het.

Prof Jan van der Watt Antwoord

Daar staan in ‘n paar plekke in die Bybel dat mense God nie mag of kan sien nie (bv. Eksodus 33:20, 23; of Johannes 1:18). Die verskil tussen God en mens is te groot. God se heerlikheid is ver bo wat ‘n mens kan aanskou.

Ons moet Eksodus 33 dus in verband sien. Moses verteenwoordig God se volk en is in gesprek met God. In die gesprek vra Hy om God se magtige verskyning te sien. Uit genade het God se magtige voortreflikheid wel voor Moses verbygekom en in Eksodus 33:21-23 word dan verduidelik hoe dit gebeur. God sal Moses se oë met die palm van sy hand toegehou tot Hy verby is. So het God self vir Moses beskerm om nie dalk tog na Hom te kyk (te loer) nie. Hy het God toe net van agter gesien. In vers 23 word dan gesê wat presies bedoel word met “om God te sien’’: “Niemand mag sy gesig sien nie”, staan daar. Hierdie gebeurtenis moet as ‘n spesiale genadegeskenk van God aan Moses gesien word.

Daar is egter geleerdes wat argumenteer dat Moses God glad nie gesien het nie. God se heilige teenwoordigheid het by Moses verbygegaan en toe God verby is, kon Moses alleen maar die weg sien waar God by hom verbygegaan het. Die verklaring vertolk egter nie presies wat daar in die teks staan nie. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Vraag: Is dit God se wil – Jan van der Watt

Estelle vra:

 Goeienaand! Help asseblief: my buurvrou se venoot het haar geld verduister en die besighied moes sluit. Sy glo vas dit was God se wil en dat Hy tot haar redding sal kom. Sy skuld derduisende rande aan huur en moes haar kinders na familie stuur om versorg te word. Sy glo van dat God, soos Hy vir Job verlos het, haar ook sal verlos sonder dat sy iets hoef te doen. Sy sit tuis en lees heeldag Bybel en bid en doen niks om werk of hulp te soek nie. Die huiseienaar het haar tot Donderdag gegee om te trek aangesien sy sedert November nog geen huur betaal het nie. Ek koop kos, lugtyd en data vir haar maar ek sukkel self en probeer haar te kry om werk te soek maar sy probeer my net oortuig dat my geloof nie sterk genoeg is nie. God het my gehelp toe ek ‘n afleggingspaket moes neem – ek het Hom vertrou en werk gaan soek. Hy het my nie net werk gegee nie maar ‘n hele nuwe loopbaan. Ek probeer hierdie wonder aan haar oordra maar volgens haar is ek verkeerd. Is ek? As God ‘n probleem oor ons pad toelaat, kan ons net agteroor sit en ‘n oplossing verwag? Ek sukkel hiermee want ek glo God het my ‘n verstand en vermoeens gegee om oplossings te soek en Hom in dit, en met alles, te vertrou.

Prof Jan van der Watt Antwoord

Beste Estelle,

Dankie vir jou epos. Jou standpunt is inderdaad reg. Ons kan God vertrou vir hulp, maar ons moet ook van ons kant vir God ‘n kans gee om ons te help deur die deure wat hy vir ons oopmaak te gaan soek, soos jy inderdaad ook gedoen het. As ons niks doen nie, kan ons nie verwag God moet ons help nie. As ons nie die geleenthede gaan soek wat God vir ons wil oopmaak nie, hoe moet ons dit dan vind? Moedig jou vriendin aan om die lewe weer aan te pak en die trauma wat haar vennoot haar aangedoen het agter haar te laat. Geloof beteken ook om God te vertrou dat Hy ‘n plan met ons lewe het, ‘n plan waarby ons aktief betrokke moet raak.  

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Videogreep: Woorde in die Bybel – Dankie – Jan van der Watt




Videogreep: Woorde in die Bybel – Verlowing – Jan van der Watt