Perspektief op gebed (15) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Deel 2: Die ou slang kry ‘n bloedneus.

Here help, satan wil my seermaak!

Die positiewe pool van sondebelydenis is om God te vra om jou teen sonde te bewaar. Elke gelowige is satan se verklaarde vyand nommer een. Satan wil ons graag seermaak. Dit is die enigste manier waarop hy die belange van God kan skade aandoen. Daarom moet ons voortdurend bid:

Laat ons nie in versoeking kom nie,

maar verlos ons van die bose.

(Mat 6:13)

Maar nou moet ons weet waaroor ons bid en waarvoor ons vra as ons vra dat God ons sal verlos van die bose. In Efesiërs 6:12 waarsku Paulus juis sy gemeente:

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie

maar teen die owerhede, teen die magte,

teen die heersers van hierdie donker wêreld,

teen die bose geeste in die lug.

Daarom pas die raad wat hy gee by die tipe stryd wat gevoer moet word:

Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.

Doen dit alles biddend

en smeek God by elke geleentheid deur die Gees.

Wees waaksaam

en bid gedurig vir al die gelowiges.

(Ef. 6:10,18)

Jy moet jouself dus biddend staal teen versoekings en aanslae wat oor jou lewenspad mag kom. In gesprek met God  moet jy jouself voorberei om elke slim plan van satan om jou uit te vang, te fnuik. Dit moet ‘n belangrike deel van jou sondebelydenis uitmaak. Jy moet dus nie alleen jou sonde wat jy reeds gedoen het, bely nie. Jy moet jouself ook soos ‘n soldaat voorberei vir die stryd wat teen satan voorlê.

Die Here gee my ‘n wapenrusting.

Uit Ef. 6:10-17 (die sogenaamde ‘wapenrusting van God’ – vers 13) is dit meer as duidelik wat dit beteken om jouself vir die stryd teen die bose gereed te maak. Die gelowige moet op sy pos bly (verse 13 en 14). En daardie pos is om naby die Here te leef. Die Here sal nie sy kind in die leeukuil instuur sonder om Self daar te wees om hom of haar te beskerm nie. Maar in hierdie stryd sien die Here ons nie as babatjies nie, maar as soldate. Vir hierdie stryd moet ons God se wapenrusting aantrek.

Al hierdie geestelike wapens sê net oor en oor dieselfde ding: leef uit jou intieme verhouding met God. Immers, Wie anders is die waarheid as God self? Wie is die groot Regter wat ons regverdig verklaar en lei om reg op te tree? Hoe sterker ons geloof, hoe beter kan ons die satan se aanvalle stuit; met ander woorde, hoe nader ons aan die Here staan hoe swakker word satan se kans om ons beet te kry. En dan gee die Here nog vir ons die swaard van die Gees, die woord van God. Waar die leuens en misleiding van satan dus opduik, daar moet ons die woorde van God laat weerklink!

Die groot geheim van ons lewenstryd is dus om met ons hand styf in die hand van God te leef. As ons saam met en naby Hom deur die wêreld loop, sal satan se skaduwee nie eers naby ons kom nie! Satan is bang vir God. Hy is bang vir die Koning van die konings, want God het hom vernietigend verslaan. Daarom waag hy dit nie naby God nie. As jy dus in alles wat jy doen naby God bly, bly jy eintlik tegelykertyd uit die pad van satan! Ons sien hier dus weer dat die hart van gebed – en ons hele geestelike lewe – bly maar ‘n intieme en hegte verhouding met die lewende God.

Tog  gebeur daar soms in jou lewe dinge wat jou maar traag maak om jou wapenrusting aan te trek. Dit is net asof jy nie aan die bid kom nie. Soms lyk dit byna asof jy na die vyand oorgestap het… 

Gaan op jou knieë as jy so voel. In gebed trek jy die wapenrusting van God aan. Daar berei jy jou voor om die versoekings teen te werk.

Sonde: my groot vyand wat ek soms soos ‘n vriend behandel.

‘n Goeie gebedslewe het ook sy vyande, soos ons reeds gesien het.

Ons het reeds gesien dat gebed moontlik is omdat God daar is. Omdat God daar is en dit so wil hê  kan ons in ‘n verhouding met Hom staan. Hierdie verhouding word gevoed en versterk omdat ons met God kan praat. Uit hierdie gesprek met God put ons dan ook ons krag.

Natuurlik sal die duiwel sy mes in hierdie verhouding wil inkry! Hoe swakker die verhouding, hoe beter is die duiwel se kanse om God se werk in jou te laat ontspoor. Hoe meer die duiwel jou gebedslewe kan aftakel hoe beter is sy kanse om jou verhouding met God te bederf.

Nou is daar sulke kraperighede wat die duiwel gebruik om jou gebedslewe uit te kalwe. Kom ons kyk na ‘n paar ‘taktieke’ wat die duiwel gebruik om ons geloofslewe te versteur. So kan ons agterkom hoe hy werk.

* Die duiwel krap dikwels ons verhoudinge wat vir ons die meeste tel deurmekaar. Hy gooi daai saadjie van ontvredenheid en spanning tussen man en vrou in, of tussen ma en kind. So iets maak jou ongelukkig en ontstel jou. As jy dan op jou knieë staan voel jy net nie reg om te bid nie. Jy voel skuldig of skaam, want jou saak met jou man of kind is nie heeltemal wat dit moet wees nie. Op daardie stadium voel die situasie nog nie vir jou heeltemal reg om alles met jou maat ‘uit te praat’ nie. Wat nou gemaak? Hoe bid jy nou? Huigel jy nie dalk om nou met die Here te praat terwyl alles nie reg is nie? Natuurlik lag satan al die pad. Hierdie taktiek weet hy werk soos ‘n bom!

Daarom sê Petrus dat ons ons verhoudings in die gesin gesond moet hou, want ‘dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder’ (1 Pet 3:7). Dieselfde soort gedagte kry ons by Mat 5:23-24. Hier val dit jou by dat jou broer iets teen jou het. Eintlik sou ons kon sê dat dit sy probleem is. Die Here redeneer egter nie so nie. As iets van jou jou broer pla, moet jy dit gaan regmaak. En as dit jy is wat iets teen jou broer het, geld dieselfde: vergewe hom (Mk11:25). Gebed funksioneer effektief binne die ruimte van gesonde persoonsverhoudinge. Dit is hoe die Here dit wil hê.

* Geestelike selfversekerdheid en hoogmoed is ook ‘n stok in die wiel van effektiewe gebed. Dit is as jy begin dink dat die Here eintlik ‘gelukkig’ behoort te voel oor jou. Jy is mos nie soos baie ander nie… nee, jy is beter! Jesus het ‘n hele gelykenis daaroor vertel. In Luk 18:9-14 lees ons van die twee mans wat in die tempel gebid het. Die een het sy eie lof voor God besing. ‘n Mens kry byna die gevoel dat daardie man verwag het dat die Here vir hom hande moes klap. Aag nee wat, so werk dit nie. In gebed is jy die een wat op jóú knieë voor God staan en nie andersom nie! Daarom luister God eerder na die tollenaar se gebed wat uit ‘n hart  van nederigheid kom.

* Ons motiewe met gebed tel ook baie. Die fokuspunt is kommunikasie met die lewende God. Dit is die manier waarop ons nader en nader aan Hom wil kom. Maar dit is so maklik vir hierdie fokus om te verskuif. So maklik kan ons net oor onsself begin praat. So maklik word EK die middelpunt van die hele gesprek. Ek vergeet dat dit ek is wat voor God staan, maar bid asof dit God is wat voor my staan. Hy moet luister (en maak?) soos ek sê. Geen wonder dat Jakobus (4:3) dit as een van die struikelblokke in ‘n gesonde gebedslewe uitgewys het nie: ‘As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig’.

* Dit kan ook gebeur dat ons dink dat ons sekere sondes vir die Here kan wegsteek. As ons op ons knieë staan, bid ons ten spyte van daardie verkeerde dinge wat nog in ons lewens is. Ons ‘ignoreer’ dit liefs en dink dat dit sommer sal weggaan. Ons praat nie met God daaroor nie en dink dat Hy dit dan nie sal agterkom nie. Jesaja (59:1-2)  het die saak mooi gestel:

Die arm van die Here is nie te kort om te help nie

en sy oor nie te doof om te hoor nie.

Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het

tussen julle en julle God,

dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie

en nie na julle wil luister nie.

 Ons het geen ander keuse as om eerlik met God te wees nie.  Ons kan nie met twee gesigte voor Hom verskyn nie. Ons moet suiwer en opreg voor Hom leef: Laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid… saam met almal wat die Here met ‘n rein hart aanroep (Heb. 10:22 en 2 Tim2:22). Dit beklemtoon die belangrikheid van sondebelydenis.

*  Dikwels met ‘n kaartspel in ‘n film, bring die speler op die laaste sy ‘troefkaart’ uit. Die boef steek natuurlik altyd so ‘n kaart iewers in sy mou weg. Daai kaart wen kaartspelle, eerlik of te nie! Twyfel is die duiwel se troefkaart. Daarmee probeer hy die mat onder die gelowige se voete uitruk. Geen wonder dat die Here vir ons ‘n baie duidelike waarskuwing in sy Woord teen twyfel gegee het nie:

Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie,

want iemand wat twyfel,

is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag

en heen en weer gedryf word.

So ‘n mens wat altyd aan die twyfel is

en onbestendig is in al sy doen en late,

moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

(Jak. 1:6-8)

Twyfel is eintlik ‘n vreeslike ding. Om in gebed te twyfel sê eintlik dat jy nie dink God sal sy woord hou nie. Immers, as ‘n mens in aanbidding voor God staan en besef  Wie Hy regtig is, hoe kan jy dan nog twyfel? Om dit so te stel; As God by die voordeur inkom, vlug twyfel by die agterdeur uit. God en twyfel kan nie tegelyk in dieselfde ‘huis’ leef nie. Die effektiefste manier om twyfel teen te werk is om God se hand styf vas te hou.

Kom ons oefen…

As ‘n mens ‘n hou sien kom kan jy koets. As jy kan nadink oor versoekings wat jou mag tref kan jy soveel sterker staan as hulle jou die dag wel tref. Ruim daarom tyd in jou gebed in om jou teen versoekings te staal. Trek die wapenrusting van God aan. Kom ons kyk hoe dit prakties gedoen kan word.

Hier moet daar weer tyd vir bepeinsing gemaak word.

* Dink aan môre. Is daar enige situasie waaraan jy kan dink wat jou miskien in die ‘moeilikheid’ kan hê. (Dit kan miskien ‘n gespanne verhouding met jou tienerkind of man wees; dit kan ‘n moeilike situasie by die werk wat jy moet regmaak; of wat ook al). Is daar so iets waaraan jy kan dink? Skryf dit neer……………………………………… …………………………………………………………………………………………………………………. ………………………………………………………………………………………………………………….

* As jy nou aan jouself raad moet gee in die lig van wat jy oor die ‘wapenrusting van God’ weet, wat sou jy sê moet jy doen? Wat dink jy sal vir jou werk as jy môre in die moeilike situasie kom? ……………………………………………………………………….. …………………………………………………………………………………………………………………. ………………………………………………………………………………………………………………….

* Praat nou met die Here daaroor……………………………………………………………………

………………………………………………………………………………………………………………….

* Dink ook af en toe na oor die gesindheid waarmee jy bid. Laat twyfel jou soms wankel, klink jou gebed soos die Fariseër s’n, bid jy soms net vir jouself? Of  staan God steeds in die sentrum van jou gebede?

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Perspektief op gebed (14) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Here, vergewe my sonde!

Hierdie hoofstuk word in twee onderafdelings verdeel:

                                                Deel 1: Sondebelydenis maak reg wat verkeerd is.

                                                Deel 2: Die ou slang kry ‘n bloedneus.

Dit is mense wat bid, mense soos jy en ek. Daarom sal gebed altyd in die kloue van sonde en gebrokenheid vasgevang wees.

Nou kan ons ongelukkig nie sommer hierdie saak ignoreer nie. Sonde benadeel gebed en benadeelde gebed help weer sondigheid aan. In hierdie bose spiraal wil geen Christen beland nie. En tog is dit ‘n strik wat so moeilik is om te vermy.

Deel 1: Sondebelydenis maak reg wat verkeerd is!

Ek het jou dan vertrou?

Wat is sonde? ‘n Mens sou seker vinnig ‘n lysie kan maak, soos vloek, lieg, steel en so aan. Maar die Bybel sal gou vir jou sê dat hierdie dinge net die simptome is van ‘n groter siekte. Die oorsprong van alle sonde lê in ‘n iets wat verkeerd loop met jou verhouding met God. Dit is iets wat maak dat jy so optree dat God ontevrede is. Nou kan daar baie redes voor gegee word, byvoorbeeld dat satan jou verlei, of dat jy ongehoorsaam is of jou eie kop wou volg. Maar die kern van die saak bly steeds dat daar iets verkeerd loop met jou verhouding met God.

Nou weet ons ook almal uit ervaring dat ‘verhoudings’ nie dooie goed is nie. Dit lewe! As jou beste vriend iets doen wat jou seermaak en benadeel, voel dit seer hier binne in jou. Daardie ‘onsigbare’ band tussen jou en hom – vertroue  –  word aan geknaag en geskuur. Dan moet dit reggemaak word. Die balsem van vergifnis en liefde moet uitgehaal word.

So werk dit ook maar met ons verhouding met God. Sonde, of dit nou vloek of steel is, doen iets aan my verhouding met God. En dit moet reggemaak word!

‘n Kind in die familie van God.

Soos reeds gesê gaan feitlik al die woorde en beelde in die Bybel oor die herstel van die verhouding tussen God en mens: die slawe van die sonde word vry, die dooies in die sonde kry lewe, die aangeklaagtes word vrygespreek.

‘n Christen is dus in die eerste plek iemand aan wie God die voorreg gegee het om in ‘n verhouding met Hom te staan. Nou is dit nie sommer enige verhouding nie. God maak ons kinders in sy gesin (vgl. Rom 8:15-17; Joh 1:12-13).

In die tyd van Bybel was families anders as vandag. Vandag se families is hoofsaaklik individualisties. Die kinders kan word wat hulle wil, kan hulle eie besluite neem, gaan gou uit die gesin en sit huis op en so aan. Die destydse families was anders. Dit was byna soos in die ou dae op die plaas. Die pa was die hoof van die gesin. Hy het die besluite geneem en het bepaal hoe die lede van die gesin hulle moet gedra. ‘n Sterk groepsband het die ou gesinne saamgebind. Die kinders was  in die eerste plek lede van die gesin. Gesinslede se persoonlike belange was ondergeskik aan die belange van die gesin. Hulle moes maak soos die pa en die gesin van hulle verwag en veral lojaal teenoor die gesin wees.

As die individuele lid van ‘n gesin egter iets doen wat die pa en die res van die gesin skade aandoen, is die verhouding tussen hulle versteur. Dan moet sake reggemaak word. Die vertroue moet weer herstel word. Die skuldige een moet ten minste vir die ander om verskoning kom vra en weer sy lojaliteit bevestig.

Hierdie inligting oor hoe gesinne in die Bybelse tyd gewerk het, help ons om te verstaan wat met sondebelydenis in die Bybel bedoel word. God vra van sy kinders om in gehoorsaamheid aan Hom op te tree. Hulle wil mos immers Christene oftewel gesinsgenote van God wees. Daarom vertrou die Here dat die gelowige in sy optrede ook sal wees wat hy sê hy wil wees.

As die gelowige egter nou sonde doen, skaad dit hierdie verhouding tussen Pa en kind. En die saak is met God nog baie erger as met ‘n gewone verhouding omdat God nie onreinheid duld nie. Hy sien nie maar foute oor nie. Hy sê nie ‘aag toemaar’ terwyl ons maar aankarring nie. Nee, op hierdie punt is God onverbiddelik. Hy háát sonde en daarom versteur ons sonde ongetwyfeld ons verhouding met God. Dit plaas ‘n vraagteken oor ons lojaliteit teenoor God. En dit kan nie so gelaat word nie.

Hierdie verhouding moet reggemaak word! Die vertroue moet herstal word. Die manier waarop God wil hê dat dit reggemaak moet word, is deur sondebelydenis.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Perspektief op gebed (13) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Deel 5: Ons Vader.

Here, laat U koninkryk kom…

Hierdie eerste fases van gebed stem ooreen met die manier waarop Christus sy dissipels geleer het om te bid. Kom ons kyk daarna.

Die eerste reëls van die ‘Ons Vader’ begin so:

Ons Vader wat in die hemel is,

laat u Naam geheilig word;

laat u koninkryk kom;

laat u wil ook op die aarde geskied,

net soos in die hemel.

(Mat 6:9-10)

In hierdie openingsinne van die ‘Ons Vader’ val die fokus mooi op die eerste fases van gebed.

* Ons Vader wat in die hemel is…  Juis hier word die geweldige kontras tussen die grootheid van God, maar tog sy nabyheid aan ons uitgedruk. Hy is in die hemel, dáár is sy troon. Maar tog is Hy ons Vader, die Een wat in ‘n intieme verhouding met ons staan! In jou gebed reik jy tot in die hemel. In jou eie kleinheid en onsekerheid ontdek jy daar ‘n liefdevolle Vader wat ook by jou is.

* Laat u Naam geheilig word… Wie God is en wat Hy doen mag nie geheim bly in die wêreld nie. Wie dit immers hoor sal nie anders kan as om oorweldig te word deur die heiligheid en grootheid van God nie. Maar hoe en deur wie word God geheilig in die wêreld? Hoe sal die wêreld bewus word van die groot heiligheid van God? Jy is die een wat deur jou dankbare optrede en toegewyde gedrag God ‘bekend maak’ in die wêreld. Sy Naam word deur jou optrede geheilig. Jy is intens betrokke by sy saak.

* Laat u koninkryk kom… God se koninkryk kom in die wêreld waar mense se oë oopgaan om Hom as die grote Koning van die heelal erken. (Die Here het mos altyd sy koninkryk gehad. Dit hoef in daardie sin nie te kom nie. In die Nuwe Testament beteken die koninkryk wat kom eintlik dat die feit van die heerskappy van God tot die sinne en verstand van mense deurdring). Wie is dit nou wat hierdie koninkryk moet laat kom? God gebruik jou, sy kind. In jou optrede word sy grootheid en heerskappy tog vir ander mense duidelik! Om dus te bid: ‘Laat u koninkryk kom’ impliseer dat jy vra dat God jou so sal vorm dat mense Hom in jou optrede sal raaksien. Dit vra natuurlik van jou die uiterste vorm van toewyding. Jy sê eintlik vir God dat sy saak vir jou so groot erns is, dat jy jou heeltemal tot beskikking daarvan wil stel. Waar God betrokke wil wees, daar wil jy ook wees. Wat God wil doen, dit wil jy ook doen.

Om te bid: ‘Laat u koninkryk kom’ beteken om jou met alles wat jy het in God se hand te plaas – vir Hom om te gebruik soos Hy wil…

* Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel… Hierdie gebed bou voort op die gebed vir die koms van die koninkryk. God se wil geskied tog in mense. Die gebed dat God se wil dus moet geskied is ‘n gebed dat dit in jou moet geskied. Soos Hy wil, so sal jy… Waar God jou in sy tapeserie wil inweef, daar sal jy op jou helderste probeer skitter. Op die wyse geskied God se wil op aarde… met mense wat hulleself onvoorwaardelik in sy hand lê…

Met hierdie gebede gee jy erkenning aan die feit dat God se saak jou saak is en dat God van sy kan af besluit het om jou saak deel van sy saak te maak.

Op ons knieë

Hierdie eerste fases van gebed is werklik ‘n Godservaring in die volle sin van die woord. Dit is hier waar jy moet besef Wie God regtig is! Maar hier moet jy ook besef wie jy nou eintlik is. Dit is ook hier waar jy iets uit dankbaarheid daaraan moet doen.

Kom ons doen dit…

Kom ons dank Hom!

* Maak ‘n lysie van dinge wat jy dink die Here aan jou gegee het. (Dit kan jou lewe wees, jou verlossing, jou familie, jou werk, jou gesondheid… of waaraan jy ook al kan dink).

 

#……………………………………………………………………………………………………….

#……………………………………………………………………………………………………….

#……………………………………………………………………………………………………….

#……………………………………………………………………………………………………….

#……………………………………………………………………………………………………….

Dank God nou daarvoor. Met ander woorde, gee aan Hom die eer daarvoor, MAAR sê ook vir Hom dat jy dit graag aan Hom sal wil teruggee deur die manier waarop jy jou lewe aan Hom gaan toewy.

(‘n Praktiese wenk is om by elke saak waarvoor jy God wil dank eers vir jouself die volgende vraag te stel: ‘Wat sou ek sonder hierdie ding gewees of gedoen het?’ Byvoorbeeld: dank God vir jou verlossing. Probeer jouself indink wie en wat jy sonder ‘verlossing’ sou wees. Gee met hierdie gevoel en besef spesiale dank aan God).

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Perspektief op gebed (12) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Deel 4: Dankie Here!

‘Dankie sê’ is om jou skuld te betaal.

In die tyd van die Bybel was ‘dankie sê’ iets anders as vandag. Vandag is dankie ‘n  woord wat baie gebruik word. Dink maar hoe ons ons kinders met moeite leer om vir alles ‘dankie’ te sê. Dit is juis die probleem. Ons woord ‘dankie’ het sy krag verloor; dit het ‘leeg’ geword. Daarom sê mense baie keer: ‘Ek weet nie hoe om vir jou dankie te sê nie’, of  ‘Ek het nie woorde om jou te bedank nie’. Om net ‘dankie’ te sê klink so hol en leeg.

In die Bybelse tyd was dit anders. Dankbaarheid was nie eintlik iets waaroor jy  gepraat het nie, maar wat jy gedoen het! Die ou samelewing het interessant gewerk. As iemand iets vir jou gedoen het, het hy of sy eintlik verwag dat jy iets soortgelyks sal terugdoen. Dán sou jy ‘dankbaarheid’ bewys. Jy ‘skuld’ hom of haar dus dit wat aan jou gedoen is. Dit mag vir ons snaaks klink dat dankbaarheid so saam met ‘skuld’ loop, maar so was dit nou maar eenmaal. Dankbaarheid beteken inderdaad om in jou optrede te erken dat iemand iets vir jou gedoen het, maar dit is ook ‘n  erkenning van jou verpligting om presies dit vir die persoon terug te doen.  Julle belange en sake loop dus inmekaar. Julle is voortaan by mekaar se sake betrokke.

Die mense in die ou tyd het dus eintlik nooit vir mekaar ‘dankie’ gesê nie. Hulle het ‘dankie’ gedoen! Dit is byna soos in ‘n  rugbywedstryd. Jy sê nie gedurig ‘dankie’ as iemand die bal vir jou gooi nie. Jou maat weet mos dat as jy die kans kry, jy die bal weer vir hom sal gooi. Jy moet iets ‘doen’. Dit sien ons dan ook duidelik in die Bybel. Met enkele uitsonderings na, lees ons nie in die Nuwe Testament dat mense vir mekaar ‘dankie sê’ nie.

Daar is egter ‘n groot uitsondering! Teenoor jou meerdere, die een wat vir jou sorg, moes jy nie alleen met jou optrede nie, maar ook met jou WOORDE ‘dankie’ sê. Dit hang nou saam met die eer en aansien wat jy so vir die belangrike persoon gee. Deur ook vir hom woordeliks te bedank beteken dat almal kan hoor wat hy gedoen het. Dit verhoog sy eer en aansien.

Daarom is die Bybel vol verwysings na ‘dank’ wat aan God gebring moet word (bv. Rom 1:8; Kol. 1:12, 3:17, 4:2; 1 Thes. 5:18). Hy is immers die Een wat vir ons alles gee en vir ons sorg. Sy aansien moet deur ons dankbaarheid verhoog word. ‘Lof’ en ‘dank’ kom dus in die Bybel baie naby aan mekaar. Dink maar aan die bekende verhaal van die tien melaatses wat genees is (Luk 17:11-19). Net die een het teruggekom om Jesus te kom bedank (Luk 17:16).  Luk 17:15 en 18 vertel egter dat sy dank met die prys en eer van God versmelt het. Dank vind uitdrukking in lof.

Dankie doen!

Dit bring ons dan by gebed. Gebed is die plek waar ons soos die melaatse man in dankbaarheid voor God moet neerval. Maar ons moet besef wat dit beteken. Dit beteken ‘n gevoel van dankbaarheid teenoor God nie, maar ook ‘n erkenning van ons verpligtinge en verantwoordelikhede teenoor God. Ons kan nie net ‘dankie’ nie, ons moet ook ‘dankie’ doen! En hierdie doen impliseer dat ons dit wat God vir ons doen en gee weer aan Hom sal teruggee… En dit vra baie. Bybelse dankbaarheid is inderdaad nie goedkoop nie!

Dink net ‘n  bietjie…

* Wie het vir jou die lewe gegee?

Wat behoort dus aan Hom en moet jy eintlik aan Hom teruggee?

# Natuurlik jou lewe! Jou lewe behoort aan Hom en daarom moet jy jou lewe vir Hom leef.

*  Wie het vir jou alles gegee wat jy besit?

Wat behoort dus aan God teruggegee te word?

# Natuurlik dit wat jy besit! God het jou as rentmeester aangestel oor jou eiendom. Hy gun dit vir jou, maar om tot sy eer te gebruik.

* Wie het aan jou jou lewenslus en gesondheid gegee?

Wat is dus eintlik God s’n om te gebruik?

# Natuurlik jou lewenslus en gesondheid. God wil hê dat jy die lewe geniet, maar so dat Hy daarop trots kan wees.

En so aan…

Op die wyse word dank ‘n  lewenstyl. Omdat God by elke faset van ons lewens betrokke is, moet ons altyd dankbaar wees (1 Thes 5:18) vir alles (Ef 5:20). Die wyse waarop jy praat, mense hanteer, optree, elke ding wat jy doen moet van dankbaarheid spreek… dankbaarheid teenoor God wat dit vir jou moontlik gemaak het.

En op jou knieë in gebed gee jy aan God dankbare erkenning daarvoor.

Dankbaarheid in die gelowige se lewe word dus in die woorde van lof aan God geskryf, en met die dade van erkentlikheid onderstreep.

Sê ‘ja’ vir God vir alles wat jy het omdat Hy lankal vir jou ‘ja’ gesê het.

Dankbaarheid volgens die Bybel is dus een groot stuk toewyding aan God. Dit is om vir God te sê jy is Syne! Jy is Syne met alles wat jy het, omdat alles wat jy het buitendien syne is! Hy het dit immers vir jou gegee. In dankbaarheid wil jy dit nou VIR HOM gebruik.

Prakties op jou knieë beteken dit dat jy oor elke faset van jou lewe nadink; dat jy jou lewe uit verskillende hoeke bekyk. En dan, so met jou lewe ‘voor jou’, weeg jy elke faset op aan die eis: ‘Is hierdie faset van my lewe ‘n ondubbelsinnge “ja” aan God?’  As die antwoord miskien nie so positief is nie, verwag God dat jy dit ‘n ondubbelsinnige ‘ja’ sal maak.

Here, ek is U s’n

Dit is waar toewyding in gebed inkom. Waar jy op jou knieë in die troonsaal van God staan, kan jy maar net prewel: ‘Here, ek is U s’n’. Uit hierdie oomblikke van toewyding aan God moet die begeerte groei om elke swart kol in jou lewe uit te wis, elke verkeerde begeerte te vermorsel.

Hoe kan dit anders? As jy werklik voor die troon van die lewende God staan, kan jy nie anders as om neer te val en Hom te loof en te dank nie. En dank beteken om jou geheel aan Hom toe te wy. Verder deur jou gebed sal jy sekerlik weer oorweldig word deur die begeerte om God vir ander dinge te dank, byvoorbeeld as jy van Hom dinge gevra het en jy besef  Hy het dit aan jou gegee. Maar toewyding pas hier aan die begin van jou gebed omdat dit nie van lof en dankbaarheid geskei kan word nie. Daarbenewens berei dit die bidder ook voor vir ‘n volgende belangrike faset van gebed, naamlik sondebelydenis.

Word nou stil en sê vir die Here net een sinnetjie: ‘Here, ek is U s’n’. Maar voordat jy dit doen, dink eers na presies wat jy daarmee gaan bedoel.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt