Perspektief op gebed (11) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Lof uit ‘n traan, maar sonder ‘n vals noot.

‘n  Rooilig: ek loof die Here so hard dat ek net my eie stem hoor!

Lofprysing maak ‘n  belangrike deel uit van baie kerke se eredienste en ander byeenkomste. Dit is natuurlik wonderlik en prysenswaardig. Tog moet ‘n  mens versigtig wees dat die lofprysing se fokus nie verskuif na die verkeerde plek nie. Enige plek behalwe die totale fokus op ons Brandpunt, op God, is die verkeerde plek.

Musiek help met die lofsang, mooi liedjies help ook. ‘n  Vrolike opgewonde atmosfeer het nog nooit kwaad gedoen nie. Die rooiligte moet egter flikker as die lofprysing maar net word soos ‘n  ‘sing song’ op ‘n  kermis. Ek geniet die liedjies en die atmosfeer. Dit laat my lekker voel, ja ek voel selfs naby die Here! Om die waarheid te sê, dit was so lekker dat ek van die Here vergeet het. Of miskien het ek nie heeltemal van Hom vergeet nie, maar ook nou nie heeltemal op Hom gekonsentreer nie. Die sang was so lekker… As dit van lofprysing waar word, verloor lofprysing sy wesentlike doel.

Lofprysing met sang is wonderlik… as dit totaal op God fokus! Lofprysing sonder sang is ook wonderlik… as dit ook totaal op God fokus!

Kom ons oefen.

* Dink aan een (of meer) ding(e) in jou lewe wat vir jou sleg is en wat jy graag anders sou wou gehad het.

#…………………………………………………………………………………………….

#…………………………………………………………………………………………….

#…………………………………………………………………………………………….

Loof God nou daarvoor dat Hy dit met jou laat gebeur het of toegelaat het dat dit gebeur het. Vra Hom sommer ook waarom Hy dit gedoen het en wat Hy daarmee vir jou wil leer. Sê vir Hom dankie vir sy betrokkenheid by jou lewe.

Dit het nou duidelik geword dat ook hierdie stap nie sommer maar net kan ‘gebeur’ nie. Dit help nie om maar net op jou knieë neer te sak en weg te trek moet allerhande ‘lofbetuiginge’ nie. ‘Lofprysing’ is daardie geleentheid in jou gebed waar jy baie spesiaal vir God erken vir sy betrokkenheid in jou lewe. ‘n Paar algemene opmerkings op hierdie punt in jou gebed is alles behalwe goed genoeg. Dit is nie hoe God dit wil hê nie. Hoe kan jy God behoorlik loof as jy nie jouself eers rustig afvra hoe God in jou lewe – goed en sleg – betrokke was nie. Dan kan jy mos sinvol met jou lofgebed aangaan.

 Geliefde, moenie jou gebed verwater deur jou lof aan die Here af te skeep nie. Leer Hom loof in alles!

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

 

 




Hoe bestudeer ek die Bybel? – Jan van der Watt

Elbe vra:

Ek wil die Bybel bestudeer van voor tot agter, kruis en dwars maar sistematies. Hoe kan ek dit doen?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Daar het onlangs ‘n artikel oor Bybelstudie op ons webblad verskyn. Hier is nog ‘n stukke wat daardie artikel aanvul.

Daar is verskillende maniere om die Bybel van voor tot agter te bestudeer. DIe heel eerste stap is om die Bybel sistematies deur te lees. Dit beteken nie dat mens By Genesis begin en by Openbaring eindig nie. DIe eerste paar boeke Genesis en Eksodus gaan oor die geskiedenis van die Jode, maar as mens by dele soos Levitikus is net ‘n klomp reels. As mens daar kom, verloor baie mense moed. Met die Nuwe Testament is die eerste drie Evangelies weer baie dieselfde (Matteus en Lukas het Markus as bron gebruik en lyk daarom so dieselfde). As jy dus met die Nuwe Testament begin lees jy dus basies drie maal dieselfde storie wat meestal dieselfde is (daar is natuurlik verskille ook). Dus, moet mens so bietjie afwissel. Daar is verskillende moontlikhede:

  1. a) Daar is leesprogramme wat mens help om die Bybel bv. in ‘n jaar deur te lees (gewoonlik is daar ‘n stukkie uit die Ou Testament en een uit die Nuwe Testament vir elke dag). Dit is gewoonlik redelik lang dele – mens kan dit oor twee jaar versprei deur die daaglikse leesprogram oor twee dae te lees. So ‘n leesrooster kan mens bv. agter in BYBEL A-Z kry. Die Bybelgenootskap het ook so rooster (op webblad: co.za). Kyk ook op Christianity.com, GOOGLE ‘reading the Bible’ of ‘lees die Bybel’.
  2. b) Mens kan begin met die Nuwe of Ou Testament (ek sou die Nuwe Testament aandbeveel). Die eerste deel van die Nuwe Testament is geskiedenis (Matt – Handelinge). Dan volg daar ‘n hele reeks briewe van Paulus, Petrus ens. Dit eindig met die profetiese boek Openbaring. Soos ek gese het, sal ek bv. net Matt eers lees (Markus en Lukas oorslaan) en dan van Johannes af verder lees (Johannes vertel ook die storie van Jesus maar op sy eie manier – dit is ook baie meer op die preke van Jesus gefokus). Mens kan dan bv. na Galasiers Markus lees en as mens met Hebreers klaar is, Lukas aanpak. Die Ou Testament se eerste deel is ook geskiedenis (slaan die lang dele met die lyste reels gerus uit). DIe geskiednis van Israel word vertel van Genesis af tot by Nehemia (Ester).  Van Job af kry mens boeke wat oor wysheid en Psalms gaan, Van Jesaja tot by Maleagi kry mens al die profete. Die profesiee is natuurlik in hulle eie omstandighede geskryf (hier sal  mens bietjie hulp moet kry oor wanneer hulle geskryf is en wat die doel was vir die skrywe – party is byvoorbeeld voor die ballingskap geskryf terwyl ander tydens of na die ballingskap geskryf is. 
  3. c) ‘n Mens kan ook ‘n kombinasie maak, byvoorbeeld, ‘n deel uit die Ou Testament lees, dit afwissel met ‘n boek uit die Nuwe Testament, soos mens dit interessant vind. So maak mens ‘n kombinasie wat vir jou self interessant is. As die geskiedenis van Israel byvoorbeeld vir jou interessant is, bly dit lees. As jy voel jy wil nou eers afwissel, lees van Paulus se briewe of ‘n Evangelie. Hou dit dus vir jousel finteressant. 

Belangrik is dat a) jy goed boekhou van jou vordering; b) jou gedagtes en wat jou tref aanteken (daar is Bybels met ‘tussenskote’, met ander woorde daar is oop bladsye in die Bybel waar jy aantekening kan maak. Kry vir jou so Bybel, of anders ‘n ‘werksbybel’ waarin jy kan onderstreep en in die kantlyn kan merk. 

Ek hoop dit help bietjie. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Perspektief op gebed (10) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Deel 3: Lof uit ‘n traan maar sonder ‘n vals noot.

Here, hoe kan ek by ‘n  oop graf lofsange sing?!

MAAR, wat daarvan as dit nie met my goed gaan nie? Moet ek die Here dan nog loof; nee, KAN ek Hom nog loof? Hoe kan ek by ‘n oop graf lofsange sing? Hoe kan ek daar by die grens van die lewe waar ek voel of ek gaan afstort, lofsing asof niks besig is om te gebeur nie?

Hierdie vrae sou geldig  gewees het, as die Here nie daar was nie. Omdat Hy daar is, kan die slae van die lewe ons nooit verwoestend van koers slaan nie. Te midde van jou pyn en smart kan en moet jy nog jou hart in vertroue voor God uitstort. Nooit mag die trane jou oë so vul dat jy die Here nie meer kan raaksien nie (Heb. 13:15). In jou nood moet jy jou na die toekoms uitstrek waar die trane in vreugde sal verander; dit het God mos beloof. Daarvoor kan jy Hom grootmaak en loof. Want waar hierdie hoop en lof uitbly, sterf  gebed. Om God te loof, bind jou aan God se toekoms vir jou. Daaruit kan jy leef, soos Habakuk (3:17-19):

Al sou die vyeboom nie bot nie

en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,

al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie,

al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie

en die beeskrale sonder beeste wees,

NOGTANS SAL EK IN DIE HERE JUBEL,

SAL EK JUIG IN GOD, MY REDDER.

Die Here my God gee vir my krag.

Hy maak my voete soos dié van ‘n  ribbok,

op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Dink maar op praktiese vlak wat ‘lof’ in nood en swaarkry aan jou doen. Veronderstel iets baie slegs het met jou gebeur. Dit voel vir jou of hierdie ding alles in jou stukkend maak, ook jou geloof. As jy dan jou fokus in lof weer instel op die Brandpunt, wat sien jy? As jy daar in sak in as vir God kan sê dat jy dankbaar is vir wat Hy al vir jou gedoen het, of wat Hy nog vir jou gaan doen, sal jy skielik agterkom dat die wêreld nie so donker is nie! Jy sal agterkom dat God se nabyheid en beloftes alles in waarde oortref. Ook in hierdie swaarkry kan jy jou kop op die skouer van God laat rus in aanvaarding van wat met jou gebeur.

Maar dit kan ook meer doen. Deur God ook vir die slegte te loof  kan jou help om na sy plan vir jou lewe te vra. Niks gebeur mos sommer maar toevallig nie. God is altyd daar. Miskien wil die Here jou iets leer, miskien wil Hy jou ‘n  weg wys. Daarvoor kan ons die Here mos altyd loof. En die belangrikste: elke woord van lof in nood is ‘n  belydenis, ‘n  getuienis van jou vertroue in God. Dan verstaan ‘n  mens ook wat die Here bedoel het toe Hy vir Jeremia (32:27) gesê het: ‘Ek is die Here die God van al die  mense. Is iets vir my onmoontlik?’

Loof die Here ook in jou nood en dan sal jy uitvind waarom jy werklik die Here in jou nood kan loof!

Laat ons dan oponhoudelik deur Jesus aan God

‘n offer van lof bring,

dié lof wat aan Hom gebring word

deur die lippe wat sy naam bely.

(Heb 13:15)

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Perspektief op gebed (9) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Here, U wil ek loof.

Here, aan U alleen die lof.

Aanbidding dwing jou in verwonderdering op jou knieë voor God. Daar erken jy God vir Wie Hy is. Maar dit is maar die eerste treë in groot avontuur van gebed.

Die saad van aanbidding ontkiem in die blom van lofprysing. Dit is twee sye van dieselfde munt.

‘n  Mens sou kon sê dat aanbidding veral fokus op Wie God is en dat lofprysing klem lê op wat God vir ons gedoen het en nog doen. Die onderskeid is natuurlik nie waterdig nie. As jy besef Wie God is, sal jy ook noodwendig aan alles dink wat Hy vir jou doen en natuurlik omgekeerd.

‘Goeie woorde uit die diepte van die hart…’

Kom ons loof en prys die Here! Maar wat beteken dit?

Die Griekse woord wat veral vir ‘lof’ gebruik word, kan so omskryf word: ‘om goeie woorde te praat’. Maar lof is nog veel meer. Dit is om goeie woorde te wil praat, te moet praat. Om die Here dus te loof en te prys beteken om in ‘n  rykdom van goeie woorde met en van Hom te praat. Dit is egter nie woorde wat op die punt van die tong ontstaan nie. Dit is woorde wat uit die diepte van die hart kom.

Kom ons luister na iemand wat die Here loof…

Ek wil U lof verkondig, my God en Koning,

ek wil U naam altyd loof.

Die Here help almal op wat geval het,

Hy ondersteun die wat bedruk is.

Die Here is regverdig in al sy handelinge,

getrou in alles wat Hy doen.

Die Here is naby almal wat Hom aanroep.

Laat al wat leef sy heilige naam vir altyd prys!

(Dele uit Ps. 145)

Die brandpunt…

Waarom is lof dan nou juis so belangrik? Wat beteken dit vir God? Om regtig die wese van lof te verstaan moet ons teruggaan na die tyd van Jesus.

In die tyd van die Bybel was die samelewing in baie duidelike ‘klasse’ ingedeel. Die meeste mense was maar arm en het min mag gehad. Hulle het tot die onderste vlakke van die samelewing behoort. Hierdie mense is dikwels onderdruk en uitgebuit deur die rykeres. Daarom was hulle afhanklik van belangriker persone in die samelewing om hulle te help. Dit was dus destyds gebruiklik om by die groep of familie van so ‘n  belangrike persoon aan te sluit. Jy moes lojaal wees teenoor hom, terwyl hy jou weer beskerm en gehelp het. Nou was dit ook gebruiklik om aan hierdie weldoener jou dank en afhanklikheid te ‘bewys’. Dit het jy gedoen deur die persoon se belangrikheid en status te erken. Daarin het lof ‘n belangrike rol gespeel. As jy dus in die teenwoordigheid van so ‘n belangrike persoon is, het jy baie ‘goeie woorde’ vir en oor hom. Veral as daar ander by is, vertel jy hardop wat hierdie ‘heer’ van jou alles doen en kan doen. Hoe meer jy kan sê, hoe ‘belangriker’ word jou ‘heer’ natuurlik in die oë van die omstaanders en hoe groter word sy status en eer! Jou lof is dus daarop gemik om met jou woorde die grootheid van jou weldoener so goed moontlik voor te stel. Jou weldoener word die brandpunt waarop jy jou woorde laat saamtrek.

So moet Bybelse lof ook verstaan word. Die brandpunt van lof is die Drieënige God en Hy alleen. Lof wil die grootheid van God beskryf. Dit wil aan elke omstaander vertel hoe belangrik, ja, onbeskryflik God is. Tegelyk wil dit ook vertel hoe gelukkig jy self is om so ‘n  God te hê. Deur te vertel wat Hy aan en vir jou doen, word die eer van God net groter en groter. Daarom kan lof nie van die punt van die tong af kom nie. Dit  moet uit die hart kom, want

* lof vertel van daardie intieme ontmoetings tussen jou en God;

* dit vertel van die oomblikke toe jy verslae was en jy juis toe sy vertroostende teenwoordigheid ervaar het;

* dit vertel van die oomblikke toe jy besig was om te sink maar juis toe God se verlossende hand kon voel;

* dit vertel van die oomblikke van benoudheid, van alleenheid, van vreugde, van vertwyfeling… en God was dáár!

* dit vertel van Golgota…

Lof is dus baie meer as net ‘n  gevoel. Lof ontluik uit die diepgewortelde bewustheid van God wat intens in jou lewe betrokke is. Dit is die oortuiging dat God LEWE omdat jy dit in jou lewe kan sien en ervaar. Daarom  is lof iets wat uit jou vloei soos ‘n  fontein wat onkeerbaar opbruis. Jy kan dit nie keer nie, omdat dit wil vertel van God wat jou lewe vasgryp. En juis daarom wil jy loof , wil jy hierdie God grootmaak, wil jy hierdie God eer en prys. God is die brandpunt waarop jy jou woorde van eer en lof uitstort.

God maak dit vir ons maklik om Hom te loof.

Lof  is dus aan die dade van die een wat lof ontvang vas soos ‘n  skoen aan sy sool. Om te sê iemand is sterk is maklik. Enigiemand kan dit sê. Maar as daardie persoon regtig ‘sterk dinge’ doen is dit ‘n  perd van ‘n  ander kleur. Dan kan jy praat van ondervinding. As hierdie sterk persoon vir jou sê dat hy  hierdie of daardie groot daad gaan doen, kan jy hom maar glo. Hy kán mos! Groot dade is dus die sool wat die ‘skoen’ van lof oral saamdra waar dit gaan.

Met lof vir God is dit net so. Natuurlik kan ons God loof vir Wie Hy is. Maar dit is as ons na sy dade vir ons kyk dat die stroom van lof onkeerbaar begin vloei. Daarom verbaas dit nie dat ‘lof’ in die Bybel gewoonlik met die groot dade van God saamgaan nie. God gee ons rede om Hom te loof. Hy maak dit vir ons maklik om Hom te loof, want Hy doen soveel vir ons.

 Dit beteken natuurlik dat lof nie regtig ‘lof’ kan wees los van jou eie lewe, jou ervaring, jou pad saam met die Here nie! Lof wil juis eer bring vir wat Hy in jou lewe gedoen het en nog doen! Daarom vra ‘lof’ diep nadenke van jou oor jou verhouding met Hom.

Om dit prakties te stel: As jy regtig die vreugde van lof in jou gebedslewe wil ervaar moet jy vooraf eers vra waaroor jy God wil loof. Wat het Hy vir jou gedoen sodat jy die ‘lysie’ van sy groot dade wat eer aan Hom bring kan aanvul. Hy het sy Seun vir jou gegee, jou gered; maar nou is Hy ook elke dag by jou… besig met jou.. goed vir jou. Daarvoor kan jy Hom eer en loof.

Kom ons loof die Here

Skryf drie dinge neer wat die Here vir jou gedoen het. Loof Hom daarvoor deur aan Hom al die erkenning daarvoor te gee wat Hy verdien.

 

*……………………………………………………………………………………………………..

*……………………………………………………………………………………………………..

*……………………………………………………………………………………………………..

Skrywer:  Prof Jan van der Watt