Laat jou boodskap vashaak

 

In the case of a benefit … the one should straightfotward forget that it was given, the other should never forget that it was received – Seneca, filosoof en sosiale kritikus, 1ste eeu

 Laat jou boodskap vashaak

Elke ouer moet die aflosstokkie van geloof na die volgende geslag oordra. Hoe kan jy seker maak dat jou boodskap vashaak? As die kom by geloof het jou boodskap min waarde as dit nie op die fondament van die evangelie rus nie. As jy met jongmense praat moet jy nooit aanvaar hulle weet wat die evangelie is nie – jy moet dit verkondig. Hier is ‘n paar praktiese stappe om te help met die oordra van die boodskap:

  • Wees interaktief.

As jy jongmense se aandag wil behou moet jy hulle gedurig betrokke hou

. Daar is baie maniere om dit te doen. Hier is net twee:

Een: Vra vrae. Kort stukkies dialoog en dan goedgeplaasde vrae. Dit daag hulle denke uit.

Twee: Moedig hulle aan om notas te neem. Jy behou net soveel meer van die boodskap.

  • Eenvoud

Eenvoud beteken nie vlak nie; dit beteken nie afgewaterde boodskappe wat ingestel is op vermaak nie. Eenvoud beteken die boodskap word oorgedra op so ‘n wyse dat dit verstaan en onthou word. Die doel van die boodskap is nie om vir die mense te wys hoeveel jy weet nie, maar om dit wat jy geleer het, oor te dra. Praat in ‘n taal wat hulle verstaan. As jy moeilike konsepte of woorde gebruik, verduidelik dit.

  • Herhaal dikwels

Probeer jou boodskap in ‘n enkele sin saamvat en slaan hierdie spyker keer op keer. Maar dan moet dit die ding wees wat hulle moet onthou. Jy moet altyd in staat wees om jou boodskap in ‘n enkele sin saam te vat! Maak seker dat hierdie sin impak sal maak. Werk hard daaraan.

  • Wees een stap voor

Jy moenie net die Bybelse waarheid oordra nie – jy moet ook antisipeer wat hulle teenstand teen hierdie waarheid gaan wees en hoe jy dit gaan hanteer. Soos ‘n skaakspeler moet jy altyd ‘n skuif voor wees. Onthou ons leef in ‘n post-Christendom samelewing en daarom moet jy verduidelik waarom dit waar is. Vra jouself gedurig af: Hoekom sal hulle dit wat ek vir hulle vertel, verwerp? Hulle moet betroubare antwoorde op die groot vrae van die dag kry. Luister na William Lane Craig: It’s insufficient for youth groups and Sunday school classes to focus on entertainment and simpering devotional thoughts. We’ve got to train our kids for war. We dare not send them out to public high school and university armed with rubber swords and plastic armor. The time for playing games is past.

  • Wees opreg

Die bekende agnostiese filosoof, David Hume, is op pad om vir George Whitefield te hoor preek. ‘n Vriend van hom wil weet waarheen hy op pad is. Toe hy hoor Hume gaan na Whitefield luister, was hy baie verbaas. Sy vriend sê: “Maar jy glo tog nie wat hy sê nie.” Hume antwoord: “Nee, ek glo nie, maar hy glo.” As jy met jongmense praat, moet hulle onmiddellik agterkom dat die boodskapper deur die boodskap vasgevang is.

 

Ons het die grootste storie ooit om te vertel. Daarom moet die egtheid van die boodskapper die majesteit van die boodskap weerspieël.

 

 




Waar kry Petrus die insig?

Waar kry Petrus die insig? – Francois Malan

Willie vra:

My vraag handel oor Petrus en ek vermoed die antwoord gaan maar net weer God se almag onderstreep . As ons 1 en 2 Petrus lees, is dit wonderlike teologie wat ons daar vind en wat vandag nog net so relevant is en dit getuig van ‘n persoon wat God se genade verstaan het . My vraag is waar en hoe het Petrus hierdie insig en kennis gekry? Ek vermoed hy het as visserman nooit enige skool van n Rabbi bygewoon nie en het heel waarskynlik nie die die Here Jesus altyd reg verstaan in die 3 jaar wat Hy op aarde gewerk het nie . Was dit n ook n wonderwerk wat gedurende Pinkster plaasgevind het , maw dat hy die insig en kennis daar en dan by God ontvang het as n wonderwerk?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Volgens Handelinge 4:13 was Petrus en Johannes in die oë van die Joodse Raad ongeleerde (agrammatikoi – sonder formele opleiding – deur ‘n rabbi?) en eenvoudige mense (idiootai – leke – op godsdienstige gebied?).

 

In 1 Petrus 1:1 noem Petrus homself slegs ‘’n apostel’ van Jesus Christus – ‘n gestuurde van Jesus, wat met die gesag van Jesus die goeie boodskap van Jesus en oor Jesus oordra aan ander. Dit nadat Petrus die besondere voorreg gehad het om omtrent drie jaar saam met Jesus te wandel, deur die Seun van God self geleer is deur sy voorbeeld en sy woorde, en sy regstelling van Petrus se verkeerde opvattings en ondeurdagte woorde. Na sy opstanding stel Jesus hom aan as herder van Jesus se volgelinge, die swakkes in die geloof (lammers) en sterkeres (skape), volgens Joh 21:15,16, 19. Al vereiste wat Jesus aan hom gestel het, is dat hy Jesus liefhet.

 

In 1 Petrus 5:1 stel Petrus homself voor as ‘n mede-ouderling van die ouderlinge in die gemeentes, een wat langs hulle staan in die diens van die Here. Ná sy belydenis dat Jesus ‘die Christus is, die Seun van die lewende God’, sê Jesus Simon die seun van Jona is gelukkig, want dit is nie ‘n mens wat dit aan hom geopenbaar het nie, maar Jesus se Vader wat in die hemel is, ‘en jy is Petrus (‘rots’) en op hierdie rots sal Ek my kerk bou…. ‘Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly, en wat jy op die aarde oopsluit sal in die hemel oopgesluit bly’ (Matteus 16:17-19) – dieselfde sleutelmag word ook aan die ander dissipels gegee (Johannes 20:23), en aan die gemeente – want waar twee of drie in my Naam vergader is, daar is Ek by hulle’ (Matteus 18:18,20). Die hemel word oopgesluit deurdat Christene van Jesus getuig, en Jesus gebruik hulle verkondiging om mense se harte oop te sluit. Die hemel word toegesluit, bv. deur die kerklike tug (Matteus 18:15-17).

 

Toe Jesus, ná sy opstanding, sy dissipels uitgestuur het om dissipels van al die nasies te maak en hulle te leer om alles te onderhou wat Jesus hulle beveel het, het Hy gesê: ‘Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld’ (Matteus 28:19-20).

 

Volgens Johannes 14:26 het Jesus vir sy dissipels gesê: ‘wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.’ Johannes 16:13: ‘Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê sal nie van Homself kom nie. Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat kom, aan julle verkondig.’ In Matteus 10:16-20 sê Jesus dat as die mense julle aan geregshowe uitlewer, en voor goewerneurs en konings bring, ter wille van Hom, is dit ‘n geleentheid om van Hom te getuig. ‘Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle sal sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê. Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.’

 

Die brief 1 Petrus word geskryf in die beste Grieks van al die Nuwe Testamentiese geskrifte. Die brief bevat heelwat aanhalings uit die Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament. Daarby is daar groot ooreenkoms in die teologie van Petrus en Paulus. In 1 Petrus 5:12-14 kom Petrus self aan die skryf. Hy skryf: ‘Silvanus, wat na my mening ‘n getroue broer is, het vir my hierdie kort briefie aan julle op skrif gestel…’ Silvanus (ook so in 2 Kor. 1:19; 1 Tes.1:1;  2 Tes 1-1) is die Latynse vorm van die Hebreeuse naam Silas (so in Hand. 15:22,27,32,34,40; 16:19,25,29; 17:4,10,14,15; 18:5), die man wat van die tweede sendingreis af saam met Paulus gestap het deur Klein-Asië (Hand.15:40), saam in die tronk was in Filippi (Hand.6:25), saam in Griekeland. Die goeie Grieks van 1 Petrus en van die formulerings van gedagtes kom waarskynlik van Silvanus af. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Elkeen sal “volgens sy eie geloof” gered word: Waar of vals?

Elkeen sal “volgens sy eie geloof” gered word: Waar of vals? – Kobus Kok

Chantelle vra:

Iemand het my gevra om hulle te help met ‘n vers in die Bybel. Ek self is nie seker of dit so staan in die Bybel nie. “elkeen sal volgens hul eie geloof salig/gered word”. Waar staan dit in die Bybel? Of is dit net ‘n stelling wat mense maak en dit met verskeie ander verse in die Bybel koppel?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord

 

Elkeen sal “volgens sy eie geloof” gered word:

Waar of vals?

Mens hoor dikwels dat mense sê: “Elkeen sal volgens sy eie geloof gered word”. Daarmee bedoel sommige mense dat dit eintlik nie saak maak in watter geloof of hoe jy glo nie, want almal gaan uiteindelik hemel toe. So ʼn begrip van redding is universalisties van aard – dit is, almal sal uiteindelik gered word. Hierdie tipe siening is al so oud soos die kerk self en word al van die vroegste tyd af  verwerp.

 

Die Christendom verstaan redding Christosentries – dit beteken dat daar buite geloof in Christus nie redding te vinde is nie (Joh 14:6). Mense wat universalisties oor redding dink, glo dat almal gered gaan word ongeag of hulle Christus as persoonlike verlosser aanvaar of nie.

 

Indien iemand op ʼn universalistiese wyse ʼn stelling maak soos “almal sal volgens hulle eie geloof gered word”, kan die Christen hulle antwoord met Johannes 14:6 en argumenteer dat hulle saamstem dat die aard van jou geloof die aard van jou redding gaan bepaal. Kwalifiseer dan jou stelling deur te sê dat indien jou geloof nie Christus as die sentrum het nie, sal jy volgens die aard van jou geloof, nie gered word nie.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Paulus gebruik sterk woorde

“Why do we try so hard to make Jesus cool?! He doesn’t need a makeover.” Matt Chandler

 

Paulus gebruik sterk woorde

Pas op vir die honde! Pas op vir dié wat sleg doen! Pas op vir die verminking! – (Filippense 3:2 – Direkte vertaling in die Interliniêre Bybel)

Sjoe! Hierdie is darem sterk woorde. Mag ek ooit my vyande met sulke kragtige taal veroordeel? Met vandag se kommunikasie (Internet, Twitter, ens) versprei sulke woorde vinnig.

 Wat het Jesus Christus gedoen. Hy het baie selde individue by hulle naam aangeval. ‘n Uitsondering is Herodes Antipas

Jesus praat baie oor die misbruik van mag, die feit dat mense hulle nie oor ander bekommer nie en veral die verkondiging van dwaalleer. Hy hanteer sake en karakterfoute wat met hierdie gedrag gepaard gaan. ‘n Woord wat Jesus baie algemeen, veral teenoor die Fariseërs gebruik het, was huigelaars. Lees net Matteus 23:13 – 32. Jesus praat ook direk met sy dissipels as hulle nie die doel van dit wat Hy doen, raaksien nie.

 Jesus weier egter om Homself teen persoonlike aanvalle te verdedig. In Filippense 1:15 – 17 lees ons van mense wat vir Paulus die gevangenskap nog swaarder wil maak. Hoe reageer hy hierop? Maar wat maak dit saak? In elk geval, of dit met bybedoelings is of in opregtheid, op allerhande maniere word Christus bekend gemaak, en daaroor is ek bly.

 Wat leer ons by Jesus en by Paulus? Bly by die onderwerp van die debat; weerstaan die versoeking om persoonlike aanmerkings te maak; moenie sommer aannames oor die motiewe van ander maak nie. Kragtige taal moet beperk word tot dit wat die hart van die evangelie aantas. Ons moet vir ons vyande bid; ons moet diegene wat ons vervolg seën.

 Dit is die laaste week van Jesus se lewe. Hy besef dat Hy binnekort gaan sterwe … in Jerusalem.  Toe Hy nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil (Lukas 19:42). Huil ons ooit oor ons vyande?