Wat Maak jy hier?

When the Greeks got the gospel, they turned it into a philosophy; when the Romans got it, they turned it into a government; when the Europeans got it, they turned it into a culture; when the Americans got it, they turned it into a business – Richard Halverson

Wat Maak jy hier?

In 1915 hou die bekende B. B. Warfield ‘n reeks “konferensies” by die Princeton Seminary. Dit is verbasend hoeveel ons ‘n honderd jaar later nog uit hierdie stukkies kan leer. Ons begin met Elia.

Ons weet baie min van Elia. Skielik verskyn hy voor die bose koning Agab en kondig ‘n droogte aan. Hy sê ook dat hy in die diens van die God van Israel staan. Net so skielik verdwyn hy – hy gaan versteek hom by die Kritspruit. Daar sal hy water uit die spruit drink en die kraaie (= onrein diere) sal vir hom kos bring. As gevolg van die droogte droog die spruit op en die Here beveel hom om na Sarfat te gaan. Daar het God ‘n weduwee opdrag gegee om hom te versorg. Hier is ‘n belangrike les vir ons om te leer: God in sy groot genade versorg vir Elia. In die proses leer Elia om homself en sy roeping en vir God beter te verstaan. Daar by die Kritspruit leer hy sy totale afhanklikheid van God.

 

Dan volg die episode met die Baälprofete. Daar oorwin hy die profete deur te bid en God stuur vuur wat die offer verbrand. En dan begin dit reën. Die mag van die Here het vir Elia in besit geneem, en hy het sy mantel opgebind en voor Agab se wa uit gehardloop … Maar net die volgende vers lees ons dat Agab vir Isebel vertel het wat Elia gedoen het. Sy stuur ‘n boodskapper na Elia om hom te vertel dat sy hom beslis gaan doodmaak. Weer vlug Elia die woestyn in. Elia is mismoedig. Dinge het nie verloop soos Hy gedink het nie. Hy gaan sit onder ‘n besembos en wens hy was dood.

God besoek hom daar en lei hom na Horeb, die berg van God. Daar bring hy ‘n nag in die grot deur en die woord van die Here kom tot hom: Wat maak jy hier, Elia? Elia antwoord deur te vertel dat die volk die altare afgebreek het  en die profete doodgemaak het – Net ek alleen het oorgebly. In sy antwoord sien ons dat Hy nie veel hoop het vir God se saak nie. Die Here beveel hom om uit die grot te kom, want Hy wil verbygaan. Dan kom daar ‘n baie sterk wind, ‘n aardbewing en toe ‘n vuur, maar God was nie in een van hulle nie. Maar Elia hoor vir God in die windstilte. Elia besef dit is die Here. Hy maak sy gesig met sy mantel toe en hoor vir God: Wat maak jy hier, Elia? Elia antwoord weer soos vantevore, maar die Here sê vir hom: “Ek is nie klaar met jou nie. Ek het nog werk vir jou.”

Hier is ‘n paar baie belangrike lesse vir ons om te leer:

  • God se saak is nie van my afhanklik nie al dink ek ek is die enigste een wat oor is. Ek is van God afhanklik; Hy is nie van my afhanklik nie.
  • Die sukses van God se saak is nie van my metodes afhanklik nie. God gebruik sy eie metodes. Soms sal dit vir my nie sin maak nie.
  • God se saak kan nie misluk nie. Ek ken nie die gevare en behoeftes beter as Hy nie.
  • Dit is nie die wet nie, maar die evangelie; dit is nie toorn nie, maar liefde wat die wêreld red.

God se saak is nooit in gevaar nie … wat Hy begin het, sal Hy deurvoer.




Die deugde van Romeine 5:3 – 4: Hoop

The view we hold of the nature of the Church reveals most plainly where we stand in relation to faith.  – Emil Brunner

Die deugde van Romeine 5:3 – 4: Hoop

En volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop.

Ons het reeds na twee deugde gekyk: volharding en karakter. Hoop is nie iets vaag nie: mag wees, kan wees, moontlik. Soms lyk hoop vir ons sinloos. In Paulus se brief aan die Romeine is hoop ‘n belangrike tema. Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo (4:18); as Paulus praat van die skepping wat nog aan verydeling onderworpe is, voeg hy by: Daarby het Hy die belofte van hoop gegee (8:20); Ons is immers gered en ons het nou hierdie hoop. Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie (8:24 – 25); Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed (12:12). Ons kan nog baie teksverse neerskryf.

 

Die probleem is dat ons tans in ‘n wêreld sonder hoop leef. Die werklikhede van die wêreld om ons dreig om ons hoop dood te druk. Die ou Romeinse filosoof Seneca stel dit so:  “Most men ebb and flow in wretchedness between the fear of death and the hardships of life; they are unwilling to live, and yet do not know how to die.” Albert Camus is net so pessimisties:  “He who despairs of the human condition is a coward, but he who has a hope for it is a fool.”

Christene daarenteen het hoop. Die Bybel wys ons op ‘n hoop anderkant die aardse warboel na die nuwe hemel en nuwe aarde. Geen wonder ons lees herhaaldelik in Psalm 119 dat die psalmis sy hoop op God se woord vestig. Dit is ‘n woord vol beloftes – sommige reeds vervul en ander wat vir seker in die toekoms vervul sal word.

Die wêreld gaan nie maar net stadig in die vergetelheid ingly nie. God het met die koms van Jesus na die aarde die toekoms na ons toe gebring. Deur dit te doen gee Hy aan ons hoop dat die lewe en liefde van Jesus Christus sal oorwin.




Terug na die Ou Testament: Die Feeste (2)

Terug na die Ou Testament: Die Feeste (2) – Adrio König

3.2 Die feeste en God se reddingsplan?

3.2.1 Word die feeste in Jesus vervul?

Onder Messiaanse Jode en sommige Christene wat wil teruggaan na die Ou Testament is daar ‘n besondere belangstelling in die feeste. Hulle is oortuig dat die feeste vooruitwys na die hele reddingsplan van God met die wêreld. En sommige dring dan daarop aan dat ons dit vandag nog moet vier. Kom ons kyk eers na die feeste as voorafskaduwing van God se reddingsplan.

Hulle werk baie sterk met die omvattende voorskrif oor die feeste in Levitikus 23, maar daar is baie ander gegewens en belangrike inligting op ‘n hele paar ander plekke soos Eksodus 34, Numeri 29 en Deuteronomium 16.

 

Volgens Levitikus 23 is daar sewe feeste wat gedurende die jaar gevier moet word, vier in die voorjaar (lentetyd), en drie in die najaar (herfstyd).

 

Voorjaar: Paasfees, die fees van die ongesuurde brode, die fees van die eerstelinge, en die pinksterfees.

Najaar: Die ramshoringfees, die groot versoendag, en die huttefees.

 

Daar is feeste wat nie hier genoem word nie soos die nuwemaanfeeste, die Sabbatsjaar en die jubeljaar.

 

Die inhoud en die doel van die feeste is op sigself ‘n interessante saak, maar die besonderhede is nie nou belangrik vir ons onderwerp nie. Dit gaan nou oor die vraag of hierdie feeste voortekens is van God se reddingsplan wat beteken dat hierdie feeste iets soos beloftes is wat vervul word in die heilsdade van Christus. Elke fees sou dan vooruitwys na ‘n bepaalde gebeurtenis in die groot heilsplan van God met die mense. 

 

Die algemene oortuiging is dat die eerste vier feeste reeds “vervul” is, dit beteken dat hulle vooruitgewys het na heel spesifieke gebeurtenisse in Jesus se lewe en die koms van die Gees:

  • Die paasfees na sy kruisiging.
  • Die fees van die ongesuurde brode na sy sondeloosheid, en sommige meen ook na sy begrafnis.
  • Die eerstelingefees na sy opstanding.
  • Die pinksterfees na die uitstorting van die Heilige Gees.

 

Dan volg die drie herfsfeeste wat nog nie “vervul” is nie, maar wat vooruit wys na gebeurtenisse wat nog in die toekoms lê:

  • Die ramshoringfees of die fees van die trompette sou verwys na die wegraping.
  • Die groot versoendag na die bruilof van die Lam.
  • Die huttefees na die duisendjarige vrederyk.

 

Almal stem natuurlik ook nie presies saam oor die spesifieke gebeurtenis waarin die fees “vervul” word nie. Ek het maar net die algemeenste betekenis van elkeen gegee.

 

Kom ons vra ‘n paar vrae. 

  • Die eerste vraag moet seker wees of daar regtig grond in die Bybel is om die feeste só te interpreteer.
  • En dan die vraag waarom sekere feeste uitval.
  • En uiteindelik die vraag presies waarna elke fees sou vooruitwys.

 

Bybelse gronde?  Is daar regtig gronde in die Bybel om te aanvaar dat die sewe feeste bedoel is as ‘n vooruitskouing van die heilsplan van God?  Kom ons kyk na die argumente wat ‘n mens kry.  

  • Daar word verwys na Amos 3:7: “Die Here God doen niks as Hy nie sy besluit bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie.” Maar dit sê natuurlik niks oor die feeste nie. Dit beteken net dat ‘n mens in die Ou Testament op die uitkyk moet wees vir profesieë wat later vervul sal word in die werk van God.
  • Die Hebreeus vir “feeste” sou letterlik “vasgestelde tye” beteken. Daaruit word dan afgelei dat God presies die vasgestelde tye en volgorde beplan het wanneer en hoe elk van die sewe feeste vervul sal word. Maar dit kan nie regtig die betekenis wees nie. Die woord vir “fees” het inderdaad verskillende betekenisse soos afspraak (Rigt 20:38),  afgesproke byeenkoms (1 Sam 20:35), afgesproke tyd (2 Sam 20:5), fees, feestyd, feesbyeenkoms. Maar daar is niks in hierdie betekenisse wat in die toekoms inwys na iets wat later moet gebeur nie.  Die fees self is ‘n afgesproke byeenkoms. God spreek in Levitikus 23 af wanneer elke fees moet plaasvind.
  • Soms kry ‘n mens selfs argumente en teksverwysings wat jy op geen manier in verband met die feeste kan bring nie. So word “the blessed hope” (Tit 2:13) gesien as die hoop van gelowiges dat die drie “onvervulde” feeste nog vervul sal word.
  • Die uitdrukking “gewyde byeenkomste” in Levitikus 23:4 word in die King Jamesvertaling weergegee met “holy convocations”. Dit is ‘n verwysing na die viering van die sewe feeste. Die feeste sal met byeenkomste (“convocations”) van die volk gevier word (23:8, 21, 24, 27, 36). Maar nou word beweer dat die oorspronklik betekenis van die Hebreeuse woord vir “byeenkomste” eintlik “repetisies” is, wat dan sou beteken dat elke feesviering eintlik ‘n repetisie (vooraf-oefening) is van die heilsdaad waarna dit verwys en wat later sal plaasvind, soos die kruisiging of die opstanding. Maar ek kry nêrens enige aanduiding dat die Hebreeuse woord oorspronklik “repetisie” beteken het nie.
  • Ek weet van geen verwysing in die Bybel dat al die feeste in groot heilsdade vervul sal word nie. Die feeste word eenvoudig nêrens as ‘n soort profesie aangebied nie. Die feeste het hulle eie, wonderlike betekenis en waarde gehad. Dit is wel so dat sekere heilsdade tydens bepaalde feeste plaasgevind het, maar selfs in daardie gevalle is daar geen aanduiding dat die fees eintlik ‘n soort profesie van die heilsdaad was sodat die fees in die heilsdaad vervul is nie. Ons sal wel later kyk na die manier waarop die Nuwe Testament by sekere gebeurtenisse in Jesus se lewe terugverwys na sekere feeste soos die paasfees en die pinksterfees. Maar ook dáár is daar geen aanduiding dat hierdie verband al in die Ou Testament bekend was nie.

 

Ek kry dus nie gond in die Bybel om te aanvaar dat die sewe feeste eintlik ‘n voorskou van die heilsplan van God was nie.

 

Verder is die vraag waarom sekere feeste eenvoudig uitgelaat word, soos die nuwemaansfees, die Sabbatsjaar en die jubeljaar? Is daar nie heilsgebeure waarvan hulle voortekens sou wees nie? Indien ek sou aanvaar daar sal ‘n duisendjarige vrederyk in die toekoms aanbreek, sou ek probeer het om die Sabbatsjaar in hierdie rigting te interpreteer. En sou die jubeljaar nie dalk by die nuwe aarde kon pas nie? Dit is tog een van die vreemde dinge van die hele skema dat daar geen verwysing na die nuwe aarde is nie. 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Feeste (1)

Terug na die Ou Testament: Die Feeste (1) – Adrio König

3 Die Feeste

3.1 Die feeste in die Nuwe Testament

Die jaarlikse feeste het eintlik al herhaaldelik in ons bespreking van die Sabbat voorgekom. Dis ook nie vreemd nie, want in die Ou Testament word hulle dikwels saam met die Sabbat genoem. En ook in die Nuwe Testament verbind Paulus die twee. Trouens selfs die jaarfeeste, dit is die Sabbatsjaar en die jubbeljaar, is deel van die feeskompleks.

Dis interessant dat daar in die Sinoptiese Evangelies eers aan die einde van Jesus se lewe,  tydens sy verhoor, na sommige van hierdie feeste verwys word. Dis eintlik logies, want hierdie Evangelies vermeld geen besoeke van Jesus aan Jerusalem voor sy gevangeneming en verhoor nie. En die feeste was natuurlik in Jerusalem by die tempel gevier.

 

Daar word verwys na die paasfees (Matt 26:2, wat ook “pasga” genoem is, Luk 22:1), en die fees van die ongesuurde brode wat ‘n week lank geduur het (Matt 26:17). Tegnies was dit twee verskillende feeste, eers die paasfees die aand van 14 Nisan, en dan die fees van die ongesuurde brode van 15-22 Nisan. Maar in die praktyk het hulle dit as een fees beskou. Die fees van die eerstelinge is ook in hierdie week gevier.

 

Maar Johannes vertel in sy Evangelie dat Jesus meer kere in Jerusalem was en dikwels by feeste teenwoordig was :

 

  • Die paasfees saam met die fees van die ongesuurde brode (2:13, 23; 6:4; 12:1; 13:1).
  • Die huttefees  (7:2, 37).
  • Die fees van die tempelwyding (10:2).
  • Moontlik ook die purimfees (5:1). 

 

Ná die opwekking van Jesus lees ons in die Nuwe Testament nog net van die pinksterfees en die fees van die ongesuurde brode (Hand 20:6, 16). Dit was op die Joodse pinksterees dat die Heilige Gees uitgestort is. Dit is interessaant dat ons die Ou Testamentiese naam van hierdie fees behou het vir ons viering van die koms van die Gees: ”Pinksterfees”.

 

Die vroeë Christene was ook net konsekwent toe hulle aanvanklik nog die feeste saam met die tempeldiens onderhou het (Hand 18:21 – 1953-vertaling – 20:16; 21:26). Dit was alles saam een groot eenheid. Maar soos die verwydering tussen hulle en die Jode erger geword het, het die hele feeskompleks skynbaar uit hulle lewe verdwyn.

 

Trouens Paulus het later selfs baie negatief na die feeste verwys. In Kolossense noem hy hulle saam met die sabbat “‘n skaduwee” van Christus (2:116-17), en in Galasiërs wys hy die viering van die feeste skerp af (4:9-11). Hy noem hulle “daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls” en hy is bevrees dat dié wat dit nog vier, dalk nie regtig tot geloof gekom het nie (4:11).

 

Dis moeilik om hieruit iets anders af te lei as dat Christene nie hierdie feeste moet vier nie. Maar daar is Christene wat anders hieroor dink. Hulle sien in die feeste ‘n voorafskaduwing van die hele verlossingsplan.   Daarna kyk ons volgende keer.

 

Skrywer: Prof Adrio König