Josef – die held

Anyone who wants to go to heaven must first go to the cross. —Philip Ryken

Josef – die held

In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur  na ‘n maagd in Nasaret, ‘n dorp in Galilea. Sy was verloof aan Josef, ‘n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria (Lukas 1:26 – 27).

Josef is eintlik ‘n held in die Kersverhaal. Baie min word van hom gesê, maar hy was ‘n regverdige man. Verlowing destyds was anders as wat dit vandag is. Volgens die rabbi’s was daar twee stadia in die Joodse huwelik:

  • Die verlowing. Dit was wetlik net so bindend as die huwelik self. As enigeen sy beloftes verbreek, was ‘n formele egskeiding nodig om die huwelik nietig te verklaar. Hierdie verlowing duur 12 maande. In hierdie tyd het hulle geen fisiese verhouding met mekaar nie en slaap in afsonderlike huise.
  • Daarna volg die huwelik. Die huwelikseremonie het sewe dae geduur.

 

Dit was tydens die verlowingstadium wat Maria swanger geword het. Hiervoor kon Josef ‘n egskeiding verkry. Sy hart was gebreek, maar hy wou nie vir Maria in die openbaar tot skande maak nie. Toe verskyn daar ‘n engel van die Here aan hom in ‘n droom en sê vir hom: Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees (Matteus 1:20).

 

Josef het geweet dat die mense na hom sou verwys as die eggenoot van die vrou wat haar belofte verbreek het. Maria het inderdaad deur die lewe met daardie reputasie gegaan Die Fariseërs het een maal vir Jesus gesê: Ons is nie uit owerspel gebore nie Ons het net die een Vader, naamlik God (Johannes 8:41). Hulle sê eintlik vir Jesus dat Hy ‘n buite-egtelike kind is.

 

Josef het dit alles verduur en aanvaar. Hy het Maria liefgehad; hy het God gehoorsaam. Josef en Maria het God se plan aanvaar.

 




Time se Persoon van die Jaar

 

No time is so well spent in every day as that which we spend upon our knees. —J.C. Ryle

Time se Persoon van die Jaar

Op 11 Desember 2013 wys Time Pous Franciskus as sy Man van die Jaar aan. Kort daarna word hy as dié nuusstorie van die jaar aangewys deur die Religion Newswriters Association. Die reaksie was voorspelbaar. Sekere groepe wens hom geluk; ander groepe kritiseer die benoeming.

 Ed Stetzer voel dat hierdie benadering ons nie gaan help nie. Die vraag wat ons eerder moet vra, is: Wat kan ons uit hierdie gebeurtenis leer? Ja, Protestante kan by hom leer. Stetzer noem drie dinge wat ons by die Pous kan leer:

  • Die wêreld sien ‘n geloof wat vir armes omgee raak

Pous Franciskus het die reputasie dat hy die pous is wat die meeste op sosiale geregtigheid fokus. Dit gaan nie vir hom net oor welsyn nie, maar oor geregtigheid. Moet ons nie almal bekend staan as mense wat diegene wat seergekry het, bystaan nie? Die wêreld staan verward as hulle sien dat Jesus vir die armes omgee en sy volgelinge … nie so veel nie.

 

  • Die wêreld herken nederigheid

Net ‘n paar weke gelede het Vinicio Riva, ‘n Italiaanse man met erge letsels oor sy hele gesig, beroemd geword toe Pous Franciskus hom omhels het.  Dit pas nie in nie. Normaalweg sit die pous op ‘n goue troon – letterlik. Hierdie pous omhels diegene wat die wêreld probeer vermy. Die pous, een van die belangrikste en magtigste mense in die wêreld, vermy nie diegene wat die gemeenskap verwerp het nie. en ons? Is ons bekend daarvoor dat ons die wêreld se uitgeworpenes met nederigheid en genade omhels?  Mag ons sy gesindheid van nederigheid aanneem.

 

  • Die wêreld herken eerlikheid

Een kenmerk van die pous is sy klem op eerlikheid veral waar dit by finansies kom. Kort na hy as pous verkies is, inisieer hy ‘n ondersoek na die Vatikaan Bank bekend vir sy korrupsie. In sy kommer oor die armes en swakkes het hy sterk standpunt ingeneem teen onnodige uitgawes en luukses. Hy woon nie eers in die pouslike kwartiere in die Vatikaan nie. Sy reaksie was eerlik: hy ignoreer nie korrupsie en die finansiële probleme in die kerk nie. Hy hanteer die probleme in die kerk. Hy het pas ‘n kommissie aangestel om die probleem van seksuele mishandeling van kinders te ondersoek. Is ons in ons gemeente altyd bereid om probleme te ondersoek en te hanteer.

 

Wat kan ons hieruit leer? Versorging van die armes, ‘n nederige gesindheid en eerlikheid met ons eie foute word deur die wêreld raakgesien. Hierdie keuse van Time wys vir ons dat die mense aandag gee. Die feit dat ons van die pous oor dinge verskil beteken nie dat ons nie by hom kan leer nie. Die wêreld kyk en is duidelik beïndruk deAur geloof wat tot optrede lei.

 

 

 




Jesus verskyn aan die dissipels (20:19-23)

Jesus verskyn aan die dissipels (20:19-23) – Francois Malan

Die dissipels as getuies van Jesus se opstanding

20:19 Teen die aand van daardie eerste dag van die week, na die vroegoggend verskyning aan Maria Magdalena  (20:1) is die dissipels van Jesus bymekaar in vrees vir wat die Jode, wat ‘n oorwinning oor Jesus gesmaak het, aan hulle sal doen. Daarom sluit hulle die deur vir hulle veiligheid. Jesus kom en staan tussen hulle. Die Evangelis beskou dit as ‘n wonder. Sy opstandingsliggaam is nie aan ruimte en tyd gebonde nie. Die Here openbaar Homself waar Hy wil, op ‘n wyse bokant ons begrip.

Jesus groet die bevreesde groepie dissipels op die gewone Joodse manier: ‘Sjaloom ‘alêka!’ ‘Vrede vir julle!’ (Joh.14:27; 16:33; Ef. 2:14). Nooit was dié gewone groet so gevul met betekenis as toe Jesus dit op dié Paassondag uitgespreek het nie. Dit is die vrede waarvan die profete gepraat het: Ps. 85:11 ‘…geregtigheid en vrede sal mekaar ontmoet…’ ; Jes.53:5 ‘die straf  vir ons vrede was op Hom.’ Jes.66:12 ‘Ek laat vrede na haar toe aankom soos ‘n rivier.’ Dit is vrede met God, wat Hy aan die kruis bewerk het.

 

20:20 Jesus wys hulle sy deurboorde hande en sy deursteekte sy om hulle te verseker dat dit Hy is, hulle gekruisigde Here, wat voor hulle staan.  Dit is vir die kerk van kardinale belang: die Gekruisigde is die opgestane Here; en die opgestane Here is die Gekruisigde. Sy egte dood en egte opstanding het verlossing bewerk vir die hele mens en vir die hele wêreld. Sy belofte aan sy dissipels na die voetwassing dat Hy weer na hulle toe kom, is vervul (14:18) en dit het hulle droefheid in vreugde verander (16:19-22). Paasfees is gevul met vreugde oor ons Heer. Toe die dissipels deur hierdie merktekens oortuig is dat dit die Here is, het blydskap hulle harte vervul, soos Jesus beloof het (15:11). Hy het sy lyding en dood oorwin.

 

20:21 Jesus herhaal sy vredes-toesegging as grond vir sy opdrag. Soos Hy vir hulle vrede met God bewerk het (20:19), moet hulle die vrede uitdra na die wêreld. Soos wat Jesus deur die Evangelie telkens gesê het dat Hy deur die Vader gestuur is om alles te sê en te doen wat die Vader aan Hom opgedra het, netso stuur Hy sy volgelinge uit met die boodskap van vrede met God en vrede met mekaar; die vrede wat Hy aan die kruis bereik het. Op die Paasmôre het die dissipels teruggegaan huis toe (20:10) en in vrees vir die Jode bymekaar gekom; in die aand word hulle uitgestuur om die vrede met God deur geloof in Jesus vreesloos te gaan verkondig. Hy gaan deur hulle sy werk werk in die wêreld voortsit (Joh.13:20; 17:17-19). Soos Jesus permanent die Gestuurde van die Vader is (die werkwoord ‘gestuur’ is in die voltooide tyd om aan te dui dat Hy Gestuurde bly), gaan sy sending voort en bly dit effektief. Hy gaan deur hulle groter dinge doen as in die dae van sy omwandelinge saam met hulle, sodat die Vader verheerlik kan word in die Seun (Joh.14:12-14).

 

‘Ontvang die Heilige Gees!’

20:22 Toe blaas Jesus op hulle. Die Griekse woord emfusaoo, wat slegs hier in die Nuwe Testament gebruik word, verwys terug na Genesis 2:7 toe God sy asem in die neus van die mens geblaas het vir die skepping van die mens, en in Eseg.37:9,10 toe die Gees in die dooie bene geblaas is om hulle weer lewendig te maak – hier van Jesus wat  in die dissipels blaas om hulle toe te rus met sy Gees om Jesus se taak voort te sit in die wêreld. Hiermee word die mens opgeneem in die nuwe skepping deur die menswording, dood en opstanding van Jesus Christus, die Woord van God, deur wie alles geskape is (Joh.1:3), en in wie daar lewe is,dié lewe wat die lig is vir die mense (Joh.1:4). Jesus sê: Ontvang die Heilige Gees!’ – ontvanklik, om deur die Gees oortuig te word dat ongeloof in Jesus sonde is; om gelei te word tot geloof in Jesus, wat ons verhouding met God reggemaak het deur ons sonde te vergewe en van ons kinders van God te maak; om in die liefde van God opgeneem word (16:8-10); om ook mekaar lief te hê, soos die Vader die Seun lief het (15:9).

            Johannes verbind die gawe van die Heilige Gees met die Paasgebeure van Jesus se sterwe en opstanding. Lukas, wat twee boeke skryf, verbind die gawe van die Heilige Gees met Pinkster, die oesfees, vyftig dae na die Paasfees, met die eerste gerwe van die oes, maar ook met die Paasfees se opstanding in Petrus se verklaring van die Pinkstergebeure (Hand.2:24: ‘Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan’). Soos Johannes die reiniging van die tempel reeds aan die begin van sy Evangelie beskryf om die Woord van God wat mens geword het se bediening te verduidelik (2:13-21), doen hy dit ook met die instorting van die Heilige Gees aan die einde van sy enkele boek, om die voortsetting van die Woord van God wat mens geword het se bediening deur sy volgelinge te verduidelik.

 

20:23 Jesus se koms na die wêreld en sy kruisiging beteken die oordeel oor die wêreld (12:31), soos ‘n regter se beslissing in ‘n hofsaak, wat vryspreek of veroordeel. Jesus sit sy werk voort deur sy dissipels: Hulle verkondig verlossing van sonde en opname in die huisgesin van God, waar Hy in liefde regeer, en veroordeling van dié mens wat die openbaring en verlossing deur Jesus verwerp (Joh.3:36 die toorn van God bly op hom). Die hoof taak van Jesus se volgelinge is die verkondiging van die vergewing van sonde deur Jesus se liefdesoffer aan die kruis. Maar wie nie in die enigste Seun van God glo nie, is daarom reeds veroordeel (Joh.3:18). God se vergewing is ‘n skeppende mag, wat van die sondaar  voor God ‘n regverdige kind van God maak en nuut begin lewe in die liefde van God en liefde vir mekaar.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus verskyn aan Maria Magdalena (20:11-18)

Jesus verskyn aan Maria Magdalena (20:11-18) – Francois Malan

‘n Vrou is die eerste getuie van die opstanding van Jesus

20:11-12 Maria het intussen teruggekeer na die graf toe. Waar sy eers langs die kruis gestaan en ween het oor haar Here aan die kruis (19:25), staan sy nou buite sy oop graf en ween oor sy liggaam wat weg is, ‘n laaste anker in haar lewe. Vier maal word na haar geween verwys in die gedeelte.

            Maar toe sy afbuk om in die graf in te gaan, sien sy twee engele in wit, waar die dissipels slegs opgerolde doeke gesien het, aan die voet- en koppenent waar die liggaam van Jesus gelê het (Mark.16:5 ‘n jongman in wit klere; Luk.24:4 twee manne in glinsterende klere; Mat.28:2-3 ‘n engel soos ‘n weerligstraal met klere so wit soos sneeu) verteenwoordigers van die hemelse wêreld as bewys dat hemelse kragte hier aan die werk is. Nie grafrowers nie, maar God het Jesus weggeneem vir ‘n ander doel.

 

20:13-15 Anders as in die ander Evangelies vertel die engele nie vir haar dat Jesus opgestaan het nie, maar vra waarom sy huil. Haar antwoord bewys weer haar afhanklikheid van die fisiese teenwoordigheid van Jesus. Maar sy word bewus van iemand agter haar. Iemand so vroeg in die graftuin moet die tuinier wees, en sy konfronteer hom met haar begeerte om die dooie liggaam van haar Here te versorg. Soos die Emmausgangers in Luk.24:16 en die dissipels wat gaan visvang in Joh. 21:4, herken Maria nie vir Jesus sonder dat Hy Homself aan haar openbaar nie.

 

20:16 Met die bekende klank van sy stem en soos Hy haar gewoonlik op haar  naam genoem het, daag die lig in haar op, oorstelp van vreugde. ‘Mariam’ (die alternatiewe Griekse vorm vir Maria, vir die Hebreeus Miriam, ‘geliefde,’ ‘begeerde kind’). Sy spreek Hom ook in Hebreeus aan as ‘rabboeni,’ ‘my Grote,’ die term vir ‘n leermeester. Die Goeie Herder het sy skaap op haar naam genoem, en sy het met vreugde gereageer (Joh.10:3). Jesus herstel haar persoonlike verhouding met Hom, van wie sy gedink het dat Hy vir ewig weg is. Sy het sy dooie liggaam gesoek en die lewende Here ontmoet.

 

20:17  Maria val plat voor Jesus neer en probeer sy voete vashou uit vreugdevolle aanbidding en die begeerte om Jesus in liefde vas te hou – liggaamlike kontak is een van die sekerste maniere om bewus te word van die wêreld om jou – hier van die opstanding van Jesus, wat nie in hierdie deel genoem word nie. Maar die nuwe kontak met Jesus is deur geloof en nie meer die fisiese kontak van sy aardse bediening nie.

            Wat wel genoem word is die hemelvaart.  Jesus sê Hy het nog nie opgevaar nie, daarom moet sy Hom nie vashou nie, maar uitsien na die nuwe verhouding met die hemelse Christus. Hy is op pad om na sy Vader op te vaar om so die verlossingswerk van God te voltooi. Daardeur word Jesus se Seunskap van God uitgebrei na sy volgelinge wat aan Hom verbind is. Hulle word kinders van God deur hulle eenwording met Jesus deur geloof in Hom en vertroue op Hom. Waar Jesus hulle vroeër sy vriende genoem het (15:14-15),  noem Hy sy volgelinge nou ‘broers’ (Paulus sê ons word lede van die liggaam van Christus; 1 Kor.12:27; Rom 12:5). Die geloof en eenwording met Jesus word gewerk deur die Heilige Gees, wat in ons kom woon en ons lei en oortuig deur die woord van God, om al meer soos Jesus te word in die liefde (2 Kor.3:18; Rom.8:11; Gal.5:22-25). Jesus identifiseer Homself met sy volgelinge en trek hulle saam met Hom na God, sy Vader toe (12:32). Die wonderlike nuus oor die betekenis van Jesus se hemelvaart moet Maria aan sy volgelinge gaan vertel as die eerste getuie wat die opgestane Heer gesien het.

 

20:18 Die verhaal sluit af met Maria se uitvoering van Jesus se opdrag. Sy voeg haar eie getuienis daarby: Ek het die Here gesien. Sy noem Hom nie meer my Leermeester nie, maar ‘die Here,’ wat die seggenskap het oor my lewe, wie se opdrag ek gehoorsaam uitvoer. Terwyl vroue se getuienis nie hoog aangeslaan is in daardie tyd nie, maak Jesus van vroue sy eerste getuies (vgl. die vrou met ‘n slegte reputasie by die put naby Sigar, wat gaan getuig by die Samaritane,  en Maria van Magdala, uit wie Jesus sewe duiwels uitgedryf het, by sy dissipels, Luk.8:2).

 

Skrywer: Prof Francois Malan