Vlakke van bestaan – Hermie van Zyl

Michelle vra:

Ek het by ’n pastoor gehoor dat daar verskillende vlakke van bestaan is, byvoorbeeld die fisiese (waar ons as mense lewe), dan ’n volgende een waar ons bose geeste kan sien, en dan ’n volgende waar jy engele kan sien, ensovoorts. Is dit waar? Verduidelik asb.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hierdie vraag kan op twee maniere beantwoord word: godsdienshistories en teologies. Ek gee kortliks aan beide aandag.

Godsdienshistories

Met “godsdienshistories” word bedoel die manier hoe die antieke mens, waaronder ook die gelowige Jood en Christen, sy godsdiens beleef en uitgeleef het. Kennis hiervan is vir ons vandag meer informatief as normatief, dit wil sê, ons kan nie destydse denke en gebruike net so heelhuids as normatief oorneem vir vandag nie. Ons dink immers vandag anders oor die wêreld as die antieke mens, selfs al word ons steeds beïnvloed deur die tradisies wat ons in die Bybel aantref. Maar dit is wel nodig om soveel as moontlik van hierdie godsdienshistoriese agtergrond te bekom, omdat dit onontbeerlike inligting vorm vir hoe ons die Bybel verstaan vir ons eie tyd. Daarsonder kan ons nie onderskei waarop dit eintlik aankom en wat steeds vir vandag geld nie.

Die antieke mens, waarby die Bybelskrywers uiteraard ingesluit word, het anders gedink oor die samestelling van die kosmos as ons vandag. Hulle het byvoorbeeld aan ’n “drieverdieping”-kosmos geglo. Die “grondverdieping” is gesien as die aarde – ’n plat skyf wat op sy pilare gegrondves was in die oerwaters. Die “kelder” was sheōl of die doderyk (soms ook die onderaardse diepte genoem), ’n gebied onder die aarde waarheen die siele van afgestorwenes gegaan het, en waar, volgens latere sienings, die duiwel en demone ook gevange gehou word tot die eindoordeel. Die “eerste verdieping” was die uitspansel of firmament wat soos ’n koepel bo die aarde gespan en met pilare op die aarde se eindes gevestig is. Die son, maan en sterre was aan die koepel geheg. Die koepel het ook die oerwaters van die hemel van die oerwaters onder die aarde geskei. Die koepel het sluise gehad wat van tyd tot tyd oopgegaan het en dan het dit op die aarde gereën. Agter die koepel was die hemel, waar God en sy engele gewoon het.

Die hemel is verder deur die Jode in verskillende vlakke ingedeel. Die literatuur wissel hieroor, maar die gewildste voorstelling was dat daar sewe hemele is, min of meer in rangorde geplaas, met die engele in al die hemele en God in die hoogste hemel. Sommige skrywers praat ook van drie en tien hemele. Daar is verder name aan elkeen van hierdie hemele gegee, met ’n engel wat oor elkeen die wag hou. Ons kry iets hiervan in die Nuwe Testament as Paulus in 2 Kor 12:2-4 sê dat hy weet van ’n man (hy praat waarskynlik van homself) wat tot in die derde hemel weggeruk is en daar onuitspreeklike woorde gehoor het. In dieselfde asem praat hy ook van die paradys, wat die vermoede laat ontstaan dat die derde hemel en paradys vir hom een en dieselfde plek was. Die meeste geleerdes verstaan dit ook so dat Paulus aan die derde hemel as die hoogste hemel gedink het, die plek waar God, die engele en die afgestorwe gelowiges woon. Die Openbaringboek verleen verdere luister aan hierdie opvatting deur te praat van die vier lewende wesens en 24 ouderlinge wat rondom die troon van God versamel is. Op sy beurt gaan hierdie opvattings terug op die Ou Testament, plekke soos Eseg 1:5 en Jes 6:2. Die Jode het verder ’n uitgebreide engeleleer gehad. Engele is in verskillende klasse ingedeel, soos aarts- of hoofengele, beskermingsengele, engele vir die verskillende volke, engele wat God se oordeel uitvoer, sy wet promulgeer, en sy genade en barmhartigheid bekendmaak. Die aartsengele het name gehad, waarvan twee in die Bybel behoue gebly het, naamlik Gabriël (Luk 1:26) en Migael (Dan 12:1; Judas :9; Op 12:7).

Die teenpool van die engele was die duiwel en sy demone. Hulle het deel gevorm van die onsigbare wêreld, maar was nie, soos die engele, naby die teenwoordigheid van God in die hemel nie. Hulle woonplek was primêr die onderaardse sfere, soos die onderaardse diepte, begraafplase, onherbergsame plekke en onderaardse skeure. Van hier het hulle aanvalle op mense geloods om dié te teister en te beset. Die Nuwe Testament gee blyke van hierdie opvattings in gedeeltes soos Mark 5:1-13, Judas :6-7, en Op 20:3, waar die demone in verband gebring word met begraafplase en die onderaardse diepte. Hierbenewens was daar ook die opvatting, meer vanuit die Griekse wêreld, dat die lug gevul is met allerlei bose geeste. Die lug was dus vir die antieke mens nie ’n neutrale domein nie. Daarom dat ’n teks soos Ef 6:12 sê dat die gelowige se stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen elke bose gees in die lug. (Dit is moontlik so verstaan dat die bose geeste die lug – die dele onder die hemelkoepel – okkupeer.) Die gelowige se stryd teen die bose lê ook ten grondslag van Ef 1:21-22 as daar staan dat God alle mag en gesag, krag en heerskappy aan Christus onderwerp het (kyk ook Kol 2:10). Hoewel hierdie magte gewone aardse heersers of owerhede kon wees, dui dit ook op menslike owerhede in die greep van die bose. Die Romeinse Ryk is byvoorbeeld deur sommige Bybelskrywers as ’n werktuig van die bose beskou, spesifiek in die Openbaringboek (vgl Op 18: Babilon = Rome). Ons tref dus in die Nuwe Testament ’n verskeidenheid van gedagtes aan wat die bose lokaliseer in afgesonderde plekke, onder die aarde, in die lug en in sommige aardse owerhede.

Op hierdie punt kan ons begin saamvat om ons vraagsteller se vraag te beantwoord. Die wêreld waarin die eerste Christene geleef het, was gevul met die godsdienstige konsepte wat veral uit die Jodedom, maar ook uit die Griekse wêreld aan hulle bekend was. Hiervolgens is dit inderdaad so dat die hemel en aarde ’n komplekse samestelling gehad het; dit het uit verskillende vlakke bestaan. Die fisiese bestaan was maar net een vlak van die totale werklikheid. God en sy engele, en daarby nog Satan en sy demoniese magte, het ook hierdie werklikheid gevul. Satan en sy magte was veral gelokaliseer in die onderaardse diepte en onherbergsame plekke, maar ook “in die lug”. God en sy heilige engele het weer die verskillende hemele bewoon. Daar was verskeie voorstellings oor hoeveel hemele daar was (enigiets van 3 tot 10). Maar daar is nie ’n eenvormige prentjie oor waar ons almal en alles moet lokaliseer nie. Dit was nie ’n eenduidige sisteem van, sê nou maar, sewe hemele waar die eerste hemel deur demone bewoon is, die tweede deur engele, die derde deur ’n hoër kategorie engele, en dan so voort tot ons by God en die lewende wesens en 24 ouderlinge kom nie. Ons kan bloot sê dat daar ’n verskeidenheid van voorstellings was oor hoe die sigbare en onsigbare werklikheid saamgestel en bewoon is. Verder moet ook beklemtoon word dat hierdie voorstellings veral in die Jodedom voorgekom het. Uiteraard is die eerste Christene hierdeur beïnvloed, want dit was hulle leefwêreld. Maar dis veelseggend dat niks van die uitgebreide Joodse spekulasies oor die hoeveelheid hemele deur die Nuwe-Testamentiese skrywers oorgeneem is nie. Net hier en daar kry ons ’n glimps daarvan. Dis asof die Bybelskrywers hierdie spekulasies doelbewus vermy het, wat vir ons ’n goeie aanduiding is dat ons nie te veel hieruit moet aflei of oorneem nie.

Die vraag is nou hoe ons uit al hierdie godsdienshistoriese voorstellings sin moet maak vir ons wêreld vandag. En dit bring ons by die volgende afdeling, die teologiese.

Teologies

Met “teologies” word bedoel dat ons gesagvolle antwoorde soek vir vandag oor wat ons moet glo en hoe ons moet lewe. Dit behoort uit die godsdienshistoriese oorsig hierbo duidelik te wees dat ons nie alles wat destyds aanvaar is omtrent die samestelling van die kosmos net so heelhuids kan oordra na vandag nie. Ons is kinders van ons eie tyd, en sedert Bybelse tye het daar baie ontwikkelinge op die wye terrein van die wetenskap – spesifiek ook die Bybelse wetenskap – plaasgevind wat ’n rol moet speel in hoe ons vandag oor die samestelling van die kosmos en spesifiek die geesteswêreld dink. Hoe moet ons uit die verskeidenheid van voorstellings oor die destydse ordening van die geesteswêreld sin maak vir vandag? Die volgende insigte kan as riglyn dien.

Ons hoef nie vas te val in voorstellings van hoeveel hemele daar was en hoe en deur wie hulle bewoon is nie. Dit is voorstellings wat voortgevloei het uit destydse insigte, maar wat nie noodwendig normatief vir vandag geld nie. Die normatiewe of gesagvolle van die Bybel lê nie primêr in die godsdienshistoriese voorstellings nie. Wat ons wel as steeds gesagvol kan aanvaar, is dat daar ’n geestelike wêreld is wat die fisiese onderlê, dat wat ons met ons normale sintuie kan waarneem eintlik maar net ’n fraksie van die werklikheid is. Dit is die een gedagte wat die Bybel onteenseglik aan ons wil oordra en waaraan ons moet vashou. As ons hierdie perspektief prysgee, gee ons iets wesenlik prys. Dis nie om dowe neute nie dat die Bybel boordensvol is met visies op ’n “ander wêreld” wat nie net as werklik ervaar word nie, maar wat ook ons denke en optrede in die alledaagse werklikheid grondig beïnvloed en vorm. Dink aan Jakob wat ’n visioen het van engele wat op en af beweeg tussen hemel en aarde (Gen 28:12-17), engele wat aan mense verskyn (bv Gen 18; Matt 1:20-23; Luk 1:26-27), die Here wat die oë van Elisa se slaaf open om te sien dat hulle omring is van hemelse perde en strydwaens van vuur wat hulle beskerm teen die vyand (2 Kon 6:17), profetiese vergesigte van toekomstige gebeure en van ’n Redder wat sal kom (bv Sag 3:8; 9:9-10), Petrus wat ’n visioen het waar hy op ’n dakstoep besig is om te bid (Hand 10:10-16), die dissipels en later Paulus wat ontmoetings het met die opgestane Here Jesus (Joh 20:19-29; Hand 9:3-6), en die hele Openbaringboek wat uit een majestieuse visioen bestaan van ’n hemelse wêreld wat ons huidige wêreld oorspan, rig en stuur. En so kan mens die voorbeelde vermenigvuldig; daar is omtrent nie ’n bladsy in die Bybel waar die bo-sintuiglike wêreld nie ter sprake kom nie. Trouens, dis die hele perspektief waaruit die Bybel geskryf is. Sonder erkenning van hierdie perspektief word die hele betekenis van die Bybel betekenisloos. Ja, ons hoef nie al die inkledings van die destydse beskrywings te aanvaar nie, maar die transendente (bo-aardse) perspektief durf ons nie prysgee nie. Daar ís ’n geestelike werklikheid wat nie so direk voor oë is nie maar wat ons sigbare werklikheid transendeer (te bowe gaan), onderlê en deurkruis. Wie oog hiervoor kry, weet dat ons sigbare werklikheid deur die transendente God in aansyn geroep is, en steeds onderhou en na sy voltooiing gevoer word. Dít is die belangrike perspektief wat die Bybel leer en waaraan ons moet vashou. Hoe presies hierdie onsigbare werklikheid saamgestel is, weet ons gewoon nie. Die Bybel is baie suinig met informasie hieroor. En waar dit oënskynlik wel detail-inligting deurgee, soos in die Openbaringboek, moet dit meesal simbolies verstaan word. Die voorstellings moet dus nie die fokus van ons aandag wees nie. Waarop ons wel moet fokus, is dat ons ten diepste leef uit God se wêreld, ’n wêreld wat weliswaar onsigbaar maar vir seker wérklik is en wat ons lewe hier op aarde rig en lei. Deur die geloof kry ons deel aan hierdie onsigbare wêreld – vir tyd en ewigheid.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Vergifnis en skuldbelydenis – Hermie van Zyl

In hierdie aanbieding sal jy leer:

  • Wat die verskil tussen spyt wees en berou oor sonde is;
  • Hoe noodsaaklik skuldbelydenis vir vergifnis is;
  • Dat die noodsaak van skuldbelydenis nie onsekerheid veroorsaak nie
  • Wat die verhouding tussen die normale geloofslewe en skuldbelydenis is
  1. Die verskil tussen spyt wees en berou oor sonde

Skuldbelydenis groei uit sondebesef en berou, wanneer jy besef wie en wat jy is voor die aangesig van God. En op sy beurt kom berou oor sonde nie vanself nie, maar gebeur dit wanneer die Heilige Gees jou van binne-af oortuig oor jou status voor God. ‘n Mens se eerste en natuurlik reaksie by die besef van sonde is altyd om die werk van die Heilige Gees te weerstaan en jou status as sondaar te ontken. Niemand hou daarvan om te erken dat hy ‘n sondaar is en nie deel het aan die heerlikheid van God nie, soos Romeine 3:23 dit stel. Ons stel hierdie erkenning so lank as moontlik uit. Die Bybel waarsku egter dat ons nie die Heilige Gees moet weerstaan en bedroef nie (Handelinge 7:51; Efesiërs 4:30; 1 Tessalonisense 5:19; Jesaja 63:10). Wanneer Hy ons lei tot berou oor sonde, is dit deel van God se heilsweg en moet ons hierdie pad bewandel.

Op hierdie punt is dit belangrik om te verstaan dat daar ‘n verskil is tussen spyt wees oor dinge wat verkeerd geloop het en berou oor sonde. By spyt wees staan jyself in die sentrum. Jy is jammer dat jy nie in staat was om ‘n saak beter te hanteer nie, dat dinge skeefgeloop het. Jy mag selfs diep teleurgesteld wees in jouself, gepaardgaande met selfverwyt – hoe kón ek, hoe kon ék. En jy mag selfs onderneem om in die toekoms harder te probeer om nie weer dieselfde foute te maak nie. Maar wesenlik gaan dit oor selfhandhawing. Berou is egter anders; dit gaan ‘n stappie verder en lê veel dieper as spyt. Dit gaan oor die diepe besef van wie jy eintlik is, dat jou optrede nie net jou eie ego raak nie, maar ten diepste God se eer aantas en verhoudings met ander benadeel en geskend het. En daar is die bereidheid om teenoor God en ander te erken dat jy verkeerd was. Jy het ook die hartlike begeerte dat verhoudings herstel moet word. Jy is nie daarop ingestel om jou gewaande goeie beeld na buite ten alle koste te beskerm en te handhaaf nie. Jy kom op daardie punt dat jy besef jy is in wese ‘n sondaar en dat die verhouding net deur God herstel kan word, deur sy vergifnis.

Die verskil tussen spyt en berou word tipies geïllustreer deur Judas Iskariot (spyt) en Petrus (berou). Judas besef dat hy ‘n onskuldige Man verraai het; hy erken selfs dat hy gesondig het (Matteus 27:3-5). Maar hy het geen begeerte om die verhouding met Jesus en die ander dissipels te herstel nie. Hy is so teleurgesteld in homself en dat sy eie ideale aan skerwe lê, dat hy homself gaan ophang. Hy kon nie langer met sy eie teleurstelling saamleef nie. Maar by Petrus lê dit anders. Sy voortvarendheid kom tot ‘n val, en hy het diepe berou oor sy verloëning van Jesus (Matteus 26:75). Hy kom tot ware selfinsig en het die begeerte dat die verhouding met Jesus en die ander herstel sal word, wat dan ook later gebeur (Johannes 21:15-19). In hierdie twee se lewe word geïllustreer wat in 2 Korintiërs 7:8-11 staan: Daar is ‘n droefheid oor sonde wat tot die lewe lei; dis ‘n droefheid volgens die wil van God en lei tot bekering en redding. Maar daar is ook ‘n droefheid uit wêreldse oorwegings wat tot die dood lei. Laasgenoemde was Judas se paadjie; eersgenoemde Petrus s’n.

  1. Die noodsaaklikheid van skuldbelydenis vir vergifnis

Die vraag wat nou ontstaan, is hoe noodsaaklik dit is om jou sonde te bely ten einde God se vergifnis te bekom. Hieroor is die Bybel baie duidelik – sonde wat nie bely word nie, verteer ‘n mens. Jy het geen innerlike vrede nie en daar is geen ware herstel van verhoudings moontlik nie totdat jy die sonde waarvan die Heilige Gees jou oortuig het, teenoor God en die ander bely het. So lees ons van Dawid in Psalm 32:3-5 dat sy liggaam uitgeteer en sy krag opgedroog het toe hy nie sy sonde bely het nie. Hy verlang na God se vergifnis en redding sodat hy weer blydskap en vreugde kan belewe (Psalm 51:1-15). Spreuke 28:13 praat ook daarvan dat mens niks goeds te wagte kan wees solank jy jou sonde wegsteek nie; eers wanneer jy dit bely, ontvang jy genade. En in die gelykenis van die verlore seun het die jongste seun die dringende behoefte om sy sonde teenoor God en sy pa te bely (Lukas 15:18). As mens hierdie stem in jou binneste onderdruk en jou skuldbelydenis bly uitstel, kan dit lei tot opstand teen God of gewoon net afsydigheid teenoor Hom. Meer nog, ‘n langdurige onderdrukking van die erkenning en belydenis van sonde kan lei tot die sonde teen die Heilige Gees waar die stem van jou gewete – soos gesensitiseer deur die Heilige Gees – al hoe dowwer en stiller raak totdat jy later geen begeerte meer het om met God versoen te raak nie. Jy het dan die enigste manier wat God het om sy heil aan jou te bemiddel – die werking van sy Gees – in effek stilgemaak.

Ons moet egter die verhouding tussen sondebelydenis en vergewing goed verstaan. Dit is nie so dat God my sonde vergewe op grond van my belydenis van sonde nie. Want dan kan die gedagte posvat dat dit my belydenis van sonde is wat God se houding of gesindheid teenoor my verander. Eers was Hy kwaad vir my, maar na my skuldbelydenis verander dit na goedgesindheid. Maar in die vorige aanbieding het ons reeds gesien dat die grond vir God se vergifnis enkel alleen sy genade is, asook die feit dat Christus in ons plek die straf op ons sonde gedra het. Die rede hoekom Hy vergewe word nie in óns gevind nie, maar in Hom, in sy goedheid en genade. Daar vind dus geen Umstimmung by God plaas nie; God is nie eers kwaad vir ons, en ná ons skuldbelydenis versag sy houding na goedgesindheid nie. Nee, God was nog nooit anders as genadig, vol liefde en barmhartig nie (Psalm 103:8-14; 145:8-9; Jona 4:2). Hy reageer dus nie op ons sondebelydenis nie, dis eerder ons wat reageer op sy goedheid; dis sy goedheid wat sondebelydenis by ons ontlok en moontlik maak. Die feit van die saak is dat Hy Hom met ons versoen het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8; 2 Korintiërs 5:19; 1 Johannes 4:10). Hy het ons eerste liefgehad. Dis presies die herinnering aan die liefdevolle vader wat die verlore seun laat terugkeer huis toe. As hy ‘n veroordelende vader daar verwag het, sou hy waarskynlik nooit teruggekeer het nie. (Die vader se liefde word veral uitgedruk deur die “innig jammer gekry” van Lukas 15:20.)

Tog, hoewel sondebelydenis nie die oorsaak of grond van God se vergifnis is nie, kan vergifnis ook nie daarsonder plaasvind nie. Ons kan dit so stel: sondebelydenis is nie soseer vir God belangrik nie, maar vir ons. Dis die enigste manier waarop ons God se vergifnis kan bekom, hoe dit ‘n realiteit vir ons word. Sondebelydenis is dus weliswaar nie die grond van vergifnis nie, maar ‘n voorwaarde; vergifnis hang nie af van my belydenis nie, maar hang daarmee saam. Hierdie waarheid word tipies uitgedruk deur die gebeure rondom die vader en die jongste seun in die gelykenis van die verlore seun. Die seun doen wel belydenis van skuld, maar dié word vooruitgeloop en ondervang deur die vader wat lankal reeds na die seun se terugkeer verlang en hom inwag (die vader sien hom van ver af aankom; hy het vir hom gewag). Daarom laat die vader die seun nie eens toe om sy skuldbelydenis volledig te doen nie; hy soen dit as ‘t ware weg. Hy stel nie eintlik belang in die belydenis nie, Hy is net bly dat die seun terug is by die huis sodat hy as seun herstel kan word. Inderdaad, God het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat hy hom bekeer en lewe (Esegiël 18:23).

Kom ons vat saam om die verhouding tussen sondebelydenis en vergifnis nogeens duidelik te maak. Ons skuldbelydenis is weliswaar noodsaaklik, maar dis nie ‘n goeie werk wat beloon word met Goddelike vergifnis nie. God beloon ons nie met vergifnis omdat ons belydenis so opreg is of treffend geformuleer is nie. Ons kan onsself nie op die skouer klop dat ons eintlik God se vergifnis verdien deurdat ons tot hierdie insig oor onsself of tot berou oor sonde gekom het nie. Nee, sondebelydenis, soos geloof, is ‘n manier waarop ons wegkyk van onsself om God se vergifnis, wat uit sy genade voortvloei en wat Hy reeds in Christus voorberei het, in ontvangs te neem.

  1. Die noodsaak van skuldbelydenis veroorsaak nie onsekerheid nie

Indien skuldbelydenis as noodsaaklik vir vergifnis gesien word, ontstaan die vraag of dit nie ‘n soort onsekerheid of selfs angstigheid by die gelowige tot gevolg het nie. Waar staan ek werklik op die langtermyn met God? Byvoorbeeld, wat van sondes wat ek nog nie bely het nie? Of sondes waarvan ek nie eens bewus is nie? Of sondes wat ek nog gaan doen? Plaas hierdie onbelede sondes nie my verhouding met God in gevaar nie? Beteken dit dat ek op ‘n wilde soektog moet gaan na al my vermeende en onontdekte sondes sodat ek dit kan bely ten einde daarvoor vergewe te word?

Hierop kan ons onomwonde antwoord dat die verhouding met God nie ‘n quid pro quo-een is nie. Dit is nie so dat vir elke moontlike ding wat mag skeefloop in hierdie verhouding daar ‘n gepaste “teenprestasie” van ons verwag word om weer die verhouding te herstel nie. En indien hierdie teenprestasie nie gelewer word nie, dan verbeur ons die seën van God en dreig die verhouding om tot niet te gaan. Nee, die gelowige rus vir tyd en ewigheid in ‘n geborge en veilige verhouding met God. Ons is nie vasgevang in ‘n wettiese opset waar ons suutjies moet trap en gedurig senuagtig oor die skouer loer of ons God nie dalk geaffronteer het nie. Nee, ons is soos kinders in die ouerhuis. Vir seker is alles nie perfek nie; baie dinge loop verkeerd; daar is onbelede sondes; ons selfinsig is nooit volmaak nie. Maar by God as Vader het ons tuisgekom, rustig geword. Sy Seun het immers gesê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matteus 11:28). By God is daar rus, kalmte, geborgenheid en vreugde. Wat meer is, dis ‘n liefdesverhouding, en ware liefde dryf die vrees na buite (1 Johannes 4:18). Ons het die Gees van vryheid ontvang wat maak dat ons nie die hele tyd in vrees en onsekerheid lewe nie. Die Gees maak ons tot kinders van God, en as kinders is ons sy ewige erfgename (Romeine 8:15-17). En niemand kan ons aankla of beskuldig dat ons vanweë ons onvolmaaktheid nie vir tyd en ewigheid aan Hom behoort nie. Niks in die hemel of op die aarde kan ons skei van God se liefde in Christus nie, nie eens ons onbelede sondes nie (Romeine 8:31-39).

So gesien is dit nie voorbarig nie maar juis tekenend van kinderlike vertroue wanneer ons sê: Daar is geen plek vir onsekerheid en angs in die verhouding met God nie. Ook my onbelede, onbekende én toekomstige sondes is vergewe. My totale gebrokenheid word ondervang deur God se vergifnis wat ten diepste nie afhanklik is van my belydenis van sonde nie, maar van sy genade en liefde.

  1. Die verhouding tussen die normale geloofslewe en skuldbelydenis

Die laaste kwessie wat ons moet aanraak, is: Hoe pas sondebelydenis in die normale geloofsverhouding met God in? Anders gestel: Lei berou en sondebelydenis tot geloof in God, of is dit andersom: Berou en sondebelydenis vloei voort uit die geloofsverhouding met God?

Ideaal gesproke behoort ‘n “sondebesef” tot geloof in God te lei, maar die geskiedenis leer ons dat dit nie altyd die geval is nie. In afdeling 1 het ons juis gesien dat Judas Iskariot tot ‘n bepaalde sondebesef gekom het nadat hy Jesus verraai het, maar dit het nie tot sy redding gelei nie; inteendeel, hy het in wanhoop homself gaan ophang.

Wat gebeur, is dat die aanvanklike ontmoeting met God lei tot sondebesef, soos Petrus ervaar het tydens die wonderbaarlike visvangs (Lukas 5:8). Hy is so oorstelp deur hierdie gebeure dat hy uitroep: “Gaan weg van my af Here, want ek is ‘n sondige mens.” Hy besef hy is op heilige grond, dat hy in die teenwoordigheid van die Heilige is, en dat hy ‘n sondaar is. Dit het ook gebeur toe Johannes die Doper met sy prediking begin het (later ook oorgeneem deur Jesus): “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom” (Matteus 3:2; 4:17). In die lig van die ontsagwekkende teenwoordigheid van God se koninkryk is daar net een gepaste reaksie: Sondebesef, skuldbelydenis en bekering. En so het baie mense inderdaad op Johannes se prediking tot sondebesef en geloof gekom, hulle selfs laat doop (Lukas 3:3-14). Maar hierdie aanvanklike belydenis moet deel word van die normale geloofslewe. Die groeiende besef van wie God en wie ek is, wat voortvloei uit die groeiproses in ‘n normale geloofslewe, lei tot verdieping in sondebesef en -belydenis. Opregte boetvaardigheid word gebore, én verdiep algaande, vanuit die geloofsverhouding met God. Dit is die logiese uitvloeisel van ‘n lewe coram Deo (“voor die aangesig van God”).

In hierdie verband het Calvyn gepraat van die Christelike lewe as een van mortificatio en vivificatio, wat beteken: die doding of kruisiging van die vlees (die ou natuur), en die opstanding van die nuwe mens, die vernuwing tot ‘n lewe in Christus. So gesien vorm mortificatio en vivificatio keersye van mekaar; beter gestel: die doding van die ou natuur vind plaas vanuit die vernuwing van my lewe in Christus. Hoe nader ek aan Christus leef, hoe meer ek die nuwe mens in Christus ervaar en uitleef – hoe meer haat ek my ou natuur en kruisig ek dit. Die belydenis van sonde is dus nie ‘n eenmalige daad van berou nie, maar deel van ‘n lewenslange groei na Christus toe. Laasgenoemde laat my al meer my sonde ontdek en wek voortdurend die behoefte om my sonde te bely. Uiteraard nie op ‘n vreesagtige en patologiese manier nie; dit is net die spontane uitvloeisel van ‘n lewe saam met Christus. Ek ontdek en erken algaande die waarheid van Romeine 3:23: “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie.” Die Christelike lewe bestaan derhalwe daarin om dood te wees vir die sonde (mortificatio), maar te lewe vir God (vivificatio), omdat ons een is met Christus (Romeine 6:11).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Vergifnis en genade – Hermie van Zyl

In hierdie aanbieding sal jy leer:

  • Ons is diep in die skuld by God;
  • God vergewe omdat Hy genadig is, en omdat sy Seun uit liefde die straf op ons sonde gedra het

Die gelykenis van die arbeiders op verskillende ure gehuur (Matteus 20:1-16) dien as goeie illustrasie van God se genade.

  1. Ons is diep in die skuld by God

Ons is van nature mense wat nie beantwoord aan die doel waarvoor God ons gemaak het nie. Ons is diep in die skuld by God; dis ons status voor God. Ons bly weliswaar beeld van God, maar dit is ‘n geskende beeld vanweë die sonde.

Natuurlik is bogenoemde nie ‘n vanselfsprekende insig nie. Dis ‘n insig wat jy slegs bekom as jy jouself bekyk in die lig van God se wil, wanneer jy naak en eerlik voor Hom staan. En veral wanneer jy gevoelig gemaak is vir God se wil deur sy Gees wat in jou woon en werk. Dis dan dat die skrikwekkende besef by ‘n mens daag oor die enormiteit van ons skuld voor God en ons naaste. Wanneer ons kyk na onsself (persoonlike sonde) en na die toestand van die wêreld (kollektiewe sonde), krimp mens ineen oor wat ons gemaak het met die gawes en geleenthede wat God gee. Hoe het ons dit nie verniel en opgemors nie – persoonlik en kollektief. Wat doen ons aan mekaar, hoe pynig ons mekaar, hoe maak ons God seer. Nie net die slegte wat ons mekaar aandoen nie, maar veral die goeie wat ons nalaat om te doen. Ons verkies om ander pad te kyk en eenkant verby te hou by alles wat ‘n appèl maak op ons liefde, soos die priester en Leviet in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, toe hulle die verwonde man langs die pad sien. Ons sien dit nie raak nie, want die liefde ontbreek. Daarenteen, hoe treffend is Jesus se optrede: Toe Hy die skare sien wat soos skape sonder ‘n herder is, het sy hart ineengekrimp van medelye (letterlik: sy ingewande het in beweging gekom). En ten spyte van sy eie vermoeidheid het Hy gehelp (Matteus 14:14). Hierdie ingesteldheid ontbreek dikwels so klaaglik by ons.

Wanneer die enormiteit van hierdie sonde/skuld tot jou deurdring, jou tussen die oë soos ‘n voorhamer tref, wil jy uitroep: “Berge val op ons, heuwels bedek ons” (Hosea 10:8); of: “dit is klaar met my; ek is verlore; elke woord oor my lippe is onrein; ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is” (Jesaja 6); of: “gaan weg van my Here, want ek is ‘n sondige man” (Petrus aan Jesus; Lukas 5:8). Dis dan dat ons maar net kan uitroep: mea culpa; Here, ek is skuldig; vergeef ons ons sonde/skuld. ‘n Mens besef dat daar niks anders is wat jy God kan vra nie. Ek kan nie aanspraak maak op my eie meriete nie; ek kan nie my voortreflike CV voorhou nie; niks kan my sonde bedek nie; daar’s niks wat ek kan doen om dit te laat verdwyn nie; daar’s net een ding wat daarmee kan gebeur: God moet dit vergewe. En dan ontdek ons die verrassende – nie ‘n veroordelende God nie, maar ‘n genadige God; Een wat barmhartig, genadig, lankmoedig en vol liefde is (Ps 103:8).

  1. God vergewe omdat Hy genadig is, en omdat sy Seun uit liefde die straf op ons sonde gedra het

Dis belangrik om goed te verstaan waarom God vergewe, want ‘n teks soos Lukas 11:4 kan nogal daarop dui dat ons wel iets het om God aan te bied. Daar staan: “… vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree.” Dit lyk al asof ons ons voortreflike gedrag vir God aanbied as grond of rede waarom Hy ons moet vergewe: Here, ek is darem nie so sleg nie; ek vergewe darem ook my naaste so af en toe; dus: vergewe my asseblief op grond van goeie gedrag. Nee, die grond van God se vergifnis is nie ons goeie gedrag of voortreflike lewe nie. Die grond vir sy vergifnis is enkel en alleen omdat Hy goed is. Hierdie gedagte word treffend geïllustreer in die gelykenis van die arbeiders wat op verskillende tye gehuur is (Matteus 20), wat ons in afdeling 3 aan die orde stel.

Nog meer: Ek ontdek dat God my eintlik klaar vergewe het nog voordat ek my skuld kon bely. Ek ontdek dat God nog die heeltyd vir my gewag het, soos die pa in Lukas 15 op die verlore seun gewag het. Hy sien die seun van ver af kom, hardloop hom tegemoet en soen as ‘t ware sy seun se skuldbelydenis weg. Hy oorlaai hom met sy goedheid en herstel hom as seun in sy huis. Paulus verwoord dieselfde gedagte in Romeine 5:8 so: “God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” In Christus versoen God Homself met die sondige wêreld. Die vergifnis is dáár, beskikbaar; die genade-fees is gereed gemaak in Christus. Nou wag God met ‘n oop hart en uitgestrekte arms vir die wêreld om die uitnodiging te aanvaar en die genade-fees te kom geniet.

God sien nie sonde oor nie

Ons moet egter ook verstaan dat die genade-fees wat gereedgemaak is in Christus nie beteken dat God soos ‘n goedige oupatjie sy kinders en kleinkinders se “foutjies” bloot oorsien nie. Hy kyk nie ander pad en maak asof Hy die ongeregtighede van sy skepsels nie raaksien nie. Nee, sonde grief God; Hy hou nie daarvan nie; Hy straf sonde; dis ‘n vreemde kanker in sy goeie skepping. God skep daarom ‘n regsbasis op grond waarvan Hy sonde vergewe. Hierdie regsbasis word geskep deurdat God die sonde van die wêreld – en daarmee elkeen van ons s’n – gestraf het aan sy Seun, Jesus Christus. Omdat Christus in ons plek die straf op die sonde gedra het, kan ons vrygespreek word van ons skuld. Soos 2 Korintiërs 5:21 sê: “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons … deur God vrygespreek kan word”.

God is nie wraakgierig nie

Maar let wel, dis nie asof God se wraaklus eers bevredig moes word voordat Hy kon vergewe nie. God se hart word nie vermurwe of omgebuig omdat iemand se bloed gevloei het nie. God was nie eers kwaad en nou het sy woede afgekoel omdat iemand geboet het nie. Soos die Duitsers sê: daar vind nie ‘n Umstimmung by God plaas nie; dit was nie nodig om God se gemoedstemming te verander, Hom te oorreed of om te praat om ons te vergewe nie. Nee, God was nog altyd genadig, barmhartig en vol liefde. Wanneer Hy vergewe, doen Hy dit juis uit genade en liefde; dis die bron van vergifnis. En Hy skenk die soenoffer – Jesus Christus – uit genade en liefde.

Dit is natuurlik ‘n vraag waarom daar ‘n bloedoffer moet wees om sondevergifnis te bewerkstellig. Kon God nie maar net vanuit sy wese en aard vergewe het nie? Verskillende antwoorde word gewoonlik gegee, soos dat God se geregtigheid vereis dat die sonde gestraf moet word, of dat God se heiligheid en eer aangetas is en so herstel moes word, of om die ernstige gevolge wat sonde inhou, te beklemtoon. Maar die interessante is dat ons geen van hierdie antwoorde in die Skrif aantref nie. Al wat ons kan sê, is dat die Bybel die weg van die offer as noodsaaklik aandui, dat die mens nie die offer kan bring nie, en dat God Self die offer voorsien het, soos Hy dit gedoen het met die ram wat in die plek van Isak geoffer is (Genesis 22). Maar dit maak nie van God ‘n bloeddorstige, wraaksugtige God wat eers bloed wil sien voordat Hy vergewe nie. Inteendeel, die feit dat Hy Self die offer voorsien – boonop sy eie Seun – wys juis hoe lief Hy sy skepsels het. Die punt is, die offer van Jesus lê die liefdeshart van God bloot, nie sy wreedheid nie.

Vergifnis verander ons status voor God

Die feit dat God ons sonde om Christus ontwil vergewe, verander ons status voor God van geskende beeld van God na herstelde beeld van God. In Christus het ons klaar opgestaan uit die dood en kan ons nou begin beantwoord aan die doel waarvoor God ons gemaak het – om tot eer van sy Naam te lewe en ‘n seën vir ander te wees.

God se vergifnis beteken dat Hy ons slegte skuld by Hom afgeskryf en daarvan vergeet het; Hy dink nie meer daaraan nie (Jesaja 43:25; Jeremia 31:34); Hy het die lei skoongevee. Ons kan nou van vooraf begin leef asof die slegte, die onreg nooit gebeur het nie. In “rekenaartaal” kan ons dit so stel: Vergifnis is soos om ‘n rekenaar wat vashaak te herstel tot ‘n punt voordat die probleem begin het. So word die probleem uitgewis, asof dit nooit bestaan het nie. Dít is hoe God vergewe. Daarom staan daar in Psalm 103:8-13: “Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is.”

Hierdie aard en ingesteldheid van God – genadig en barmhartig – is die bron van hoekom God ons vergewe. Die gelykenis van die arbeiders wat op verskillende tye gehuur is (Matteus 20:1-16), illustreer God se genade by uitstek.

  1. Die gelykenis van die arbeiders op verskillende ure gehuur dien as illustrasie van God se genade

Die eintlike punt van die gelykenis is dat God se geregtigheid/regverdigheid anders werk as ons gevoel van regverdigheid. In die koninkryk van God is daar nie bevoorregting van die eerstes en benadeling van die laastes nie; almal word gelyk behandel. Die dissipels was waarskynlik die eerstes, en dié wat later in die koninkryk kom werk het, die laastes. Die dissipels het gedink dat hulle bevoordeel sal word (vgl 19:27: “Ons het alles verlaat; wat sal ons daarvoor kry?”). In die koninkryk van God gaan dit egter oor die soewereiniteit/vrymag en genade van God, soos dit in hierdie gelykenis veral in die eienaar se vreemde optrede teenoor die werkers aan die lig tree. (Die eienaar slaan kennelik op God.)

Let wel: Hoewel die woord genade nie in die gelykenis voorkom nie, is die saak deurgaans teenwoordig, veral soos dit blyk uit die eienaar se goedheid en vrymag. En hieruit vloei al God se handelinge met die mens voort, ook wanneer Hy gekonfronteer word met die mens se sonde.

God se vrymag en genade

Waaruit blyk die soewereiniteit/vrymag en genade van God?

  1. Die eienaar begin by die laastes, en betaal hulle dieselfde loon as die eerstes.

Dit dui op die vrymag van God wat met sy besittings kan maak soos Hy wil (v15): As die eienaar die laastes ewe veel wil betaal as die eerstes – wie kan daarmee stry? In elk geval, hy kul niemand nie, want hy het met almal ooreengekom op ‘n dagloon.

  1. Die eienaar tree op uit goedheid.

Die eienaar maak wel soos hy wil met sy goed, maar hy gooi nie sy gewig rond net omdat hy die mag het nie; sy mag lei nie tot arbitrêre en willekeurige optrede nie. Hy maak so omdat hy goed is (v15); hy tree vrymagtig en soewerein op omdat hy almal wil laat deel in sy oorvloed en goedheid. Hy weet dat iemand nie met minder as ‘n dagloon ‘n gesin kan onderhou nie. Daarom gee hy ‘n volle dagloon ook aan hulle wat slegs een uur gewerk het. Dus, soewereine optrede, enersyds, en liefdevolle optrede, andersyds, staan nie teenoor mekaar nie, maar vul mekaar aan, interpreteer mekaar, is twee kante van dieselfde muntstuk.

Die mentaliteit van die klaers

Watter beeld word hier van God geteken, die Eienaar van hemel en aarde? Wat wil God omtrent Homself meedeel in hierdie gelykenis? Om by die antwoord uit te kom, moet ons iets verstaan van die mentaliteit van die klaers, die sogenaamde verontregtes. Want dis hoe ons almal se koppe werk (en hoekom ons dikwels nie kan vergewe nie).

Ons dink vanuit die skema van verdienste en loon: Soveel werk, soveel betaling. Alles moet netjies balanseer in terme van prestasie gelewer: Geen werk, geen betaling; min werk, min betaling; baie werk, baie betaling. Dis so deel van ons denke dat ons nie buite daardie kassie kan dink nie. Ons projekteer dit ook op ons verhouding met God en met mekaar: Soos dit in die daaglikse arbeidspraktyk werk, so ook met God en mense. Daarom, ons kyk met ‘n “slegte oog” (v15: “afgunstig” se letterlike betekenis) wanneer ons God se goedheid in werking sien; dit wil sê, ons kyk met afgunstigheid, nydigheid, jaloesie en verontwaardiging; ons voel verontreg. Dieselfde houding is teenwoordig by die oudste seun in die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15): “hierdie seun van pa wat pa se goed met prostitute deurgebring het, vir hóm slag pa die vetgemaakte kalf”. Vir hóm, van alle mense. Dit druis in teen alle gevoel van regverdigheid. So kon die Joodse geestelikes dit in Jesus se tyd ook nie vat dat die tollenaars en sondaars deel vorm van Jesus se gehoor nie. En toe moes die leiers ook nog hoor dat hierdie veragtes, hierdie laastes vóór hulle in die koninkryk van God sal ingaan (Matteus 21:31).

Ons lewe almal uit die genade van God – laastes én eerstes

Maar ons moet begryp dat daar ‘n ander werklikheid is waaruit ons almal lewe, naamlik God se onbegryplike goedheid wat aan die laastes dieselfde wil gee as aan die eerstes. Die laastes is hulle wat niks verdien nie, wat ledig op die mark rondstaan, deur ander verag word, nie goed genoeg geag word om te deel in die loon van die eienaar nie. En die eienaar/God tree so op nie omdat hy onregverdig is nie, maar omdat hy/Hy goed is.

Ons vergeet so maklik, ook die eerstes deel in die genade en goedheid van God. Ook aan die eerstes het Hy genade bewys deur hulle toe te laat om in sy wingerd te werk. Om eerste te wees, is nie te danke aan ons prestasie nie, maar ook aan God se goedheid. Almal, of ons eerste of laaste is, kry dieselfde loon: ‘n genadeloon! Die genade van God is die groot gelykmaker, ons het almal dieselfde status en waardigheid in God se oë: begenadigde sondaars.

Dít is die wet van die koninkryk van God. Dít is die hart van die evangelie, God se goeie nuus wat ons van harte moet omhels. Dít is die vreemde geregtigheid van God. God se geregtigheid gaan nie in die eerste plek oor vergelding of straf nie, of, aan die ander kant, om ons te beloon vir ons goeie werke nie, maar om aan almal van ons – die eerstes én die laastes – sy onbegryplike genade te skenk. Dit keer ons hele idee van geregtigheid op sy kop, dit verander die hele manier waarop ons oor God, onsself en ander mense dink en na hulle kyk. Maar dit is hoe die koninkryk van God se geregtigheid werk. Raar, maar waar.

God se “oop einde”-genade

Die gelykenis sê nie hoe die eerstes wat gekla het, gereageer het nie. Hierdie gelykenis, soos die meeste ander, het ‘n “oop einde”, sodat mens kan nadink oor wat die soewereiniteit en goedheid, ja, die genade van God beteken. God se uitsonderlike vrymag en genade sit mens altyd aan die dink, ten minste as jy iets verstaan van die wonder, die vreemdheid en die impak daarvan. Elkeen moet antwoord op hierdie vreemde geregtigheid. Dit móét ‘n impak hê op ons daaglikse lewe – hoe ons na God, onsself en ander mense kyk, wat ons doen of nie doen nie. As hierdie vreemde geregtigheid van God ons nie aanraak en in beweging bring nie, dan verloor ons kontak met God se werklikheid – die koninkryk van God – waar die eerstes laaste is en die laastes eerste.

Samevatting oor vergifnis en genade

Wat sê hierdie gelykenis vir ons onderwerp van vergifnis en genade?

  1. Die grond of bron van vergifnis is God se liefde, genade, barmhartigheid en goedheid. As mens dít nie verstaan nie, verstaan jy nie hoe God se verhouding met ons, en mense s’n met mekaar werk nie. Verhoudings bestaan nie net uit harde wette, ooreenkomste en regulasies nie, maar uit die sagte bindweefsel van genade.
  2. Genade (en daarmee vergifnis) is die groot gelykmaker. Almal is ewe skuldig en sondig, verdien niks, en kan op geen voorkeurbehandeling aanspraak maak nie. Ons mag ons daarom nie aanstel teenoor mekaar asof die een skuldiger of beter is as die ander nie. Daar is nie eerstes en laastes by God nie; ons leef almal van sy genade.
  3. Hierdie insig het ‘n impak op hoe ons na mekaar kyk en teenoor mekaar optree. As God so met ons maak, mag ons ook maar sagter, meer begrypend, sensitiewer, minder veroordelend, milder, ruimhartiger teenoor mekaar optree.
  4. Uit hierdie ruimhartige kyk na mekaar vloei vergifnis van mekaar se oortredings Vergifnis is daarom nie ‘n oppervlakkige en lighartige afskud van die verlede en bloot ‘n “aanbeweeg” nie. Nee, dit vloei voort uit ‘n hartgrondige kyk in die genadige en ruimhartige hart van God, ‘n empatiese kyk na ander, en ‘n indringende kyk na my eie hovaardige en aanstellerige hart. Dis om te besef, geregtigheid werk anders in die koninkryk van God as waaraan ek gewoond is. En ek is ‘n draer van daardie vreemde geregtigheid. God se geregtigheid kom juis na vore wanneer ek nie my regte opeis as die verontregte nie, maar oënskynlik die onderspit delf deur die ander te vergewe. Dit het niks aan God se Godheid afgedoen deur ons te vergewe nie; dit sal niks aan ons menswees afdoen om ook te vergewe nie – inteendeel.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Ek cope nie meer nie: Vermy sondige, verkeerde lewenspatrone – Jan van der Watt

’n Mens kan partymaal oopoë in moeilikheid instap en dit dan ook kry. Maar die snaaksste is dat baie mense ’n volgende keer dieselfde fout maak. Hulle weet dit is nie reg nie, maar hulle gaan maar aan. So word daardie verkeerde ding ’n gewoonte. ’n Mens weet byvoorbeeld dat om met jou man of vrou te baklei julle huwelik nie goed doen nie. Tog hou jy maar aan. Voor jou oë val die belangrikste verhouding in jou lewe (en jou kinders s’n) stadig maar seker in stukke, maar jy hou maar aan. Waarom laat jy dit toe? Maak werk van hierdie ver­keerde lewenspatroon.

So kan ons aangaan met voorbeelde van bakleiery, swak of verhoudings, oneerlikheid, jaloesie en so aan wat ons eenvoudig toelaat om ons lewe toe te spin. Dié dinge maak jou lewe net baie meer gekompliseerd en plaas jou onder groot druk.

Moenie met die sonde moeilikheid soek nie, want dan kan met jou gebeur wat met die vyf Hell’s Angels gebeur het. Hulle het met groot lawaai hulle motorfietse voor die kroeg parkeer. In die kroeg het hulle die arme man wat alleen eenkant gesit het, se drank gevat, hom rondgestoot en beledig. Hy het niks gesê nie en al die beledigings en stampe maar gevat. Toe hulle klaar is, stap hy uit. ’n Paar oomblikke later hoor die Hell’s Angels net die geluid van motorfietsstaal wat frommel en breek.

“Wat nou?” skreeu hulle.

“Daai man met wie julle so gesukkel het, is ’n swaar­vrag­motorbestuurder,” antwoord die kroegman. Ons dink dikwels die sonde is nie gevaarlik nie en ons kan maar daarmee speel, tot dit soos ’n groot vragmotor oor dele van ons lewe ry. Daarom is dit belangrik om liewer positiewe en gesonde lewenspatrone na te streef.

Jakobus stel dit mooi:

Wees gehoorsaam aan God en net aan Hom. Verklaar die duiwel vyand nommer een in jou lewe en gee hom nie ’n enkele kans nie. Hy sal dan van jou af padgee omdat hy niks kan regkry nie. Julle moet God se hand stywer en stywer vashou … Hou op om aan die een kant God te wil dien en aan die ander kant nog met julle sonde aan te gaan (dele uit Jak. 4, p. 750).

Skrywer:  Prof Jan van der Watt