DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 3 (5) – Dionne Craffort

Medemenslikheid

Liefde:

Die bron van alle medemensliheid is die liefde en dit moet die vernaamste kenmerk wees van iemand wat binne die wil van God wil lewe. Die liefde is immers die volle uitvoering van die wet.[Rom 13:10]. “Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.”[ Rom 13:8]. Al die gebooie word saamgevat in die een gebod:”Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”.[Rom 13:9].

  Die liefde verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Die liefde soek net die beste vir die medemens en skakel selfsug en eie belang uit. Sonder die liefde vir God ene die medemens, kan niemand die wil van God uitvoer nie. Die liefde vir God bestaan daarin da tons Sy gebooie gehoorsaam.[Joh 5:2]. Ons lewe moet dus getuig dat God ons liefhet en ons vir Hom.”En liefde beteken dat ons volgens die gebooie van God lewe.” [2Joh6]. God is liefde en wie Sy voorbeeld volg, soos dit sigbaar word in Christus, sal ook in liefde teenoor mekaar lewe.

  Liefde is die kenteken dat ons kinders van God is en dat ons God ken {1Joh4:7]. Dit is egter nog veel meer – dit maak God sigbaar vir ander. ‘Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het Sy liefde in ons Sy doel volkome bereik.” [1Joh 4:12].

  Die liefde bly die grootste van al die gebooie en die grondslag van almal. “Soos julle van die begin af gehoor het, is dit Sy gebod dat julle in die liefde moet lewe”.[2Joh v.6].

Diensdaarheid

Christus het na hierdie wêreld toe gekom nie om gedien te word nie, maar om te dien. [Mark 10:25] Wie  Hom volg, moet dus bereid wees om te dien. Natuurlik moet ons diens in die eerste plek op Christus gerig wees.”Christus is die Here in wie se diens julle staan”.[Kol 3:24]. Daar is ook die belofte, dat as ons Hom dien, sal die Hemelse Vader ons eer. [Joh.12:26].

  Om Christus te dien, beteken egter ook dat ons ons medemense en mede-gelowiges moet dien. “Dra mekaar se laste en gee op die manier uitvoering aan die wet van Christus”. [Gal 6:2]. Die wet van Christus is dus gerig op die hulp,ondersteuning en bemoediging van die medemens. Niemand voer die wil van Christus uit as hy nie bereid is om sy medemens te dien nie.

  Diensbaarheid beteken dat mens afstand moet doen van selfsug en eie beland.”Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar diè van die ander”. [1Kor 10:24]. Wie die belange van sy medemens voorop stel, is ‘n toonbeeld van iemand in wie die liefde van God woon. Dit is die moeilikste deel van ons diensbaarheid en ons moet onsself telkens inspan met moeite om dit te kan uitvoer.

  Die diens aan die naaste moet uitloop op praktiese hulpverlening wat opoffering verg.”Help die mede-gelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid”.{Rom 12:13}. Die nood moet prakties verlig word en daar moet selfs aan vreemdelinge huisvesting gegee word. Die diens gaan nie sonder opoffering gepaard nie. Wie sy broer sien gebrek ly en hom nie help nie, vertoon niks van die liefde van God aan die wêreld nie.{1 Joh 3:7}.

  Die opdrag word egter nog moeiliker as ons bevel word om selfs ons vyande tot diens te wees. “As jou vyand honger is, gee hom iets om tee et; as hy dors is, gee hom iets om te drink [Rom 12:20].

  Dit is wat God van jou en my vra. Is ons bereid om ook in hierdie opsig binne die wil van God te lewe?

Vrede en blydskap

Vrede met God en vrede met die medemens is ‘n opdrag wat ons ontvang het.

God is die oorsprong van vrede. Hy stuur sy Seun na hierdie vredelose wêreld as die Vredevors wat vrede moes bring tussen God en mens en tussen mens en mens. Met Jesus se geboorte sing die engelekoor vrede op aarde [Luk 2:14]. Hyself sê vir sy dissipels:”Vrede laat ek vir julle na; my vrede gee ek vir julle” [Joh 14:27].

  Hierdie vrede wat van God kom en in Jesus Christus gestalte gekry het, moet nou deur ons as gelowiges uitgeleef word. Dit moet ons gedrag en ons menseverhoudinge

bepaal. “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en verstand die wag hou in Christus Jesus”[Fil 4:7]. Jesus is die Middelaar van die vrede wat ons gedrag moet bepaal.

   Dit alles beteken dat ons in vrede moet leef met ons medemens. “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense”[Rom12:18]. Hoe moeilik dit ookal is in ‘n gebroke wêreld vol vyandigheid, moet ons as kinders van God die vrede najaag en soek. Ons moet altyd werk vir vrede in die wêreld en vir vrede onder mekaar.

  Wanneer dit egter kom by die verhouding tussen gelowiges onderling,is die opdrag baie duidelik “En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe”[Kol 3:5]. Vir onenigheid en verskeurdheid binne die liggaam van Christus is daar geen verskoning nie.

  Is daar vrede tussen jou en jou broers en susters in die gemeente? As jy binne die wil van God wil lewe, moet jy dringend gaan vrede maak. Jou vrede met God hang af van jou vrede met jou broer en suster in die geloof.

   Vreugde en blydskap  wat gelowiges behoort te ervaar, hang baie af van die vrede. Alleen as ons in vrede leef met die mense rondo mons, kan ons vreugde ervaar. Paulus bid dat God sy lesers met alle vreugde en vrede sal vervul [Rom 15:13]. Mense wat lewe in vrede met almal en wat vervul is met vreugde, kan nie anders as om ‘n innerlike vrede te hê wat alle verstand te bowe gaan nie.

 

 Selfbeheersing

Selfbeheersing behoort ‘n uitstaande eienskap te wees van elkeen wat die wil van God wil doen. Petrus wys op die naderende einde van alles en moedig aan tot selfbeheersing.”Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees sodat julle kan bid”{1 Pet 4:7].

   Selfbeheersing beteken in die eerste plek dat ‘n christen nie woedend en verbitterd moet wees nie! [Ef 4:31:”Moet nooit verbitterd of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie”. Selfbeheersing gaan direk in teen die natuurlike neighing van die mens om wraak te nee men te vergeld. Om dit te kan be-oefen is ‘n genadegawe van die Heilige Gees. “Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. In teendeel, antwoord met ‘n seënwens, want dartoe is julle geroep, sodat julle die seen van God kan verkry”[1Pet 3:9).

   As jy jou humeur nie kan beheers nie en op ander mense skel en hulle verwens, kan jy sekerlik nie die seen van God op jou lewe verwag nie.

   Selfbeheersing beteken verder dat mens elke vorm van losbandigheid moet aflê. Losbandigheid is die direkte uitvloeisel van sonde wat van mens werktuie van die bose maak. Deur die sonde aft e lê. Losbandigheid is die direkte uitvloeisel van sonde wat van mens werktuie van die bose maak. Deur die sonde af te lê en te bestry, kan mens met selfbeheersing lewe en die wil van God doen.”Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle julle in diens van God as mense wat dood was maar lewens gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil” [Rom 6:12-13].

   Rom.13:13 en 14 vat al die vorme van losbandigheid mooi saam.”Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jalousie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.” [Rom 13-14].

   Losbandigheid en boewery gaan hand aan hand gepaard met drank. ‘n Dronk mens verloor beheer oor sy dade en doen dinge wat hy andersins nie sou doen nie. Daarom is daar ernstige waarskuwings teen die misbruik van drank.”Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard.Nee, laat die Gees julle vervul,…”[Ef5:18].

Seksuele losbandigheid is ‘n groot versoeking waarvan die kind van God moet wegbly. Dit is ‘n oop sweer in ons samelewing wat dikwels ooglopend toegelaat word. Ontrou in die huwelik het ‘n algemene verskynsel geword. Die Skrif noem dit egter ‘n sonde teen God en teen die liggaam van die mens. “’n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is”[1Kor.6:13b].

   Elke vorm van onsedelikheid word met erns afgewys.”Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug,onsedelikheid in enige vorm,of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie”[Ef5:3]. So ernstig is die oortreding dat mense wat dit pleeg nie deel het aan die Koninkryk van God nie.

  Ontug en onsedelikheid word bestry as mense die huwelik as ‘n instelling van God aanvaar en onderhou.”Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aanmekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom”[Heb13:4]. Die verbrokkeling van die huwelik is die grootste oorsaak van losbandigheid. Daar word ‘n indruk geskep asof die huwelik nie ‘n instelling van God self is nie en daarom kan mense saamwoon, sonder om die verantwoordelikhede van die huwelik na te kom. Paulus praat van die verhouding tussen man en vrou in die huwelik as ‘n diep geheimenis wat ‘n eenheidsband tussen hulle skep.”Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees. Hierin lê daar ‘n diep geheimenis opgesluit en ek pas dit toe op Christus en die kerk”[Ef5:31 en 32].

   Selfbeheersing moet in die derde plek ook be-oefen word in die manier waarop ons praat. Woede loop meestal uit op onbeheerste spraak. Dit is net so dodelik en kwetsend as onbeheerste dade. Daarom dat die Bybel haatspraak en vuiltaal te sterkste afkeur.”Vuiltaal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom” [Ef4:29].

   Selfbeheersing moet ten slotte ook geld in die gebruik van ons besittings. Die Skrif wys gierigheid af want dit is ‘n selfsugtige gebruik van gawes wat God ons gee. “Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het”[Heb13:5]. Die gelowige moet werk vir sy onderhoud,tevrede wees met wat God voorsien en bereid wees om ander te help met dit wat hy verdien.”Laat dit vir julle ‘n saak van eer wees om rustig te lewe, julle met julle eie sake besig te hou en self in julle lewensonderhoud te voorsien, soos ons dit aan julle voorgehou het”[1Tes4:11].

   Gierigheid loop uit op jaloesie oor wat ander besit en op die begeerte na ‘n ander se besittings. Dit lei tot diefstal,rusie en selfs moord.”Julle wil dinge hê,maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed, kan dit nie in die hande kry nie  en dan maak julle rusie en baklei julle”[Jak4:2].

Skrywer:  Prof dionne Craffort




DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 3 (3) – Dionne Craffort

God se wil vir jou is om te lewe binne die wil van God.

Wie deur Christus verlos is, en in Hom gedoop is, het ‘n nuwe skepsel geword en kan nie verder deur die sonde oorheers word nie. Dit het implikasies vir die lewe van elke dag.Die verloste mens moet ‘n nuwe lewe lei. “Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was,saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word.[Rom.6:6]. “Julle moet dus altyd onthou dat ook julle vir die sonde dood is,maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus” [Rom 6:11]. Die verlosde mens kan nie meer in diens van die sonde leef nie, maar moet doen wat God wil [Rom 6:13].

“Iemand wat aan Christus gehoort, is ‘n nuwe mens”  [2Kor5:17].

  Dit is die geheim.Mense wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers,kan nie die wil van God doen nie.[Rom 8:8]. Wie hulle egter deur die Gees laat beheers,hou hulle besig met die dinge van die Gees en streef daarna om God se wil te doen.” Die wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig” [Gal 5:24].

  Dwarsdeur die Skrif klink die refrain op dat ons die wil van God moet soek en  dit moet doen.”Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen”.[Ef 5:17]. Die wil van God is duidelik aan ons geopenbaar.Ons weet dus wat ons moet doen, maar ons moet ons dringend daarop toespits om dit uit te voer. “Julle het van ons geleer hoe God wil hê julle moet lewe.Julle doen dit ook, maar in die naam van die Here Jesus versoek ons julle dringend: Lê julle nog meer daarop toe”[1Tess 4:1]’ “Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.” [Ef. 4:23 ].

  Deur die wedergeboorte, geloof en bekering is ons uit die duisternis van sonde oorgeplaas na die lig van God se genade. Hy gee aan ons die genadegawes om Sy wil te kan doen. Daarom moet ons lewe soos mense van die lig. “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig” {Ef.5:8].

  Wat is dan die wil van God waarvolgens ek en jy moet lewe? Dit is uitgespel in God se Woord. Dit is saamgevat in die wet van die Here [Eks.20]. Dit is verder kernagtig opgesom deur die Here Jesus sodat daar by ons geen twyfel daaroor kan wees nie.{Mat.22}.

  Soos Moses aan ons die wet gegee het om God se wil te openbaar, het Jesus in die bergrede die ware betekenis van die wet aan ons kom openbaar {Mat.5]. Met gesag het die groot Leermeester aan ons God se wil bekend gemaak.

  Die apostel Paulus en die ander apostels wat sendbriewe aan gemeentes geskryf het, het telkens nadat hulle die verlossing in Christus uiteengesit het, baie duidelike riglyne gegee oor hoe gelowiges moet lewe.

  Ons kan hierdie riglyne saamvat onder die temas van eerlikheid, medemenslikheid, selfbeheersing en gehoorsaamheid.

  Kom ons kyk dan kortliks na die apostel se riglyne vir ons as kinders van die lig.

 

 Eerlikheid.

As mense wat gered is, is ons eerlikheid verskuldig aan God, ons medemens en onsself. Slegs earlike selfondersoek kan bepaal of ons nog op die pad van geloof is. Slegs earlike erkenning van ons dwaalweë kan ons tot berou bring en tot belydenis van sonde. W

Eerlikheid sal bepaal of ons in die regte verhouding tot ons medemens sal kan lewe. Geen gesonder verhouding kan op skynheiligheid gebou word nie. Net eerlikheid sal bepaal of ons in vrede met onsself sal kan lewe. ‘n Lewe van valsheid kan geen geluk en vrede meebring nie.

  Jy moet dus begin deur eerlik vir jouself af te vra of jy nog binne die wil van God lewe.

  Eeerlikheid beteken dat gelowiges altyd die waarheid moet praat, altyd geregtigheid moet be-oefen, deur arbeidsaamheid in eie onderhoud moet voorsien en earlike selfondersoek moet kan doen. Ons sal die leuen moet aflê en die waarheid moet omhels. “Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam” [Ef 4:25]. In die wêreld heers die leuen, maar binne die familie van Christus, moet die waarheid seëvier. Alleen dan kan ons mekaar onvoorwaardelik vertrou. As jou lewe op leuens gebou is, sal jy nooit vrede en vreugde ervaar nie!

  In ‘n wêreld vol onreg, word ons as gelowiges opgeroep tot die doen van geregtigheid. Geregtigheid is niks anders as om eerlik te streef na dit wat reg is in God se oë. God het die reg lief en haat die onreg. Daarom moet Sy kinders daarna streef om reg te doen. Om reg te doen is niks anders as om binne God se wil te leef nie. [Mat 5:6]. Daarom moet elke gelowige streef na opregtheid en hom toespits op die waarheid. Eerlikheid sluit ook arbeidsaamheid in, want elke gelowige word bevel om sy lewensonderhoud met eerlike arbeid te verdien. Paulus warsku teen leeglê en bemoeisiekheid en bevel op gesag van Christus dat gelowiges “hulle aandag by hulle werk moet bepaal en hulle eie brood verdien”.[2 Tes 3:12].

  Om self te werk sal voorkom dat iemand steel vir sy onderhoud. “As iemand ‘n dief is moet hy ophou steel; hy moet deru harde werk op ‘n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien, dan sal hy iets hê om vir die arme te voorsien.” [Ef 4:28].

  Geldgierigheid is die wortel van allerlei kwaad. Dit kan lei tot roof en diefstal en ook die rede wees vir omkopery,bedrog en swendelary. Dit is die groot oorsaak van oneerlikheid wat ‘n vretende kanker in ons gemeenskap geword het. Wie die wil van God doen, sal dankbaar en tevrede wees met wat hy kan verdien en God prys vir Sy seëninge.

Skrywer: Prof Dionne Craffort




DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 3 (1) – Dionne Craffort

GOD SE WIL VIR  ELKE MENS EN VIR JOU.

  Ons het gesien dat God se skeppingswil uitgeloop het op die ontstaan van die mens wat bedoel was om in ‘n besondere verhouding met God te staan. Dit impliseer dat God ‘n besondere doel het met die mens wat sy verteenwoordiger op aarde behoort te wees.God het ‘n besondere plek vir die mens in sy Raadsplan en ‘n spesifieke doel met elke mens se lewe. Die mens kan net sinvol bestaan as hy God se wil ken en gewillig is om daarvolgens te lewe.Buite God se wil om het die mens sy doel gemis en die sin van sy bestaan prysgegee. God se wil is dus ook vir jou persoonlik bedoel. Dit het te doen met jou verlossing, jou heiligmaking [ lewe binne God se wil] en jou ewige bestemming.

  Die hoofskopus van die Bybel draai om die mens se vervreemding van God en God se heilsplan om die vervreemde mens weer met Hom te versoen.Daarom dat God die afgedwaalde mens steeds terugroep tot geloof en bekering. Die vervreemde mens se herontmoeting met God vind plaas deur die toetrede van die Verlosser tot die menslike bestaan en geskiedenis. Geen verlossing vind plaas buite Hom om nie! Hy is God se instrument van velossing. Mens word nie verlos deur filosofiese strukture nie, maar deur die aanvaarding in die geloof van Jesus Christus  as Redder en Seun van God.

  God se verlosing geskied met ‘n bepaalde bedoeling. God verlos sodat mense Hom kan eer, dien en sy wil gehoorsaam. Dit moet sigbaar word deur diens en getuienis in hierdie wêreld. Uiteindelik is die wil van God nie net gerig op hierdie lewe nie. Hierdie is slegs genadetyd waarin jy voorberei word vir die ewige lewe. Wie slegs op Christus hoop met die oog op hierdie lewe, is die ellendigste van alle skepsele want hy het nog nie die volle wil van God leer ken nie. Alles in hierdie bedeling kom tot niks.  Daarom is God se wil vir jou uiteindelik gerig op ‘n ewige lewe saam met Hom. Dit maak die swaarkry en lyding in hierdie lewe draaglik en gee hoop in ‘n hopelose wêreld.

 God se wil vir jou is jou verlossing.

 Die wil van God is dat daar êrens in die heelal ’n skepsel moes wees wat Hom kon ken, dien en verheerlik. Dat die mens verval het in ongeloof, sonde, opstandigheid en verlorenheid was nie die wil van God nie. Dat dit wel gebeur het teen die wil van God in, bly ‘n groot misterie. Ons kan nie verklaar of verstaan waarom lyding, sonde, geweld, rampe en selfs die dood  in die wêreld bestaan nie. Dit is in ‘n sekere sin alles teen die wil van God en tog op ‘n onverstaanbare manier ook opgeneem in die oorkoepelende wil van God. Wat ons wel weet is dat die wil van God onvoorwaardelik gerig is op die verlossing en redding van die sondaar. Die gebrokenheid van ons bestaan moet op een of ander wyse ook verband hou met God se plan van ons redding.

 Die Bybel verklaar baie duidelik dat God nie die dood van die sondaar begeer nie, maar dat hy hom sal bekeer en lewe. Trouens die hele verhaal van die Bybel is ‘n verhaal van God wat ingryp in ‘n verlore wêreld met die doel om sondaars te red. Hy wil die sondaar red uit sy verlorenheid, Hy wil vir Hom ‘n volk red en versamel uit ‘n vervalle wêreld en Hy wil uiteindelik die ganse aarde red van ondergang.

 Die verhale van die Ou Testament spreek duidelik van God se verlossende dade. Om maar net ‘n paar voorbeelde te noem. God red Noag en sy gesin uit ‘n korrupte wêreld en maak hom die stamvader van ‘n verbondsvolk. Hy roep Abraham uit ‘n land waar afgode gedien word en maak hom die vader van die gelowiges in wie al die volke gesëen sou word. Hy red Josef van die moordplanne van sy broers en gebruik hom om Israel van hongersnood te red. Hy roep Moses as vlugteling uit die woestyn om hom te gebruik as redder van sy volk uit slawerny. Hy sê self: “ Ek sal julle van die verknegting verlos, ek sal julle vry maak met mag en groot verlossingsdade. Ek neem julle aan as my volk en ek sal julle God wees.” [Eks. 6:5 ].

 Wanneer God hierdie belofte aan Moses vervul en sy volk verlos uit die slawerny van Egipte, word dit vir Israel ‘n  blywende teken van sy groot verlossingsdade.Die paasfees word ingestel om hierdie verlossing gedurig te herdenk en aan die jonger geslagte oor te dra. Israel moes weet dat hulle die volk is wat deur God verlos is en daarom  moes hulle aan Hom getrou bly.Wanneer Israel in die beloofde land ingelei word en hulle daar vestig, word dit gesien as die resultaat van God se verlossingsdade en as bewys van God se trou. Hy maak sy beloftes waar al is dit dan na ‘n lang en vermoeiende woestynreis.

 Wanneer Israel deur verskeie vyande oorweldig en verdruk word, stuur God die rigters om hulle te verlos. Telkens as die volk ontrou word en afgode dien, word hulle deur die Here gestraf. Wanneer hulle in berou tot Hom roep om redding, stuur God ‘n leier om hulle te red. Hy laat nie toe dat sy volk permanent in ontrou en sonde bly nie.

 Later in die geskiedenis van Israel gebruik God ‘n koning soos David om sy volk van vele vyande te red.David, as verlosser van Israel, word vir hulle die simbool van die groot Verlosser wat later uit die geslag van David gebore sou word. Aan David het God immers belowe dat sy nageslag sou bly voortbestaan voor die aangesig van God. [1 Kron 17:23, 24].

 Die hele geskiedenis van Israel word ‘n geskiedenis van val en opstaan.Telkens word die volk ontrou, maar keer op keer roep God hulle weer op tot berou en bekering. Dit was die rol van die profete om die volk terug te roep van hulle dwaalweë. As daar berou was, was God altyd bereid om te vergewe en om genade te bewys en verlossing te skenk. Die God van Israel is Redder. “ Ons Verlosser is die Heilige van Israel” {Jes 47:4} Die Psalms is vol van mense wat in hulle nood tot God roep en dan gered word en God in dankbaarheid prys. “Ek sal jubel as ek tot u eer sing omdat u my gered het. Ek sal die hele dag deur praat van u verlossingswerk’ [Ps 71:23]

 God se verlossing vind altyd plaas in die geskiedenis, in ‘n gegewe situasie. Hy maak gebruik van Sy diensknegte as menslike instrumente van verlossing. So was deur die eeue ontelbaar baie mense instrumente in God se hand waardeur Hy sy wil laat geskied het.Selfs ongehoorsames en vyande van God was dikwels sonder hulle wete die instrumente waardeur God se verlossingsplan in werking moes tree.

  Die profete speel ‘n belangrike rol in die geskiedenis van Israel.Hulle waarsku die volk dat daar straf wag op afdwaling en ongehoorsaamheid  maar dat daar ook verlossing wag as daar berou en bekering is. In die tyd van die ballingskap word die volk gestraf vir hulle ongehoorsamheid en  weggevoer na Babilon. Die temple as simbool van God se teenwoordigheid is verwoes en die volk is in wanhoop gedompel. Maar te midde van hierdie donkerste nag van wanhoop klink daar ‘n trooswoord op as die profeet in Jesaja 40 tot 55 praat van die komende verlossing. “ Die uitkoms is hier!”[Jes. 40:1] Daar wag verlossing en die volk sal weer na hulle vaderland terugkeer.

  In Jesaja 40 tot 55 verskyn daar ‘n geheimsinnige Dienskneg van die Here wat die instrument sou wees van verlossing vir Israel en ook van die nasies. God self roep sy Dienaar en rus Hom toe met sy Gees.Hy herstel die gebrokenes[Jes 42:3] en maak die wil van God bekend. Hy is die lig vir die nasies en bring redding tot aan die eindes van die aarde[.Jes 49:6].. Hy is die regverdige Dienaar wat onregverdig moes ly ter wille van sondaars.Deur lyding heen moes Hy God se wil uitvoer en verlossing bewerk. Die misterie is dat dit God se wil was dat Hy moes ly [Jes53:10}.

  Daar is baie teorieë oor wie die Kneg van die Here as verlosser kon wees in die historiese situasie van die boek Jesaja. Dit is egter nie so belangrik nie omdat ons nie regtig weet nie. In die geskiedenis van Israel was daar baie verlossers wat in diens van God gestaan het. Die Kneg is ‘n tipe  van talle verlossers wat dikwels deur lyding heen die volk moes dien en lei. Hy is egter ook ‘n tipe en simbool van die  volmaakte Kneg wat moes kom om die volk van God deur lyding heen te verlos. Sy verlossing is egter nie net bedoel vir Israel nie, maar ook vir die nasies tot aan die eindes van die aarde. Die Nuwe Testament leer ons dat die Kneg van Jesaja sy vervulling vind in Jesus as die volmaakte lydende Kneg wat die wêreld moes kom verlos van sonde. Jesus staan in die lang ry van diensknegte van God , maar Hy is die hoogtepunt van God se verlossingsplan en die volmaakte Kneg  wat volkome gehoorsaam was aan God.

                                          Jesus as Verlosser.

  Toe die volheid van die tyd aangebreek het , het dieVerlosser van die wêreld sy verskyning gemaak. Hy is Jesus genoem want dit is Hy wat sy volk van hulle sonde sou verlos. Hy sou op die troon van Dawid sit en aan sy Koningskap sou daar geen einde wees nie want Hy is die Seun van die Allerhoogste. [luk. 1:30-53].

  Hy moes ly en sterf vir die sonde van die wêreld. Sy verlossingswerk is bevestig deur sy opstanding en sy Koningskap is bevestig deur sy hemelvaart. Sy werk sal voleindig word deur sy wederkoms. In Hom is die verlossingsplan van God volkome voltrek want Hy is die Verlosser van elke mens wat in hom glo. Hy wil ook jou verlosser wees want sy wil is dat ook jy gered moet word.

  Hoe die lyding en sterwe van Christus kon uitloop op die verlossing van sondaars bly ‘n misterie wat ons nie rasioneel kan verklaar nie.Op een of ander wyse het Hy aan die eise van God voldoen en so die angel van die sonde en dood verwyder en tot niet gemaak. Deur sy voldoening het Hy ons sonde van ons verwyder so ver as die Ooste verwyder is van die Weste. Nou dink God nie meer daaraan nie, en kan sondaars kinders van God word. Sy verlossing is in lyn met God se groot verlossingsdade wat van die beginaf vir die gevalle mens en geroke skepping in werking gestel is. God se verlossingsplan deur die eeue toon duidelik dat God se wil gerig is op die verlossing van die sondaar.

Skrywer:  Prof Dionne Craffort




DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 2 (3) – Dionne Craffort

Die gebroke wêreld vernuwe en herskep.

Die wil van God is juis dat hierdie gebroke en stukkende wêreld vernuwe en herskep moet word. Reeds in die Ou Testament kry ons die belofte van God se nuwe skepping wat op pad is. In Jesaja 65:i7-19 lees ons: “Ek gaan ‘n nuwe hemel en ‘nnuwe aarde skep; aan die wat daar nou is,sal daar nie meer gedink word nie,hulle sal nie onthou word nie.” Hieby sluit Johannes aan in Openbaring 21:1 as hy skryf: “ Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie.” Volgens vers 6 het dit alles klaar gebeur met die koms van Christus. Dit kom ooreen met die boodskap van die Nuwe Testament dat die nuwe skepping in beginsel deur Christus begin is en ook uiteindelik deur hom voltooi sou word. Die skepping het deur Hom tot stand gekom en word ook deur Hom venuwe. Joh. 1:3 stel dit duidelik: “ Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.” Alles is vir Hom en deur Hom geskep. [ Kol.1:16]. Hy hou ook alles wat bestaan in stand [ 1Kor. 8:6]. Hy sorg dat die skepping nie deur die sondige toedoen van die mens total verwoes word nie.

  Alles is ook vir Hom geskape. Ons moet dit dus so sien dat die ganse skepping afgestem is op die koms van die eén mens Jesus Christus. Toe die mens wat God se verteenwoordiger moes wees,nie aan sy doel beantwoord het nie, het God díe Mens gestuur wat volkome sy wil sou doen. In Hom sou God volkome verheerlik word. Toe ook die skepping nie meer aan sy doel beantwoord het nie, het God besluit om ook dit te herskep in en deur Jesus Christus.

  Christus het juis gekom om die sondige en gevalle mens te herskep en nuut te maak. Dit is ‘n misterie wat net so groot is as die aanvanklike skepping van die mens.’n Totaal nuwe mens kom tot stand met ‘n nuwe ingesteldheid teenoor God en sy medemens. By Paulus kom hierdie gedagte sterk na vore In 2 Kor.5:17 lees ons:  “                Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God”. Dieselfde gedagte vind ons in Ef.2:10: “ God het ons gemaak wat ons nou is;in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het”.

  God het tog sy doel met die mens bereik. Die gevalle mens kan herskep word en nuut gemaak word sodat hy weer die wil van God kan doen. Die nuwe mens word herskep na die beeld van God wat hy aanvanklik gehad het , maar verloor het as gevolg van die sonde. Die nuwe mens kan en moet nou lewe ooreenkomstig die wil van God. In Ef 4:24 kom die duidelike oproep: “ Lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig”.

  Die herskeppingswerk van Christus loop nie net uit op die skepping van ‘n nuwe mens nie, maar ook die ganse skepping word deur Hom vernuwe. God se wil en bedoeling was juis dat alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is,onder die een Hoof, Christus,verenig word. [Ef1:10]. Die verganklikheid waaraan die ganse skepping onderworpe is, sal eenmaal herstel word en die skepping sal dan ook deel in die heerlikheid van die kinders van God. Dit word uitgespel in Rom. 8:21-22 : “ die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting .” 

  So sal God dan tog uiteindelik sy doel bereik met die mens wat Hy gemaak het as sy verteenwoordiger en met die skepping wat Hy gemaak het tot sy eer en verheerliking.

 

God se wil met sy wêreld.

  God verbind Homself op ‘n besondere manier aan die aarde as die planeet waarop Hy lewe en die mens as intelligente wese geplaas het. Dit is in die besonder God se eiendom en Hy bemoei Hom in die besonder met die aarde en sy bewoners.

  Of daar iewers anders in die heelal  wêrelde bestaan waar daar lewe en intelligensie te vinde is, laat die Bybel hom nie oor uit nie.Indien dit die wil van God is om die heelal te vul met talle vorme van lewe, kan Hy dit natuurlik doen in sy almag. Van hierdie wêreld word spesifiek gesê dat dit God se eiendom is en dat sy verlossingsdade hier sigbaar word. Totdat daar bewyse van lewe elders in die heelal gevind word, moet ons aanvaar dat God juis hierdie nietige stippel uitverkies het as die tuin wat Hy wou vul met lewende wesens en met die mens. Dit maak van die aarde ‘n uitsonderlike planeet wat deur die mens bewerk en bewaar moet word namens God. Enige misbruik en besoedeling van die aarde druis direk in teen die wil en bedoelinge van God. Dit plaas ‘n geweldige verantwoordelikheid op die mens as God se verteenwoordiger in die wêreld.

  Die aarde en alles wat daarop is,die wêreld en die wat daarin woon, alles behoort aan die Here.[Ps 24:1; 89:12 en 50:12]. Die lewe op aarde is geheel en al afhanklik van God se teenwoordigheid en van die werkinge van sy Gees. “ As Hy sou besluit om sy gees,sy asem na Hom toe terug te neem, sou al wat leef sterf.” [Job 34:14]. God kan Hom dus nooit van sy wêreld losmaak sonder om dit aan totale verganklikheid oor te gee nie.

  Die hele aarde is vol van God se magtige teenwoordigheid [Jes 6:3].Juis daarom moet die hele aarde die Here vrees en alle mense moet vir Hom ontsag hê. [Ps 33:8]. Die Here voer sy planne en besluite vir die wêreld altyd uit. [Ps 33:10]. Wat ookal gebeur, die wil van God sal uiteindelik volbring word.

  Die aarde is nie alleem God se eiendom nie, maar Hy seën ook die wêreld wat Hy gemaak het. Hy skenk reën en gee oeste aan die mens en gee vrugbaarheid aan die vee. God se seëninge sorg dat die wêreld lewe kan onderhou. Te midde van die gebrokenheid sorg God se voorsienigheid dat die wêreld nie tot niet gaan nie, maar steeds plante, diere en mense  bly onderhou. Dit alles kan nie losgemaak word van die mens wat God se verteenwoordiger is nie. Hy moet namens God die natuur bewaar en versorg. Hy moet die bronne van die aarde met verantwoordelikheid gebruik. Hy moet plant en verbou, die vee bly veredel en diere en plante met eerbied en verantwoordelikheid behandel. Waar die mens dit nie doen nie, hou hy op om God se verteenwoordiger te wees en word hy God se vyand.

  Ekologie het in ons tyd ‘n belangrike begrip geword om die mens se verantwoordelikheid teenoor die natuur te beskryf. Die omvattendheid daarvan maak dit ‘n handige begrip. Dit sluit die menslike samelewing sowel as die natuurlike omgewing in. Dit sluit die ganse werklikheid in waarin die mens geroepe is om te werk en te leef.

 Die ekologiese beweging beskuldig die Christendom dikwels dat dit so besig is met die mens se verlossing en met die hiernamaals, dat die natuur en die verwoesting van die aardse werklikheid verwaarloos word. Dit berus op ‘n misverstand en is slegs waar van  ‘n eensydige interpretasie van die Evangelie. Hiervolgens is dit nie belangrik wat met die aarde gebeur nie want dit gaan in elk geval tot niet en al wat sal oorbly is die geestelike dimensie. Dit neem nie in ag dat God nie net bekommerd is oor die mens nie, maar ook oor die woonplek wat Hy aan hom gegee het. Die paradys as volmaakte woonplek van die mens het verlore gegaan vanweë die sonde. Dit moet egter herstel word volgens die wil van God en hieraan moet die mens met ywer meewerk solank as die gebroke wêreld bestaan.

  Dit is nodig om die regte balans tussen God se transendensie en immanensie te vind. As God se transendensie eensydig beklemtoon word,word sy voortdurende bemoeienis met die wêreld onderskat en die vernuwing van die aarde kry nie genoeg aandag nie. As die immanensie oorheers, is die gevaar groot dat God vereenselwig word met die wette van die natuur. Dan is Hy slegs ‘n krag of energie wat alles in die materiële wêreld onderlê en beheers. Dit kan lei tot die vergoddeliking van die aarde en tot afgodediens. Dan is die materiële wêreld die enigste realiteit met uitsluiting van ‘n geestelike realiteit waarin God bestaan.

  God is inderdaad transendent en het sy woonplek in ‘n dimensie buite die geskape werklikheid. Dit neem egter nie weg dat God ook immanent is nie.Hy is alomteenwoordig in sy skepping en op ‘n misterieuse wyse werksaam daarin.[ Jes. 6:3] Hy bewaar en vernuwe die wêreld en begelei dit na sy eindbestemming.Die werksaamheid van God in die wêreld word pragtig beskryf in Psalm 104: Hy beheer die winde,die weer en die magtige waters van die oseane.Hy skenk reën en voedsel vir mens en dier. Hy bewaar die woude, diere en voëls. Hy bepaal die tye vir die hemelliggame. Hy gee die lewensasem aan mens en dier en neem dit ook weer weg. Hoe Hy mense en natuurkragte gebruik in hierdie proses, is ‘n saak van geloof  en kan nie altyd presies beskryf word nie. Die mens het egter deurgaans die roeping om mee te werk aan hierdie bewaring, herstel en vernuwing van die wêreld waarin hy woon.

  Die sentrale betekenis van Jesus se koms na die aarde is dat Hy die koningsheerskappy van God in die wêreld sigbaar kom maak het. In hom het die Koninkryk op ‘n besondere wyse gestalte gevind. Hy is Koning in die harte van mense, maar ook Koning van die ganse skepping. Die koms van die koninkryk trans-formeer nie net mense deur die werking van die Heilige Gees nie, maar ook die ganse aarde al is dit nie altyd sigbaar nie.

  Jesus is die finale profeet van die eindtyd wat ‘n totale verlossing en vernuwing kom aankondig.Hy is ‘n eskatologiese figuur maar ook ‘n ekologiese  simbool. Sy koms het kosmiese betekenis want Hy verlos en vernuwe die ganse kosmos. Dit word vir ons uitgespel in Kol.1:15-17. “Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie …….. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.”

  Hy is van ewigheid af daar as die pre-eksistente Seun van God en alles is deur Hom geskep en word deur Hom onderhou. Hy is as opgestane Here die eersteling in die ganse heelal. Hy versoen alles in die hemel en op die aarde met God.God se skeppende en bewarende teenwoordigheid is dus nie net ‘n natuurkrag nie. Dit het sigbaar geword in die Seun in wie God met sy volle wese kom woon het. Deur Hom en deur die Heilige Gees is God skeppend en bewarend aan die wek. Dit is die wil van God om “alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig,naamlik Christus” [Ef. 1:9en10].

  Christus het in die gebroke wêreld ingetree en sy kosmiese vernuwingswerk moet nou nog in die geloof aanvaar word. Daar kom egter volgens sy beloftes ‘n dag dat dit sigbaar voltooi sal word in die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Volgens Paulus sug die hele skepping vanweë sy gebrokenheid en sien met groot verwagting uit na sy uiteindelike bevryding en verlossing. Ook die skepping sal bevry word van sy onvolmaaktheid en verganklikheid.[Rom.1:20-22].

  Volgens die Skrif stuur alles af op ‘n voleinding en ‘n eindoordeel. Dit gebeur met die wederkoms van Christus wanneer Hy die Koninkryk wat Hy verwerf het aan God sal oorhandig om in ewigheid daaroor te regeer.[1Kor.15:24 en 25}. Dan sal die hemel en aarde soos ons dit ken verdwyn en tot niet gaan [2 Pet. 3: 11 en 12]. Ons hoop en verwagting is egter gevestig op vers 13 : “ maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers”

  Die toekoms van God se skepping eindig nie met ‘n katastrofe en totale vernietiging nie. Dit eindig met ‘n nuwe skepping waarin God se wil volkome sal heers. Hoe die nuwe hemel en aarde daar sal uitsien, bly vir ons ‘n misterie. Ons kan dit met die ervaring en insig wat ons het nie visualiseer nie. Ons kan alleen in die geloof daarna uitsien. God se bedoeling daarmee is dat alle gebrokenheid en onvolmaaktheid opgehef sal word. Daar moet volkome vrede en harmonie heers. Die indruk wat mens kry is dat dit nie net ‘n onsigbare en geestelike koninkryk sal wees nie. Op ‘n wyse wat ons nie kan begryp of voorsien nie,sal daar ‘n aarde ontstaan waar die wil van God sigbaar sal heers en deur alle skepsele ervaar sal word.

  Wat is dan die wil van God met sy skepping en met sy wêreld? God aanvaar nie gelate die gebrokenheid van ‘n sugtende wêreld nie! Hy stel ‘n proses in werking om te herstel en te vernuwe. Hy stuur sy Seun na hierdie wêreld om die magte van die bose te oorwin, Hy aanvaar die koningskap oor alles in die hemel en op die aarde. Hy verlos mense en gee hulle die opdrag om mee te werk aan die bewaring en vernuwing van die wêreld.Hy waarborg egter self die voleinding van die proses.Aan die einde sal Hy op sigbare wyse kom om sy heerskappy finaal te bevestig. Dit geskied deur ‘n eindoordeel wat uitloop op ‘n nuwe skepping.

  God se uiteindelike doel met sy skepping is presies wat Hy aan die begin daarmee be-oog het. Dit is ‘n wêreld waarin alle skepsels en wesens in harmonie met mekaar sal leef en waar daar volkome vrede sal heers. Dit is ‘n wêreld waarin die wil van God volkome  ervaar en eerbiedig sal word.

Skrywer:  Prof Dionne Craffort