Woorde uit die Bybel – Heiligmaking (1)

If you are idle in Christ’s work, you are active in the devil’s work. —C.H. Spurgeon

 

Woorde uit die Bybel – Heiligmaking (1)

When I use a word it means just what I choose it to mean – neither more nor less – Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan.

J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde. [Teksgedeeltes kom uit Die Boodskap.]

 Heiligmaking beteken letterlik afgesonder – afgesonder vir God se diens. In wese gaan dit oor die verhouding tussen God en sy skepsels. Ons gaan vier temas bespreek:

  • Die heiligheid van God.
  • Die heiligheid van die mens.
  • Heiligmaking as ‘n gawe.
  • Die heiligheid van die hemel.

 Die heiligheid van God

Hiermee word die oneindige afstand en verskil tussen God en die mens beklemtoon. Dit is wat God van die mens onderskei. Ons kry baie verwysings na God se heiligheid in die Ou Testament. So sê die Here wat daar hoog bo bly en wie se Naam die hoë God is, Hy wat vir altyd leef en totaal anders is (Jesaja  57:15). As ons lees van Jesaja se roeping as profeet lees ons dat hy die Here in ‘n visioen gesien het. Om Hom was daar serafs. Terwyl die serafs gevlieg het, roep hulle vir mekaar: Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige. Sy magtige teenwoordigheid sprei oor die aarde soos ‘n doek (Jesaja 6:3). Maar ook in die Nuwe Testament lees ons van God se heiligheid. Toe Jesus in die sinagoge praat word Hy onderbreek deur ‘n man wat hard gil. Die man was in die greep van ‘n bose , duiwelse gees: Ek ken Jou; ek weet wie Jy is – Jy is die Heilige van God (Markus 1:24)

 God staan bo en apart van die mens. Dit maak van Hom ‘n voorwerp van verwondering en aanbidding – God se grootheid en mag teenoor die mens se kleinheid en swakheid; God se volmaakte reinheid en geregtigheid teenoor ons onreinheid en ongeregtigheid. Dit gee aan Hom die reg om te oordeel: So sal Ek myself aan die nasies bewys as die sterke God. Al die nasies sal My dan raaksien. Hulle sal weet dat Ek die Here is (Esegiël 38:23). Hy is die heilige God wat sy grootheid  bewys in die beslissings wat Hy gee. Hy is die heilige God wat sy heiligheid deur sy regverdige oordeel bewys (Jesaja 5:16).

 Volgende keer gaan ons na die heiligheid van die mens kyk.




Vrees vir verwerping

Believing right doctrine will no more save you than doing good works will save you. —C.H. Spurgeon

 

Vrees vir verwerping

Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees (Psalm 27:1)

Ons is bang vir verwerping. Hoekom?

 

  • Elke mens het die behoefte aan liefde. God is liefde en Hy weet dat ons liefde nodig het.
  • Ons ontwikkel die verkeerde idee dat ons behoefte aan liefde totaal van een persoon of een groep afhanklik is. As jy verwag dat een persoon 100% in jou behoefte vir liefde moet voorsien, is daar ‘n probleem. Geen mens kan jou so volledig liefhê as wat jy begeer nie. Net God kan dit doen.

 Die eerste stap om ons vrees vir verwerping  te oorwin, is om God in die eerste plek te plaas. Hy kan in al ons behoeftes voorsien. Natuurlik kan God ons deur ander mense liefhê. Net so wil Hy ons as kanale vir liefde gebruik. Maar menslike liefde is beperk; God se liefde is onbeperk. Maak nie saak hoe groot jou behoefte is nie, Hy kan dit vervul. Hy is ons lig en redder en toevlug. Ek is dus nie van ander afhanklik om my dag ‘n goeie een te maak nie. Ek is nie afhanklik van die aanvaarding of verwerping van ander nie. Daarom hoef ek nie langer bevrees te wees nie.

 Die sleutel tot sekerheid is nie om aggressief te wees nie, maar om te verstaan hoe baie God my werklik liefhet. Ek moenie die lewe te ingewikkeld maak nie. Sê net: “Ek gaan doen wat God van my verwag. Om God tevrede te stel is altyd die beste ding om te doen – maak nie saak wat ander mense dink nie.”

 

 




Vervolging is onvermydelik

There may be times when we are powerless to prevent injustice, but there must never be a time when we fail to protest. –Elie Wiesel

 Vervolging is onvermydelik

Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel (Matteus 5:10).

John Wesley het die Amerikaanse platteland te perd plat gery – van die een dorp na die ander om te preek. Eendag, terwyl hy so ry, besef hy dat hy vir drie dae nie vervolg is nie.

Geen baksteen is na hom gegooi nie; geen eier het hom getref nie. Hy stop sy perd en sê hardop: “Het ek dalk teruggegly of het ek dalk gesondig.” Hy klim van sy perd af, kniel en vra God om hom te wys of daar geestelik iets verkeerd is met hom.

 Iemand wat niks van Wesley gehou het nie, sien hom kniel. Hy tel ‘n baksteen op en gooi dit na Wesley – gelukkig het hy nie die prediker getref nie. Toe Wesley die baksteen sien verbytrek sê hy: “Dankie Here. Nou weet ek U is nog by my teenwoordig.” Geen wonder hy was so ‘n kragtige prediker nie.

 Jou blote teenwoordigheid en geloof in God pla sommige mense. Soms hoef jy nie eers iets te sê nie. Jy in soos ‘n helder lig wat in ‘n donker plek skyn. Onthou Jesus het gesê: As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat. As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle (Johannes 15:18 – 19).

 Jesus het gesê dat diegene wat vervolg word omdat hulle reg doen, geseënd sal wees. Soms is dit ‘n baksteen wat na jou gegooi word – fisiese vervolging. Meer dikwels spot mense met jou – jy kan selfs verwerp word en jou werk verloor omdat jy ‘n Christen is. Maar as jy vir God lewe, sal jy vervolging ervaar.

 




Die alleen-Christen

It is as impossible to understand the Scriptures without the Spirit’s help as it is to read a sundial without the sun. —Derek Prime & Alistair Begg

 

Die alleen-Christen

Die Deense filosoof Mattias Mol Dalsgaard bevind dat  lidmate van ‘n kerk met min rituele sukkel om ‘n sin van hulleself te ontwikkel. Hulle kry nie rigting van tradisie (die kerkkalender, gereelde tydperke van vas en feesvier, die dissipline van uurlikse gebed, die raad van ‘n geestelike vader, ens) nie – die alleen-Christen moet sy geloof op sy eie uitwerk.

Aan die een kant is dit bevrydend – geen reëls nie –  maar dit is ook dikwels ‘n las wat hulle sukkel om te dra.

 ‘n Ander onlangse studie het bevind dat mense wat hulleself as geestelik maar nie godsdienstig identifiseer – nie gebind deur gereelde godsdienstige rituele nie – meer geneig is tot geestesongesteldhede. Om alleen die pad te probeer loop is moeilik. Alleen-Christenskap beteken vryheid, maar is dikwels futiel.

 Hoekom wil ons dit alleen doen? Ander het tog vantevore dieselfde pad geloop; ander kan perspektief bring en raad gee en bemoedig en selfs teregwys, alleen-Christene het nie hierdie voordele nie. Geestelik gesproke is ons soos ‘n man wat rondry – verlore, maar te trots om aanwysings te vra. Ons trots maak dit dikwels onmoontlik vir ons om ons dringende behoeftes raak te sien.

 Natuurlik beteken dit nie dat alle godsdienste en tradisies goed is nie Maar dit is belangrik om ‘n geestelike huis waar jy tuis voel, te kry – waar jy kan ontwikkel en groei.