Die Tien Gebooie: Inleiding (2)

This is the age of sermonettes; and sermonettes make Christianettes (John Stott).

 

Die Tien Gebooie: Inleiding (2)

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 Ons het in die vorige blog gesien dat die Tien Gebooie deel van God se geopenbaarde wil is. Hierdie soeke na God se geopenbaarde wil word deur verskeie faktore belemmer.

Kom ons kyk na ‘n paar.

  • Bybelse ongeletterdheid.

Americans revere the Bible – but by and large, they don’t read it (George Gallup). Dit is ‘n wêreldwye verskynsel. Geen wonder daar is vandag geen verskil tussen die optrede van “Christene” en nie-Christene nie. Ons kan nie meer tussen reg en verkeerd onderskei nie, want ons lees nie meer die Bybel nie.

  • Onsekerheid oor die Ou Testament

 Baie van ons weet nie wat om met die Ou Testament te doen nie. Israel in die Ou Testament was onder die wet en Christene in die Nuwe Testament is onder die genade. Daarom het die Ou Testament niks vir ons te sê nie. Dit is nie so nie: die Ou Testament praat nog steeds met ons. Daar is natuurlik sekere seremoniële wette – soos die tempeldiens met sy offers – wat nie meer op ons van toepassing is nie.  In die Nuwe Testament kry ons geen oproep om die seremoniële wette te gehoorsaam nie. Daar is wel oproepe om die morele wette – soos die Tien Gebooie – te gehoorsaam. In die Nuwe Testament word hierdie wette vollediger verduidelik en kry ‘n nuwe toepassing.

  • Ou Testamentiese prediking

Hoe dikwels hoor ons nog prediking uit die Ou Testament. Prediking uit die Ou Testament deesdae klink soos een van Aesop se fabels – ‘n slim storie met ‘n morele les aan die einde. Gedeeltes word nie meer volgens hulle konteks verduidelik nie. Die Ou Testament vertel ons nie net van die koms van die Messias en nou dat Hy gekom het, is dit van geen waarde meer nie. Dit is deel van die volledige drama van verlossing. Die Bybel vertel vir ons een aaneenlopende verhaal.

 

Met hierdie as agtergrond kan ons nou na die gebooie self kyk. Ons begin by die aanhef.

 




Die Tien Gebooie: Inleiding (1)

The way to do a thing is to do it, and the way to read the Bible is actually to read it – J. C. Ryle

 

Die Tien Gebooie: Inleiding (1)

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 Ons begin deur enkele algemene opmerkings oor die Tien Gebooie te maak:

 

  • Die Tien Gebooie se status is dié van ‘n Goddelike gebod – dit was nie Moses se blink idee nie, maar God se vereistes. God het dit self geskryf: Dit is die plat klippe waarop God met sy vinger geskryf het (Eksodus 31:18). God sê hiermee vir die wêreld watter soort gedrag Hom tevrede sal stel.
  • Ons het basies die Tien Gebooie verloor. As kinders moes ons die gebooie memoriseer. Dit is nie meer so nie. Ons is vandag teen memorisering as ‘n opvoedkundige dissipline; ons is teen die Ou Testament; ons is teen godsdiens in skole; ens. Min mense kan die gebooie herhaal en nog minder verstaan wat hulle beteken.
  • Die Tien Gebooie is die fondament waarop ons morele optrede gebou is. Dit is ‘n kode vir die optrede van God se verloste kinders.

 

Wat ons nodig het, is om weer na die basiese boustene van ons geloof te kyk. Miskien is dit tyd om ons regte minder en ons verantwoordelikhede meer te beklemtoon – soos beide Luther en Calvyn bepleit het. Die Tien Gebooie vra van ons om weer ons verpligtings teenoor God, ons naaste en ons samelewing te ontdek.

 

Basies gaan dit oor God se wil: Wat is dit? Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet (Deuteronomium 29:29). Hier word tussen twee kategorieë onderskei: dit wat nie geopenbaar is nie en dit wat geopenbaar is. Die Tien Gebooie is ‘n goeie voorbeeld van iets wat geopenbaar is. Ons het genoeg in God se geopenbaarde wil om rigting te gee aan ons lewens as Christene. Vir diegene wat God se wil vir hulle lewens soek, sê die profeet Miga: Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is. Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God (6:8).

 

Maar hierdie soeke na God se wil word deur ‘n paar faktore belemmer. Volgende keer gaan ons daarna kyk.




Laat sy Liefde jou Lei: Jy kan ‘n kragtige geesgenoot wees

Laat sy Liefde jou Lei: Jy kan ‘n kragtige geesgenoot wees – Milanie Vosloo

Jy kán ‘n kragtige geesgenoot wees

Lei ‘n toegewyde lewe met geloof, liefde, volharding en deernis. Stry die goeie stryd van dit waarin ons glo. Hou stewig vas aan die ewige lewe wat God jou gegee het, en wat jy so opreg bely het voor baie getuies.1 Timoteus 6:11b-12

Paulus was vir baie mense ‘n ware geesgenoot. ‘n Rol wat hy met groot passie en verantwoordelikheid vertolk het. Jy kan gerus weer die twee briewe wat hy aan sy getroue vriend, Timoteus, geskryf het, gaan lees. Die vraag wat ons as medegelowiges in hierdie moderne eeu kan vra, is: Hoe kan ék ‘n ware geesgenoot wees vir die ander lede van geestelike familie? 

 

  • Ons kan dit doen deur ons self elke dag met nuwe toewyding aan ons Vader toe te wy. Wanneer dit ons opregte begeerte is om sy liefde te leef en sy wil te doen, sal ons harte ingestel wees op die mense om ons en sal ons met liefde en deernis teenoor hulle optree.
  • Ons kan elke oggend bid dat die Gees ons leeg sal maak van ons eie selfsug en eer en ons sal vul met sý soort begrip en deernis vir ander mense. Wanneer die Gees ons lewens beheer sál ons in geesgenote vir ander wees omdat liefde, vreugde, vrede, geduld, getrouheid, vriendelikheid, goedheid, sagmoedigheid en selfbeheersing deel van ons lewens is.

 

Wie weet of die Vader nie dalk vandag jóú geloof en jóú geesvervulde menswees in die lewe van ander wil gebruik nie?

 

Heilige Gees, mag my geloof vrugte dra wat by my bekering pas.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 

 

 

 


 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Die geloofsgemeenskap is onontbeerlik

For many people, science invites awe and religion invites insight. When awe and insight engage, science-and-religion happens – Ron Cole-Turner

 

Die geloofsgemeenskap is onontbeerlik

In sy kommentaar oor Psalm 16 skryf Calvyn onder andere  dat daar geen offer is wat vir God meer aanvaarbaar is as wanneer ons ons in opregtheid en met oorgawe verbind aan ‘n gemeenskap van gelowiges nie.

Nou word ons saamgebind deur  ‘n band van godvresendheid; ons behou met hierdie gemeenskap broederlike welwillendheid Hierdie is die geloofsgemeenskap wat hulle skei van die besoedeling van die wêreld, sodat hulle heilig mag wees – God se besondere mense.

 

Hiervolgens dien die geloofsgemeenskap ‘n dubbele rol: dit bind gelowiges saam in heiligheid en skei gelowiges van die besoedeling van die wêreld. Het Calvyn nie hier iets beet wat moderne Christene baie nodig het nie – die geloofsgemeenskap as toevlugsoord. Die Christelike geloof was nog nooit en sal ook nooit ‘n individuele saak wees nie. Gelowiges kom gereeld bymekaar, nie net vir aanbidding nie, maar ook vir wedersydse bemoediging en opbouing.

 

Wat ons in ons  hiper-individualistiese kultuur  nodig het, dalk meer as enigiets anders, is die sekuriteit wat slegs die geloofsgemeenskap vir ons bied. Calvyn het dit verstaan.