Wie is Jesus?

Sin forsaken is one of the best evidences of sin forgiven. —J.C. Ryle

 

Wie is Jesus?

Niemand het nog ooit ‘n groter impak op die wêreld as juis Jesus Christus gemaak nie. Tog is daar baie min mense wat werklik weet wie Hy is. Baie mense sê dat sy verhaal in Betlehem begin, maar nou lees ons in Johannes 1:1 – 2: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. 

Jesus is die ewige Seun van God, wat beteken dat Hy geen begin en einde het nie. Sy geboorte in Betlehem was slegs sy fisiese koms na die wêreld wat Hy geskep het.

 

Jesus was die langverwagte Messias, wat na die wêreld gekom het om die roeping van God uit te voer.  In Matteus 16:13 – 16 lees ons van Petrus se belydenis. Jesus vra vir sy dissipels: Maar julle … wie, sê julle, is Ek. Dit is ‘n vraag wat elkeen van ons moet antwoord – daar is geen uitkomkans nie. Hy is of die Seun van God of Hy is ‘n bedrieër.

 

Petrus antwoord Jesus se vraag: U is die Christus, die Seun van die lewende God.  Jesus antwoord hom: Dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. Ons het ook die Vader se hulp nodig om te verstaan wie Jesus werklik is. Die beste manier om Hom te verstaan, is deur sy geboorte, lewe en bediening soos dit in die Skrif opgeteken is, te bestudeer.

 

Maar om te weet wat die Bybel alles oor Jesus Christus sê, is nie genoeg nie – ons moet reageer. Wat  gaan ons met Hom doen? Om die waarheid te hoor en dit dan te verwerp is geestelike selfmoord. Diegene wat die waarheid hoor en dit glo, ontvang die ewige lewe.

 

Wat gaan ons met Jesus Christus doen?

 

 




Aanneming

I used to ask God to help me. Then I asked if I might help Him. I ended up by asking Him to do His work through me. —Hudson Taylor

 

Aanneming

Aanneming in die Bybel het ‘n baie spesifieke betekenis. Kom ons kyk daarna.

Aanneming is, volgens J. I. Packer (Knowing God), die grootste voorreg wat die evangelie aan ons bied – selfs meer as vryspraak. Hoe is dit moontlik?

Aanneming is die begin van ‘n ryke verhouding met God. Met aanneming neem God ons op in sy familie en gemeenskap – ons word sy kinders en erfgename. Nabyheid, liefde en vrygewigheid lê in die hart van hierdie verhouding. Om in die regte verhouding met God te wees (vryspraak) is belangrik, maar om deur Hom versorg te word omdat Hy ons liefhet (aanneming) is selfs groter.

 

 Julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid (Romeine 8:15 – 17). Ons kry basies dieselfde in Galasiërs 4:4 – 7). Daar sê Paulus dat God sy Seun gestuur het om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word.

 

In hierdie gedeeltes beklemtoon Paulus die nabyheid, liefde en vrygewigheid wanneer God ons sy kinders maak. As sy aangenome kinders kan ons vir Hom Vader noem. Maar deur aanneming ondervind ons ook vrygewigheid – ons word erfgename. Alles behoort aan julle … maar julle behoort aan Christus en Christus aan God (1 Korintiërs 3:21 – 23)

 

Packer sê dat aanneming die raamwerk moet wees waardeur ons die res van ons Christelike lewe moet sien. Dit is werklik so belangrik, so noodsaaklik vir die Christelike lewe.

Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders en ons is dit ook (1 Johannes 3:1) Ongelooflik!

 

 

 




Aanspreeklikheid

 “The test of a preacher is that his congregation goes away saying not, ‘What a lovely sermon,’ but, ‘I will do something!’ ” ~ Francis de Sales

 

Aanspreeklikheid

Hoe ontwikkel jy aanspreeklikheid?

  • Aanspreeklikheid kom eerstens van die eindbron van aanspreeklikheid – die Bybel. Vir ‘n leier wat gereeld en getrou sy Bybel bestudeer, sal God deur die Heilige Gees gebiede wat verandering benodig, blootlê. Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God (1 Korintiërs 2:10).
  • Aanspreeklikheid kom in die vorm van mentors en eweknieë. Jy moet aan hierdie mense toestemming gee om te vra of jy nie dalk van koers afdwaal nie. Yster slyp yster, vriende vorm mekaar (Spreuke 27:17).
  • Aanspreeklikheid vereis dat jy bereid moet wees om te leer. Baie leiers verontagsaam die waarskuwings van mense om hulle. Gee jou aandag aan ‘n wyse mens, en hy kry meer wysheid, leer ‘n regverdige, en sy kennis vermeerder (Spreuke 9:9).

 

Aanspreeklikheid is vandag ‘n probleem, want mense wil nie aanspreeklikheid vir wat hulle doen, aanvaar nie. Dit is egter nie iets wat ons kan verontagsaam nie: almal van ons is vir iets aanspreeklik. Aanvaar dit.

 

 




NEHEMIA – INTEGRITEIT (2)

Blog32e

“Give me one hundred preachers who fear nothing but sin and desire nothing but God, and I care not whether they be clergymen or laymen, they alone will shake the gates of Hell and set up the kingdom of Heaven upon Earth.” ~ John Wesley

 

 

Nehemia – Integriteit (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #14:  Integriteit … bekragtig jou leierskap

Kom ons kyk na Nehemia. Nehemia se tyd in Juda was ‘n liefdesdiens vir sy mense. Dit was sy bekommernis oor die welstand van sy mense wat hom na Jerusalem  toe getrek het.

Hy dien nie as goewerneur omdat hy ‘n goeie inkomste kry nie – die bou van die muur en die welstand van sy mense was sy hoogste prioriteit – nie sy persoonlike belange en gemak nie. Hy stel ‘n voorbeeld vir sy mense. Hoe lyk so ‘n persoon?

  • Hy is onselfsugtig – hy maak nie aanspraak op sy goewerneurstoelae nie (5:14). Natuurlik was Nehemia as gevolg van sy werk in die paleis nie arm nie, maar hy begeer nie om sy eie rykdom ten koste van ander uit te brei nie.
  • Hy is sensitief – hy was lank in die openbare diens – hy ken magsmisbruik. Maar hy is sensitief vir die behoeftes van ander. Die vroeëre goewerneurs, almal voor my, het swaar eise aan die volk gestel. Hulle het behalwe brood en wyn elke dag ook nog vier honderd en sestig gram silwer geëis. Hulle amptenare het ook baas gespeel oor die volk. Ek het nie so gemaak nie, uit eerbied vir God (5:15).
  • Hy was ‘n dienaar. Hy het gesag oor die mense gehad – hy was die goewerneur. Maar hy en sy amptenare werk langs die burgers op die muur. ‘n Dienaar dien – hy maak nie sy sakke vol ten koste van ander nie. Ek het my volle gewig ingegooi by die werk aan hierdie muur, ek het nie lande gekoop nie, en al my werkers was hier by die werk saamgetrek (5:17).
  • Hy het opgeoffer – geen spesiale voorregte nie al was hy die goewerneur. Elke dag voed hy 150 mense  uit sy eie sak: Daar moes elke dag ‘n bees, ses slagskape en ‘n klomp voëls vir my gaargemaak word, en om die tien dae moes daar ‘n groot hoeveelheid wyn vir die menigte kom (5:17 – 18). Tog eis hy nie sy toelae nie.
  • Hy soek net die goeie – net die lof van God – nie dié van mense nie. Hy bid dat God die goed wat hy gedoen het, sal onthou. Onthou tog, my God, tot my voordeel, alles wat ek vir hierdie volk gedoen het (5:19).

 

Integriteit is ‘n hartsaak:Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor (Lukas 6:45). Jy is of ‘n man van integriteit of jy is nie – geen middeweg nie. Hoe kan ek met integriteit leef?

Stap #1: Besef die waarde van integriteit. Integriteit definieer wie jy as leier is; dit rig jou optrede; dit laat jou langs die regte pad – God se pad – loop.

Stap #2: Kies en gebruik die waarhede van die Skrif as die standaard van jou integriteit.

Stap #3: Ondersoek jou hart. Net God kan vir jou ‘n korrekte lesing oor die toestand van jou hart gee: Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? (Jeremia 17:9). Daarom moet ons soos die psalmis uitroep: Toets my, Here, keur my, ondersoek my deur en deur. Ek laat my deur u liefde lei en ek lewe deur u trou (26:2 – 3).

Stap #4: Evalueer jou daaglikse besluite. Kyk na elke besluit en beoordeel dit op grond van die waarhede in die Skrif. Soos Dawid moet ons bid: Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser (Psalm 19:15).

 

Integriteit moet die kern van ons wese wees. Ons moet ons harte vir God open sodat Hy ons deur sy woord kan vorm. Onthou: Integriteit word nie aan ons gegee nie – dit is die gevolg van die meedoënlose najaag van eerlikheid te alle tye.

 

Hiermee kom ons aan die einde van hierdie reeks oor Nehemia en leierskap.