Laat sy Liefde jou Lei: God vergeet nie

Laat sy Liefde jou Lei: God vergeet nie – Milanie Vosloo

God vergeet nie!

Selfs al sou my pa en ma my verlaat, die Here sal my styf vashou. Psalm 27:10

Dis so maklik om minderbevoorregtes, mens in nood en dié in pyn eenvoudig uit ons gedagtes te skuif. Dit maak die skuldgevoelens minder en maak die stemmetjie van “ons-moet-iets-vir-hulle-doen” stil. Dis juis as gevolg van hierdie menslike ignoreer-styl wat ons soms kan wonder of God dan regtig mense in hul nood onthou …

 

 

Die Woord leer ons, God dóén! Hy is by uitstek ‘n Vader vir swaarkrymense, vir hulle wat deur die samelewing verwerp word, wat gebroke, moedeloos en geskok is. Hier op aarde het Hy ‘n prostituut se saak verdedig, melaats-stukkende mense heel gemaak, sy skoene onder ‘n tollenaar se tafel uitgeskop en aan ‘n moordenaar gesê dat Hy saam met Hom in die paradys sal wees. Ons God van liefde huil saam met seerkrymense, Hy hou hulle vas, troos hulle en laat hulle nóóit alleen nie.

‘n Stukkie Skrif wat my al vele kere gedra het wanneer ek met dinge worstel en gewonder het of God my regtig lief het, is die bekende Romeine 8:28: En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe. In uitsiglose tye wanneer ons ontredderd en alleen voel, kan ons maar wéét: Ons getroue Vader laat nooit een van sy kinders in die steek nie.

 

Ons aanbid ‘n God wat áltyd onthou. Veral wanneer ons vergeet!

 

Dankie dierbare Vader dat ek aan U, die onveranderlike, mag vashou. 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

milanie_boeke_advertensie

 


 

 

 

 

 

 Skrywer: Milanie Vosloo




Ons is almal sendelinge

“America believes in education: the average professor earns more money in a year than a professional athlete earns in a whole week.”–Evan Esar

 

Ons is almal sendelinge

Ons is almal sendelinge, want die Christelike waardes en leer in nie meer deel van ons kultuur nie. Richard Mouw, President van Fuller Theologicl Seminary, sê: People know more about superheroes than they do about Adam or Jesus.  Hy glo die grootste uitdaging is om mense oor die basiese aspekte van die Christelike geloof te onderrig.

 

 

Die feit dat mense nie meer die Christelike oortuigings aanvaar nie, is ‘n wakkermaak oproep vir die kerk.  Ons is lankal bewus van die Bybelse ongeletterdheid in ons samelewing, maar eintlik is die probleem meer basies as net ongeletterdheid. Lesslie Newbigin, wat jare lank sendingwerk in Indië gedoen het, het by sy terugkoms gesê dat hy gedink het hy is deur ‘n Christelike kultuur (Engeland) na ‘n heidense kultuur (Indië) gestuur, maar dat hy teruggekeer het na ‘n kultuur wat net so heidens soos dié in Indië  is.

 

Die kerk is baie geneig om sisteme in stand te probeer hou. Hulle kyk nie na die breër patrone in die samelewing om te kyk hoe hulle moet aanpas nie – hulle wil graag die status quo behou. Wat die kerk moet doen is om mense te bemagtig om hulle bediening buite die vier mure van die kerk te doen.

 

Waar begin ons?  Ons moet ten minste weet wat die vrae is wat buite in die samelewing gevra word. Hoekom is juis hierdie dinge vir mense belangrik? Dit beteken ons moet baie sensitief vir die kultuur wees. Mouw vertel die verhaal van Thérése van Lisieux. Sy was ‘n non in ‘n klooster en het Jesus waarlik liefgehad. In haar dagboek skryf sy: “Daar is die non – ek kan haar nie verdra nie. Ek besluit toe om na haar te kyk soos Jesus na haar kyk. Ek besef toe dat Hy haar geskep het en dat elke kunstenaar wil hê dat die mense sy kunswerke waardeer. Ek besluit toe om na haar as God se kunswerk te kyk.”

 

Wat wil die Goddelike Kunstenaar hê dat ons moet sien in ons samelewing? Ons moet verby die oppervlakkige dinge kyk en dinge sien soos ons Skepper en Verlosser dit sien.




Vervloeking (2)

Vervloeking (2) – Francois Malan

Sonja vra:

Vervloeking Ek het Francois Malan se antwoord van 15 April 2011 gelees, maar het nog steeds ‘n vraag. As iemand ‘n vloek op jou plaas – wat dit ook al mag wees – en jy weet nie daarvan nie, kan dit enigsins jou skade berokken? Dit terwyl jy glo en vertrou dat God jou ten alle tye sal beskerm van dit wat boos is. Jy is in sy liefdevolle arms/hande. Waarom voel mense dat ‘n vloek op jou uitgespreek is as dinge nie goed met jou gaan nie? Siekte, verhoudings wat skipbreuk lei ens. Waarom gee mense krag tot die soort van goed?

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Eers iets oor die betekenis van ‘vloek’ en seën’:

 

            Vloek beteken ‘n verwensing of vervloeking onder die aanroep van Goddelike mag, sodat God Hom aan jou onttrek. In Romeine 1:18,24 word gesê dat die toorn van God daarin bestaan dat Hy jou aan jouself en jou eie begeertes oorgee, om te doen wat jy wil sonder sy leiding en sy seën.

 

            Seën beteken dat God by jou is, dat Hy teenwoordig is om jou te lei en te beskerm selfs in tye van swaarkry en lyding.

 1.  Die vloek wat iemand op jou sou plaas beteken dat hy of sy die Here vra om jou te los. Die persoon se woord kan nie die Here dwing om jou aan jouself oor te laat nie. Daaroor sal die Here besluit. Daarom hang dit van jou verhouding met die Here af. As jy in die Here Jesus glo as die Seun van God wat vir jou sonde gesterf het en jy Hom liefhet, verseker Hy jou dat jy God se kind is vir wie Hy nooit sal los nie

 

            Johannes 1:12: Almal wat Hom (Jesus Christus, die Woord van God wat mens geword het en self God is (Jn 1:1,14) aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te wees.

 

            Galasiërs 3:10 sê: almal wat staat maak op die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: Daar rus ‘n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet opgeskryf staan nie. Maar 3:13 sê: Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang (soos Hy aan die kruis in ons plek)..

 

2.  Waarom voel mense dat ‘n vloek op jou uitgespreek is as dinge nie goed met jou gaan nie. Siekte, verhoudings wat skipbreuk lei ens. –

 

Om kind van God te wees beteken nie dat dit altyd net goed sal gaan met ons nie, maar dat God by ons is in ons lyding en moeilikhede.

 

            Romeine 8:38,39 sê Paulus: Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

 

3.   Waarom gee mense krag tot die soort van goed –

 

Ons leef in die eindtyd of laaste dae tussen die eerste koms van Jesus en sy wederkoms.

1 Timoteus 4:1,2 sê: Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van duiwels aanhang. Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is.

 

4.   Jy is in sy liefde volle arms/hande –

 

Ps 91 sê dat die Almagtige Here die mens wat Hom lief het sal red en beskerm aan alle kante; dat jy nie hoef bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag nie. Op Hom kan jy vertrou.

 

Jesus se laaste woorde aan sy volgelinge was: En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Mat. 28:20).

 

Die Heilige Gees van God woon permanent in die persoon wat aan Jesus behoort (Rom 8:9,11).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die tweede dood

Die tweede dood – Francois Malan

Deon vra:

Die tweede dood. Kan geeste vernietig word? Let veral op Opb 20:14 Gaan hulle saam met die aarde vernietig word of deel vorm van die nuwe aarde? Opb 2:11 Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie. Opb 20:6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank. Opb 20:14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. Opb 21:8 Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Die vraag is nie heeltemal duidelik gestel nie. Na wie of wat verwys ‘die geeste’? Is dit na ‘bose geeste’?

 

Efesiërs 6:1,12 verwys na die duiwel en die bose geeste in die lug teen wie die gelowige moet stry.

Matteus 25:41 praat van die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is deur God en waarheen die ongelowiges ook gestuur word op die oordeelsdag.

Matteus 18:8,9 praat van die ewige vuur wat ook genoem word die vuur van die hel.

Judas 7 praat van engele wat hulle nie in hulle eie magsgebied gehou het nie wat gestraf word met die vuur wat ewig brand.

 

Die tweede dood is soos Openb 21:8 aangehaal dieselfde as die poel wat brand met vuur en swawel. In Openb 20:10 word gesê die duiwel en die dier en die valse profeet sal daar dag en nag gepyning word.

 

Met die aanhaling van Openb 20:14 wat sê dat die dood en die doderyk ook in die vuurpoel gegooi word, word bedoel dat die hel ewig is, en dat daar geen dood meer beskikbaar is vir hulle wat onder God se ewige oordeel val nie. Openb 20:15 voeg nog by: As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

 

Dit alles is waarskuwings vir ons wat lewe om ons heil en die verlossing van ons sonde by Jesus Christus te ontvang, deur in Hom te glo as ‘die Woord van God, wat self God is, die Seun van die lewende God wat mens geword het en vir ons sonde aan die kruis gesterf het (vgl. Joh.1:1,14); dat Hy aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, die reg gegee het om kinders van God te word (Joh 1:12); dat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh 3:16).   

 

Jou vraag: Kan geeste vernietig word? Let veral op Opb 20:14 Gaan hulle saam met die aarde vernietig word of deel vorm van die nuwe aarde?

 

Uit die tekste hierbo lyk dit nie asof die bose geeste vernietig gaan word nie, maar dat hulle ewige straf van God ontvang, en nie deel is van die nuwe hemel en nuwe aarde wat vir die gelowiges saam met Christus geskep word nie. Romeine 8:17 sê: Aangesien ons deel het aan die lyding van Christus, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan