Die Apostoliese Geloofsbelydenis (8)

Anger may be handled wrongly in either one of two ways: blowing up and clamming up. —Jay Adams

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (8)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

 

Wederkoms: Ek glo in Jesus Christus … wat sit aan die regterhand van God … van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het

 

Jesus verskyn aan ‘n klein groepie van sy volgelinge. Uit hulle midde word Hy in die hemel opgeneem. Hy verdwyn, maar nie vir altyd nie. Hy kom weer terug, maar dan in ‘n gebeurtenis wat die wêreld se aandag sal vasvang. Hy kom weer om te oordeel. Na sy hemelvaart sê twee mans in wit klere vir die klein groepie volgelinge: Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het (Handelinge 1:11).

 

Jesus se tweede koms is nie deur ‘n geboorte nie – Hy verskyn; Hy maak sy teenwoordigheid bekend. Natuurlik is Jesus steeds hier, maar tans kan ons Hom nie sien nie. Hy gaan kom om diegene wat nog leef en diegene wat reeds gesterf het, te oordeel. Paulus praat van die gelukkige dag wat ons verwag (Titus 2:13). Let wel: die hoop van die kerk is nie dat ons die wêreld gaan verlaat nie, maar dat Jesus na die wêreld toe sal kom. Hy kom om alle dinge nuut te maak; Hy kom om die koninkryk van God volledig en volkome te vestig; Hy kom as die Koning om te oordeel.

 

Jesus se oordeel is regverdig en Hy temper sy oordeel met genade en liefde. Hy kom om te beloon en te straf. Jesus self beskryf hierdie tweeledig rol van Hom deur na Homself as ‘n Herder te verwys – Hy skei die skape van die bokke. Die bokke word veroordeel na ‘n bestaan buite sy koninkryk. Jesus beloon die regverdiges, die skape, met die ewige lewe in die teenwoordigheid van die Vader, Seun en Heilige Gees.

 

Maar hoe kom ons in die regte verhouding met God? Die Bybel maak dit baie duidelik: nie oor die regverdige dinge wat ons gedoen het nie, maar deur dit wat Jesus vir ons gedoen het. Jesus sal egter sekere mense straf omdat hulle nie met God versoen is nie. Dit is veral die hoogmoediges wat glo dat hulle hulle  eie verlossing kan bewerkstellig, diegene wat God nie vrees nie, wat geoordeel gaan word.

 

 ‘n Vraag wat mense fassineer, is: Wanneer kom Jesus terug? Moenie die woorde van hierdie profetiese boek geheim hou nie, want die eindtyd is naby (Openbaring 22:10).

 




Ek word kwaad

The truth is that there are such things as Christian tears, and too few of us ever weep them. —John Stott

 

Ek word kwaad

Die Bybel sê nogal heelwat oor kwaad word. Kwaad word is immers dikwels die gevolg of die oorsaak van sonde. Wat sê die Bybel?

 

1.   Moenie te gou kwaad word nie.

  • ‘n Geduldige mens is baie verstandig; een wat kort van draad is, stel sy dwaasheid ten toon (Spreuke 14:29)
  • Moenie gou kwaad word nie: dit is ‘n dwaas wat gou kwaad word (Prediker 7:9)
  • Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie (Jakobus 1:19).

2.   Ons moet kwaad word so gou as moontlik hanteer, want dit kan maklik tot sonde lei

  • Toe sê die Here vir Kain: “Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk? Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die sonde wag vir jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.” (Genesis 4:6 – 7).
  • Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: “Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank.” Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank …
  • As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie die dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie (Efesiërs 4:26 – 27).

3.   Kwaad word is soms geregverdig, maar moet liefs vermy word

In Markus 3 lees ons van Jesus wat die man met die gebreklike hand genees het – op die sabbatdag. Die Fariseërs was ontsteld. Hy het hulle rondom Hom kwaad aangekyk en was diep bedroef oor hulle verhardheid. Jesus word kwaad, maar vir ‘n rede – die verhardheid van die mense se harte.

  • Want ek vrees dat by my koms ek julle miskien nie sal vind soos ek wens nie, en dat ek deur julle sal gevind word  soos julle nie wens nie – dat daar miskien sal wees twis, jaloersheid, toornigheid, verdeeldheid, kwaadsprekery, nuusdraery, verwaandheid , wanordelikheid (2 Korintiërs 12:20 – OAV).  Die NIV vertaal toornigheid met outbursts of anger.
  • Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: … woede, rusies, verdeeldheid … (Galasiërs 5:19 – 20).
  • Moet nooit verbitterd of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie (Efesiërs 4:31)
  • Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan:  woede, haat, nyd en gevloek (Kolossense 3:8).

 

Ons moet baie versigtig wees. Om kwaad te word, is soms geregverdig, maar dit is baie selde die geval. 




Depressie

This life was not intended to be the place of our perfection, but the preparation for it. —Richard Baxter

 

Depressie

Daar is ‘n klomp irriterende goed wat mense vir mense met depressie sê. Hulle bedoel dit goed, maar het dalk vooraf die saak nie goed oordink nie. Dink aan iets soos: “Glimlag, dis nie so erg nie.” Mense voel hulle moet reageer op mense met ‘n terneergedrukte uitdrukking.

Dit is gewoonlik mans wat sulke opmerkings maak. Luister wat sê iemand wat aan depressie ly:

  • Wat weet hulle van my toestand? Ek het depressie en om te glimlag gaan dit nie wegneem nie.
  • Het my voorkoms enigiets met hulle te doen? Hulle sal nie vir iemand sê dat sy mond of neus te groot is nie. Hoekom nou my voorkoms?

 

Dit is irriterend en frustrerend. Jy bedoel dit goed, maar dit is onaangenaam. Bly eerder stil.




Sonde van die vaders

Sonde van die vaders – Francois Malan

Sonja vra:

SONDE VAN DIE VADERS Het reeds die antwoord gelees wat op 14 April 2009 gepubliseer is, maar wil graag net in eenvoud my vraag stel. Dit is as voorbeeld asseblief. As my “pa” gesondig het teenoor die Here en hy het nooit berou getoon nie waarom is dit dat sy kinders en die se kinders onder die sonde nie vrygespreek sal word nie as die kinders en die se kinders in God glo en nie eers bewys is van die sonde wat plaasgevind het nie. Het Jesus nie aan die kruis gesterf vir al ons sondes nie? Waarom glo mense dat die sondes van die vader tot in die derde, vierde geslag sal geld en ek as kind daaronder lei.

Antwoord

 

Prof Francois Malan antwoord:

 

  • Waarom is dit dat sy kinders en die se kinders onder die sonde nie vrygespreek sal word nie as die kinders en die se kinders in God glo? –

 

Die gedagte kom van Eksodus 20:5,6 wat eintlik die volk Israel wat uit hulle slaweskap in Egipte bevry is, wil leer en waarsku teen afgode en die aanbidding van beelde. En die moeilike woord is ‘Ek reken die kinders die sondes van hulle vaders toe’ – die woord vir ‘toereken’ in Hebreeus pakad het ‘n wye verskeidenheid van betekenisse: ‘toereken’ soos in verantwoordelik stel vir, maar ook bv. Hom ‘bekommer’ oor hulle. En daarom die byvoeging: maar Ek betoon (of doen) liefde (of lojale verbondenheid) aan duisende wat My liefhet en my gebooie onderhou.

 

Eksodus 20:5,6 sê: Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My (dit teenoor diens aan ander gode of afbeeldings van God in 20:3,4). Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van die wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van die wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam (vgl. Deutr. 5:9,10).

 

Hoe die liefde van die Here sy straf verander, blyk reeds  toe Israel teen die Here en Moses in opstand gekom het en geweier het om in Kanaän in te gaan. Toe  pleit Moses by die Here: Laat U groot mag nou bekend word, Here, soos U gesê het: Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde. Maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders die sondes van vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag. Vergewe dan tog die sonde van hierdie volk in u groot liefde, soos U hulle van Egipte af tot hiertoe vergewe het. Toe het die Here geantwoord: Ek vergewe hulle, soos jy gevra het (Num 14:17-20). Toe is die vaders in die woestyn gedurende 40 jaar dood as hulle straf, maar hulle kinders is daarna in Kanaän ingelei.

 

Maar dat elke mens vir homself rekenskap moet gee voor die Here blyk reeds uit Esegiël 18. Daar word vertel dat die Jode in ballingskap in Babel die onlogiese spreekwoord gehad het: die pa’s eet groen druiwe en dan word die kinders se tande stomp. So seker as Ek leef, sê die Here my God: julle sal nie meer dié spreekwoord in Israel gebruik nie. Al die mense behoort aan My, vaders en kinders is Myne. Dit is die mens wat sondig wat sal sterf. Wie leef volgens my wil, sal reg laat geskied en reg doen:…..So iemand leef volgens my wil en hy sal bly lewe, sê die Here my God (Eseg.18:2-5,9).

Lees verder in Eseg. 18 na ‘n goeie pa wat ‘n slegte seun het en elkeen vir sy eie lewe verantwoording moet doen (18:10-13), ‘n slegte seun wat ‘n goeie seun het – hy sal nie sterf vir sy pa se sondes nie (18:14-18); elkeen sal sy eie gevolge dra (18:19-20), en die goddelose wat hom bekeer sal bly lewe (18:21-23); en as iemand ophou om die wil van die Here te doen sal hy nie bly lewe nie (18:24)…Dit is nie my wil dat die mens moet sterf nie, sê die Here my God, maar dat hy hom bekeer en bly lewe (18:32).

 

In Romeine 14:12 sê Paulus: Elkeen van ons sal oor homself aan God rekenskap moet gee.

 

  • Het Jesus nie aan die kruis gesterf vir al ons sondes nie? –

 

Jesus se belofte is dat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê  (Joh 3:16,36). Want Hy het vir al ons sondes betaal aan die kruis. Maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom (Joh 3:36).     

In Joh 5:24 sê Jesus: Dit verseker Ek julle: Wie luister wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood in die lewe oorgegaan.

 

  • Waarom glo mense dat die sondes van die vader tot in die derde, vierde geslag sal geld en ek as kind daaronder lei? –

‘n Kind wat in ‘n huis groot word waar God nie gedien word nie, het die nadeel dat hy of sy van kleins af nie vir Jesus by sy of haar ouers leer ken nie. Maar kan Hom leer ken op baie ander maniere: bv. by die skool, of by maats, of deur boeke, veral die Bybel. En aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word (Joh 1:12)

 

In Matteus 10:34-39 sê Jesus dat daar verdeeldheid in huisgesinne sal kom oor Hom. Party sal in Hom glo en ander nie. En iemand wat sy pa of ma liewer het as vir Hom, is nie werd om aan Hom te behoort nie. Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie. So ernstig kan die besluit wees om in Jesus te glo en Hom te volg as jy grootword in ‘n huis wat nie die Here wil dien nie. 

 

Maar die mense wat in Jesus glo kan seker wees dat die Heilige Gees van God in hulle kom woon het en hulle kinders van God gemaak het om saam met Jesus erfgename van God te wees. En aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid (Romeine 8:12-17). 

 

Skrywer: Prof Francois Malan