Hoe om nie die Bybel te lees nie

 “Sin ceases only to reign; it does not also cease to dwell in them.” –John Calvin, Institutes of the Christian Religion, 3.3.11

 

Hoe om nie die Bybel te lees nie

Ons maak die Bybel oop en lees die eerste vers wat ons raaksien … en aanvaar dit is wat God vir ons wil sê. God praat nie deur die Bybel buite konteks nie. Daar is ‘n boodskap wat verstaan moet word. Elke vers staan binne ‘n bepaalde konteks. Oppas vir die Lotto manier van lees.

  • Spinasie – Moet ek regtig

Baie mense haat Bybelstudie – soos kinders spinasie haat. Dit moet vir jou aangenaam wees om by God se voete te sit en sy Woord te lees. Bybelstudie is soms harde werk, veral as jy by boeke kom wat oënskynlik niks het om vir jou te bied nie. Bybelstudie is ‘n voorreg – jy hoor van God.

  • Ek verander kanale –  Kom ons probeer iets anders

Jy spring van plek tot plek. Wees gedissiplineer en lees een boek op ‘n slag. Ons lees tog nie stukkies hier en daar as ons ‘n storieboek lees nie. As jy heen en weer spring, ken jy nooit die hele verhaal nie.

  • Concord – kyk hoe vinnig kan ek klaar maak.

Kies die kortste hoofstuk en lees so vinnig as wat jy kan. Lees jou Bybel stadig; lees jou Bybel versigtig; bid voor, tydens en na jy gelees het.

  • Sportkaart – Ek is kieskeurig

Party mense hou van sekere dele meer as van ander. Levitikus is min mense se gunsteling boek. God wil hê dat ons die hele verhaal moet ken – nie net die dele waarvan ons hou nie. Lees die dele waarvan jy hou oor en oor, maar maak seker jy lees die hele verhaal.

  • Clint Eastwood – Ek het niemand se hulp nodig nie

Ons het almal hulp nodig. Bybelstudie is nie maklik nie. Jy het die Heilige Gees in jou en jy kan baie verstaan, maar die Heilige Gees werk veral deur die geloofsgemeenskap. Gebruik kommentare; praat met ander gelowiges.

  • Wonders – Abracadabra … dit is op my van toepassing

Die Bybel is aan mense wat duisende jare gelede geleef het, geskryf – mense wat in ‘n ander kultuur geleef het – mense met spesifieke behoeftes en probleme. In die Bybel kry ons beginsels wat op ons van toepassing is, maar ons moet altyd deur die lens van tyd kyk – die konteks.

  • Indiana Jones – Kom ons kry die verborge betekenis

Hierdie benadering sê dat daar ‘n verborge betekenis is wat jy moet probeer ontdek. Jy het ‘n soort dekodeerder nodig om te verstaan wat die Bybel werklik sê. Die Bybel is nie so geskryf dat net ‘n paar  uitverkorenes die geheime kode kan ontdek nie. Die Bybel openbaar sy waarheid aan almal wat bereid is om te luister. Daar is geen geheime boodskappe in die Bybel nie. Gebruik net toepaslike studiemetodes.

 

Interessant. Skuldig op ‘n paar plekke




Die Kultuur en kategese

Television is an invention that permits you to be entertained in your living room by people you wouldn’t have in your house. —David Frost, Engelse TV Gasheer  (1939—)

 

Die Kultuur en kategese

Superficial smatterings of truth, blurry notions about God and godliness, and thoughtlessness about the issues of living—careerwise, communitywise, familywise, and churchwise—are all too often the marks of evangelical congregations today (Gary Parrett en J. I. Packer:Grounded in the Gospel: Building Believers the Old-Fashioned Way)

 

 

Die kerk ondervind ‘n krisis van heiligheid.   Heilig beteken afgesonder, anders, leef volgens God se woord en nie volgens die stories wat die wêreld vir ons oor die sin van die lewe vertel nie. Hoe meer die kultuur om ons post- of anti-Christendom word,  hoe meer sien ons mense in die kerk met sienings van God, die waarheid en die menslike natuur wat eintlik beter by ongelowiges pas. Hulle gebruik seks, geld en mag op eg wêreldse maniere.

 

Dit is nie die eerste maal dat die kerk in so ‘n nie-Christelike kultuur moet leef nie. In die vroeë kerk moes die kerk nuwe gelowiges van onder af opbou – die kerk moes hulle leer om op nuwe maniere te dink, te voel en te leef. Dit is gedoen, nie net deur prediking en lesings nie, maar ook deur kategese. [Die Griekse woord katekhesis beteken  mondelinge onderrig.] Kategese was nie net vir kinders nie, maar ook vir volwassenes – selfs vir leiers. Vir hierdie doel is materiaal spesifiek ontwikkel.

 

Tydens die Hervorming kry ons dieselfde probleem: Hoe kan ons die lewens van mense wat in die Middeleeuse kerk grootgeword het, hervorm? Martin Luther, Calvyn, John Owen en ander hervormers skryf materiaal vir kategese gebruik.

 

In die Christelike wêreld het hierdie praktyk, veral vir volwassenes, feitlik geheel en al verdwyn. Moderne programme vir dissipelskap is feitlik almal baie oppervlakkig as dit kom by leer. Bybelstudie is dikwels swak as dit kom by leerstellige gevolgtrekkings. Kategismusse neem studente stap vir stap deur die Apostoliese Geloofsbelydenis, die tien gebooie en die Ons Vader-gebed.

 

Kategese is ‘n intensiewe manier van onderrig. Dit moedig nadenke oor die waarheid aan. Studente word ook meer aanspreeklik gehou vir die bemeestering van die materiaal. Kategese verskil van luister na ‘n preek of ‘n lesing (of selfs lees van ‘n boek), want dit is meer interaktief – dit gaan oor dialoog.  So word verhoudings gebou.

 

Mense vandag het ryker en meer omvattende onderrig nodig. Is dit nie weer tyd vir volwasse kategese nie?

 




Die Superman-vers

“I am always doing things I can’t do, that’s how I get to do them.”Pablo Picasso

 

Die Superman-vers

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Filippense 4:13)

Ben Witherington skryf ‘n interessante blog hieroor. Ons sien vandag T-hemde met Fil 4:13 daarop. Soos Superman kan ons nou oor hoë geboue vlieg en gaan waar niemand nog vantevore gegaan het nie.

  

Hy skets dat die volgende konteks ten opsigte van hierdie vers:

Ek weet wat dit is om nederig te wees; ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Onder alle omstandighede het ek die geheim geleer oor hoe om tevrede te wees, selfs as ek honger ly. Ek is in staat/sterk genoeg om alles te verduur in Hom wat my bemagtig/in staat stel.

 

Wat Paulus hier sê, is dat onder watter omstandighede ook al God aan hom die krag en vermoë gegee het om te volhard en tevrede te wees – selfs al moet hy honger ly. Dit beteken beslis nie: “Met ‘n bietjie hulp van God kan ek alles doen,” nie. Dit is ‘n vers oor volharding in God se wil en op sy weg, nie oor persoonlike sukses of triomf nie. Dit gaan nie oor ‘n individuele oorwinning nie. Dit beteken beslis nie dat God ons sal help om ons begeertes en doelwitte te bereik nie. Dit gaan oor Paulus wat hom aan God se doelwitte en planne onderwerp en God wat hom die krag gee om dit te doen. Onthou hy was onder huisarres toe hy hierdie brief geskryf het.

 

Waar kom die Superman interpretasie vandaan? Ons moderne mense glo dat ons enigiets kan doen as ons net wil – miskien so ‘n bietjie hulp van Bo en ‘n bietjie geluk. Maar dit is nie hoe die wêreld werk nie. Ons is nie in beheer nie; ons bepaal nie ons eie lot nie; ons is nie die kaptein van ons eie lewensboot nie. Christus is ons Here; ons is duur gekoop. Dit gaan nie oor ons drome, doelwitte en agendas nie en om vir God te oorreed om ons te help nie. Soos Paulus gaan dit oor die doen van God se wil al beteken dit swaarkry en lyding … en honger. Paulus sê: “Ek kan alles hanteer wat die wêreld na my kant toe gooi. Hoekom? Want Hy gee aan my die krag wat ek nodig het.” Hierdie het niks met ons suksesdroom te doen nie. Niks.

 

Jesus se geboortedag. Hoekom moes Jesus kom? Omdat ons uit ons eie nie in staat is om onsself te verlos nie.

 




Die koninkryk van God is hier

Let me assert my firm belief that the only thing we have to fear is fear itself – nameless, unreasoning, unjustified terror which paralyzes needed effort to convert retreat into advance.”  — Franklin D. Roosevelt, Eerste Inhuldigingstoespaak  4 Maart 1933 

Die koninkryk van God is hier

Die Bybel sê dat Christene burgers van die koninkryk van God is. Maar wat is hierdie koninkryk? Om dit baie eenvoudig te stel: Die koninkryk van God is waar die Koning wat God aangestel het – Jesus Christus – tans heers in en deur die lewens van sy kinders en waar sy wil op aarde net soos in die hemel geskied (Matteus 6:10).

 

 

Die teenwoordigheid en doel van God se koninkryk is onderliggend aan die hele onderrig van die Bybel – dit is God se plan vir die wêreld. Ons kry ‘n uitgebreide bespreking van God se koninkryk in Jesus se bergrede (Matteus 5 – 7). Hier beskryf Hy vir ons hoe lewe in sy koninkryk in ‘n gevalle wêreld lyk.

 

God se koninkryk neem ‘n aanvang met Jesus se koms na die wêreld. Natuurlik was Jesus nog altyd Koning van die wêreld. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is … Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand (Kolossense 1:16 – 17). God se heerskappy word egter op nuwe en dramatiese wyses gedemonstreer  toe Jesus dit van die hemel na die aarde gebring het.

 

Vantevore: Hy het uit sy heilige woning na onder gekyk en uit die hemel gesien wat op die aarde gebeur (Psalm 102:20). Nou kom Jesus en kondig aan: Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom (Markus 1:15). God se koninkryk is nou hier by ons. God begin nou die proses om die vloek van die sonde om te keer en alle dinge te verlos. Jesus se bediening – die woorde wat Hy gepraat het en die wondertekens wat Hy gedoen het – wys vir ons dat daar nou ‘n nuwe orde is – God se orde. Met Jesus se koms begin die herstel van dinge soos God bedoel het dit moet wees. Ons het hier nie die opheffing van die bestaande orde nie, maar die herstel daarvan – ‘n nuwe skepping.

 

Ons leef nou in die stadium van die voortsetting van God se koninkryk. Dit is ‘n stadium gekenmerk deur spanning tussen die huidige en die toekoms. Die koninkryk is reeds hier, maar nog nie in sy volledige, volkome vorm nie. Ons is nog nie wat ons eendag sal wees nie, maar ons is nie meer wat ons was nie.

 

Die laaste stadium – die volledige en volmaakte koninkryk van God – kom met Christus se wederkoms. Dan is die herskepping van alle dinge voltooi. Hiervan lees ons in 1 Korintiërs 15:51 – 58. Nou is daar volkome harmonie tussen God en sy kinders.

 

Kersfees is die viering van Jesus Christus se geboortedag, maar ook die begin van God se koninkryk. Soos Jesus ons geleer het, moet ons elke dag bid: Laat u koninkryk kom (Matteus 6:10).