‘n Leier lei

Live each season as it passes; breathe the air, drink the drink, taste the fruit, and resign yourself to the influences of each.”  – Henry David Thoreau

 

‘n Leier lei

Jona is in Nineve en daar verkondig hy ‘n verskriklike boodskap: Nog net veertig dae en Nineve word verwoes! Hierdie oordeelsboodskap van Jona het ook die koning bereik. Hoe reageer hy? Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op ‘n ashoop gaan sit.  Hy bely sy eie sonde.

  Toe gebruik hy sy invloed om ‘n herlewing in die hele stad teweeg te bring. Hy vaardig ‘n proklamasie uit: Elke inwoner moet sy voorbeeld volg.  Toe God sy reaksie sien, het Hy deernis met die mense van Nineve en Hy spaar hulle.

 

Ons kan sê dat in hierdie geval ‘n leier die lot van ‘n hele stad bepaal het.  Hy doen dit deur die drie fundamentele vereistes wat elke volgeling nodig het, te voorsien:

(a)‘n Duidelike model.

(b)‘n Duidelike boodskap: hy roep sy mense op vir ‘n spesifieke optrede: Geen mens of dier mag aan iets proe nie of iets drink nie. Hulle moet rouklere aantrek en die mense moet tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het.

(c)‘n Duidelike motivering: hy sê vir hulle hoekom hulle so moet optree. Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.

 

Almal van ons is leiers – by die huis of werk of kerk of waar ook al. Stel ons ‘n voorbeeld, gee ons ‘n duidelike boodskap en motiveer ons wat ons sê en doen vir ons volgelinge?

 

 




Ester

Iemand vra vir Ignatius: “What would you do if you knew that the world was going to come to an end tomorrow?” Hy antwoord: “I would go on doing what I’m doing now.”

 

Ester

Tydens die Joodse Purimfees word die verhaal van Ester herleef. Dit is gewoonlik ‘n fees vol vreugde, die gee van geskenke en ‘n toneelstuk. Hierdie toneelstuk, gewoonlik deur kinders gespeel, dramatiseer die verdeling van die wêreld tussen goed en sleg.

Die bose is Haman, ‘n Persiese offisier wat die Jode haat. Hy word uiteindelik gehang aan die galg wat hy vir sy aartsvyand Mordegai voorberei het. Die goeie mense is Ester en haar oom, Mordegai. Hulle red die Jode van vernietiging.

 

Hierdie is ‘n verhaal om Jode in ballingskap te bemoedig. Selfs op daardie stadium was daar baie Jode wat verspreid deur die Griekse Ryk (en kort daarna die Romeinse Ryk) geleef het. Ballinge het hoop nodig en Ester se verhaal gee hoop.

 

Die verhaal van Ester is ‘n verhaal wat eeue lank reeds hoop vir die Jode te midde van wanhoop beteken. Almal van ons moet oor hierdie verhaal nadink, want almal van ons se vlammetjie van vryheid flikker soms en dan het ons hoop nodig.

 

 

 




Psalm 119:43

In coming to understand anything we are rejecting the facts as they are for us in favour of the facts as they are. —C.S. Lewis

 

Psalm 119:43

Weerhou my tog van alles wat onwaar is. In u bepalings stel ek my vertroue (NAV)

En onttrek die woord van waarheid nie geheel-en-al aan my mond nie, want op u verordeninge wag ek (OAV)

Help my om net die waarheid te praat. Dag en nag luister ek fyn na u stem (Die Boodskap)

 

 

Vrees en hoop. Beide emosies is op die toekoms gerig, maar is teenoorgesteldes – vrees verwag die slegte en hoop verwag die goeie. Ons wil almal graag hoopvol wees, maar dit is ‘n stryd om nie te vrees nie. Die psalmis is bang dat hy van die waarheid ontneem sal word. In die konteks van die hele psalm is hierdie waarheid God se woord.

 

Maar hoekom sou God sy woord van die psalmis ontneem? Is die psalmis se vrees nie irrasioneel nie? In baie gevalle is ons vrese irrasioneel; ons sukkel om rasioneel te dink as ons bang is. Wat is die teenmiddel van vrees? Hoop. Die psalmis se hoop – dit waarin hy sy vertroue plaas – is God se bepalings.

 

Het die psalmis nog hoop? Beslis. Hoekom anders sou hy aanhou bid? Psalm 119 is in werklikheid een lang gebed oor God se woord – 176 verse lank.

 

Vrees is nie vir ons iets vreemd nie. Almal van ons ondervind dit op een of ander stadium. God se woord dryf die vrees weg en gee weer hoop aan ons.

 

 

 

 




Die Seun van God

Die Seun van God – Kobus Kok

Theodor vra: 

Kan veralgemenings gemaak word oor die evangelies en Paulus se gebruik van “Seun van God”? Is dit ook ‘n koninklike titel ter bevestiging van Christus se volmaakte koningskap (1Tim6:15)? Aanloop: In Egipte en Mesopotamie is “seun van god(e)” ook gebruik. In die Romeinse tydperk is soms na die keiser verwys as “seun van god” Vir die Israeliete was dit ‘n titel wat aangedui het dat God self die koningskap bevestig – 2Sam7:14; 1Kron17:13; Ps89:26-29. (sien ook:koning as gesalfde/messias:1Sam2:10; 2Sam23:1; Ps2:2//koning as priester:Gen14:18; Ps110:4; 2Sam6:14-18; 1Kon8:55//koning as regter:Ps72:1-4; Ps45:7; 1Sam8:5(Engels) 2Sam15:2//koning as middelaar: 2Sam24:17; 1Kron21:16-17; 1Kon8:22-23; 2Kron6:12-42)

 

 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Die seun van God begrip, Koning en Messias staan in die Nuwe Testament in semantiese verband. Maar net so ook gedagtes soos Jesus as die Logos (Joh 1) en hoëpriester (Heb). Mens moet egter versigtig wees om te veralgemeen en eerder in diepte studie doen oor elke individuele NT skrywer wat elk vanuit hulle onderskeie perspektiewe vir die oorspronklike lesers ‘n perspektief op Jesus en sy betekenis wou gee. 

 

Die feit dat bepaalde mense “seun(s) van god” genoem is voor Jesus gebore was, is n historiese feit. Die gedagte wat daardeur gekommunikeer was, was dat die betrokke mens unieke eienskappe (woorde, dade, karakter, doel) vertoon wat alleen sy oorsprong te danke aan die god(heid) kan hê. 

Die Christelike geloof is histories ingebed in ‘n bepaalde kulturele konteks met sy eie denkraamwerk. Alleen na mens se dood kan die impak van jou lewe en betekenis waarlik gesien word. Na aanleiding van mense se ervaring van die lewe, dood en opstanding van Jesus, is bepaalde reeds bestaande kategorieë op hom geprojekteer. Dink maar aan Thomas wat eers ná die opstanding van Jesus vir die eerste keer besef wie Jesus is en luidkeels verklaar dat Jesus Here (Kurios) en God (Theos) is. Eers na die opstanding het die dissipels die aardse optrede van Jesus geherinterpreteer en na waarde geskat (kyk Joh 2:21-22). Omdat alle betekenisvorming binne ‘n bepaalde historiese konteks ontstaan, en altyd vanuit en binne die denkraamwerk en kategorieë van die tyd, kon dit nie anders dat Jesus se betekenis uitgedruk geword het binne daardie raamwerk nie. Indien dit nie gebeur het nie, sou sy optrede geen betekenis vir die antieke mense ingehou het nie. So was daar byvoorbeeld vir eeue voor Jesus se geboorte reeds verwagtings dat die troon en heerskappy van Dawid herstel gaan word en dat ‘n sterk politieke verlosser (Messias) op die toneel sal verskyn. Die lewe, kruisdood en opstanding sou hierdie reeds bestaande politieke verwagting totaal omkeer en die gedagte van God se Geestelike Messias en Geestelike koninkryk vestig. 

 

Ten slotte: ons moet dus besef dat die betekenis van Jesus en die taal wat gebruik word om dit te beskryf, en selfs die name wat aan hom toegeken word, ‘n produk is van ‘n bepaalde historiese en kulturele konteks. Vandag kan ons steeds binne daardie kategorieë van Jesus praat indien ons die antieke wêreldbeeld verstaan, die betekenis daarvan begryp en dit binne die kerk as interpreterende gemeenskap so interpreteer.

 

Vir meer inligting, bestudeer gerus die boek:  Edward Schillebeeckx oor Jesus. Hy het n kort opsomming gegee van sy perspektiewe nav van sy twee groot Jesus boeke in die boekie Tussentijds verhaal over twee Jezus boeken, Bloemendaal Richard Burridge, Four Gospels, one Jesus

 

Skrywer: Prof Kobus Kok