Die Messiaanse tydperk

Die Messiaanse tydperk – Francois Malan

Annamarie vra:

Wat is die Messiaanse tydperk?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Volgens die Joodse tradisie sal die Messiaanse tydperk een van wêreldwye vrede en harmonie wees, ‘n tyd waarin daar nie bakleiery en lyding sal wees nie, maar ‘n tyd om die Skepper beter te leer ken (Jesaja 2:4; 11:6-9).  

 

Volgens die Christelike tradisie is die Messiaanse tyd ‘n tyd van universele vrede en broederskap op die aarde, sonder misdaad, oorlog en armoede, ‘n tyd wat reeds aangebreek het. Met die dood van Christus het die Messiaanse tydperk begin en sal eers met die wederkoms van Christus vervul word met die koninkryk van God in die ewigheid (vgl. Openb 21:1-8). 

 

‘Messias’ is die Hebreeuse woord vir ‘Gesalfde’. In Grieks is dit ‘Christus’. Die Messiaanse tydperk, of die Christelike tydperk, is die tyd waarin Jesus die Christus (die Messias, die Gesalfde Koning, Priester en Profeet) begin regeer in die harte en lewens van sy volgelinge wat in Hom glo as die Seun van God wat mens geword het om die sonde van die wêreld weg te neem (Johannes 1:29). Dit het Hy gedoen deur vir ons sondeskuld te sterwe aan die kruis, sodat ons verhouding met God reggemaak is, en ons nou kinders van God is. God kom self in ons woon as die Heilige Gees wat ons aan Jesus se offer vir ons sonde verbind en te begin sterwe aan ons selfsug. Die Gees verbind ons ook aan Christus se opstanding om die sonde en ons selfsug te oorwin en uit liefde vir God en ons medemens te begin lewe. Die Gees oortuig ons Jesus is God (vgl. Johannes 1:1-3), wat vir ons gesterf het, sodat ons besluit om in Jesus te begin glo en op Hom te vertrou (vgl. Romeine 8:9-17). Die Gees is besig om ons te verander dat ons al meer soos Jesus, die Messias, begin lewe (lees 2 Kor 3:18). Die tyd waarin ons lewe is reeds die Messiaanse tydperk wat begin het en wat volkome sal word wanneer Jesus, die Messias, weer kom, sodat ons vir ewig by Hom sal wees (Johannes 14:1-11). 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Laat sy Liefde jou Lei: Spoelklip-mense

Laat sy Liefde jou Lei: Spoelklip-mense – Milanie Vosloo

Spoelklip-mense

Wie hulle eie lewe liefhet, verloor dit; maar wie hulle lewe in hierdie wêreld haat, sal dit met die oog op die ewige lewe behou. Johannes 12:25

Die lewe, het Alba Bouwer gesê, is alte veel soos die bergwater wat hier langs die huis in die voor afkom: dit werkskaf aljimmers vorentoe, vorentoe, daar is nooit stilstaan nie.

En as ‘n mens jou geloef in die lieven Heer nie het nie, sal daai water jou lateraan so deurmekaar spoel lat jy onderstebo die Ewigheid indiewel. 

Ons is almal spoelklippie-mense wat deur die strome van die lewe gemaal word. Soms vloei die koel fonteinwater-van-vreugde lawend oor ons harte. Ander kere is dit asof nuwe lewenservaring-water ons siele suiwer. Maar dan is daar ook dié kere wanneer die maalstrome van die wêreld ons amper wreed wil laat verdrink. Dis die tye wanneer ons geneig is om baie gou ons harte tot ons Vader te wend. En natuurlik is ons Redder altyd dan slaggereed om ons te help! Maar … wanneer ons Hom passievol lief het, roep ons nie net na Hom wanneer ons deur die lewe oorweldig word nie. Dan kies ons om daagliks … uurliks in totale afhanklikheid aan Hom te leef.

Vir ons almal kom daar ‘n dag wanneer die lewensstroom ons tot stilstand gaan bring. Dan is ons aardse lewe totaal irrelevant. Al wat dan gaan saak maak, is hoe naby ons aan Hom geleef het.  Waar is jy vandag, spoelklippie-mens?

 

Here, ek wil nie één dag sonder U die waters van die lewe aandurf nie. 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

milanie_boeke_advertensie

 


 

 

 

 

 

 Skrywer: Milanie Vosloo




Hebreërs 11

Do not work so hard for Christ that you have no strength to pray, for prayer requires strength. —Hudson Taylor

 

Hebreërs 11

In hierdie hoofstuk lees ons van ‘n hele reeks geloofshelde. Teen die einde van die hoofstuk versnel die skrywer die tempo. Hy verdeel dan sy rolmodelle in twee groepe:

 

  • Van die een groep lees ons: Deur die geloof het hulle koninkryke verower … gloeiende vuur geblus … krag ontvang (verse 13 – 14).
  • Van die ander groep lees ons: Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap … met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor (verse 36 – 37).

Het hierdie twee groepe iets in gemeen? Ja, hulle het die woord van God geglo en alles gewaag daarvoor.

 

J. D. Greear vra die eenvoudige vraag: In watter groep sou jy graag wou wees? Almal van ons wil in daardie eerste groep wees. Maar ‘n lewe van geloof vereis vertroue in ‘n God wat jy nie kan sien nie en in beloftes wat jy nie altyd voel nie. Dikwels staan jy soos daardie mense in die tweede groep – alleen. As ons wêreldse  bevestiging vir ons geloof nodig het, sal ons dit nie maak nie.

 

Kan jy alles waag vir iets wat onsigbaar is? Sal ons soos Abraham glo as ons op die proef gestel word? Sal ons gehoorsaam wat God sê al maak dit vir ons geen sin nie? Sal ons in donker oomblikke glo dat die sonsopkoms nader kom? As my kanker hervat het? As my eggenoot my permanent verlaat het? Bring dit vir jou vreugde as jy weet dat God ‘n tragedie in ‘n triomf kan verander? Jou vermoë om jou in alle dinge te verbly, is ‘n maatstaf van jou geloof.

 

Sal jy, soos die Israeliete by die Rooisee, vertrou dat God in onmoontlike situasies kan voorsien? Sal jy soos Moses kies om liewer sleg behandel te word  as om die kortstondige genieting van die sonde te hê?

 

Geloof beteken ek waag omdat ek op die beloftes van die onsigbare God vertrou. Geloof weet dat ons wêreldse offers nie werklik offers is nie.

 

 




Wat is daarin vir my?

To grow in grace is to learn to love, to hope, to unify, and to trust, and no longer to separate, manipulate, manage, and control. It is to move from self-regard and self-protection to other-regard, growing in flexibility in relationships and in openness to others. – Tim Gombis

Wat is daarin vir my?

Vir baie word die evangelie gereduseer tot Ek – wat is daarin vir my? Wat is die persoonlike implikasies en voordele van die evangelie vir my? Nou word die evangelie ‘n terapeutiese hulpmiddel: Hoe kan dit help/red/herstel? Dit word ‘n oefening om mense gelukkiger en beter te maak. Maar dit is nie wat die evangelie is nie.

 

 Vir ander is die evangelie meganika: Hoe bereik die evangelie wat dit wel bereik? Dit is ‘n evangelie wat slegs fokus op die vryspraak-teorieë. Die hele evangelie gaan dus oor hoe ek skuldig geword het en hoe die evangelie my help om van my skuld ontslae te raak. Maar dit is tog nie wat die evangelie is nie.

 

Scot McKnight glo dat die enigste manier waarop ons oor die evangelie kan praat, is om toe te laat dat die evangelie weer word wat dit destyds was. Die evangelie van Christus en die apostels was nie eerstens oor my of oor meganika nie. Die evangelie van 1 Korintiërs 15 is die verhaal van Jesus; die evangelie van al die preke in Handelinge gaan oor Jesus; die evangelies noem ons die evangelies, want hulle vertel ons van Jesus.