Ons eenheid met Christus

Is there nothing to sing about today? Then borrow a song from tomorrow; sing of what is yet to be. Is this world dreary? Then think of the next. —C.H. Spurgeon

Ons eenheid met Christus

Jesus en sy dissipels is aan tafel in die bovertrek. Hy sê ‘n merkwaardige ding: Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle (Johannes 14:20). Later sê Jesus: Ek in hulle (17:23). Hierdie waarheid is vir Jesus so belangrik dat Hy twee beelde gebruik om hierdie begrip aan ons te verduidelik.

 

  • Daardie dag (= die dag waarop die Heilige Gees uitgestort gaan word; pinksterdag) sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle (Johannes 14:20). Die basis van die gelowige se eenheid met Christus is Christus se eie eenheid met sy Vader. Dit is hoe intiem ons verhouding met God is. Hierdeur besef ons die wonder van ons eenheid met Christus.
  • Maar wat is die aard van hierdie eenheid. In Johannes 15 ontwikkel Jesus die voorbeeld van die ware wingerdstok. Ons is met Christus verenig soos die lote aan die wingerdstok verenig is. Jesus is die ware wingerdstok wat vrugte dra. Wat beteken dit alles?
  • Hierdie is nie iets geheimsinnig nie. Jesus maak dit duidelik dat dit ‘n paar konkrete werklikhede behels.
    • Dit hang van sy genade af. Natuurlik is ons aan Christus deur geloof verenig, maar geloof berus op die optrede van God. Julle is reeds reg gesnoei deur die woord wat Ek vir julle gesê het (15:3). Jesus maak ons gereed vir ons vereniging met Homself.
    • Vereniging met Christus beteken gehoorsaamheid aan Hom – ons reaksie op sy onderrig. As julle in My bly en my woorde in julle (15:7a). Paulus sê basies dieselfde: Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly (Kolossense 3:16).
  • Om in Christus te bly, beteken dat ons toelaat dat sy woord ons hele lewe vul. Dan sal ons bid op ‘n manier wat ooreenstem met die wil van God: Vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry (15:7b).
  • Jesus beklemtoon nog ‘n beginsel: Julle moet in my liefde bly (15:9). Jesus sê self wat Hy daarmee bedoel: As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly (15:10).
  • Ons moet ons aan God se snoeiskêr onderwerp. Die doel van snoei is om die vrugbaarheid oor die langtermyn te  verbeter. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af (15:2).

Wat ‘n wonderlike gedagte: Christus is in ons en ons in Hom.

 




Jesus Christus werk in my

Sin is not so sweet in the committing as it is heavy and bitter in the reckoning. —Richard Sibbes.

 

Jesus Christus werk in my

Jonathan Edwards gebruik 1 Johannes 4 om aan te toon dat alle ware werke van Christus sekere eienskappe in gemeen het:

 

  • ’n Hoë agting vir Christus.
  • Die omverwerping van Satan se koninkryk in ons harte.
  • Toewyding aan God se woord – die Skrif.
  • Die teenwoordigheid van die Heilige Gees wat ons van die waarheid en die werklikheid van die ewige lewe en die erns van ons sondes oortuig.
  • Liefde vir God en mens.

Maar wat beteken dit nou vir ons lewe vandag? Mense wat so ‘n ervaring gehad het, identifiseer ‘n paar dinge wat gebeur het.

(a)   Hulle word bewus van hulle ongeloof. Die rede is gewoonlik God se woord wat met oortuiging verkondig word. Hierin speel die krag van die Heilige Gees ‘n groot rol.

(b)   ‘n Kragtige begeerte om van alle sonde los te kom. Daar is ‘n begeerte dat sonde toenemend geopenbaar sal word, sodat dit bely, vergewe en skoongemaak kan word.

(c)   Die liefde van God oortref alle dinge. Jou hart kan net nie genoeg van Hom kry nie; jy wil meer en meer van Hom weet.

(d)   ‘n Nuwe liefde vir God se woord – om dit te lees, te hoor en toe te pas. Jy wil graag God se wil ontdek, want jy wil dit toepas.

(e)   ‘n Liefde vir ander – deernis vir ander.

Dit is wat met ons gebeur as Jesus Christus in ons lewens werk.




Herlewing

 “God bids us do what we cannot, that we may know what we ought to seek from him.” – Augustinus

 

Herlewing

Jonathan Edwards het geglo dat God se koninkryk vooruit gaan deur seisoene van herlewing. Daar word dikwels na sy werk en dié van George Whitefield verwys as die Great Awakening. Ons lees dat mense na Johannes die Doper gestroom het om gedoop te word. Jesus self het voor groot skares gepreek. In Johannes 6:10 (die vermeerdering van die brood) lees ons: Die mans alleen was omtrent vyf duisend.

 Daar was egter een herlewing wat so besonders was dat Johannes dit vir ons in groot besonderhede vertel. Dit gebeur by Sigar in Samaria en dit begin by een vrou. Hier leer ons ‘n paar lesse van herlewing.

  • Herlewing vind plaas as Jesus Christus ‘n plek besoek – op sy tyd en op sy verkose manier. Geen kennisgewings word opgeplak om ‘n hervormingsweek aan te kondig nie. Hy moes deur Samaria gaan (4:4).
  • Christus het nie die magtiges of invloedrykes nodig om ‘n gemeenskap te bereik nie. Hierdie naamlose vrou wat Hy by die put ontmoet, is die instrument wat Hy verkies. Dit was sy brug na die hele gemeenskap by Sigar. Haar getuienis was kort, maar die impak was geweldig. It is not much speaking, but much faith that is needed (Robert Murray McCheyne).

Jesus neem sy dissipels agter die skerms om die geheim vir hulle duidelik te maak. Ek het julle gestuur om ‘n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid (4:38). Voor die oes kom die ploeg; voor die een wat oes, kom die een wat saai – ander het gearbei. Jesus het diep in die lewe van hierdie vrou geploeg. Een lewe waarin die saad van die evangelie gesaai is en wat ‘n oes voortbring was sy instrument. Dit was nie maklik nie – aan die begin het sy Jesus teengestaan. Die einde was merkwaardig. Blootgestel, oortuig, verneder, gereed om hernu te word, draai sy na Jesus toe. Sy doen afstand van haar ou manier van leef en word met Jesus Christus gevul.

Harde grond word geploeg, elke verskoning word stilgemaak. Dan word die genade van Jesus Christus die grootste gawe in die wêreld. Dan word die Woord van God belangrik en ons praat instinktief van Hom. Dit is die begin van herlewing.

Elkeen van ons moet hieroor nadink. Ons is almal baie entoesiasties oor die oes, maar is ons bereid om te ploeg of nog erger: Is ek gewillig om geploeg te word?

 




Leef uit jou doop: 7.2 Is oordoop regtig doop?

Leef uit jou doop: 7.2 Is oordoop regtig doop? – Adrio König

7.2 Is oordoop regtig doop?

Lidmate wat oorgedoop word, of soos die Pinksterkerke meen, vir die eerste keer gedoop word, word omtrent sonder uitsondering oorgedoop lank nadat hulle tot geloof gekom het. Teen die tyd dat hulle oorgedoop word, het hulle alreeds die volle betekenis van die doop aanvaar.

Hulle staan al  onder die gesag van God, hulle is al met Christus verenig, hulle is al saam met Hom gekruisig en begrawe, hulle het al saam met Hom opgestaan, en al die ander betekenisse. Hulle het dit immers deur die geloof gekry. Ons het tog gesien dat die doop in bepaalde verbande werk (3.5), en dat die doop en die geloof die selfde betekenisse het (3.3). Die Here is nie afhanklik van die doop om iemand deel aan die heil te gee nie. Die doop is nie die heil self nie, maar saam met die woord en die geloof een van die heilsmiddels, die maniere waarop die Here mense deel gee aan die heil.

 

Maar is die oordoop dan nog regtig doop in die Nuwe-Testamentiese sin van die woord as dit eers bedien word lank nadat die persoon tot geloof gekom het? In die Nuwe Testament is dadelik gedoop. En dit was nie maar net toevallig nie. Dit het besondere teologiese betekenis gehad. Die doop was een van die heilsmiddels waardeur God iemand aan die heil deel gegee het (3.4). Maar as ’n persoon nou lankal deel het aan die heil, en dan eers gedoop (oorgedoop) word, watter betekenis het die doop dan? Wat die doop moes beteken, is nou lankal deel van die gelowige se lewe.

 

Kan die oordoop veel meer wees as ’n doopviering, ’n herdenking van wat die doop werklik beteken?

Dit is natuurlik nie net ’n vraag oor die oordoop nie, maar in werklikheid oor die meeste grootdope. Daar is baie min kerke wat dadelik doop soos in die Nuwe Testament. In die meeste gevalle is daar ’n beduidende tydsverloop tussen ’n persoon se bekering en die doop. In sendingsituasies is daar gewoonlik eers lang voorbereiding (kategese-onderrig). Die opvallende volgorde in Jesus se sendingbevel, “doop hulle en leer hulle” het ons verander in “leer hulle en doop hulle”.

 

As hierdie siening enige teologiese waarde het, kan dit dalk die kerke wie se lidmate oorgedoop word, rustiger daarmee laat omgaan. Hulle sou hierdie oordoop kon sien as ’n doopviering wat hulle lidmate elders beleef het. Dit het uit die ondersoek in elk geval geblyk dat die oorgrote meerderheid lidmate oortuig is dat hulle oordoop vir hulle baie beteken het. Hulle eie gemeente sou hulle kon gelukwens en die seën van die Here op hulle verdere lewe saam met Hom kon toebid.

 

Intussen het ons reeds die ander kant van die saak baie ernstig oorweeg: die feit dat die Pinksterkerke presies dieselfde sê van die kinderdoop: dis nie werklik ’n doop nie. Daarna het ons veral in hoofstuk 4 gekyk en in hoof stuk 5 daarop gereageer. Daar het ons gesien dat die kinderdoop aan die basie se vereistes vir die doop beantwoord. Dit vloei eintlik uit die wese van die doop in die Nuwe Testament voort.

♦   Die doop is God se werk/gawes in ons lewe. Hy kan ook aan kinders sy gawes gee.

♦   Die doop is gou bedien en die onderrig is eers later in die gemeente gegee. Die onderrig word ook in die geval van die kinderdoop eers ná die doop gegee.

♦   Die betekenis van die doop word eers ná die doop beleef. Dan moet die gedooptes wys dat hulle uit hul doop lewe. Dan moet hulle met die sonde ophou en God voluit dien omdat hulle deur die doop met Christus verbind is. Dit is net so geldig vir die kinderdoop.

♦   Die doop lyf ons in die genadeverbond in wat God met Abraham gemaak het. In hierdie verbond was daar van die begin af plek vir twee groepe: heidene soos Abraham wat eers tot geloof moes kom en daarna die geloofsakrament (die besnydenis – 3.6) ontvang het, en kinders van gelowiges wat eers die geloofsakrament ontvang het en daarna tot geloof moes kom. Op grond van Romeine 4 en Galasiërs 3 geld dit vandag nog net so.

 

Dit lyk my dus duidelik dat daar in die doop soos ons dit in die Nuwe Testament kry, die ruimte is vir die kinderdoop.

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König