DIE KERK (5)

If it be asked what cause induced him (God) to create all things at first, and now inclines him to preserve them, we shall find that there could be no other cause than his own goodness – Calvyn

 

Die kerk (5)

Ons het nou na drie beelde van die kerk gekyk: die huisgesin, die liggaam en die kudde. Ons kom nou by die laaste beeld wat ek gaan beskryf.

 

Beeld #4: Die bruid van Christus

 In enige huweliksverhouding moet daar liefde en trou wees. Maar wat behels hierdie beeld van die bruid?

  • Reinheid. Ek waak oor julle met ‘n ywer wat van God kom, want julle is soos ‘n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus (2 Korintiërs 11:2). Ons weet tog dat die bruidegom, Christus, sonder sonde is. Christus het die vermoë om sy bruid – die kerk – sonder vlek of rimpel of iets dergelik, heilig en onberispelik te maak (Efesiërs 5:27).
  • Beskerming. Dit is ‘n seën vir ‘n bruid om te staan en wag vir haar bruidegom. Jy kan tog nie die bruidegom (Christus) liefhê en die bruid haat nie.

 

Ek het hierdie paar blogs geskryf, want ek is bekommerd oor mense wat gedurig die kerk afkraak. Ons moet ons liefde vir die kerk weereens verklaar. Die kerk is nie volmaak nie … ons ook nie. Ons moet die mense en leiers van die kerk liefhê. Ons kan nie ‘n verlore en sterwende wêreld liefhê as ons nie God  se bruid – sy kerk – liefhet nie.

 

In die laaste blog kyk ons na ‘n artikel van Ben Witherington III oor hierdie saak.

 




Christus as mens

By it (the Scriptures) all the thoughts of our minds, and the words of our mouths, should be tested – Calvyn

 

Christus as mens

In Johannes 1:14 lees ons: Die Woord het mens geword (1:14). Hoekom is dit belangrik? Die Hebreërboek skryf heelwat oor hierdie vraag. Hy noem ‘n aantal redes waarom God mens geword het.

 

 

1.Oorwinning

In hierdie boek beteken verlossing, vrylating uit Satan se greep. God se menswording is belangrik, want daarmee behaal Hy die oorwinning oor die duiwel en die dood: Dit het Hy gedoen om deur sy dood die een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig, en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry (2:14 – 15). Hoe kan ons bevry word? Net deur Satan se greep op ons te verbreek. Dit kan net gebeur as iemand die prys vir sonde kan betaal, want sonde gee aan die duiwel sy mag en houvas op ons. Slegs dood kan die dood oorwin. Die persoon wat dit doen, moet drie eienskappe hê:

  • Moet persoonlik vry wees van die behoefte om vir sy eie sonde te sterf.
  • Moet gewillig wees om te sterf.
  • Moet die vermoë besit om weer sy lewe terug te kry.

Geen mens kan dit regkry nie. Maar nou lees ons: Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword (2:14). So behaal Hy in sy opstanding die oorwinning.

 2.Versoening

Daarom moes hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen (2:17). Verlossing vereis nie net dat ons vyand, die duiwel, oorwin moet word nie, maar die toorn van die heilige God moet ook verwyder word. Versoening moet vir die sondes van die mense gemaak word. Jesus Christus bewerk die reiniging van sondes (1:3). Jesus offer Homself as versoening.

 3.Vertroosting

Ons word vertroos deur God se menswording. Jesus het in elke opsig aan ons gelyk geword (2:17). Hy was wel sonder sonde.

  • Die feit dat Hy wel sonder sonde was, het Hom nie teen die versoekings van die sonde gevrywaar nie – ook nie die gevolge van die sonde nie – sy kruisdood.
  • Slegs ‘n Verlosser sonder sonde kan vir ons sondes sterf.

 

Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie (2:11). Daaroor moet ons ons verheug. Jesus se menswording is ‘n keerpunt in die geskiedenis van die mens.

 

 

 




Die geloofsgemeenskap is belangrik

The weakness of man sets the stage for the display of God’s strength. —Janice Wise

 

Die geloofsgemeenskap is belangrik

Jean Vanier (Community and Growth) was die stigter van die L’Arche gemeenskap. In hierdie gemeenskap het mense wat fisies en/of geestelik gestrem was saam met mense sonder gestremdhede gewoon. Henri Nouwen, bekende teoloog en akademikus, het by hierdie gemeenskap aangesluit.

 

 Vanier skryf in sy boek onder andere waarom gemeenskap so moeilik, maar tog baie belangrik, is. Sy insigte is ook van toepassing op geloofsgemeenskappe. As jy hierdie lees, dink aan jou eie gemeente.

 

Die gemeenskap is die plek waar ons beperkings, ons vrese en ons egotisme geopenbaar word. Ons ontdek ons armoede en ons jaloesie, ons onvermoë om met sekere mense oor die weg te kom, ons verstands- en emosionele hindernisse, ons oënskynlike onbevredigbare begeertes, ons frustrasies en jaloesie, ons haat en ons begeerte om te vernietig. As ons alleen is, kan ons ons verbeel dat ons almal liefhet. As ons met ander is, saam met hulle leef, besef ons ons onvermoë om lief te hê, hoeveel ons ander ontsê, hoe geslote ons in onsself  is.

 

Is hier nie heelwat waarheid in hierdie gedeelte nie?

 

 




Die kerk (4)

How richly does he supply us with the means of contemplating his mercy when, as frequently happens, he continues to visit miserable sinners with unwearied kindness – Calvyn

 

Die kerk (4)

Ons het na tweede beelde van die kerk gekyk: die kerk as huisgesin van God en die kerk as liggaam van God. Ons kom nou by die derde beeld.

 

Beeld#3: Die kudde van God

 Hierdie beeld van die Herder en sy kudde is aan ons goed bekend. Ons kry hierdie beeld in verskeie boeke van die Bybel. Waarskynlik die mooiste beskrywing kry ons in Johannes 10. Jesus is die Herder van die kerk.

Hy is ‘n opregte Herder: Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir sy skape.  Jesus is die hekwagter: niemand kom in die kraal as die hekwagter nie die hek oopmaak nie. Die enigste veiligheid vir die kudde is in Jesus Christus.

 

‘n Belangrike beeld vir kerke vandag is die herder wat sy verlore skape soek. Ons is meer gemaklik om om te sien na die skape in die kraal en doen niks aan dié buite die kraal nie. Christus se voorbeeld dring ons om uit te gaan en verlore skape te soek. Dit is nie maklik om hierdie verlore skape in die midde van die gemeente te ontvang nie. Ons vreugde moet wees as ons een wat afgedwaal het weer vind.

 

Natuurlik moet ‘n herder sy kudde versorg. In Psalm 23 lees ons van skape wat rus in groen weivelde en gebring word na waters waar rus is. In Johannes 10 sê die skrywer dat die skape die herder se stem ken en daarom volg hulle hom. Die kudde kan onderskei.

 

Volgende keer kyk ons na die laaste beeld: Die kerk is die bruid van Christus.