Bekende Bybelfigure Twyfel

 “The more fascinated we become with the toys of this world the more we forget that there’s another world to come.” AW Tozer              

 

Bekende Bybelfigure Twyfel

Het jy al ooit oor jou geloof getwyfel? Op een of ander stadium twyfel almal in God, die Bybel en kernelemente van ons geloof. Twyfel is deel van die menslike toestand. In die Bybel lees ons van baie mense wat getwyfel het – sommige van hulle groot geloofshelde.

Hier is drie voorbeelde. Let veral op God se reaksie op hulle twyfel.

 1.Tomas het oor die opstanding getwyfel

Tomas was een van Jesus se dissipels. Hy het waarskynlik ‘n paar jaar saam met Jesus gereis en alles gesien wat Hy gedoen en gesê het. Toe sy mededissipels vir hom vertel het dat hulle Jesus gesien het, antwoord hy: As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vingers in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie. (Johannes 20).

 

Agt dae later was die dissipels weer bymekaar – Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus by hulle kom staan. Hy nooi Tomas uit om self na sy hande en sy te kom kyk. Tomas antwoord: My Here en my God. Toe antwoord Jesus hom: Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.

 2.Gideon probeer God se roeping ontwyk

Kan God ‘n mens gebruik om Israel se vyande te verdryf? Natuurlik, maar Gideon het nie geglo dat God hom kan gebruik nie. God moes eers wondertekens doen om Gideon te oortuig dat God juis vir hom gekies het. God doen die eerste wonderteken. Wat is Gideon se reaksie? Moet asseblief nie vir my kwaad word nie! Ek wil nog ‘n keer iets vra – nog ‘n wonderteken. God doen weer wat Gideon vra. (Rigters 6 – 7).

 3.Sara en Abraham lag vir God se belofte

God sê vir Abraham dat Hy vir Abraham ‘n seun uit Sara sal gee. Wat was Abraham se reaksie? Toe het Abraham op sy knieë geval en hy het gelag en gedink: kan daar vir ‘n man van honderd ‘n kind gebore word, of kan Sara wat negentig is, ‘n kind in die wêreld bring? Toe drie besoekers hierdie boodskap – volgende jaar sal Sara ‘n seun hê – aan Abraham bevestig, staan Sara by die tentopening en hoor alles. Hoe reageer sy? Sy lag by haarself. God wil by Abraham weet waarom Sara gelag het. Sara skrik en sê: Ek het nie gelag nie … Maar die Here het gesê: Nee, jy het gelag. (Genesis 17 en 18).

 

Hierdie oomblikke van twyfel lei gewoonlik tot ‘n verdieping van persone se geloof. In elke geval reageer God nie met toorn nie, maar met geduld. God straf nie sy volgelinge wat twyfel nie, maar eer diegene wat Hom nader met ernstige vrae en twyfel. Miskien moet ons soos die pa van die seun wat Jesus genees het, uitroep: Ek glo … Help my in my ongeloof (Markus 9:24)

 

 




Bemoediging as Christen

 “Theology is about life. It’s not a conversation our souls can afford to avoid.”   — Kelly Kapic

 

Bemoediging as Christen

Almal van ons voel op een of ander stadium mismoedig – jammer vir onsself. Dan het ons bemoediging nodig. Bemoediging beteken dat ek sterkte/moed in iemand se lewe inpraat. Dit is waarskynlik een van die geestelike gawes wat die minste aandag kry.

  

Ons moet die ware bemoediger onderskei van die aanhanger van positiewe denke. Hoekom is bemoedigers so skaars?  Omdat ons die sterkpunte van ander aanvaar, maar hulle swakpunte raaksien. Ons sê selfs dat deur hulle swakpunte vir hulle uit te wys ons besig is om hulle te help. Ons gaan selfs verder: ons wys nie hulle sterkpunte uit nie, want ons wil hulle teen trots beskerm. So ‘n houding beteken dat ons nie bewus is van hoe God werk nie. Moet ons nie ons benadering verander nie – hulle swakpunte aanvaar en hulle sterkpunte vir hulle uitwys nie?

 

Martin Luther het gesê dat God die werklikheid met woorde herdefinieer het. God het die chaos raakgesien en met woorde skep Hy die heelal. God kyk na die chaos van ons sondes en verklaar ons vrygekoop deur sy Seun. As God ons verlore verklaar het, sou Hy die waarheid gepraat het, maar Hy praat ‘n nog groter waarheid: deur sy woorde herskep Hy ons.

 

Ander mag vir ons sê dat ons mislukkings, idiote, onbevoeg, pateties, ens is. Dit laat ons aan onsself twyfel. Maar: God praat harder en sy woorde is kragtiger. Sy woorde is al wat tel. Daarom moet ons gereeld die Bybel lees; daarom moet ons die eredienste bywoon; daarom het ons genadewoorde van ons medebroers nodig.

 

Natuurlik kan ons dit misbruik. Ons mag nie verkeerde dinge goed noem nie. Wat ons moet doen, is om God se werking in iemand se lewe raak te sien en hulle help om dit te glo.

 




Die pottebakker

 “In Scripture there are no throwaway lines.” C.J Mahaney

 

Die pottebakker

In Jeremia 18 lees ons van die pottebakker. Ons het hier weer met ‘n simboliese handeling te make. Die vraag waaroor dit hier gaan is dié van 17:15: Waar is die Woord van die Here? Waar bly die oordele dan wat Jeremia so kwistig uitspreek? Die antwoord speel voor Jeremia se oë af op die pottebakker se skyf. Hier kry Jeremia ‘n illustrasie van hoe God met sy volk werk.

  

Hierdie gedeelte val uiteen in drie dele:

(i)‘n Beskrywing van die aktiwiteite van die pottebakker (vs 1 – 4).

Die pottebakker se toerusting bestaan uit ‘n skyf wat vinnig draai. Hy sit die klei op die skyf en vorm dan die voorwerp wat hy wil maak. Die pottebakker maak daarvan ‘n voorwerp, maar dit is nie na sy sin nie. Hy druk die ding weer inmekaar tot ‘n klomp klei en begin van voor af iets anders maak. Hierdie handeling het ‘n dubbele betekenis wat nou verder verduidelik gaan word.

 (ii)‘n Godswoord sluit daarby aan (vs 5 – 10).

Die volk reken dat, as die profeet ‘n oordeel van God aankondig, dit eenvoudig dadelik moet gebeur. Maar op die pottebakker se skyf sien die profeet iets anders. As die voorwerp op die skyf word wat dit behoort te wees, al is die aanvanklike vorm daarvan effens skeef en al lyk dit krom, word dit nie stukkend gebreek nie. Solank die kunstenaar nog besig is om te boetseer aan sy voorwerp en die klei die vorm aanneem wat hy daaraan wil gee, is die kunstenaar geduldig. Hy kon miskien al oorweeg het om die voorwerp te breek en van voor af te begin, maar hy werk nog steeds geduldig daaraan. God kon miskien al oorweeg het om Israel – sy klei op die wiel waarmee Hy iets wou maak – te vernietig. Tog stuur Hy nog eers sy profeet – die hande waarmee Hy boetseer – om aan hulle te druk en te skaaf. As hulle hulle wou laat vorm, sou God, ten spyte van sy besluit om hulle te vernietig, dit nie doen nie.

 

Maar die profeet sien ook op die pottebakkerskyf dat die kunstenaar, as die klei nie meer gevorm kan word nie, die halfvoltooide werk stukkend maak. Dan begin hy weer voor. Dus: selfs al meen Israel dat hulle die volk van God is, dat God met hulle tevrede is, kan God nog altyd besluit dat hulle soos harde klei is wat nie meer gevorm kan word nie. Dan sal Hy hulle in ‘n homp klei verander, weer water byvoeg en van voor af begin. Die keuse of daar voortgegaan en of daar opnuut begin moet word, lê nie by die klei nie, maar by die Pottebakker. Uit hierdie beeld leer Jeremia dat God lankmoedig is – soos die pottebakker bly Hy met sy volk besig. Maar die volk moet nie sy geduld sien as ‘n onvermoë om te straf nie.

 (iii)‘n Interpretasie van die geheel (vs 11 – 12).

Juda loop gevaar dat die Pottebakker hulle as die halfgevormde voorwerp op die wiel, inmekaar kan druk. Die daad van inmekaardruk, word voorafgegaan deur die voorneme van die Pottebakker – en God is al besig om daardie besluit te neem. Hy kan nou enige oomblik daaraan uitvoering gee. Tog is daar nog tyd, want die Pottebakker vernietig nie vir sy plesier nie. Hy sou graag wou sien dat die eerste voorwerp iets moois is. Wat hier belangrik is, is die tweede saak wat Jeremia hier op die skyf sien gebeur: die pottebakker gooi die klei op die skyf nie weg nie. Hy gebruik dieselfde klei van die vorige voorwerp. Hy druk weliswaar die eerste voorwerp inmekaar, maar dan vorm hy ‘n nuwe uit dieselfde klei. Dus: God se oordeel oor Juda is nie om te vernietig nie, maar om te herstel. Daar is selfs in die Godsoordeel nog hoop: na die vernedering van Juda kan daar weer iets nuuts gemaak word uit dieselfde klei. Beskou ek myself as ‘n mislukking? Watter troos is nie daarin geleë dat God dieselfde klei oor en oor kan vorm nie. Slegs my hardkoppige eiewilligheid verhinder God om sukses met my lewe te behaal.

 

Hier gaan dit nie so seer oor God wat ‘n tweede kans bied nie, maar dat God in beheer is – Hy besluit as dinge nie volgens plan verloop nie. Op enige gegewe oomblik kan Hy besluit wat Hy wil doen. Profetiese aankondigings is voorwaardelik. God tree nie sommer arbitrêr op nie – berou maak ‘n verskil. Die vraag is of ek pottebakkersklei in sy hande wil wees of nie. God kan van my lewe ‘n sukses maak tot sy eer. Vir Hom is dit nooit te laat om oor te begin nie – ek moet net gewillig wees onder sy hand.

 

 

 




Twee soorte mense

What is to give light must endure burning. -Viktor Frankl

 

Twee soorte mense

In die Bybel word twee soorte mense dikwels teenoor mekaar gestel. In Psalm 1 word die regverdiges teenoor die goddeloses gestel. In Matteus 7:13 – 14 lees ons van die twee paaie – een lei na die nou poort en een na die breë poort. Nog ‘n voorbeeld is die twee soorte mense van Jeremia 17:5 – 10.

  

Twee soorte mense word teenoor mekaar gestel en met mekaar vergelyk: die kaal bossie in droë wêreld (vs 5 – 6) teenoor die immergroen struik (vs 7 – 8). Die kaalgestroopte bossie is die beeld van die mens wie se “wortels” in menslike mag rondsoek na lewensvog en voedsel. Dit is die mens wat sy vertroue in mense stel, wat sy krag soek by sterflike mense en van My af wegdraai. Die immergroen plant, daarenteen, steek sy “wortels” uit na die lopende water – na God self – en kry daar voortdurend nuwe krag. Dit is die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ‘n veilige vesting is.

 Mense moenie vertrou op die leiding van ander mense nie – selfs nie op ‘n koning of op militêre mag nie. Die vooruitsigte vir nasies of individue wat op menslike krag staatmaak, is die dood en afsondering.  In skerp teenstelling hiermee is die mense wat op God vertrou – hulle is geseën en bemagtig.

Watter soort mense is ons – ‘n kaal bossie of ‘n boom wat altyd groen blare het? Wat bepaal dit? Op wie ek my vertroue stel – sterflike mense of God.