Trek nederigheid aan

We do not err because truth is difficult to see. It is visible at a glance. We err because this is more comfortable. -Alexander Solzhenitsyn

 

Nederigheid

Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (1 Petrus 5:5).         

Hierteenoor Mohammed Ali: “Dit is moeilik om nederig te wees as jy so groot soos ek is.”

Baie van ons dink nogal soos Mohammed Ali – ons is net nie so dom om dit te sê nie! As ons nie dink ons is groot nie, is ons terneergedruk, want ons dink ons behoort groot te wees.

   

 Nederigheid is nie ‘n normale eienskap van mense nie. Dit is eers as Jesus ons red en ons met die Heilige Gees gevul word, dat ons verander. Dit gebeur nie outomaties nie – ons moet werk daaraan. Dit vereis ‘n poging van ons kant. Die New King James Version sê: be clothed with humility – ons moet nederigheid aantrek. Dit is nie maklik nie.

 

Hoe kan ons nederigheid aantrek? Hier is ‘n paar voorstelle:

  • Luister na ander

Terwyl jy luister, moet jy nie dink oor jou antwoord nie; moenie onderbreek nie: Maar dit … maar dat … Dit is ‘n duidelike bewys dat jy nie luister nie.

 

  • Wees leerbaar

‘n Duidelike teken dat jy nie leerbaar is nie, is as jy nie kan wag dat mense ophou om vir jou iets te sê nie. Ek weet dit … ek weet vooraf alles wat jy gaan sê. So iemand gaan nie leer nie.

 

  • Moenie ander vir jou sondes blameer nie

Die ou storie: Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang. Onskuldig. Ons is verantwoordelik vir die keuses wat ons maak. Moenie ander blameer as jy verkeerde keuses maak nie.

 

  • Moenie so seker wees dat jy altyd reg is nie

Daar is regtig mense in hierdie wêreld wat meer as jy weet – moeilik om te glo.

 

  • Stel in ander mense belang

‘n Nederige persoon probeer ander betrek deur vrae oor hulleself te vra. Nederige mense stel in ander mense belang.

 

  • Vra opreg om verskoning

 Dit is meer as om net te sê jy is jammer. Vergewe my asseblief.

 

  • Bid oor jou gebiede van swakheid en versoeking

 Noem dit by die naam. Moenie sommer so in die algemeen bid nie. Bid dat God jou sal help om jou humeur te beheer, ens. Vra ook ander om vir jou te bid. Hiermee erken jy dat jy swak is.

 

Trek nederigheid aan. Dit is God se opdrag. Nog ‘n rede om dit te doen: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.




God en politiek

Believing is a matter of the will. A man does not believe without being willing to believe. — C.H. Spurgeon

 

God en politiek

Dit is verkiesingstyd in die VSA. Soos in Suid-Afrika, probeer die politieke partye mense oortuig dat God aan hulle kant is.  Nou lees ons gereeld:Jesus is neither a Democrat nor a Republican.” Michael Krueger het gaan kyk wat dit beteken. Hy kom met ‘n paar voorstelle na vore.

 

  • Dit mag beteken dat die Bybel nie oor politiek praat nie

Die Bybel stel net belang in teologiese sake en ons mag dit nie gebruik om te bepaal watter politieke siening reg is nie. Die Bybel sê nie vir wie ons moet stem nie; die Bybel sê nie vir ons dat ons vir die politieke party wat dit en dat doen, moet stem nie. Dit beteken nie dat die Bybel geen beginsels en riglyne gee nie. Die Bybel praat tog nie net oor godsdienstige sake en glad nie oor sekulêre sake nie. Om die waarheid te sê, erken die Bybel nie hierdie godsdiens-sekulêre skeiding nie – die hele wêreld is God s’n. Feitlik elke politieke saak het ‘n etiese dimensie en die Bybel praat beslis oor etiek.

  • Dit mag beteken dat geen politieke party voldoen aan wat die Bybel leer nie

Geen menslike instelling is tog volmaak nie. Maar al het alle politieke foute, bly die vraag steeds: Watter party kom die naaste aan die Bybelse beginsels en etiek? Die Christen gaan immers stem. Is dit dan nie belangrik vir wie ons stem nie? Maar as partye oor feitlik alles verskil, is dit tog nie moontlik dat hulle ewe sleg is nie.

  •  Dit mag beteken dat daar goeie Christene in alle politieke partye is

Daarom is daar geen regte of verkeerde manier om te stem nie. Beteken dit dan dat die Bybel  die sienings van die verskillende partye as ewe reg en verkeerd sien? Daar is immers goeie Christene wat aan verskillende denominasies behoort. As daar Christene in ‘n ander party is as die een waarvoor ons stem, moet ons liefde en respek aan hulle betoon – hulle is immers ons broers en susters in Christus.

  •  Dit mag beteken dat Jesus nooit ‘n lid van ‘n politieke party was nie

Geen politieke party kan as God se party gesien word nie. Natuurlik kom staan God nie aan die kant van ‘n spesifieke mensgemaakte politieke party nie – Hy keur nie alles van daardie party goed nie. Beteken dit nou dat dit nie saak maak vir wie ons stem nie?

 

Waar staan ons nou? Al vier die opsies probeer ‘n weg vind om politiek vir Christene ‘n neutrale saak te maak. Of dit nou is dat die Bybel nie politiek hanteer nie of dat alle partye nie volmaak is nie of dat goeie Christene verskil of dat God nie kant kies nie – politiek is ‘n neutrale saak. Daarom maak dit nie saak vir wie Christene stem nie.

 

Dit is nie ‘n Christelike benadering nie. Wat ons hiermee sê, is dat daar ‘n plek op aarde is wat buite God se heerskappy val. Abraham Kuyper het gesê: “There is not a square inch in the whole domain of our human existence over which Christ, who is Sovereign over all, does not cry: ‘Mine!’” ‘n Mens wonder wat sou Dietrich Bonhoeffer hieroor gesê het. Sou hy byvoorbeeld geglo het dat ‘n Christen nie vir Hitler en sy politieke party mag teengestaan het nie?

 

Wat ons moet doen as Christene is om aan mense te sê dat hulle die Bybel moet aanwend om politieke sake te beoordeel – net soos ons dit op ander lewensterreine doen. Sal dit nie goed wees as ons ‘n slag ernstig debatteer oor wat die Bybel sê nie? Ons fokus is dan op die regte plek: Wat sê die Bybel?

 

Hierdie artikel het my laat dink. Kan Christene neutraal staan in die politiek? Watter maatstaf gebruik ons as ons politieke partye meet?

 




Evangelisasie en Dissipelskap

Oh, how precious is time, and how it pains me to see it slide away, while I do so little to any good purpose. —David Brainerd

 

Evangelisasie en Dissipelskap

Vir geslagte lank stry Christene oor die vraag: Wat is die belangrikste: om die evangelie te verkondig of om dissipels te maak? Hierdie vraag is net so onsinnig as om te stry oor watter kant van die muntstuk die belangrikste is. Jesus se Groot Opdrag aan sy dissipels (Matteus 28:19 – 20) kan slegs uitgevoer word as beide evangelisasie en dissipelskap uitgevoer word.

 

 Jesus het gepreek vir diegene wat nie bekeer was nie: Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” (Matteus 4:17). Die Seun het immers gekom om te soek en te red wat verlore is (Lukas 19:10).

 

Maar Jesus het ook gekom om dissipels te maak – om gelowiges te ontwikkel. Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak (Matteus 4:19).

 

Jesus het geëvangeliseer en dissipels gemaak. Vir Jesus was dit twee kante van dieselfde muntstuk. Maar wat was Jesus se muntstuk? God se koninkryk.  Jesus gaan in die hele Galilea rond en leer mense in hulle sinagoges. Wat leer Hy hulle? Die evangelie van die koninkryk (Matteus 4:23). Sy visie was die uitbreiding van God se koninkryk: Laat u koninkryk kom (Matteus 6:10).

 

Wat beteken alles? Vir diegene wat verlore was, beteken God se koninkryk evangelisasie; vir sy volgelinge beteken dit dissipelskap.

 




Psalm 119:38

A hungry man is not a free man – Adlai Stevenson, staatsman (1900-1965)

 

Psalm 119:38

Vervul ook aan my die belofte wat U gegee het aan dié wat U dien (NAV)

Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees (OAV).

Maak dit wat U in die Bybel aan u kinders beloof waar in my lewe (Die Boodskap).

 

 

Die psalmis vra hier dat God sy belofte (vermoedelik aan die psalmis) moet vervul. Twyfel die psalmis hier? As God sy belofte gemaak het, hoekom moet die psalmis Hom nog vra om dit te vervul? Is God se  belofte nie voldoende nie?

 

Die Bybel is nie hiermee ongemaklik nie. Ander gelowiges in die Bybel het soortgelyke bevestigings gevra. Luister na Dawid: En nou, Here God, bevestig tog vir altyd wat U oor u dienaar en sy nageslag gesê het. Doen tog soos U belowe het (2 Samuel 7:25). Of Dawid die skrywer van Psalm 119 is, is onseker. Wat wel waar is, is dat ‘n gelowige bevestiging van God soek. Die Bybel het geen probleem daarmee nie. Toe hy nog kinderloos was, het Abraham bevestiging van die belofte van ‘n nageslag gesoek. God bevestig sy belofte met visuele herinneringe van stof, sand en sterre (Genesis 13:16; 15:5; 22:17).

 

Maar selfs te midde van wat vir ons soos twyfel lyk, bly die psalmis aan God verbind – hy nader God direk om bevestiging te kry. Hy ken ook sy plek relatief tot dié van God. Hy noem homself dienaar/kneg.

 

Here, terwyl ons wag dat U u beloftes vervul, gee aan ons geduld, geloof en bevestiging. Amen.