B1 Binne: Pilatus praat met Jesus oor mag/gesag (19:9-11)

image_pdfimage_print

B1 Binne: Pilatus praat met Jesus oor mag/gesag (19:9-11) – Francois Malan

19:9 Pilatus se angs spreek uit sy vraag waar Jesus vandaan kom – uit die hemel of van die aarde? Die vraag is telkens deur mense gevra in hierdie Evangelie (7:27-29; 8:14;9:29-30). Is Jesus mens of god? As Hy werklik ‘n god is, vrees Pilatus vir die straf van die gode op hom. Jesus swyg egter soos die skaap van Jes.53:7 wat stil is voor sy skeerders. Hy het reeds by die eerste verhoor gesê dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie (18:36). Daarop het Pilatus skepties gereageer toe Jesus gesê het Hy het gekom om van die waarheid te getuig. Hoe sal Pilatus nou kan verstaan dat Jesus die ware God is? Slegs geloof kan die misterie van Jesus verstaan. (Openb.19:11-13).

19:10 Pilatus se vrees verander in wrewel oor die man wat hom nie antwoord of self verdedig nie, en sê: ‘Praat jy nie met mý nie? Weet jy nie: ék het die gesag om jou los te laat, en ék het die gesag om jou te kruisig?’ Dié gesag het Pilatus ontvang van die hoogste gesag op aarde wat hom aangestel het, die keiser van die magtigste ryk op aarde, die imperium Romanum. Daarme erken hy dat die beslissing by hom lê. Sy poging om die beslissing aan die Jode oor te dra (19:6) is ‘n lafhartige ontvlugting van sy verantwoordelikheid (19:6).

 

19:11 Jesus is egter bewus van die oneindig groter gesag as Rome, naamlik die Almagtige God, wat vir Hom in Pilatus se hande geplaas het. Jesus weet sy uur het gekom en weet wat dit behels, maar Pilatus word daardeur gedwing om te besin oor sy eie posisie en verantwoordelikheid voor dié gesag wat hy van Bo gegee is. Pilatus dra die skuld oor sy onregverdige optrede, deur iemand wat hy onskuldig bevind het, aan die haat van sy aanklaers uit te lewer. Maar iemand dra groter skuld as hy: die hoëpriester as verteenwoordiger van die volk van God wat Jesus ‘uitgelewer het’ (18:30) aan die goewerneur as die verteenwoordiger van die Romeinse gesag. Kajafas weet wat die Skrifte oor die Messias sê, is ingelig oor Jesus se leer en lewe, maar weier om Hom as God se gesalfde Verlosser te erken (11:49-53; vgl. Mark.14:61-64)  – sy eie mense het Hom nie aangeneem nie (Joh.1:11). 

   

                                    A1  Die Jode verkry die doodstraf vir Jesus (19:12-16)

 

19:12 Pilatus is duidelik diep getref deur Jesus se woorde en probeer nogmaals om Hom los te laat, moontlik deur amnestie aan Hom te gee. Maar die Jode speel hulle troefkaart: ‘Vriend van die Keiser’ (amicus Caesaris) ‘n gesogte titel in Rome wat deur die keiser aan senators en enkele vriende toegeken het. Pilatus het waarskynlik die titel gekry deur keiser Tiberius se regterhand in Rome, Sejanus. Maar as Pilatus vir Jesus loslaat, is hy ‘n vyand van die keiser, ‘n baie gevaarlike posisie vir Pilatus, want die gehate keiser Tiberius was berug agterdogtig teen enigeen wat sy posisie bedreig het, en het wreed gereageer teen verdagtes [Toe ‘n verklikker (delator) vir Tiberius vertel van Sejanus se komplot  teen sy lewe, is Sejanus van hoogverraad (majestas) aangekla en dieselfde dag in die tronk verwurg]. Om ‘n rewolusionêre koning in oproerige Palestina te ondersteun was baie gevaarlik. Pilatus is in ‘n lokval gevang wat hy self gestel het toe hy die Jode wou plesier (18:39).  En die ironie is dat die hoogste Romeinse amptenaar in Palestina beskuldig word van gebrek aan lojaliteit aan die keiser deur die verteenwoordigers van ‘n volk wat die Romeinse juk meer haat as byna enige ander volk in die Romeinse ryk: ‘Elkeen wat homself koning maak/optree, is in verset teen (letterlik: praat teen, opponeer) die keiser.’ Die Jode laat vaar hulle eintlike klag dat Jesus God laster, en keer terug na hulle eerste aanklag  dat Hy voorgee om die Messias te wees. Pilatus weet die klag is vals, maar sy eie veiligheid is vir hom belangriker. 

 

19:13 Pilatus kapituleer, maar hy het sy eie manier om hom te wreek op die Jode wat hom verneder het. Hy laat haal Jesus en hy gaan sit op die regbank (bema;vgl die regterstoel van God, Rom.14:10, van Christus 2 Kor.5:10) ‘n platform vanwaar hy oor die mense kyk en sy openbare verklarings maak. Die oordeel oor Jesus word in die openbaar aangekondig. Dit is op die Klipterras (lithostrootos in Grieks, Gabbata genoem in Aramees) ‘n plaveisel van groot plat klippe rondom die rostrum voor die goewerneur se paleis.

 

19:14 Die Evangelis dui die plek en die tyd van die belangrikste gebeure vir Jode en nie-Jode se verlossing aan: Dit is die voorbereiding vir die Paasfees, wat omtrent die sesde uur (vgl. 4:6 ; ongeveer 11:00-12:00 middag) begin met die slag van die lammers. Die fees vier God se bevryding van Israel uit die Egiptiese slawerny, met die geslagte lam se bloed aan die kosyne, wat die doodsengel by hulle huise laat verbygaan het (‘pass over’; vgl. Eks.12). Met Pilatus se  uitspraak oor Jesus begin die mensdom se bevryding uit die slawerny van sonde deur die Lam van God  wat geslag gaan word.

            Die Jode is seker Pilatus gaan nou die doodsvonnis aankondig. Maar sy uitspraak lui onverwags: ‘Kyk! Julle Koning!’ (Nie: ‘Hy het gesê Hy is ‘n koning nie’). Pilatus se veroordeling word ‘n formele en dramatiese  aankondiging van  Jesus se koningskap.  Pilatus gee sy finale beslissing aan die Jode oor om te kies, hulle finale beslissing vír of téén Jesus. Pilatus stel ‘n ellendige en bebloede koning aan hulle voor as hulle koning, om sy minagting vir die Jode uit te druk. Vir die Evangelis is dit ‘n beskuldiging: Kyk wat het julle aan julle koning gedoen!

 

19:15 Die Jode skreeu hulle afkeur van Jesus woedend uit: ‘Vat weg! Vat weg! Kruisig Hom!’ Pilatus se laaste appèl op die Jode vestig die verantwoordelikheid vir Jesus se dood volledig op hulle: ‘moet ek júlle koning kruisig?’ Die volk se hoëpriesters, wat vir hulle moet intree by God, antwoord finaal: ‘ons het geen koning behalwe die keiser nie.’ Daarmee bevestig hulle nog sterker en duideliker hulle uitspraak in 19:11.  So gooi hulle die onus terug op die verteenwoordiger van die keiser om oor Jesus te besluit, maar dit impliseer verder:  God is nie meer ons koning by wie ons vir die volk intree nie, en ons verwag geen Messias-koning meer volgens die Skrifte nie, buiten die keiser van Rome, wat ons verdruk en nou die plek van God in ons lewe inneem om oor ons lewens te heers. Hulle verwerp die belofte van die koninkryk van God, en gee die volk se verwagting van die Messias-koning prys. Daarmee versaak hulle Israel se roeping om die erfgenaam van die koninkryk en die verkondiger van die Godsryk aan die nasies te wees. Dit is die prysgawe van hulle Messiaanse verwagting en daarmee as volk van God en hulle hoop.

 

19:16a  Pilatus gee Jesus aan die Jode se wens oor, en laat Hom kruisig. So aanvaar die Joodse en die Romeinse wêreld die skuld vir die verwerping en kruisdood van die Seun van God, die Verlosser van die wêreld. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...