Baie Wonings

Baie Wonings – Francois Malan

Jan Smith vra: 

In Johannes 14 sê Jesus dat daar in die huis van Sy Vader baie wonings is en dat Hy gaan om vir hulle plek te berei. As Hy klaar is, sal Hy terugkom en hulle kom haal sodat hulle kan wees waar Hy is. Maar in vers 18 sê Hy: Ek kom weer na julle toe. En dan in vers 23: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak”. Vraag: Hoe gaan Hy weg om vir hulle ‘n plek te berei en dan kom “Ons” Hy en die Vader om by hom wat hulle liefhet woning te maak?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord: 

Jesus was self ontsteld toe Hy die kruispad begin het (Joh 12:27) en aan die verraad van Judas gedink het (Joh 13:21). In die lig van Petrus se verloëning wat Jesus voorspel het (13:36-38), wat gaan van die twaalf word as Jesus aan die kruis hang?  Daarom waarsku Hy hulle vooraf in 14:1 om nie ontsteld te word oor wat nou met Hom gaan gebeur nie, maar om aan te hou om op God te vertrou, en om aan te hou om in Jesus te glo as die Gesalfde/die Christus, die Seun van God en Seun van die mens wat aan die kruis sterf – Abraham se soort geloof word van hulle gevra: wat teen alle hoop in, steeds in hoop geglo het (Romeine 4:18 NAV: toe daar geen hoop meer was nie, het Abrahm nog gehoop en geglo)

Die hoofrede waarom hulle moet bly glo in die gekruisigde Jesus word gegee met die beskrywing van die groot huis van sy Vader, ‘n beeldende beskrywing van die ewigheid saam met God, van die hemel (14:2); die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem (Hebreërs 12:22); die nuwe Jerusalem van Openbaring 21:9-22:5; ons vaste woning deur God gebou wat ewig bly staan as ons aardse tentwoning afgebreek word (2 Korintiërs 5:1). Die ewige woning bestaan reeds, maar Jesus gaan vir sy volgelinge plek berei, om dit vir ons moontlik te maak om daar te gaan bly, deur sy sterwe aan die kruis, waaroor Hy juis in hoofstukke 12-14:1 met sy dissipels gepraat het, en sy opwekking uit die dood, wat voor die deur staan, en sy verhoging aan die regterhand van God, waar Hy nou vir ons pleit (Romeine 8:34).

As Hy weer kom om te oordeel, sal Hy ons saam met Hom neem na sy huis toe, sodat ons saam met Hom sal wees waar Hy is (14:3), in die woning van sy Vader waar daar baie woonplek is. Met die beeld van die woonplek verwys Johannes na die lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word, waarvan 1 Petrus 1:3-4 praat. Openbaring 21:1-8 praat van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Vgl. Matteus 25:31-40 dat Jesus in majesteit sal kom en vir sy skape sal sê: Kom julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit.

Johannes 14:23 beloof dat die Vader en Jesus na dié mens toe sal kom wat vir Jesus liefhet en lewe volgens sy woord (14:15), en hulle sal by hom woon. Die wyse waarop dit gebeur is reeds in 14:16-17 uitgespel. Deur die inwoning van die Heilige Gees in die gelowige, woon die Vader en die Seun in ons. Die Gees van God bly by ons en in ons vir ewig as ons Helper. In 14:26 word verduidelik dat die Vader die Gees in die Naam van Jesus stuur, as Jesus se verteenwoordiger,  om ons alles te leer en te herinner wat Hy vir sy dissipels gesê het, en wat vir ons in die Bybel opgeteken is (so het Jesus ook in die Naam van die Vader gekom as sy verteenwoordiger; 5:43).

In 15:26 sê Jesus: die Gees van die waarheid sal van Hom getuig. Daarvoor gebruik die Gees die dissipels om van Jesus te getuig, en hulle getuienis is in die Bybel opgeneem. Maar word verder gedra deur die lewe en getuienis van elke gelowige volgeling van Jesus. Hy maak ons verstand oop om te verstaan wat Jesus deur sy dissipels aan ons oorgedra het: Jesus se woorde en dade, van sy dood en opstanding, en die betekenis daarvan te begryp.

In 16:7-15 brei Jesus verder uit op die werk waarvoor Hy die Heilige Gees na en in ons stuur: om die wêreld te oortuig van hulle sonde teen God en teen mekaar, van Christus wat die verhouding tussen ons en God kom regmaak het deur sy offer aan die kruis, en van oordeel oor die wat nie in Christus glo nie. Hy skep ook die geloof in ons dat Jesus die Seun van God is wat vir ons gesterf en opgestaan het, en verbind ons aan Hom as ons Verlosser en Leier (Handelinge 5:31-32). Hy maak van ons kinders van God (Romeine 8:9-17).

 

Skrywer: Prof Francois Malan