Bedek onder die bloed van Jesus, en versoekings – Hermie van Zyl

Jacqueline vra:

Ek wil graag uitvind:  As ‘n mens jou bekeer het en jy het die ou
mens gelos en ‘n nuwe mens geword onder die bloed van Jesus – wat gebeur as
daar ‘n versoeking kom? Ek vra namens ‘n vriendin. Sy is getroud, maar die
huwelik is nie regtig so vol liefde nie. Sy het kinders, maar sy sê sy voel
leeg in haar binneste. Een van haar ou mansvriende het weer haar pad gekruis.
Hulle het begin liefdesboodskappies stuur. Hy het haar al twee keer gesien,
maar na drie weke toe praat hy glad nie meer met haar nie. Hy sê hy kry
nagmerries en wil homself hang, en ek weet nie wat nog alles nie. Hy het haar
net begin ignoreer. Wat kan die oorsaak wees? Kan dit die Here wees wat aan hom
die nagmerries gee omdat sy gedek is onder die bloed van Jesus, of is dit die
werk van Satan? Die man wil haar nie antwoord nie; dis net nadat hy ewe skielik
die nagmerries begin kry en hom onttrek het. Sy is baie hartseer en ek weet nie
wat om vir haar te sê nie.

Antwoord:

Prof
Hermie van Zyl antwoord:

Die
kern van ons vraagsteller se vraag is of die gelowige wat bedek is onder die
bloed van Jesus nou gevrywaar is van versoekings en die aanvalle van Satan. Ek
maak graag ‘n paar opmerkings hieroor. Dalk help dit ons vraagsteller om groter
helderheid te kry en so haar vriendin ook te help.

Kom
ons praat eers oor die uitdrukking “bedek onder die bloed van Jesus”.
Dit verwys na tekste soos Handelinge 20:28; Efesiërs 1:7; Hebreërs 9:12,14, 1
Petrus 1:18-19 en Openbaring 1:5. Hierdie tekste sê almal dat ons verlos word
van ‘n sondige leefwyse deur die bloed van Jesus. Maar wat beteken dit? Die
agtergrond hiervan lê in die Ou Testament. Die priesters moes versoening doen by
God vir die sondes van die volk deur ‘n bok of bul te offer in die plek van die
mense. Die opvatting was dat die lewe of siel van die dier in die bloed gesetel
is. As die dier geslag word, dan vloei sy bloed en so gee hy sy lewe of offer
hy sy lewe op. Daar is dan geglo dat die dier se bloed/lewe in die plek van
mense se bloed gevloei het, en so bedek die bloed/lewe van die dier die sonde
van mense. Mense het dus nie nodig om te sterf vir hulle sonde nie omdat die
dier reeds sy lewe gegee het in hulle plek. Maar nou leer die Nuwe Testament ons
dat toe God ‘n nuwe verbond met die mens aangegaan het, Hy het sy Seun – Jesus
Christus – se lewe in ons plek gegee het. Dis nou nie meer diere se bloed nie,
maar die Seun se bloed/lewe wat ons bedek en maak dat ons nie gestraf word deur
God se regmatige toorn oor die sonde nie. Verder, Jesus se dood was ‘n
eenmalige offer, dit hoef nie oor en oor gedoen te word, soos met die
diereoffers in die OT nie. Christus het eens en vir altyd in ons plek gesterf
(Heb 9:12). Al wat ons moet doen, is om dit in die geloof te aanvaar en dan te
lééf as verloste mense. Dis wat 1 Pet 1:18-19 bedoel as dit sê dat ons
losgekoop is, dit wil sê, gered is deur die kosbare bloed van Christus van ons
vroeëre sinlose bestaan. Nou kan ons as nuwe mense leef, verlos van ‘n sinlose
lewe, en vir God en ons naaste leef.

“Bedek
onder die bloed van Jesus” is dus nie iets magies of toweragtig wat oor
ons spoel en ons onaangeraak laat nie. Dis eintlik net ‘n manier van sê dat ons
glo dat Jesus in ons plek vir ons sonde gesterf het, en dat ons nou bevry is
van ‘n ou, sondige leefwyse, en dat ons deur die Heilige Gees die hartlike
begeerte het om na al God se gebooie te lewe. Want ons wil graag uit
dankbaarheid vir ons verlossing nou die bewys lewer dat ons aan Hom behoort,
dat ons deel van sy familie op aarde is, en dat ons nou ‘n nuwe leefstyl het.
En dit bring ons by die tweede belangrike saak wat ons vraagsteller aanroer:
Wat van versoekings? Is ons wat “bedek is onder die bloed van
Christus” nou gevrywaar van versoekings? Nee, hieroor is die Bybel baie
duidelik. Die feit dat ons God se kinders is, beteken nie dat versoekings geen
vat meer op ons het nie. Inteendeel, dis nou dat die duiwel alles in sy vermoë doen
om ons weer vir hom terug te wen. Hy loop daarom soos ‘n brullende leeu rond om
te kyk en te soek wie hy kan verslind (1 Pet 5:8). Ons moet daarom nugter,
wakker en standvastig wees (1 Pet 5:8-9), en ons bewapen met die volle
wapenrusting van God, waarvan in Efesiërs 6:10-20 gepraat word. Ons mag nie vir
‘n oomblik laat slap lê nie, want die Bose is listig. Verder, ons eie hart –
hoewel vernuwe deur die Gees van God en hoewel ons bedek is onder die bloed van
Jesus – vat ‘n leeftyd om ingeoefen te raak in ‘n nuwe leefstyl waarvan God
hou. Dit kom nie sommer vanself nie; dit vra inspanning en inoefening. Daarom,
vir seker gaan ons nog struikel, val en oortree, maar nou doen ons dit nie meer
as slawe van die sonde, sonder hoop uitgelewer aan en vasgevang in sy strikke nie,
maar as mense wat leef uit die versoening met God en uit die voortdurende
vergifnis van die Here. Ons is as nuwe mense op weg na ons ewige tuiste wat God
vir ons saam met Jesus aan die voorberei is.

Wat
duidelik is uit bogenoemde is dat niks in die verhouding met God outomaties is
nie. Net omdat jy aan Hom behoort en gedek is onder die bloed van Jesus beteken
nie dat jy outomaties van alle versoekings vrygestel is, dat jy kan doen wat jy
wil net omdat jy deur sy bloed gered is nie. Die verbond wat God met ons
aangaan, het twee kante: God se kant, en ons kant. So was dit reeds onder die
ou verbond. Die feit dat daar ‘n offerkultus was en Israel bedek was onder die
versoeningsbloed van die offerdiere het nie ingehou dat hulle outomaties
vrywaring teen gevare en versoekings geniet het nie. So wys die profete en die
psalmdigters die volk voortdurend daarop dat dit nie help om te sê: “Ons
is veilig! Dit is die Here se tempel …” (Jer 7:4) nie. Hulle moet ook
dóén wat die Here se wil is (Jer 7:22-23; Ps 40:7-9; 50:13-14; 51:18-19). Hy
vra nie méér offers en rituele nie; Hy vra gehoorsaamheid. En dit is nog meer so
in die Nuwe Testament. Daar was byvoorbeeld gelowiges in Rome wat die standpunt
gehuldig het dat jy eintlik maar die sonde kan opstapel, want dan word God se
genade outomaties net al hoe meer (Rom 6:1). Paulus wys egter daarop dat hierdie
‘n drogredenasie is. Hy beklemtoon dat om te leef onder die genade/bloed van
Jesus juis inhou dat jy ‘n nuwe lewenswyse begin wat pas by jou redding: Jy is
nou dood vir die sonde en het saam met Christus opgestaan tot ‘n nuwe lewe (Rom
6:2-14).

Dit
bring my by die derde saak wat ek as antwoord vir ons vraagsteller wil gee. Wat
haar vriendin doen – om nog bande te probeer hou met ‘n vorige mansvriend – is
duidelik verkeerd. Dis nie die wil van God nie, maar haar eie vorige – sondige
– begeertes wat haar probeer wysmaak dat haar lewe ongelukkig is saam met haar
man en dat dit baie beter saam met haar vorige mansvriend gaan wees. Dis nie
die lewe wat God vir haar kies nie, maar haar eie sondige begeertes wat dit wil
hê. As getroude vrou en ma van kinders moet sy haar toewy aan haar man en
kinders as iemand wat bedek is onder die bloed van Christus en daarom losgekoop
is uit ‘n vorige lewenstyl. Dít is God se wil. Mens kan nie voetjie-voetjie
speel met die Bose nie; jy gaan tweede kom. Die Bose oefen immers nog ‘n groot
suigkrag op ons uit vanweë die feit dat ons steeds brose, sondige mense is.
Maar ons is ook nuwe mense, en as nuwe mense is ons geroepe om die Bose te
beveg en ons toe te wy aan ons nuwe lewe in Christus. En gaandeweg sal ons
ervaar dat dit al hoe makliker word om hierdie pad te loop, want die Gees staan
ons by in ons swakheid. En daarby weet Christus wat ons deurmaak en versterk Hy
ons, want Hy is net so versoek soos ons, maar het nie daarvoor geval nie (Heb
4:15).

En terloops, dis geen wonder dat die vrou se vorige mansvriend nagmerries kry nie. Dis ‘n skuldige gewete wat so maak, want hy weet hy doen verkeerd. Daar is ook niks van waar dat dit God is wat die vriendin beskerm omdat die bloed van Jesus haar bedek nie; dis ‘n totaal verkeerde afleiding oor wat dit beteken om bedek te wees onder die bloed van Jesus. Dis gewoon die man se gewete wat hom aankla, en dis ook reg so. Trouens, die vriendin behoort ook skuldig te voel dat sy ‘n ou vriendskap wil laat herleef. My raad aan ons vraagsteller se vriendin is dus: Los daardie vorige mansvriend; moet jou nie verder oor hom verknies nie, en leef jou nuwe lewe saam met jou man en kinders. Dan sal jou hartseer verander in vreugde.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl