Bemoediging

 

God is never satisfied with anything less than the devotion of ou whole life for the whole duration of our lives –  Sinclair Ferguson

 

Bemoediging

Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm en hom na die apostels toe gebring. Hy het hulle vertel hoe Saulus op die pad die Here gesien het en dat die Here met hom gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het (Handelinge 9:27).

 

Een van die belangrikste funksies van ‘n leier is om die hoop lewend te hou. As ander vasgevang is in wanhoop, sal doeltreffende leiers die duisternis verdryf met positiewe vooruitskouings oor die toekoms. Hulle sal diegene om hulle optimisties maak oor hulleself, oor ander en oor die toekoms van die organisasie. Hulle weet wanneer om langs iemand te kom staan. Hulle weet wanneer ‘n spanlid tereggewys moet word en wanneer hy ‘n skouer om op te huil nodig het.

 

Geen ander Nuwe Testamentiese persoon illustreer die vermoë om te bemoedig beter as Barnabas nie. Sy naam beteken “Seun van bemoediging.” Die dissipels in Jerusalem was bang vir  Saulus As gevolg van sy reputasie van ywer en wreedheid, bevraagteken hulle die geldigheid van sy belydenis van geloof in Jesus. As toegewyde Fariseër het Saulus Christene vervolg.

 

As gevolg van hierdie suspisie lyk dit asof Saulus se bediening sal doodloop nog voordat dit begin het. Dit mag gebeur het as Barnabas nie na vore getree het nie. Hy staan langs Saulus en lei hom na die apostels. Daar getuig hy van Saulus se bekering en bediening daarna. Hy moedig die apostels aan om Saulus se bediening te seën. Hulle reageer gunstig. Barnabas ondersteun Saulus – net wat hy nodig gehad het om sy bediening in alle erns voort te sit.

 

Doeltreffende leiers soos Barnabas bring hoop deur ondersteunende woorde. Wat sou gebeur het as Barnabas net stilgebly het oor Saulus? Sy woorde getuig van liefde en moed.

 

In die lewe kry ons soms slae. Dan het ons gerusstelling van God en ander mense nodig sodat ons die goeie stryd kan stry.

En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade ‘n blywende troos en goeie hoop gegee (2 Tessalonisense 2:16 – 17).