1

Berading – Hermie van Zyl

Fleetwood vra

Wat is die verskil tussen Bybelse berading en Christelike sielkunde? Ek is ‘n student, en moet ‘n taak doen oor die volgende onderwerp: “Gedurende die afgelope paar jaar was daar ‘n sterk invloed wat poog om Bybelse berading te vervang met Christelike sielkunde.” My navorsing moet my tot ‘n gevolgtrekking bring wat die onderwerp betref.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord

Die verhouding tussen Bybel en sekulêre sielkunde was nog altyd ’n sensitiewe een, net soos die breër verhouding tussen geloof en wetenskap, gewoon omdat dikwels vanuit opponerende standpunte geredeneer word. Byvoorbeeld, sommige Bybelberaders is geneig om te sê: die Bybel is die onfeilbare Woord van God; dit verskaf dus geopenbaarde en onfeilbare Godskennis – die ware feite – omtrent die mens; dis kennis wat op geen ander plek beskikbaar is nie, daarom kan die sielkunde ons niks leer van die mens nie. Daarteenoor sê die sekulêre sielkunde: alle teorieë oor hoe die mens se psige funksioneer, ongeag geloofsoortuigings, moet wetenskaplik ondersoek en getoets word, en daaruit moet sielkundiges kies wat deur die meeste wetenskaplikes as werkbare opsies aanvaar word om pasiënte te help met hulle probleme. Verder word behandeling ook deur ’n statutêr-professionele raad beheer, wat ’n beter kontrole oor die behandeling gee as wat die geval is met Bybelse berading. En laastens beweer sielkundiges dat Bybelse berading ’n baie eng en geslote manier is om mense te begelei; dit dra eerder ’n bepaalde godsdiens se idees oor as wat dit regtig begeleiding is wat mense in staat stel om die kompleksiteit van vandag se lewe te hanteer.

Bogenoemde verteenwoordig so min of meer die uiterste standpunte tussen Bybelse berading, enersyds, en sekulêr-sielkundige begeleiding, andersyds. In die verhouding tussen Bybel en sielkunde is genoemde siening egter nie die enigste opsie nie; daar is ’n hele spektrum van moontlikhede. Daar is ook ’n meer gematigde siening wat Bybel en sielkunde nie so absoluut teenoor mekaar stel nie, maar eerder probeer integreer. Na alles is die God van die Skriftuur ook die God van die natuur. Sielkundige kennis behoort dus nie noodwendig anti-godsdienstig of anti-Bybels te wees nie, dit hang alles af wat hierdie insigte is en hoe en deur wie dit hanteer word. Integrering van Bybelse en sielkundige insigte probeer dus die beste uit die twee wêrelde haal en met mekaar laat praat.

Dit wil lyk of ons vraagsteller se vraag in dié rigting beweeg, want hy/sy praat van Bybelse berading in verhouding tot Christelike sielkunde. Streng gesproke is daar egter nie ’n vakgebied soos Christelike sielkunde nie, maar mens sou kon sê dat dit in “Christelike sielkunde” gaan oor algemeen sielkundige insigte wat vrugbaar gemaak word vir die Christelike beradingskonteks. So gesien beweeg ons in die rigting van wat in die algemene omgang bekend staan as pastorale sielkunde. Laasgenoemde is egter nie ’n erkende vakgebied in die tegniese sin van die woord nie; jy kan nie by ’n universiteit spesifiek opgelei word as ’n pastorale sielkundige nie. Pastorale sielkundiges is gewoonlik dominees of pastore wat eers as teoloë opgelei is, maar wat ook in die kliniese sielkunde studeer het tot op meestersgraad-vlak en dan as kliniese sielkundiges registreer by die Suid-Afrikaanse Geneeskundige en Tandheelkundige Raad. Hulle kan dus óf as privaat sielkundiges praktiseer óf by kerke in diens tree as sogenaamde pastorale sielkundiges waar hulle dan poog om sielkunde en teologie met mekaar te integreer. Sielkundige insigte word dan benut in die pastorale begeleiding van lidmate. Die punt is dat in hierdie werkwyse Bybel en sielkunde nie as vyande van mekaar gesien word nie, maar as vennote om die beste diens aan die lidmaat of pasiënt te lewer. Want dit is dikwels so dat kerklidmate met probleme manifesteer wat meer sielkundig as teologies van aard is, en dan is die pastorale sielkundige in ’n besonder gunstige posisie om so iemand te help.

Dit wil egter vir my voorkom of die vraagstelling waarmee ons vraagsteller in die werkopdrag gekonfronteer is nie heeltemal vrede het met hierdie vennootskaplike verhouding tussen Bybel en sielkunde nie, maar dit as ’n bedreiging ervaar dat Bybelse berading vervang sou word met Christelike sielkunde. Indien dit die geval is, is ons weer terug by die aanvanklike siening dat Bybelse berading téénoor sielkunde staan, selfs teenoor “Christelike” sielkunde; hulle is soos olie en water, hulle meng nie. Maar waarom sou Bybelse berading so gesteld wees op sy unieke, onafhanklike posisie? Dis op hierdie punt dat ons kortliks moet aandag gee aan die tipiese uitgangspunte en benadering van Bybelse berading.

Bybelse berading is daarop ingestel om nie die mens in die sentrum te stel nie, maar God en sy Woord, soos dit in die Bybel na vore tree. In die sielkunde gaan dit eerder oor wat vir die méns belangrik is, wat sy belange en welsyn die beste dien – soos ménse dit sien. Hiervolgens is die mens ’n outonome wese wat self oor sy eie heil besluit; net hy weet wat goed en reg is vir hom. En die terapeut is bloot daar om die innerlike genesingskragte van die pasiënt te ontsluit en te mobiliseer. Maar Bybelse berading is gesteld daarop dat ’n Bybelse mensbeeld sentraal staan, soos dat die mens geskape is na die beeld van God, God dus verteenwoordig in al sy doen en late, en in die laaste instansie aan God verantwoording verskuldig is. Verder word gesê dat die mens nie aan die doel beantwoord waarvoor God hom geskape het nie, maar in eiesinnige en selfgerigte gedrag verval het – in Bybelse taal: in sonde geval het. Die mens het dus nood aan verlossing van hierdie destruktiewe selfgerigtheid. En die enigste manier om daarvan verlos te word, is om dit te bely, die vergifnis van God in en deur die offer van Jesus Christus te aanvaar, en deur die Heilige Gees ’n lewe van heiligmaking te lei – tot eer van God, tot genesing van die self en tot seën van die gemeenskap. Bybelse berading vra dus nie na selfverwesenliking nie, maar het op die oog om die lidmaat met bostaande insigte te begelei na ’n lewe wat God kan verheerlik.

Indien mens Bybelse berading soos hierbo definieer, kan daar nie mee fout gevind word nie. Trouens, dit is inderdaad wat die Bybel ons leer omtrent die mens. Maar ongelukkig vind sommige Bybelse beraders ’n absolute teenstelling tussen bogenoemde siening en wat die sielkunde bied, selfs die sogenaamde Christelike sielkunde. Self vind ek egter hierdie absolute teenstelling vreemd. Waarom sou ons op die ander terreine van die lewe met die insigte van die wetenskappe vrede hê – op byvoorbeeld mediese, kosmologiese, ekonomiese, opvoedkundige, tegnologiese en ander gebiede – maar net dié van die sielkunde verwerp as iets uit die bose? Die benadering van die pastorale sielkunde, soos hierbo verduidelik, maak daarom vir my meer sin: om daardie kennis uit die sielkunde wat nie in stryd is met die Bybel nie, te versoen met Bybelse insigte, en so aan die lidmaat ’n kundige en omvattende diens te lewer wat uiteindelik die lidmaat op dieselfde plek uitbring as waar Bybelse berading dit in elk geval wil doen.

Die probleem met Bybelse berading soos dit in sommige kringe bedryf word, is dat dit dikwels gedryf word deur ’n biblisistiese en fundamentalistiese omgang met die Bybel, ’n oppervlakkige kennis van lidmate se situasie en simplistiese probleemoplossing. Vanuit hierdie benadering is daar soms die opvatting dat ’n probleem reggestel kan word deur bloot uit te gaan van die belydenis dat die Skrif genoegsaam is. En dan verval Bybelse berading soms in die bombardering van die lidmaat met Bybeltekste wat dikwels uit konteks aangehaal word en nie die dieperliggende probleme van die lidmaat hanteer nie.

Dit is egter verblydend om te sien dat baie instellings soos Bybelkolleges, teologiese seminaries, Bybelskole en ander soortgelyke opleidingsinstansies deesdae goed begronde kursusse in Bybelse berading aanbied. In sekere gevalle word daar by universiteite akkreditasie vir hierdie kursusse gesoek, sodat studente sertifikate, diplomas en selfs grade kan behaal. Bybelse berading wat so hanteer word, en deur goed opgeleide en kundige beraders bedryf word, het beslis ’n plek in die son. Maar daar behoort nie ’n vete te ontstaan met die sielkunde nie, veral nie met daardie kennis wat nie in stryd is met Bybelse insigte nie. Die punt is: Bybelse berading moet met genoeg onderlegdheid in beide die aard van die Bybel en van die mens se samestelling en gedrag bedryf word sodat die lidmaat nie net na behore begelei word op die pad van geloofsvolwassenheid nie, maar ook na spesialiteite verwys kan word indien patologie vermoed word.

Hierbo is gesê dat indien Bybelse insigte met pastorale sielkunde geïntegreer word, dit ’n baie vrugbare manier van begeleiding van lidmate kan wees. Ons moet onthou, soos reeds genoem, dat pastorale sielkundiges ook kliniese sielkundiges is wat by die Suid-Afrikaanse Geneeskundige en Tandheelkundige Raad geregistreer is en daarom professionele fooie kan hef, wat verhaal kan word van mediese fondse. Daar is egter nóg ’n kategorie berading wat poog om Bybelse insigte en sielkunde te integreer; hulle is nie kliniese sielkundiges nie maar nogtans professionele beraders. In 2017 het daar ’n liggaam tot stand gekom wat hierdie groep beraders organiseer en registreer, die Council for Pastoral and Spiritual Counsellors (CPSC). (Laasgenoemde is die voortsetting van SAAP, die South African Association of Pastoral Work.) Die CPSC word deur die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie Owerheid (SAKO; Eng: SAQA) as professionele raad vir geestelike beraders erken. Beraders wat by die CPSC geregistreer is, se kwalifikasies word ook volgens die Nasionale Kwalifikasie Raamwerk (NKR) beoordeel en in verskillende kategorieë van kompetensie en vaardighede geklassifiseer. Beraders wat by die CPSC geregistreer is, doen berading vanuit ’n Bybels-Christelike standpunt maar paar dit ook met sielkundige insigte. Hierdie beraders is ook geregtig om fooie te hef, hoewel dit nie van mediese fondse verhaal kan word nie. Van die beraders het privaat praktyke, maar baie is in diens van kerke of ander instansies wat hulle besoldig.

Die totstandkoming van die CPSC is ’n verblydende ontwikkeling in die organisering van geestelike beraders, want dit bring orde op ’n terrein waar daar voorheen groot variasie in kundigheid en vaardighede voorgekom het. Hierdie beraders is dikwels predikante en pastore wat nagraadse kwalifikasies in geestelike berading behaal het en daarom beskik oor gespesialiseerde kundigheid en vaardighede in berading. Die punt wat ek wil maak, is nogeens: hierdie is net nog ’n ontwikkeling wat Bybelse en sielkundige insigte nie as vyande sien nie, maar op ’n wyse integreer wat die Christelike geloof en die pastorale begeleiding van gelowiges dien.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl