Betrokkenheid by die kultuur

image_pdfimage_print

 

You may run from sorrow, as we have. Sorrow will find you.” — August Nicholson in The Village

Betrokkenheid by die kultuur

Greg Foster (Joy for the world) skryf oor Christene se betrokkenheid by die wêreld. Party glo dat dit iets is wat Christene moet vermy. In Handelinge 17 lees ons van Paulus se besoek aan Atene, die akademiese sentrum van die Romeinse Ryk van destyds. Hy is ontsteld oor die afgodery wat hy daar sien. Dit beteken nie dat hy sy rug op die stad keer nie. Nee, hy is daar op die markplein waar hy met die verbygangers praat. Destyds was die markplein die plek waar jy al die nuus gehoor het. Dit was ook die finansiële en kunssentrum van die stad. Atene saam met Rome was die kultuursentra van die Romeinse Ryk. Daar is idees gevorm en aanvaar – idees wat ‘n invloed op die res van die samelewing gehad het.

 

Paulus neem die evangelie letterlik na die openbare ruimte. Vir hom verander die evangelie nie net individuele harte nie. Hy glo die evangelie kan die denkende publiek, die kulturele elite betrokke kry en dat dit die dominante kultuur van destyds kan uitdaag. Maar hy sou nie die harte van die kultuurleiers kon aanraak tensy hy ook by die idees van die kultuur betrokke raak nie.

Paulus het nie begin deur op die markplein te preek nie. Nee, hy redeneer elke dag met die verbygangers. Eers later (Handelinge 17:22 – 23) praat hy met die filosowe. Hy haal nie die Skrif aan nie, maar hulle eie denkers. Hy wys vir hulle dat hulle eie sienings onvoldoende is. Christene moet in die openbare plekke ingaan, maar ons moenie net vir hulle preek nie. Ons moet ook nie ons geloof wegsteek nie. Ons moet luister en dan uitdaag – met respek.

Toe Paulus met die filosowe gepraat het, was sy ontvangs maar koel. Party het hom uitgelag. Net ‘n paar mense het gelowig geword. Interessant dat ‘n paar eeue later die “ongelooflike” dinge wat Paulus gesê het, deur die massas aangegryp is.

Het ons Paulus se moed, wysheid, vaardighede en liefde om vandag dieselfde ding te doen, al spot die kultuurleiers van vandag met ons. Die uitdagings is anders, maar ons moet steeds op die markplein kom om met die mense te praat.

 

 

 

image_pdfimage_print