Bevorder die belange van die stad

image_pdfimage_print

 

“Therefore we conclude that all law, divine and human, treating of outward conduct, should not bind any further than love goes. Love is to be the interpreter of law.”  – Martin Luther

 

Bevorder die belange van die stad

Ons hoor dikwels daar word gesê dat ons die welstand van die stad soek. Die probleem is dat dit vir verskillende mense iets verskillends beteken. Wat beteken dit vandag vir ons in die kerk?

 

So sê Ek, die Here die Almagtige, die God van Israel, vir al die ballinge  wat Ek uit Jerusalem in ballingskap na Babel weggevoer het: Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie. Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot my vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange (Jeremia 29:4 – 7). Jeremia skryf hier vir mense wat was waar hulle nie wou gewees het nie. Die profeet het vir hulle gesê dat hulle 70 jaar in Babilon sou bly. Hulle moes leef soos God se geseënde mense; hulle moes selfs God se guns vra vir die land van hulle oorwinnaars.

 

Bevorder die belange van die stad klink goed, maar hoe doen ons dit? Ons moet die gemeenskap ‘n beter plek maak deur goeie burgers te wees en ons moet betrokke wees by die verbetering van die stad. Die idee is waarskynlik as God se mense die behoeftes hanteer deur hulle teenwoordigheid en optredes, sal die inwoners God se hand deur sy mense aan die werk sien. God se mense moenie tevrede wees net met persoonlike seëninge nie, maar moet ook begeer dat God die mense van die kultuur sal seën. Sosiale betrokkenheid en gemeenskapsaktivisme is goeie dinge – dit is deel van ons roeping. Maar hoeveel?

 

Hier moet ons by Jesus se sending aansluit. Het Jesus die belange van die stad bevorder en hoe? In Lukas 4 begin Jesus sy openbare bediening en sê: Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating van gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig … Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul (4:18 – 21).

 

Jesus het baie tyd daaraan spandeer om diegene wat seer het, te dien. As ons by Jesus se sending aansluit, sal ons ook baie tyd aan hierdie mense spandeer. Die wêreld is verward as hulle sien die kerk doen nie veel van wat Jesus gedoen het nie. In Petrus se toespraak by Kornelius sê hy onder andere: Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom (Handelinge 10:38). Jesus het nie net gekom om die gebrokenheid in die wêreld reg te maak nie, maar ook om dit ‘n beter plek te maak om in te leef. Jesus het gekom om te red, maar ook om te dien.

 

As ons die belange van die stad bevorder, moet ons onthou die mense is dood as gevolg van hulle oortredings en sonde. Jesus huil oor Jerusalem, want hulle as soos skape sonder ‘n herder. As ons die belange van die stad wil bevorder, moet ons by Jesus se volle sending aansluit. Ons kan nie net ‘n bordjie kos uitdeel nie, maar ons moet ook aan hulle die Verlosser aanbied.

 

Die idee om in ons gemeenskappe te dien, is niks nuuts nie. Die grootste groei in die antieke kerk was toe plae deur die Romeinse Ryk getrek het. Toe die plae kom, het die heidene uit Rome gevlug. Hulle brand die brûe na hulle stede af. Christene, daarenteen, het agtergebly en die siekes versorg en die dooies begrawe. Julian, die keiser, skryf: ‘These impious Galileans (Christians) not only feed their own, but ours also; welcoming them with their agape, they attract them, as children are attracted with cakes… Whilst the pagan priests neglect the poor, the hated Galileans devote themselves to works of charity, and by a display of false compassion have established and given effect to their pernicious errors. Such practice is common among them, and causes contempt for our gods (Epistle to Pagan High Priests).

Toe die mense die gedrag van die gelowiges sien toe hulle die siekes versorg het, was hulle oop om die goeie nuus van die Verlosser te hoor.

 

Diens wat lei tot verlossing was Jesus se patroon. Ons moet dit navolg as ons die belange van die stad wil bevorder. Toe die Here vir Kain vra waar sy broer is, antwoord hy: Moet ek dan my broer oppas? (Genesis4:9). As gevolg van wat Christus alles vir ons gedoen het en die sending wat Hy aan ons gegee het, moet ons oor die stad waar Hy ons geplaas het, uitkyk en sê: ”Ek is my stad se oppasser.”

 

 

 

image_pdfimage_print