Bloed van Jesus

Bloed van Jesus

Bloed is vir die meeste van ons maar grillerig. Daarom wonder party van ons waarom Jesus dan sy bloed moes gee vir ons sondes. Wel, om dit te verstaan moet ons kyk wat die Bybel presies daarmee bedoel.

Die lewe is in die bloed, het die Bybelse mense gesê, want as iemand baie bloei, gaan die persoon dood… sy lewe loop uit hom uit, om dit nou maar so te stel. Bloed en lewe is sye van dieselfde munt.

ʼn Tweede ding om te weet: mense het destyds ooreenkomste gemaak (verbonde gesluit). So ʼn ooreenkoms het presies beskryf wat elke party in die ooreenkoms moes doen. As God ʼn ooreenkoms met sy volk maak, sê Hy dat Hy vir hulle ʼn God sal wees, maar dan moet hulle vir Hom ʼn volk wees. Hy gee vir hulle sy Tien Gebooie (sy Verbondswet) sodat hulle presies weet hoe om die ooreenkoms na te kom. MAAR, wat as hulle nie luister nie, of die ooreenkoms breek? Wel, dan moet hulle gestraf word, lui die ooreenkoms. (Dit is nie so vreemde gedagte nie, want as ons vandag nog ʼn ooreenkoms maak, staan daar gewoonlik in die ooreenkoms wat gebeur as ons nie ons deel nakom nie. Dan word ons gestraf met ʼn boete of so iets. Dit is hoe ooreenkomste werk). In die ooreenkoms tussen God en sy volk is die strafklousule dat as die volk hulle rug op God draai, het God die reg om hulle dood te maak. Hulle bloed mag maar vloei, om dit so te stel.

Die derde ding om te weet is dat God wel iets soos “in die plek van” ken en toelaat. Diere se bloed/lewe het byvoorbeeld “in die plek van” mense gevloei. So is die bepalings van die ooreenkoms op ʼn manier nagekom. Nie mense het hulle lewens verloor nie, maar diere is in hulle plek geoffer.

Wel, ons leef natuurlik nie altyd soos God wil nie en daarom moes die dood ook maar vir ons wag. En dit is waar Jesus se bloed inkom: aan die kruis het daar bloed gevloei… ja, die lewe het uit Jesus verdwyn; daar was dood. Dit gebeur in ons plek. Jesus gee dus sy lewe om so die bepalings van die ooreenkoms na te kom. Daarom kan ons leef.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy