Bly Positief

 

Childlike confidence makes us pray as none else can. It makes a man pray for great things, which he would never have asked for if he had not learned this confidence – Charles Spurgeon

 

Bly Positief

Craig Groeschel sê dat daar baie goeie redes vir Christene is om optimisties te wees. Daar is vandag ‘n epidemie van negatiwiteit – ook hier in Suid-Afrika. Daar is mense wat van nature meer optimisties as ander is. Natuurlik is daar dinge wat skeef loop, maar daar is ook baie om oor optimisties te wees. Jy sal altyd kry waarna jy soek: Wie die goeie nastreef, kan goedkeuring verwag; wie op die kwaad uit is, kry dit (Spreuke 11:27).

 

Hoekom kan ons optimisties wees? Kom ons kyk net na Romeine 8:

  1. My sondes is vergewe en my ewigheid is seker. Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van die sonde en dood (8:1 – 2). Dit moet ons optimisties maak.
  2. Jesus is aan die regterhand van God en Hy pleit vir ons (8:34). Hy weet waardeur ons gaan. Dit moet ons baie vertroue gee as ons weet dat Jesus vir ons pleit.
  3. My toekomstige oorwinning is groter as die pyn wat ek tans ondervind. Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (8:18).
  4. My gedagtes is vol van die vrede van God. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede (8:6). God se woord vernuwe ons gedagtes en help ons om sy vrede te ondervind.
  5. As God vir my is, kan niemand teen my wees nie. God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? … Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons (8:31, 34). Mense mag jou spot en selfs vervolg, maar aangesien God by jou is, maak dit nie saak nie.
  6. God se Gees help my in my swakheid. Die Gees staan ons ook in ons swakheid by (8:24 – 26). As ek swak is, leer ek God op ‘n meer intieme wyse ken, want dit is sy krag wat my dra.
  7. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (8:28).
  8. Niks kan ons van die liefde van God skei nie – die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here (8:38 – 39).

 

Ons God is so groot en goed. Hoe kan ons dan negatief in die lewe wees.