Boerdery in die Ou Testament (2)

image_pdfimage_print

Boerdery in die Ou Testament (2) – Coen Slabber

Saaiboerdery

Kain was ‘n saaiboer (Genesis 4:2). Argeoloë het bevind dat graanboerdery reeds 6800 vC in die Nabye-Ooste beoefen is. Ons lees: Isak het in daardie gebied gesaai, en daardie jaar het die saad honderdvoudig geskiet (Genesis 26:12). Die Egiptenare was bekend as mense wat die grond kon bewerk. Hulle het uitgebreide landery langs die Nyl-rivier bewerk. Josef het waarskynlik baie by hulle oor saaiboerdery geleer.

Ons weet uit Josua en Kaleb se verslag nadat hulle Kanaän verken het, dat dit ‘n vrugbare land was (Numeri 13:27). Die psalmis besing dan ook die vrugbaarheid van die land: U sorg vir die land en gee oorvloed, U maak dit baie vrugbaar. Die groot riviere is vol water, U laat die koring welig staan … U laat alles welig groei (Psalm 65:10 – 11).

Daar was ‘n paar interessante reëls oor saaiboerdery:

(1)    Jy mag nie ‘n ander gewas in jou wingerd plant nie. As jy dit doen, sal die opbrengs van die gewas, sowel as die druiweoes die tempel toekom (Deuteronomium 22:9).

(2)    Wanneer jy in jou buurman se koringland ingaan, mag jy are pluk met jou hand, maar jy mag nie ‘n sekel in sy koringland gebruik nie (Deuteronomium 23:24 – 25).

(3)    Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie. Julle moet ook nie die wingerde ‘n twee keer oes of die korrels wat val, optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge (Levitikus 19:9 – 10).

Ons gaan veral aandag aan drie aspekte gee:

1.       Watter gewasse is gesaai?

2.       Die voorbereiding van die lande.

3.       Oestyd.

 

Watter gewasse is gesaai?

(1)    Vlas. Ons lees dat Ragab die verspieders in Jerigo  weggesteek het tussen die vlasstoppels (Josua 2:6). Vlas is gebruik as vesel vir toue en klere. Die sade is vir diere gevoer.

(2)    Gars. Gideon het ‘n droom gehad waarin ‘n ronde garsbrood die laer ingerol het (Rigters 7:13). Aanvanklik was gars die hoofbestanddeel van brood. Later word dit die kos van die armes. Gars kon op armer grond gesaai word en het minder water as koring nodig gehad.

(3)    Koring.  Toe Dawid vir Absalom gevlug het, het Sobi en Makir vir hom ‘n slaapplek regemaak. In hierdie slaapplek was daar  koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies en lensies (2 Samuel 17:28). Koring en gars was deel van die betaling wat Salomo aan koning Hiram moes betaal vir die arbeiders wat hy beskikbaar gestel het om die tempel te bou.

(4)    Boontjies (Esegiël 4:9).

(5)    Lensies (Esegiël 4:9).

(6)    Sorghum (Esegiël 4:9).

(7)    Spelt (Esegiël 4:9). Dit is ‘n soort haweragtige duiskoring (HAT).

(8)    Prei, knoffel, uie, dille, kruisement, komyn en koljander is as smaakmiddels gebruik.

 

Die voorbereiding van die lande.

Die plase was meestal klein en is deur die boer en sy familie bewerk. Daar was natuurlik ook ryk boere wat baie grond besit het en arbeiders moes huur om die werk te doen. Boas en Job is voorbeelde van groot boere. Soms is besproeiing gebruik. In sekere bergagtige dele is terasse teen die heuwels gemaak. [Dit is meestal vir wingerde of olyfboorde gebruik.]

Die lande is voorberei deur eers die bosse en onkruid uit te trek (Josua 17:18). In die herfs, na die eerste reëns, is vore met ‘n houtploeg gemaak. Die ploeg was reeds aan Moses bekend: Jy mag nie ‘n bees en ‘n donkie saam voor ‘n ploeg inspan nie (Deuteronomium 22:10). In Job 1:14 lees ons: Die osse was aan die ploeg en die donkies het langsaan gewei. Die ploeg was ‘n regop J-vormige stuk hout wat deur die boer regop gehou is. Hierdie ploeg het ongeveer 10 – 13 cm diep in die grond gegaan. In die tyd van Saul lees ons dat yster gebruik is vir ploeë: Daarom moes elke Israeliet na die Filistyne toe gaan om sy ploegskaar of skoffelpik of byl of ander gereedskap te laat slyp (1 Samuel 13:20).

Osse is gebruik om die ploeg te trek. Soms is donkies gebruik, maar onder sekere voorwaardes: Jy mag nie ‘n bees en ‘n donkie saam voor ‘n ploeg inspan nie (Deuteronomium 22:10). Die kluite is met ‘n skoffelpik of met die stok wat die drywer gebruik het om die osse mee aan te jaag, stukkend geslaan. Die oppervlak is gelyk gemaak deur ‘n eenvoudige eg te gebruik. Soms is  ‘n doringtak gebruik.

Die saad is met die hand gesaai en daarna liggies met grond bedek. Hiervoor is ‘n eg gebruik. Soms is die saad deur die vee ingetrap.

Kompos is selde gebruik. Die Misjna maak wel melding van houtas, blare en die bloed van diere as ‘n vorm van kompos. In die gelykenis van die onvrugbare vyeboom lees ons dat die tuinier by die eienaar pleit: Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Wat wel die lande beskerm het, was dat dit elke sewe jaar braak moes lê: Ses jaar kan julle die lande saai en die wingerde snoei en die opbrengs oes, maar die sewende jaar moet die hele land ‘n rustyd hê, ‘n sabbatsjaar tot eer van die Here (Levitikus 25:3 – 4).

 

Oestyd

Die oestyd het gewoonlik sewe weke geduur. Verskeie metodes is gebruik: sommige het die hele plant met wortels uitgetrek; ander het die plante met ‘n skoffelpik uitgegrawe; die meeste het die koring met ‘n sekel afgesny. Voor yster algemeen beskikbaar was, was die sekel van hout gemaak met skerp klippunte aan die snykant. Hierdie afgesnyde koring is in gerwe saamgebind en na die dorsvloer gedra. Gars is eerste geoes en koring laaste.

Ons is gewoond aan silo’s vol graan, maar hier praat ons van klein hoeveelhede: Rut het tot die aand toe are opgetel in die land. En toe sy uitslaan wat sy opgetel het, was dit ongeveer dertien kilogram (Rut 2:17).

Die dorsvloer is gewoonlik op ‘n hoogte aangelê sodat die wind maklik die kaf kon wegwaai. Dit was ‘n harde gelyk oppervlak. Die gerwe is op die vloer uitgegooi en deur osse wat ‘n houtslee getrek het, uitgetrap. Later lees ons van swaarder instrumente wat gebruik word om die gerwe uit te trap. Jesaja verwys na wawiele (28:27) en ‘n skerp dorsslee, ‘n nuwe met baie tande (41:15). Die uitwanning was ‘n tydsame proses. ‘n Graaf of gaffel is gebruik om die materiaal in die lug te gooi. Omdat die kaf baie lig was, het dit weggewaai terwyl die graan op die dorsvloer agtergebly het. Die kaf is of verbrand of vir voer gebruik.

Die koring is gewoonlik in putte wat goed bedek is gestoor, alhoewel daar reeds in Deuteronomium 28:8 na graanskure verwys word.

Volgende keer gaan ons kyk na vrugteboerdery

 

Skrywer: Dr. Coen Slabber

 

image_pdfimage_print

You may also like...