Borg te teken – Vraag vanaf FaceBook ontvang – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Susan vra:

Kan iemand my asb sê waar dit in die Bybel staan dat dit verkeerd is om vir iemand borg te teken.

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die tekste wat gewoonlik hier ter sprake is, is Spreuke 6:1-5; 11:15; 17:18; 20:16; 22:26-27. Hulle almal waarsku die leser om nie vir ‘n ander borg te staan nie.

Toeligting: Ons moet onthou dat die Spreukeboek oor praktiese wysheid handel, d w s, oor wat die lewe ‘n mens leer om met insig en wysheid op te tree. Dit is niks anders as goeie raad wat ‘n ouer sy kind gee sodat dié nie vasgevang word in strikke waaruit hy/sy moeilik sal kom nie. Dieperliggend is ook die gedagte dat wie met hierdie praktiese wysheid optree – volgens hierdie goeie raad handel – binne die wil van God vir menslike lewe optree, omdat dit ten diepste God is wat die wysheid skenk vir ‘n goeie lewe. Praktiese wysheid, vanuit die perspektief van die Spreukeboek, is dus niks anders nie as ‘n verlenging van God se gebooie.

So het die Spreukedigter dit dan meermale gesien dat wie vir ‘n ander borg staan, bedroë daarvan kan afkom. Want jy boet uiteindelik jou vryheid en persoonlike finansiële integriteit in waarmee jy veronderstel is om vir jouself en jou gesin te sorg. Op die ou end is jy ‘n gevangene van ‘n ander se skuld en slegte oordeel. Daarom dat bv Spr 6:1-5 sê dat jy alles in jou vermoë moet doen om uit so ‘n situasie te kom – sodat jy weer vry kan wees om die lewe te lei wat God aan jou gegee het. Maar die heel beste is om in die eerste instansie glad nie by ‘n borg stanery betrokke te raak nie.

Die vraag ontstaan of hierdie raad nie strydig is met ons Christelike roeping om ‘n oop hand en hart vir ander te hê nie. Nee, laasgenoemde bly onverdund ons roeping, daarvan is beide Ou en Nuwe Testament vol. Al waarteen Spreuke waarsku, is dat die manier waarop ons moet help, nie dié van borg staan moet wees nie. Want só het jy geen beheer oor jou hulpverlening nie. Beide die skuldeiser van die een vir jy borg staan, asook laasgenoemde self, kan omdraai en allerlei eise aan jou stel wat jy nie aanvanklik voorsien het nie en waarvan jy die einde nie sal sien nie. En dan is jy in die moeilikheid. Help eerder op ander maniere waardeur jy nie die gevaar loop om finansieel geruïneer te word nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print