Bybelverse wat dikwels misbruik word (1)

. —C.S. Lewis

Bybelverse wat dikwels misbruik word (1)

Die Bybel is skerp soos ‘n swaard en kan die hart deurboor. As dele egter in die verkeerde konteks gebruik word, veg ons met die hef en nie die lem van die swaard nie. Dit is ondoeltreffend. Ons moet altyd probeer teruggaan na die oorspronklike betekenis. Hier is vyf voorbeelde:

  • Ek kan alles doen

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Filippense 4:13)

 

Ons kry hierdie vers op plakkers; dit word dikwels deur sportmanne – soos maratonhardlopers en bergklimmers  – aangehaal. Hierdie vers kry ons in die konteks van tevredenheid. Paulus skryf aan die gemeente in Filippi om aan hulle te sê dat God hom geleer het om onder alle omstandighede tevrede te wees – in tye van oorvloed en in tye van swaarkry. (Onthou hy skryf hierdie brief uit die tronk uit.) Hierdie is dus ‘n eerbetoon aan iemand wat geleer het om God onder alle omstandighede te volg. Wat hom ook al oorgekom het, het Paulus in geloof hanteer. Hierdie vers is nie ‘n oproep om uit te gaan en kragtige dade te doen nie, maar ‘n herinnering dat ons geloof en vertroue in God moet hê te midde van die lewe se goeie en slegte dae. As jy ‘n sleg dag beleef, wees tevrede, want jy het vir Jesus Christus.

  • Planne om voorspoedig te wees

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting (Jeremia 29:11).

Hierdie vers word dikwels in tye van swaarkry gebruik om mense aan te moedig: “God belowe dat Hy spesifieke planne het om vir ons voorspoed te verseker. Hou op om jou te bekommer.” Hierdie vers hanteer ‘n spesifieke belofte wat God vir Israel gegee het; die belofte van die einde van hulle ballingskap in Babilon na 70 jaar. Die woord voorspoed hier verwys nie na geld of materiële seëninge nie, maar na fisiese en geestelike verlossing. Maar God beplan tog voorspoed vir ons? Ja, in terme van verlossing Dit vertel ons van die vrylating en verlossing van al God se mense in die toekoms. Hierdie vers herinner ons aan die kollektiewe verlossing van God se mense in die geskiedenis, maar ook in die toekoms wat nog voorlê.

  • Waar twee of drie vergader is

Waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle (Matteus 18:20).

Hierdie vers word dikwels gebruik om ons onder moeilike omstandighede aan te moedig – God is met ons. Al wat ons nodig het is twee of drie in ‘n gebedsgroep en alles is reg.

Die konteks van hierdie vers is die bou van ‘n getuienis in die konteks van kerkdissipline. ‘n Betroubare getuienis was krities in die Joodse konteks. Hierdie vers is ‘n aanmoediging vir kerkleiers tydens moeilike tye van konfrontasie en kerkdissipline – God sal teenwoordig by die getuies wees as hulle dinge probeer regstel en ‘n afvallige persoon herstel. Is God nog met ons waar twee of drie vergader? Natuurlik. Hy is ook by ons as ons net een of ‘n duisend is.

Volgende keer kyk ons na nog voorbeelde van Bybelverse wat verkeerd gebruik word.