Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Pas jou hart op

image_pdfimage_print

You do not judge the paintings; they judge you – kennisgewing by die ingang tot die Louvre

Bybelverse wat verkeerd gebruik word:  Pas jou hart op

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit  bepaal jou hele lewe (Spreuke 4:23).

Baie mense vind dit moeilik om hulle gedagtes en gevoelens met ander te deel. In sommige kulture word kwesbaarheid as ‘n teken van swakheid gesien. Mense voel verleë om hulle harte vir ander oop te maak. Baie mense gebruik dan juis hierdie vers om hulle siening te regverdig.

 

Spreuke is ‘n boek van wysheid. Die gesegdes se oorsprong is dikwels gebaseer op die skrywer se ondervindings. Ons moet hulle as algemene beginsels vir die lewe en nie as gewaarborgde beloftes sien nie. Dit is waarhede wat ons optrede sal rig – opdragte vir die ontwikkeling van ons karakter.

In die begin van die boek is die skrywer se rol dié van ‘n vader wat met sy seun praat. Die wysheid se wortels is om die Here te dien – om ‘n verhouding met Hom te hê. Dit is dus meer as “kopkennis.” Dit lei tot ‘n gehoorsame lewe toegewy aan die aanbidding van God. Die seun moet die pad van die goddeloses vermy. Hierdie pad is soos die donker: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie(4:19). As die  seun goed na die woorde van die vader luister, beteken dit ‘n volle lewe vir hom wat dit besit.

Hierdie is die konteks van ons vers. Die jong seun moet aandag gee aan die woorde van sy vader. Doen hy dit sal hy die bose vermy. Die vader gebruik nou die dele van die liggaam om sy punt te belig: wees versigtig met die hart; die lippe moet hulle van leuens weerhou; hou jou oë op die pad vorentoe; weerhou jou voete van die verkeerde weë.

In die Joodse literatuur sluit die hart ons denke, emosies en wil in. Dit is die bron van waar al ons optredes kom. Jesus sê: Waar die hart van vol is, loop die mond van oor (Matteus 12:34).  Om my hart te beskerm, beteken dat ek my lewe teen ongesonde invloede beskerm. Slegte geselskap bederf goeie sedes (1 Korintiërs 15:33).

Hierdie vers beteken nie dat ek my gevoelens moet wegsteek nie. Dit beteken nie dat ek nie emosioneel by ander betrokke kan raak nie. Ons is almal ontwerp om in verhoudings te leef. Ons is immers almal deel van die geloofsgemeenskap. Dit beteken ek moet my hart teen die bose beskerm.

image_pdfimage_print

You may also like...