Die Eerste Brief van Johannes: Die tweed vereistes vir kinders van God – wees gehoorsaam (3:10-24) – Francois Malan

Gehoorsames het mekaar lief (3:10-13)

3:10 In 3:4-9 is sonde teenoor reg lewe gestel. Hier wys hy dat geregtigheid uitgespel word in terme van gehoorsame liefde en dat die gebrek aan liefde sonde is.

‘Hieraan (wat in verse 4-9 gesê is) is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is’ – kinders van God lewe nie in sonde nie; kinders van die duiwel lewe voort in sonde. Daaraan kan hulle uitgeken word.

‘Wie nie doen wat reg is nie, is nie uit God nie’ – die mens wat nie reg lewe volgens God se woord nie, behoort nie aan God se gesin nie. Daar is ‘n onoorbrugbare koof tussen God se kinders en die kinders van die duiwel wat onder die dwang van die sonde lewe. Hulle lewe in die sonde bewys hulle oorsprong is nie uit God nie. Die implikasie is dat elke kind van God reg moet lewe. Dit is die toets vir jou kindskap van God.

‘dit is hy wat nie sy broer liefhet nie’ – die frase aan die einde van die Griekse teks dra die klem. Die belang van gehoorsame liefde word benadruk. Dit gaan in die eerste plek oor die liefde onder gelowiges (‘sy broer’ – in die sin van medegelowige, mede-kind van God). As die liefde ontbreek is dit duidelik dat die persoon die verleier volg.

3:11 Die rede vir die liefdestoets vir reg lewe in vers 10 word hier aangegee: dat ons mekaar moet liefhê is die boodskap wat hulle van die begin af gehoor het. Daarom moet die kind van God nie net sy rug op sonde draai nie (3:4-9), maar ook sy goddelike oorsprong uitleef, deur die liefdesgebod te gehoorsaam.

Die woord vir ‘boodskap’ (angelia) word in die Nuwe Testament slegs hier en in 1:5 gebruik: in 1:5 van die boodskap dat God lig is, wat geglo word, en hier van die liefde onder mekaar, wat gedoen moet word.

‘van die begin af’ verwys waarskynlik vandat die lesers die evangelie gehoor en aanvaar het – die ‘ou’ boodskap is moontlik ‘n reaksie op die ‘verligte’ verdwaaldes, wat hulle boodskap as ‘nuut’ aanbied. In Joh 13:34-35; 15:12,17 het Johannes die liefdesgebod vir hulle duidelik uitgespel as Jesus se opdrag aan sy dissipels, wat hulle toe aan die gemeentes oorgedra het. In 3:11-18 word 1 Jn 2:3-11 verder uitgewerk, nie in kleurskakerings nie, maar in wit en swart, liefde teenoor haat. Die mag van God se liefde in hulle moet in die gelowiges se omgang met mekaar tot uiting kom. Die verwysing na Kain en Abel in die volgende verse, en 3:8 se verwysing na die duiwel se werk ‘van die begin af,’ suggereer ook ‘n dieper betekenis vir ‘die begin’ as verwysing na die begin van die wêreld, dat dit toe reeds God se plan was dat mense mekaar sal liefhê (Gn 1:27: as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep).

3:12 Die voorbeeld van Kain se haat is ‘n duidelike teenstelling teen die boodskap van broederlike liefde ín die gemeente en na buite; haat is ook in skrille kontras met Jesus se liefdesoffer in vers 16. Teenoor broederliefde staan broederhaat. Die verwysing na Kain en sy broer Abel (Gen 4:1-16) is die enigste direkte verwysing na die Ou Testament in 1 Jn, hoewel v8 se verwysing na die duiwel wel agter die slang se verleiding gesit het as ‘n indirekte verwysing.

Dat Kain ‘uit die Bose was’ wys dat Kain deur die Bose se verleiding gevang was. Reeds voor sy broedermoord (Gen 4:4b-7), het hy volgens die manier van die ‘mensemoordenaar van die begin af’ (Jn 8:44) teen God se wil opgetree. Kain het sy broer vermoor ‘omdat sy dade sleg was en dié van sy broer regverdig/reg.’ Sy optrede het gewys aan wie hy behoort.

‘Die Bose’ word hier gebruik, soos in Mt 13:19, wat die saad van die woord wat op die pad geval het, wegvat; soos 1 Jn 3:8,10 sê Lk 8:12 sê dit is die duiwel wat die saad wegvat; Mk 4:15 sê die ‘die Satan wat die saad wegvat. Die duiwel is die verpersoonliking van die bose magte wat in die wêreld werk (vgl. Ef 6:12).

Die woord vir ‘vermoor’ (Grieks: sfazein) is eintlik ‘om te slag.’ Dit impliseer geweld en genadeloosheid; in Gn 4:8 word die Hebreeuse harag gebruik word vir doodslaan, doodmaak, slag, offer. Gn 4:5-6 sê: hy het baie kwaad geword, en die Here het hom vooraf gewaarsku: as jy nie goed doen nie – die sonde wag jou in daar buite en hy wil jou in sy mag kry, maar jy moet oor hom heers (4:7). Kain se optrede kom duidelik van die Bose en nie van God af nie.

Dat Kain se dade sleg was en sy broer s’n regverdig suggereer jaloesie oor sy broer se goedheid. Mk 15:10 sê Pilatus het geweet die priesterhoofde het Jesus uit afguns uitgelewer. Johannes gebruik die twee broers as voorbeelde: in 3:13 word Kain se ongehoorsame haat beskou as tipies van die wêreld; in 3:14 word gesuggereer dat Abel se geregtigheid die liefde van die gemeente moet kenmerk. So word die dwalendes en die getroues in die gemeente getipeer. Hebr. 11:4 sê: Omdat Abel geglo het, het hy ‘n beter offer aan God gebring as Kain (wat by implikasie nie op God vertrou het vir sy lewe nie).

3:13 Vir die wêreld is die gelowiges soos Abel was vir Kain. Daarom moet die kerk nie verbaas wees as die wêreld hulle haat nie. Die werkwoord impliseer ‘n deurlopende haat van die wêreld teenoor die kerk. Johannes spreek die gemeentelede aan as ‘broers’ (die enigste keer in sy briewe as aanspreekvorm) na aanleiding van Kain en sy broer, maar eintlik om daarop te wys dat hulle in die kerk moet liefhê soos broers en susters van Jesus en van mekaar, terwyl daar onmin is tussen die ‘verligtes’ en die res van die gemeentes, oor hulle geloof in Jesus. Hulle moet nie daaroor verbaas wees nie; Jesus het dit voorspel (Jn 15:18,19,25; 16:1-4; 17:14).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Eerste Brief van Johannes: Die tweede vereistes vir kinders van God – wees gehoorsaam (3:21-24) – Francois Malan

Vrymoedig voor God (3:21-24)

3:21 In die brief waarin Johnnes, die apostel van die liefde, by sy gemeentes pleit om by die Here te bly, word hulle telkemale aangespreek as sy ‘geliefdes’ (2:7; 3:2,21; 4:1,7,11), sy geliefde ‘kindertjies’ (2:1,3,12,18,28; 3:7×2,18; 4:4; 5:21) om hulle liefdesband in die Here te onderstreep, hier veral om gelowiges wat bewus word van hulle tekortkomings te bemoedig.

‘as ons hart/gewete ons nie aankla nie’ – as ons nie langer met ‘n slegte gewete voortlewe nie omdat ons weet dat ons sondes deur Jesus se soenoffer vergewe is (1 Jn 2:2),

‘kan ons met vrymoedigheid voor God staan’ – in gemeenskap met God in plaas van in oordeel voor Hom, is een van die gevolge van ‘n gewete wat gerusgestel is deur die wete van God se groot genade aan ons in Christus. In 2:28 het dit gegaan oor ons vrymoedigheid voor God op die oordeelsdag, as ons in Christus bly, hier om die daaglikse vrymoedigheid van God se kinders in die teenwoordigheid van hulle Vader (vgl. Jn 16:26-27).

‘voor God’ (pros theon ‘tot God’) druk die gedagte uit van ‘n vriendelike verhouding tussen God en sy kinders, sowel as die rigting van die christen se vertroue. Die kind van God, wat God se liefdesgebod uitleef (1:7; 2:6,10), kan met vrymoedigheid in die teenwoordigheid van God lewe, soos die Seun van God voor sy Vader (vgl. Rom 5:1-5; 8:14-15; Hebr 4:16).

3:22 Die eerste seën van ‘n skoon gewete van iemand wat volgens die liefdesgebod leef, is in v21 gestel: ‘n vertrouensverhouding teenoor God. Die tweede word in hierdie vers uitgespel: God antwoord op ons gebede (in 5:14-15 word die twee seëninge ook saam genoem).

‘En wat ons ookal vra, ontvang ons van Hom…’ – vra en ontvang word in teenwoordige-tyd-werkwoorde as voortgaande handelings aangebied. Dit is die uitvloeisel van ‘n vertrouensverhouding tussen die kind van God en sy Vader met ‘n lewe in Hom, volgens sy woord, en Hy in ons (vgl. Jn 15:7-8; 16:24-27). Daar is egter niks meganies of magies in die gebed nie. Dit is ‘n uitvloeisel van die bidders se gehoorsame verhouding tot God en sy wil, wat alleen verkry word deur in Christus te lewe (Jn 15:7 as julle in My bly en my woorde in julle, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur).

‘omdat ons sy opdragte gehoorsaam en doen wat vir Hom aangenaam is (die woord ta aresta ‘dinge wat aangenaam is’ kan ook met ‘dinge wat reg is’ of ‘dinge wat behoorlik is’ vertaal word, dit wil sê, volgens sy wil). Dit is vir God ‘n vreugde as mense na Hom luister en doen wat Hy vra. Gebed word positief beantwoord as dit volgens God se wil is, Hy gee graag goeie gawes aan dié wat dit van Hom vra (Mt 7:11).’ Nee’ is ook ‘n antwoord (vgl. Jesus se gebede in Getsemane, Mt 26:39,42,44; en die 2e bede van die Onse Vader, Mt 6:10).

3:23 Wat die gebooie van God is, word in verse 23-24 uitgespel – ‘en dit is sy opdrag:’ Dit behels twee dinge:

i ‘dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus glo…’ sy naam behels wie Hy is, sy karakter en gesag, dat Hy God se Seun is (self God), Jesus (‘Die Here is Verlosser’), Christus (‘Gesalfde’, gesalf as die beloofde Messias koning, wat oor ons lewe regeer, profeet, wat God aan ons geopenbaar het, priester, wat Homself vir ons geoffer het en nou vir ons intree by God. Om in sy Naam te glo beteken om in Hom as Persoon te glo, dat Jesus van Nasaret die Messias is wat deur God gestuur is, soos Hy Homself geopenbaar het, en om in gemeenskap met Hom te lewe (vgl. Jn 6:28-29).

ii ‘…en mekaar moet liefhet (teenwoordige tyd) volgens sy opdrag wat Hy an ons gegee het’ – die opdrag om mekaar lief te hê, het God deur Christus aan ons oorgedra (Jn 13:34; 15:12).

Geloof en liefde word in Gal 5:6 ook saam genoem: ‘Al wat van belang is, is geloof wat deur liefde in dade omgesit word.’ So ‘n lewe van geloof in die persoon Jesus as God en mens, en liefde vir mekaar, is die wyse om God te behaag, in vrymoedigheid in sy teenwoordigheid te lewe, en ons gebede tot Hom te rig (vgl. Hebr 4:16 vrymoedigheid dui ‘n oop vertrouensverhouding tot God aan, waarin ons met Hom kan praat).

3:24 Die afdeling oor gehoorsaamheid aan God se liefdesgebod as vereiste om in die gesin van God te lewe (10-24) word hier afgesluit met ‘n samevatting van die hoofsake: geloof in Christus, liefde vir die gelowiges, moreel reg lewe. Dit bewerk die Heilige Gees in ons met sy liefdeskrag en oortuiging (Jn 16:8) en is die bewys dat God in ons woon.

‘wie sy gebooie gehoorsaam…’ God se een gebod van geloofsliefde word op ‘n verskeidenheid praktiese maniere in ons lewe toegepas.

‘…bly in God en God in hom’ – gehoorsaamheid aan God se gebooie soos Jesus dit vir ons uitgespel het in die liefdesgebod en wedersydse inwoning, ons in Hom en Hy in ons, is onlosmaaklik aan mekaar verbind. Gehoorsaamheid aan sy gebooie op al die terreine van ons lewe is die vereiste om in konstante gemeenskap met God in Christus te lewe, en, gehoorsame liefde is die uitdrukking van die noue verhouding waarin God in ons en ons in God lewe.

‘Hieraan weet ons dat Hy in ons bly, uit die Gees wat Hy aan ons gege het’ – die Gees lei ons tot geloof in Jesus (4:1-3), stel ons in staat om reg te lewe volgens God se wil (2:29), in liefde (4:12-13). Die werkwoord ‘het gegee’ is in die voltooide tyd, wat aandui dat dit reeds plaasgevind het en die gevolge voortduur; nou lewe ons onder sy leiding en met sy krag, die krag van God se liefde. Dit alles is God se genadige gawe aan elke gelowige.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Eerste Brief van Johannes: Die eerste vereistes vir kinders van God – breek met die sonde (3:6) – Francois Malan

Sondig nie meer nie! (3:6)

3:6 ‘elkeen wat in Hom bly, sondig nie meer nie (die werkwoord ‘sondig’ is in die teenwoordige tyd wat voortduur aandui: lewe nie voort in die sonde nie). Dit is die logiese gevolg van wat in vers 5 van Jesus gesê is – Hy is sondeloos en wie in Hom bly is ook sonder sonde. Maar in 1:6,8 het Johannes gesê dat as ons sê dat ons aan Hom verbonde is/gemeenskap het en tog in die duisternis lewe, lieg ons en leef ons nie volgens die waarheid nie.

Jn 3:18 sê: wie in Jesus glo, word nie veroordeel nie; 8:24 voeg by: het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan; in Jn 13:10 sê Jesus vir Petrus: ‘Iemand wat gebad is, het nie nodig dat iets anders as sy voete gewas word nie, omdat hy reeds heeltemal skoon is, en julle is skoon…..’ Die dwalendes het daarom gesê dat hulle reeds sonder sonde is. Johannes wys daarop dat ‘n lewe sonder sonde die regte implikasie is van wedergeboorte deur God, en daarom ‘n verpligting wat op die gelowige rus om sonder sonde te lewe, in die wete dat hy/sy tekortskiet aan die vereiste om sonder sonde te lewe. 1 Jn 2:1: wanneer iemand sondig (verlede tyd wat ‘n daad aanwys: ‘n sonde gedoen het), het ons Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.

Luther het gesê die christen is tegelyk geregverdig en sondaar (simul justus et peccator). Soos Jesus en deur Hom, is ons in staat om nie te sondig nie. Maar anders as Jesus val ons, en is ons in die huidige ou bedeling nog nie ten volle instaat om nie te sondig nie. Hier in 3:6 en 9 praat Johannes van ons moontlikheid, as lede van die nuwe bedeling wat met Jesus se koms aangebreek het, om nee te sê vir die sonde. In hoofstukke 1-2 het hy die werklike kere van toegee aan ons selfgerigte sondigheid, aangespreek. Maar die moontlikheid om nie te sondig nie, eis van ons om so op te tree. Die christen moet nie in die sonde leef nie, maar moet in gehoorsaamheid aan die Here in liefde en geloof lewe (3:7-10). Ons lewe in die spanning van ‘reeds kinders van God in die ewige lewe saam met Christus’ (3:6,9) en ‘nog nie volmaak nie;’ daarom is sonde nog vir gelowiges ‘n voortgaande werklikheid, wat dié vergifnis nodig het wat altyd beskikbaar is by Jesus – soos die voetewas van Petrus.

‘elkeen wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom ook nie’ (‘sondig’ hier ook in die teenwoordige tyd wat mense aandui wat voortgaan in die sonde); ‘sien’ en ‘ken’ word hier figuurlik gebruik vir ‘n intieme verhouding met die Vader en die Seun deur die Heilige Gees. In die Ou Testament word die twee terme dikwels gebruik om ‘n noue verhouding aan te dui, vgl. ook Jn 14:7: as julle My ken sal julle die Vader ken; Jn 14:9: wie My sien, sien die Vader (dit is nie die letterlike sien of ken van 1 Jn 1:1, of die Helleniste se teoretiese sien en ken nie).

 

Johannes sê in hierdie vers:

i elkeen wat nie gewoonlik in gemeenskap met Jesus lewe nie, is konstant sondig, maar elkeen wat nie uit gewoonte voortlewe in sonde nie, sien en ken die Vader en die Seun;

ii sondeloosheid moet beskou word as ‘n gawe van God, die gevolg van God se werk in die gelowige, deur sy woord en Gees, wat ons aan die sondelose Jesus verbind (Rom 6:6: dit weet ons: dat ons ou mens saam met Christus Jesus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie);

iii ‘n kind van God moet sonde los en oorwin, en begin lewe volgens God se liefdesgebod en Jesus se voorbeeld. Elkeen wat aan Christus verbind is, kan ‘n nuwe lewe lei, en moet ook. As ons in sonde voortlewe plaas ons ‘n vraagteken agter ons liefdesband met Christus (Rom 6:13: as mense wat uit die dood lewend geword het, moet julle julleself tot beskikking van God stel, en julle ledemate as waperns van geregtigheid tot beskikking van God).

Om in Jesus te bly, is soos Paulus se ‘in Christus’ lewe (Rom 6:11; ,23; 8:1-2; 12:5; 16:3; 1 Kor 1:2,4,30; 4:17; 5:17, ens.) . ‘In Christus’ is die vrye ruimte waarin die gelowige alles wat hy/sy doen of sê of dink elke oomblik tot eer van God uitleef deur die Gees van God wat in ons woon om ons te lei en die krag gee om dit so te doen.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Eerste Brief van Johannes: Die eeste vereistes vir kinders van God – breek met die sonde (3:4-9) – Francois Malan

Geen sonde in Jesus nie (3:4-5)

Die simbool waaronder die Christelike lewe bespreek is in hoofstukke 1-2 is: ‘God is lig’ (1:5-7) en daarom moet ons in die lig lewe. Dieselfde vereistes word herhaal onder die nuwe simbool in hoofstukke 3-4: ‘God is Vader’ (3:1-3), en gelowiges is lede van sy gesin deur hulle verbondenheid aan sy Seun, Jesus Christus, en daarom moet ons lewe as kinders van God, wat nie voortgaan in die sonde nie.

Nadat 2:28-29 dit beklemtoon het dat ‘n Christen in Christus moet bly, en al meer soos Hy moet word deur soos Jesus reg te lewe, word die noue verband tussen Christus en die christen verder uitgewerk. Elke lid van God se gesin moet soos Jesus lewe (vgl. Hebr 12:1-2 ‘…met volharding hardloop, die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof…’).

3:4 ‘elkeen wat sonde doen, doen/beoefen wetteloosheid, want sonde is wetteloosheid’ – mense lewe asof daar geen wet is nie, of: weier om die wet te onderhou, of: hulle minag alle wette. In die Griekse teks het die woorde ‘sonde’ en ‘wetteloosheid’ telkens ‘n lidwoord in 3:4-5: ‘die sonde’ as onderwerp van die sin verwys na sonde in die algemeen, en ‘die wetteloosheid’ as voorwerp van die sin wys na enige oortreding van God se wet, wat insluit die arrogante opstand teen en verwerping van God se openbaring van Homself in Christus deur die antichriste (2:22-23), en só die duiwel se wil uitvoer. In sy wese is sonde opstand teen God en ‘n oortreding van sy goeie wil vir die mensheid, ook van sy goeie reëls vir sy huisgesin.

‘wetteloosheid (anomia)’ word in die Nuwe Testament spesifiek gebruik van die boosheid wat deur die Satan geïnspireer word. 2 Ts 2:3,8 praat van die antichris as ‘die wettelose mens;’ Mt 7:22 letterlik: ‘Ek het julle nooit geken nie, gaan weg van My af julle wat wetteloosheid doen’ wat ‘n aanhaling is van Ps 6:9 (ook in Mt 13:41); In Mt 24:11-23 voorspel Jesus dat daar baie valse profete sal kom wat baie mense sal verlei, en omdat die ‘wetteloosheid’ sal toeneem, sal die liefde van die mense verkoel, maar wie volhard tot die einde toe sal gered word. In 2 Kor 6:14 vra Paulus: watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg/wetteloosheid?

Teen dié agtergrond moet ‘n mens nie sonde lig opneem nie. As jy nie oppas nie, lei dit jou tot in die ryk van die Bose, die groot verleier, waarin jy verstrengel raak. ‘n Mens se dade wys aan wie hy/sy behoort. Wetteloosheid is om nie God se gebooie in ag te neem nie, en sy grootste gebod is die liefde vir Hom en vir mekaar.

3:5 Vers 4 het die aard van sonde verduidelik as ‘wetteloosheid’ – om sonder God se wet te lewe. Vers 5 konsentreer op die persoon en werk van Jesus om die mag van die sonde te breek. ‘Julle weet…’ – ‘n beroep op dit wat elke christen ten minste weet – ‘…dat Hý (met klem verwys Johannes na Jesus) verskyn het (die verlede tyd verwys na sy eerste koms na die wêreld) om die sondes (meervoud: om nie net die totaliteit van sonde aan te wys nie, maar veral die sondige dade van elke mens) weg te neem…’ (die woord airoo’wegneem’ het ook die gedagte van verwyder, vernietig). Johannes die Doper het dieselfde woord gebruik in Joh 1:29 oor die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. In 1 Jn 2:2 is reeds gesê Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. Terwyl die Evangelie van Johannes vir Jesus veral as openbaarder van God skilder, beklemtoon 1 Johannes ook dat Jesus die Verlosser is. Hier word die versoening egter nie voorop gestel nie, maar die verlossing uit die ban van die sonde. Jesus het gekom om die mag van die sonde te verbreek, die sonde se ontwikkeling te stuit, en die houvas daarvan op die gelowige te vernietig.

‘…en in Hom is daar geen sonde nie’ – in sy wese is Jesus nie teen sy Vader se wil in opstand nie, maar volkome een met die Vader. Hy is die Heilige van God, volkome aan sy Vader se wil toegewy (Jn 5:40; 8:55). Hy is die volmaakte offer vir die sondes van die mensdom (vgl. Jn 8:46: ‘wie van julle kan sonde by My aanwys?’ 2 Kor 5:21: Hy – Christus – wat nie sonde geken nie, Hom het God ter wille van ons sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word; Hebr 4:15: ons Hoëpriester is, soos ons, in alle opsigte versoek, en dit sonder dat Hy gesondig het. 1 Petr.1:19: ons is vrygekoop met die kosbare bloed van Christus, Hy wat soos ‘n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek. Omdat Jesus sonder sonde by ons kon lewe, kan ons ook sonder sonde lewe as ons in Hom bly deur sy Gees wat in ons bly, want net Hy breek die mag van die sonde. Wie aan Jesus in geloof verbind is deur die Heilige Gees, begin ‘n nuwe lewe van liefde (3:14).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan