Die eerste brief van Johannes: Breek met die sonde Die eerste vereiste om in die lig te kan lewe: verwerp sonde (vervolg) (b) breek met sonde (2:1-2)

2:1 Anders as in die vorige twee pare sinne in 1:8-9, begin die antwoord hier negatief: hy skryf hierdie brief om enige sondige gedrag te ontmoedig. Daarna kom die ‘Maar as…’ sin.

Hy spreek sy lesers nou direk aan as ‘my liewe kindertjies’ (teknia klein kindertjies as ‘n lieflingsnaam; vgl. Jn 13:33)  nie bloot kinders (tekna) of ‘my kinders’ nie – daarmee word sy intieme verhouding met die gemeentes uitgedruk. Hy gebruik ook die eerste persoon ‘Ek skryf aan julle’ waar hy tot nou toe die meervoud ‘ons’ gebruik het, waarmee hy soms verwys na hulle apostels se verkondiging, en hom soms identifiseer met die gemeente se probleem.

Die eerste en belangrikste voorwaarde om in die lig van God te leef is om sonde as ‘n lewenswyse te los. Daarmee sê hy nie dat ons sondeloos kan lewe nie, maar pleit hy dat ons die geneigdheid tot sonde wat uitloop op sondige gedagtes en woorde en dade sal teenstaan, en so ver as moontlik onberispelik sal lewe in die lig van God. Die doel van die hele brief is dat hulle nie meer sal sondig nie (vgl. Jesus se opdragte in Jn 5:14 en 8:11).

Die positiewe antwoord op die probleem van sonde is: as iemand sondig in woord of daad, God het daarvoor voorsiening gemaak, op twee maniere:

(i) God het vir ons ‘n voorspraak/advokaat/helper  voorsien (parakletos iemand wat geroep is om langs my te staan; ‘n woord wat in die Bybel slegs in die Johannes Evangelie en hier in 1 Jn voorkom). Jesus staan ons by en tree vir ons in by die Vader (Rom 8:34; Hebr.7:25;  9:24). God se vergewende aard word geopenbaar deur sy voorsiening van ‘n Middelaar tussen ons en God: ‘as enigiemand sondig (uit swakheid), ons het ‘n Helper in die teenwoordigheid van die Vader, wat vir ons intree, nl. Jesus Christus, self God, wat ons mensheid aangeneem het. In Jn 14:16 het Hy na die Heilige Gees verwys as ‘n ander Helper (parakletos)  wat beteken dat Jesus die eerste Helper is, wat vir ons by die Vader sal vra (Jn 16:16; vgl. 14:12-14; Hand 16:7 praat van die Gees van Jesus;  Flp 1:19 van die Gees van Christus; Rom 8:9 praat van die Gees van God en noem die Heilige Gees ook die Gees van Christus). Soos Jesus vir sy volgelinge intree by God, pleit die Heilige Gees by ‘n ongelowige wêreld om in Jesus te glo en Hom te volg. Jesus (Grieks vir die Hebreeuse Joshua ‘die Here red’) is sy aardse naam wat die Engel aan Maria (Lk 1:31) en aan Josef (Mt 1:21) aangekondig het. Christus ‘Gesalfde’, deur God gestuur as Profeet: om God te openbaar, Priester: om ons verhouding met God reg te maak deur sy offer aan die kruis en sy opstanding, Koning: aan wie alle mag  in die hemel en op die aarde gegee is.                

Ons Helper in die hemel is ‘regverdig.’ Jesus het volledig voldoen aan die eise wat God aan die mens stel. Hy is volkome onskuldig aan die sonde waarvan die sondaars aangekla word.  Hy het alle geregtigheid kom vervul (Mat 3:15; Rom 10:4). Met ‘n regverdige regter (1:9) en ‘n regverdige pleitbesorger (2:1) kan ‘n regverdige oordeel verwag word.  Op grond van Jesus se regverdigheid, wat veral aan die kruis geopenbaar is toe Hy ons regverdige straf gedra het (1:2), kan Hy vra dat die geregtigheid, wat Hy vir ons aan die kruis bewerk het, toegeken word aan elke kind van God deur hulle verbondenheid aan Hom as die Seun van God. Op grond daarvan kan God ook elke soort ongeregtigheid van ons reining (1:9; Rom 3:25-26).  God self, die offerdood van Christus, en Christus as ons Voorspreek by die Vader, is die magte vanwaar  ons vergewing, reiniging en heiliging kom (vgl. 1 Kor 1:30)

2:2 (ii) God het nie slegs ‘n regverdige voorspraak vir die sondaars voorsien nie, maar die voospraak is self ook die middel vir die vergifnis van ons sondes, egter nie net vir ons s’n nie, maar ook van die hele wêreld’(1:7). Deur sy menswording, woorde, dade, dood en opstanding uit die dood, bied God aan ons, en aan die hele wêreld, die weg van verlossing van sondes aan. Deur ons verbinding aan Hom deur geloof, vergewe God ons sondes.

            ‘Versoening’ of ‘soenoffer’ beteken nie dat Jesus ‘n offer aan ‘n toornige God aangebied het om sy toorn te kalmeer (soos in die heidense godsdienste) nie. Die woord toorn in Jn 3:36 verwys na God se straf op die sonde, wat ook God se toorn oor die bose impliseer. Maar die klem lê op die straf op die ongelowige wat weier om God se verlossing in Christus te aanvaar, en nie op God se toorn oor die bose nie. Volgens Openb. 20:15 word dié mense wie se name nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie, saam met die duiwel, in die poel van swawel en vuur gegooi (Openb 20:10; vgl. Mt 25:41).

            Johannes se klem lê egter op God se liefde vir die wêreld, dat Hy  sy enigste Seun vir die wêreld gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Jn 3:16). Hy is die weg na God toe vir die hele wêreld, omdat Hy die verdiende regverdige straf op ons sonde gedra het, ons van die skuld/smet van die sonde reinig, en van die mag van die sonde bevry sodat ons, aan Hom verbind, geregverdig en vlekkeloos voor God en in sy lig te kan lewe. Ons word aan Hom verbind deur die geloof wat die Heilige Gees in ons harte bewerk. Die teks beklemtoon dat Jesus die soenoffer vir die sonde is, teenwoordige tyd, nou en vir altyd. Sy offer aan die kruis oorspan die eeue van die begin van die wêreld tot in ewigheid. Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Jn 1:29), en so versoening tussen ons en God bewerk. Hy stel ons ook in staat om te breek met die sonde en daagliks te lewe in die lig.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Eerste Brief van Johannes: Lewe in die lig Die eerste vereiste om in die lig te kan lewe – verwerp sonde (1:8-2:2) (a) erken jou sonde (1:8-10)

1:8  Die tweede paar teenstellings:  ‘As ons sê…’ en 1:9 ‘Maar as ons…’ Die mense wat sê dat hulle in gemeenskap met God lewe, maar hulle optrede wys dat hulle in die duister lewe (1:6), beweer ook dat hulle sonder sonde is, en daarom nie die reiniging deur die bloed van Christus (1:7) nodig het nie.

Die gevolge van die bewering van sondeloosheid word ook positief en negatief gestel: dan:

(i) bedrieg ons onsself – ‘n opsetlike weiering om die feit te erken dat die menslike natuur sondig is, is selfbedrog; ‘n verdwaalde lewe dink dat  wat jou  liggaam doen, nie jou gees kan verontreinig nie, of dat jou meerdere kennis jou sondige natuur uitwis; ons bly mense wat in sonde gebore is om net vir onsself te lewe;

(ii) is die waarheid nie in ons nie –  die waarheid van God wat in Jesus geopenbaar is, is nie in sulke mense nie, al beweer hulle dat hulle gemeenskap met God het. ‘As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak (Jn 8:31-32); ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe (Jn 14:6). Die gelowige is nie sondeloos nie, maar lewe uit die voortdurende reiniging deur die bloed van Jesus (1 Jn 1:8), wat in ons kom woon het deur sy Gees, die Gees van die waarheid (Jn 14:17) wat ons in die hele waarheid inlei (Jn 16:13). Ons lewe in die voortdurende stryd om ‘niks uit selfsug of eersug te doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander  hoër te ag as homself (Flp 2:3).

1:9 Teenoor die valse ontkenning van jou sonde (1:8) het God die pad na gemeenskap met Hom gemaak vir dié mense wat weet dat hulle sondaars is: ‘as ons ons sondes bely…’ – reageer God daarop. Die meervoud ‘sondes’ verwys na spesifieke oortredings of tekortkomings waarvan ons bewus word. God se reaksie kom uit sy wese as die God wat (i) getrou is aan sy verbond met ons, dat Hy ons God is en ons as sy kinders aangeneem het deurdat Hy ons aan sy Seun verbind het in geloof. Hy bly getrou, selfs as ons ontrou is (2 Tim 2:11). Dit sluit sy vergewing van ons sonde  in. Hy is van nature vergewingsgesind, daarom vergewe Hy ons. (ii) Hy is ook die regverdige God wat kan vergewe. Hy het dit vir ons moontlik gemaak om regverdig te word deur die offerdood van Jesus, sy Seun, wat die regverdige straf op ons sonde gedra het.  (vgl. Rom 3:24-26).

            Deur sy getrouheid en regverdigheid reageer God op ons belydenis van ons sondes. Dit het twee gevolge: (i) ‘sodat Hy die sondes vir ons (steeds/telkemale) sal vergewe (soos skuld wat afgeskryf word). Sonde is ‘n oortreding van God se wil en wet. God skryf my skuld af en herstel my verhouding met Hom deurdat Christus my skuld op Hom geneem het; (ii) Hy ons sal reinig van alle/enige soort ongeregtighede.’ Sondes is ook skandvlekke op my naam, wat  God vir  my skoonmaak deur die bloed van sy Seun (vgl. Ef 5:26-27 hoe Jesus sy kerk reinig deur sy woord om sonder vlek of rimpel by Hom te wees.

1:10 Die derde bewering van die dwaalleraars oor die onbelangrikheid van sonde begin weer met ‘As ons sê…’ Dit  is die duidelikste formulering van hulle dwaling: ‘as ons sê dat ons nie gesondig het en daarin lewe nie.’ In 1:8 was dit: as ons sê dat ons nie sonde het nie mislei ons onsself…’  (met die werkwoord ‘het’ in die teenwoordige tyd om aan te dui dat hulle konsekwent ontken dat hulle enigsinds ‘n sondige bestaan het). Hier word die werkwoord sondig in die voltooide tyd gebruik om te ontken dat hulle, wat spog dat hulle met God gemeenskap het,  in die verlede gesondig het en nou nog sondig. In vers 8 ontken hulle die bestaan van sonde in hulle. Hier word enige sondige optredes in die verlede en hede ontken.

            Hulle ontkenning word weer gevolg deur ‘n positiewe en ‘n negatiewe gevolg (i) waar die vorige bewerings die dwaalleraars as leuenaars  gebrandmerk het, word God tot leuenaar gemaak wanneer jy beweer dat jy nie sonde gedoen het of doen nie. Die woord van God in die Ou Testament en die Nuwe Testament sê duidelik dat alle mense sondig is (1 Kon 8:46-51; Ps 14:2-3; Jes 53:6; 64:6; Joh 2:24-25; Rom 3:22-24) en dat God genadig is en sondaars vergewe (Jer 31:34; Ef 4:32). (ii) ‘en is sy woord nie in ons nie’ as ons sê dat ons geen sonde gedoen het of doen nie; ‘sy woord’ is dubbelsinnig en kan verwys na die boodskap wat Jesus en die apostels gebring het, en nie deur die dwaalleraars aangeneem word nie. Maar dit verwys ook na Jesus as Woord van God wat in ons is, deur die Heilige Gees wat in ons kom woon. In 1:8 was dit ‘die waarheid het geen plek in ons nie.’ Hier: ‘sy woord het geen plek in ons nie’: sy verlossingswoord, of meer persoonlik: Jesus self, as die God’s Woord, het geen plek in ons nie. Deur die inwoning van die Gees is die Woord die lewegewende krag waardeur God in die mens werk.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die eerste brief van Johannes: God is Lig – lewe in die lig! (1:5-7)

Onder die tema ‘lewe in die lig’ kyk die skrywer eers na God as lig (1:5-7) en daarna na vier vereistes vir ‘n gelowige om as verligte die wêreld te verlig en die duisternis van sonde, die Bose, die wêreld en die antichris te oorwin (1:8-2:27).

1:5 Die boodsakp wat Johannes-hulle by Jesus gehoor het en aan die gemeentes verkondig, is dat God lig is. Die boodskap het hulle by Jesus self gehoor, die enigste Persoon op aarde wat vir God waarlik ken (Jn 1:18). Hy, die Woord van God, was  ook die lig vir die mense, die lig wat in die duisternis skyn, en die duisternis het dit nie uitgedoof nie (Jn 1:4-5). Die mens kan God nie uit homself ken nie. God openbaar Homself aan die mens in Christus.

Reeds in die Ou Testament is lig en duisternis simbole vir waarheid teenoor leuen, geregtigheid teenoor boosheid (Ps 104:2; 119:130; Jes 5:20; Miga 7:8-9; vgl. Ps 27:1). Ook die Grieke het die term ‘lig’ vir die goeie gebruik.

Dat God lig is beteken dat Hy in sy wese en van nature lig is. Ook as die waarheid (intellektueel) en na sy heiligheid (moreel) is Hy lig. In 2:8 word na Jesus verwys as ‘die ware lig wat reeds skyn’. Maar God is lig (1:5), soos Hy liefde is (4:8,16) en gees is (Jn 4:24). As sodanig is God oneindig, bonatuurlik, geheel anders, die bron van alle lewe en verligting (2 Kor 4:4-6). Met ‘n sterk negatief sê die skrywer: daar is (glad) geen duisternis in Hom nie. As lig (liefde, waarheid en geregtigheid) openbaar Hy juis wat duisternis eintlik is: haat, leuen en boosheid. 

God se volgelinge, sy kinders wat uit Hom voortkom, wat aan Hom behoort, met Hom gemeenskap het (1:3), moet daarom wandel  in die lig, lewe in dié lig, om God se lig te weerkaats (vgl. Lev 11:44; 19:2; 20:26; 1 Petr 1:16: ‘wees heilig want Ek is heilig’).

1:6 Hierdie is die eerste van 3 pare stellings wat begin met ‘As ons beweer…’ (vgl. 1:8 &10) en ‘Maar as ons… (1:7,9; 2:1). Dit verwys na sommige wat beweer dat sonde nie hulle verhouding tot God en hulle lewe affekteer nie, en dat hulle manier van lewe nie vir hulle belangrik is nie, die tipiese Hellenistiese skeiding tussen bose liggaam en reine siel, wat nie die mensheid van Jesus belangrik beskou nie (vgl. Paulus se stryd teen dié Griekse dwaling in 1 Kor 6:12-20).

As ons as gelowiges sou beweer dat ons gemeenskap met God het (1:3), maar tog gewoonlik in die duisternis lewe, lieg ons….’ ‘n Lewe in die duister loën gemeenskap met God wat lig is. Dit verwys na ‘n ingesteldheid wat uitloop op verkeerde optrede, en wat bepaal dat ek sonde (duisternis) kies eerder as vir God (lig).

Johannes se veroordeling daarvan  word eers reguit positief gestel en dan negatief om dit te beklemtoon: ‘…dan lieg ons, en handel/doen ons nie na die waarheid nie’ (vgl. Jer 9:3 ‘…bedrog het die oorhand in die land, nie die waarheid nie…en My ken hulle nie, sê die Here’). In hierdie brief is daar ‘n sterk beklemtoning van lieg teenoor doen van die waarheid (2:4; 4:20). In Jn 8:44 het Jesus die duiwel aangewys as die vader van die leuen. In 1 Jn 3:7-8 ontken Johannes dat ‘n mens ooit regverdig kan wees sonder om ook regverdig en reg te lewe.

Die woord ‘waarheid’ word twintig maal in die drie briewe van Johannes gebruik vir die openbaring van God se wese en sy doel deur sy Seun Jesus te red. Om die waarheid te doen beteken om te lewe volgens wat Jesus vir ons van God geopenbaar het, naamlik dat God lig is, om met ons hele bestaan vanuit God se lig te lewe met integriteit, regte gedagtes, woorde en dade van lig en liefde.

1:7  Teenoor ‘n lewe in die duisternis van sonde, wat gemeenskap met die God van lig uitsluit, staan: lewe in die lig, wat voortvloei uit gemeenskap met God wat self lig is (1:5). Die tyd van die werkwoord druk voortgang uit, ‘n bewuste en volgehoue toewyding aan ‘n lewe in ooreenstemming met Jesus se openbaring van God as lig, om te lewe as kinders van die God van lig.

Teenoor die twee negatiewe gevolge van lewe in duisternis (v6) staan twee positiewe gevolge van ‘n lewe in die lig van God, waar niks weggesteek kan word word of weggesteek hoef te word nie

  1. (i)‘dan het ons gemeenskap met mekaar…’ deur die liefde vir God se kinders, wat God deur sy Gees in ons harte inbring, word ons aan mekaar verbind (vgl. Mat 5:48 wees julle dan volmaak, soos julle hemelse Vader volmaak is, deur selfs julle vyande lief te hê).
  2. (ii)‘en die bloed van Jesus, sy Seun, reinig ons (steeds) van elke sonde’ – in die nabyheid van die heiligheid van die God van lig word ons al meer bewus van ons sondigheid. Vir elke sonde van ons het die mens Jesus, wat ook die Seun van God is, reeds gesterwe aan die kruis. Sy bloed is die simbool vir sy liefdesoffer aan die kruis. In die Ou Testament word bloed beskou as die setel van lewe (Lev 17:11). Deur die kruisdood van Jesus word ons sonde en wat daarmee saamgaan effektief en herhaaldelikSonde versper die gemeenskap met God en met mekaar as gelowiges. Met die verwydering daarvan deur Jesus is egte gemeenskap moontlik.

Met die verwysing na ‘Jesus (sy menslike naam), die Seun van God,’ word sy menslikheid en sy Godheid beklemtoon teenoor die dwaalleraars wat óf die een óf die ander loën. As mens het Hy Homself met ons vereenselwig. As God kon Hy die sonde van die ganse wêreld op Hom neem en wegneem (Jn 1:29).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Voorwoord: Die Eerste Brief van Johannes

Jesus die mens is die enigste Seun van God, die bron van gemeenskap (1:1-4)

 1:1 ‘n Tipiese Griekse brief begin met die naam van die skrywer, die geadresseerdes en ‘n groet, soos in Paulus se briewe en in 2 Johannes. Die skrywer begin hier egter met die hoofsaak van die brief en spel die waarheid uit om alle dwalings by die wortel af te sny. Verse 1-3 is oorspronklik een sin, wat die uitdrukking ‘Woord van die lewe’ verduidelik. Die een ding wat sy gedagtes beheers, is: Jesus Christus is die Woord van die lewe!’ Die drie verse kan saamgevat word as: ons getuig en verkondig aan julle die Woord van die lewe, sodat julle met ons gemeenskap kan hê, en julle saam met ons gemeenskap kan hê met die Vader en die Seun. Ons skrywe hierdie dinge sodat die gemeenskap van die gelowiges, as kinders van God, met sy vreugde vervul sal wees. 

             ‘Wat van die begin af was’ verwys waarskynlik na die begin van alle dinge, die begin van die wêreld (Genesis 1:1), vóór alle tye  (soos in Johannes 1:1).Johannes wil baie duidelik sê dat die Woord, dat Jesus, van ewigheid af, vóór alle tyd, bestaan. Dit stel hy voorop in sy boodskap aan die gemeentes.

            Die skrywer is deel van ‘n groep mense, sy mede-dissipels, volgelinge van Jesus tydens sy aardse omwandelings, van wie hierdie getuienis uitgaan; ‘n groep wat, as oor- en ooggetuies, eerstehandse kennis het van dit wat hier oor Jesus geskrywe word. Hy wat van ewigheid af bestaan, het ‘n konkrete mens geword. Ons het sy prediking ‘gehoor,’ sy optrede ‘gesien,’ Hom ‘aandagtig bekyk,’ ‘met ons hande aangeraak.’ Die ewige God was konkreet liggaamlik by ons – dit teenoor die dwaalleraars wat òf Jesus se godheid misken, òf sy mensheid.

‘Aangaande die Woord van die lewe’ – sommige sien hierin slegs die lewende evangeliewoord wat lewe wek. Ander sien hierin die Woord van Jn 1:1,4 wat self God is, in wie die ewige lewe is, en wat ‘n swakke mens geword het (Jn 1:14). Die twee betekenisse kan altwee aanvaar word, want Jesus wat self die lewe is en dit verkondig, gee ook die lewe (Jn1:4, 12; 3:36). Alle lewe kom van God af. Die mens wat in Jesus, die Woord van die lewe glo, word verbind aan die bron van alle lewe.

1:2 Hierdie tussensin, tussen verse 1 en 3, verklaar die ‘lewe’ van vers 1 verder: ‘en die lewe is geopenbaar, en ons het gesien en getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is.’ Die ‘lewe’ wat geopenbaar is aan die dissipels is sowel Jesus wat die lewe is, en die ewige lewe wat Hy aan sy dissipels meedeel, nl. lewe in gemeenskap met Hom wat ewig lewe. Ons kry deel van die ewige lewe as God se kinders deurdat ons aan die Seun van God, wat die ewige lewe is, verbind is.

Sy goddelike lewe was in die  geskiedenis sigbaar gemaak met die koms van Jesus na die wêreld. In Jesus, as die Woord van God, word die wese van God geopenbaar. Die persoonlike ontmoeting met die lewende historiese Woord van God, moet uitloop op die gelowige se getuienis oor die Woord. Onder die leiding van die Heilige Gees lei dit tot die verkondiging van die evangelie deur woord en daad.

Die ‘lewe’ word verklaar as die ewige lewe wat by die Vader was. Die klem lê nie op die tydsaspek van die ewige lewe nie, maar op die kwaliteit van die lewe. Dit is ‘n lewe in gemeenskap met die Vader, die ewige God, die bron van alle lewe. Dit is die lewe wat aan ons geopenbaar  is met die koms van die Woord van God, in wie die lewe is, en wat mens geword het.

1:3 Vers 3 herhaal vers 1 se ‘ons het gesien’ en ‘ons het gehoor’ om dit te beklemtoon. Vers 2 het die ‘lewe’ van vers 1 verduidelik as ‘ewige lewe.’ In vers 3 sê Johannes: die manier om die ewige lewe te verkry, wat God deur Jesus gee, is om Jesus te ken. Ons het Jesus geken deurdat ons die Woord, wat mens geword het, met ons oë gesien het en met ons ore gehoor het – teenoor die dwaalleraars wat party sy Godheid loën en ander sy mensheid. Ons is boodskappers wat ons kennis van Jesus, in opdrag van Hom, ook aan julle aankondig. Al het julle Hom nie gehoor of gesien nie, is die koms van die goddelike ewige Lewe in die mens Jesus ook vir julle bedoel (Jn 20:29).

            ‘Sodat ook julle met ons gemeenskap kan hê, en dié gemeenskap van ons (saam met julle) is met die Vader en met sy Seun Jesus Christus.’ Die eerste doel van die verkondiging is ons gemeenskap en verbondenheid aan God en daarmee ook met mekaar as sy kinders wat aan sy Seun verbind is – gemeenskap met God en sy kinders, wat die ganse lewe omvat, is ‘n meer omvattende begrip as net verlossing om hemel toe te kan gaan, .

Die aard van die Christelike gemeenkap word bepaal deur God. Hy is die oorsprong daarvan,  en Hy bewerk dit onder ons. God neem ons op in die gemeenskap tussen die Vader en die Seun, waardeur  gelowiges ook aan mekaar verbind word as hulle Johannes se getuienis oor Jesus glo. Sonder die onderlinge liefdesgemeenskap van gelowiges is daar ook nie sprake van gemeenskap met God nie (1 Jn 4:20).

1:4 Johannes skryf namens hulle apostels om vas te lê wat in die hele brief geskryf word. Die unieke gemeenskap met God en met mekaar is die bron van ‘ons volkome blydskap’ – bly om deel te wees van God se gesin van liefde.

Skrywer:  Prof Francois Malan