2 Johannes – Lewe in waarheid en liefde: Praktiese aanwysings (verse 9-11) – Francois Malan

9 ‘Elkeen wat nie bly by die leer van Christus nie, maar ‘vooruitgaan,’ het God nié;…’ Die eienaardige figuurlike gebruik van die woord ‘vooruitgaan’ word waarskynlik deur die dwaalleraars gebruik, met hulle sogenaamde meerdere kennis en progressiewe insig, dat hulle nie langer by die naïewe geloof in Christus as God en mens kan bly nie; hulle beweer blykbaar dat hulle by die naiewe geloof verby ontwikkel het.

 

Maar die oudste sê dat elkeen wat nie by die ware leer van/oor Christus bly nie, ‘het God nié’ – Christus bly nie in hom nie, en hy verloor ook die Vader. 1 Jn 2:23 sê: ‘elkeen wat die Seun verloën, het ook nie die Vader nie’ – het nie ‘n persoonlike en intieme verhouding met die Vader nie (In Jn 15:23 sê Jesus: wie My haat, haat ook my Vader). ‘Die leer van Christus’ – in Jn 7:16-17 het Jesus gesê: Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het. Hierdie leer het die apostels verder gedra – ‘die leer oor Christus’ – wat self die boodskap van God is (Die Griekse voorsetsel kan van of oor aandui) . Vooruitgang wat nie bly by die leer wat Jesus van sy Vader af gebring het nie, gaan by God self verby, en laat die ware God agter.

 

‘…wie in dié leer bly, hý het die Vader en die Seun.’ Terwyl die dwaalleraar die Seun en die Vader verloor het, bly die ware gelowige by die leer van/oor Jesus as Seun van God wat vir ons mens geword het, en daarom het hy gemeenskap met die Vader en die Seun deur die Gees van God, wat in ons kom woning maak om altyd by ons te bly om ons te lei, te versterk, en te bewaar ( 1 Jn 3:23-24). In Jn 14:21 het Jesus gesê: wie My liefhet, hóm sal die Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar; 1Jn 1:3 sê: ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

 

10 ‘As iemand na julle (meervoud: as gemeente, die ‘dame en haar kinders’) kom, en nie hierdie leer oordra nie, moet julle hom nie in ‘n huis (waarin julle vergader) ontvang nie, en hom nie groet nie’ – nie ‘n welkomsgroet soos in v3 of ‘n afskeidsgroet nie – wat gewoonlik vreugde en voorpoed of die seën van die Here toewens. Dit word ‘n te groot geleentheid vir die dwaalleraars om die gemeente te probeer oortuig om hulle verkeerde leer te aanvaar, en so die waarheid te verkrag. Dit beteken nie dat nie met liefde na die dwaalleraars uitgereik moet word nie, maar liefde is nie eg sonder die waarheid nie, en die waarheid kan nie om liefdeswil gekompromitteer word nie.

 

11 Die rede vir Johannes se aanwysing in vers 10 word hier gegee. ‘n Leer wat Christus ontken en mense so van die Vader beroof, is nie slegs ‘n ongelukkige fout nie, maar ‘sy bose werke’ wat mense na die verderf kan lei, waaraan jy meedoen deur die dwaalleraar met ‘n groet aan te spreek. In die Oosterse wêreld is die groet meer as ‘n blote formaliteit; dit bied aan die persoon wat jy groet heil en seën aan, en verplig jou tot gemeenskap. In die gemeente is dit ‘n uitdrukking van verbondenheid tussen mede-gelowiges, kinders van God se gesin. Deur die misleier met ‘n seën te groet het jy deel aan sy bose werke, word jy medeverantwoordelik daarvoor en bied jy aan hom’n vrybrief vir sy valse leer en optrede. Vir die oudste is dit ‘n baie ernstige noodsituasie. Dit gaan nie hier bloot om ‘n wêreldsgesindheid nie, maar om die uitsluiting van ‘n slinkse aanbieding van super-christelikheid wat die ware Christus verloor (vgl. Mt 10:12-15; 1 Kor 10:21).

 

12 Die slot van die brief voorsien ‘n persoonlike besoek aan die gemeente. Die baie dinge wat hy nog vir die gemeente wil sê, wil hy nie met ‘swart’ (ink) en ‘papirus’ (papier) doen nie, maar ‘mond tot mond’ met hulle deurpraat. Die toon van sy stem en die uitdrukkings van sy gesig dra saam met sy woorde sy boodskap oor en skakel misverstand verder uit.

‘sodat ons vreugde volkome sal wees.’ Sy verwagting en hoop is dat die gemeente volgens sy aanwysings sal optree, die misleiers wegwys, en aan Jesus en die regte belydenis oor Jesus vashou. As hy dan by hulle kom en dit só vind, sal hulle saam bly wees. Volkome blydskap was ook as die doel van 1 Johannes beskryf (1 Jn 1:4). Om met blydskap vervul te wees, is die gevolg van die gemeenskap tussen gelowiges wat in liefde aanmekaar verbind is in die waarheid (hier tussen die oudste en die gemeente); die gemeenskap tussen gelowiges is weer die gevolg van hulle gemeenskap met die Vader en die Seun. Omdat God in ons kom woon het, is ons deur Hom ingeskakel in sy groot gesin van gelowiges. Die bron van ons lewe in volle vreugde is volgens 1 Jn 1:3-4 en Jn 15:11 dat Jesus se blydskap in ons is (Jn 16:24).

 

Slot en Groete

 

13 Die groete van die suster-gemeente waaraan die oudste behoort, betrek sy gemeente se gesag by sy gesag agter die brief, en sluit sy persoonlike gemeenskap en liefde vir albei gemeentes daarby in. Hy is een van die kinders van die suster-gemeente. Die uitdrukking ‘uitverkore suster’ kom slegs hier in die Bybel voor. In vers 1 was sprake van ‘n uitverkore dame;’ in Jn 15:16,19 sê Jesus dat Hy sy volgelinge uitgekies het uit die wêreld (die Griekse woord ekklesia ‘uitgeroep’ word met gemeente of kerk vertaal; die woord ‘kerk’ kom van die Grieks kuriake ‘wat aan die Here behoort/die Here s’n’). Die gemeentes is deel van God se groot gesin van Christus-gelowiges wat in waarheid en liefde leef.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




2 Johannes – Behoefte aan waarheid en liefde (verse 7-8) – Francois Malan

7-11 Na die skrywer se vreugde oor gemeentelede wat in die waarheid van God wandel (4), wys hy op die valse geloof van die misleiers wat uitgewyk het ‘in die wêreld’ in. Terwyl die eerste deel van die brief gekonsenteeer het op waarheid en liefde, fokus die laaste deel op die behoefte aan waarheid teenoor valsheid, wat die liefde laat skipbreuk lei. Hier kom die eintlike doel van hierdie noodbriefie na vore.

 

7 ‘want baie misleiers het uitgegaan die wêreld in…’ teenoor sommige wat in die waarheid wandel (4), staan die ‘baie’ wat die gemeentes verlaat het en nou húlle siening van die evangelie verkondig, om die oorblywende gemeentelede te mislei, die wêreld in.

Hulle dwaling is dat hulle ‘nie erken en bely dat Jesus Christus as mens kom nie…’ In 1 Jn 4:2 is ‘n perfektum werkwoord gebruik: ‘Jesus Christus het in die vlees gekom’ – in die verlede en die gevolge daarvan duur nou voort. Hier word dit deur die teenwoordige tyd uitgedruk ‘Jesus Christus die komende in die vlees.’ Daarmee word die tydloosheid van die koms van Jesus aangedui. Die dwalendes het probleme met die persoon van Jesus, dat Hy God is wat mens geword het. So openbaar Hy God en God se liefde vir die wêreld aan élke geslag met sy liefdesoffer aan die kruis. Slegs omdat Hy God is kan Hy die sonde van die wêreld dra. Hy het ons mensheid permanent aangeneem om Hom uit liefde met die mensdom te assosieer (in Openb 1:13 sien Johannes ‘Iemand soos die Seun van die mens’ tussen die gemeentes; en ‘n Lam wat geslag is’ wat die boek ontvang van Hom wat op die troon sit, Op 5:6-7). Maar die mense wat dit nie wil aanvaar nie, word deur 2 Jn soos volg genoem:

‘…so iemand is die misleier en die antichris.’ Die oudste beskryf ‘n radikale teenstand teen Jesus in die vorm van die verspreiding van ‘n verkeerde opvatting oor Jesus. In die baie misleiers se opvattings oor Jesus sien Johannes die werk van die antichristelike misleier. ‘n Deel van die antichris se werk is juis om te mislei (1 Jn 2:22; vgl. 2:18; 4:3; 1 Tm 4:1); die priesterhoofde en die Fariseërs het ná die kruisiging aan Pilatus gesê dat Jesus ‘n bedriër/misleier is, (Mt 27:63). Paulus sê die apostels word as misleiers behandel (2 Kor 6:8). Met die leuens wat Christus se teenstanders versprei word die mense mislei.

2 Jn waarsku die gemeente drngend om nie mislei te word nie (8,9) en nie misleiers aan te moedig nie (10,11). Jesus het reeds gewaarsku dat daar vals christusse en vals profete sal kom, wat sal probeer om die uitverkorenes te mislei (Mk 13:22-23).

 

8 Die manuskripte het verskillende weergawes van die drie werkwoorde se persoonvorms: Julle moet toesien dat

ons nie verloor wat ons voor gewerk het nie, maar dat ons die volle loon ontvang… (9e eeuse teks deur die 1953-vertaling en die Nuwe Lewende Bybel gevolg)

julle nie verloor wat ons voor gewerk het nie, maar dat julle die volle loon ontvang..(4e eeuse teks deur die 1983-vertaling gevolg)

julle nie verloor wat julle voor gewerk het nie, maar dat julle die volle loon ontvang…(4e eeuse teks)

By die eerste weergawe sluit die oudste hom in by die hele proses: hy het saam gewerk aan hulle bekering en sal saam met hulle die volle loon van die ewige lewe ontvang (Jn 6:27). Dit is die maklikste verklaarbaar, maar is eers sedert die 9e eeu deur die meeste afskrifte oorgeneem, en daarom waarskynlik nie die oorspronklike weergawe nie).

Met die tweede weergawe moet die gemeente toesien dat hulle nie verloor waarvoor die apostels en verkondigers gewerk het om hulle tot Jesus te lei nie, sodat die gelowiges die volle loon kan ontvang. Dit is die weergawe van die kodeks Vatikanus met min navolgers, wat ‘n redelike maklik verklaarbare teks het, en die werk van die apostels stel teenoor die werk van die dwaalleraars.

Die derde weergawe verwys die opdrag aan die gemeente om toe te sien dat hulle nie verloor waarvoor hulle gewerk het nie deur aan Jesus getrou te bly in hulle geloof in Hom en sy opdrag aan hulle om mekaar lief te hê. Dit is die weergawe van die kodeks Sinaïtikus en ‘n hele aantal manuskripte, wat ‘n redelik moeiliker verklaring verg, en deur heelwat kommentare voorgestaan word, en bv. in die Engelse Revised Standard Version, en New International Version gevolg word.

Die kommissie wat die Griekse teks vir die Bybelgenootskap voorberei, het met groot onsekerheid vir die tweede weergawe gekies, ten spyte van die skraal getuienis, omdat dit die maklikste aanleiding tot die wysigings van die ander kon gee, en die delikate stelling moontlik aan die oorspronklike skrywer toegeskryf kan word, eerder as aan die afskrywers.

Die opdrag ‘let op julleself’ (julle moet toe toesien) beklemtoon die belang van jou verantwoordelikheid om te waak teen afdwaling van die geloof in Christus as God wat vir ons gesterf het, en teen liefdeloosheid. Dit volg op Jesus se waarskuwing: Pas op dat niemand julle mislei nie (Mk13:5; vgl. Mk13:9,23 let op julle self).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




2 Johannes – Lewe in waarheid en liefde (verse 4-6) – Francois Malan

In verse 4-11 kom die praktiese waarde van die brief aan die beurt: verse 4-6 oor die geestelike lewe van die gemeente brei uit op vers 3; in verse 7-11 word gewys na die geestelike gevare wat die gemeente van buite omring en van binne bedreig – soos 1 Jn gewys het op die kontraste tussen waarheid en leuen, liefde en haat.

 

4 Die gewone Griekse brief begin met vreugde oor goeie nuus, ná die naam van die skrywer en die geadresseerders en groete. Die skrywer sê ‘ek was baie bly dat ek van jou kinders gekry het wat in die waarheid wandel…’ – hy het in die onlangse verlede met lede van dié gemeente wat só lewe, kontak gehad. Dit impliseer egter dat daar party van die lidmate is wat nie meer in die waarheid wandel nie, en dat daar ‘n skeuring in die gemeente plaasvind. Volgens v7 glo die ander nie dat Jesus waarlik mens was nie (‘n probleem vir die Griekse wat glo dat die mens se liggaam die tronk van sy siel is). Om in die waarheid te wandel beteken dat die getroues toegewy is aan God se waarheid, wat in Jesus geopenbaar is, en in ons bly (v2), dat God se waarheid in gehoorsaamheid uitgelewe word.

 

‘…soos die gebod wat ons van die Vader ontvang het’ – in 1 Jn 3:23 is gesê: ‘En dit is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê, ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het.’ Dié twee gaan saam: die waarheid wat in Jesus geopenbaar is, en die liefde wat God beveel en in ons lewe bewerk (2 Jn 2). In dié verdeelde gemeente is die menings oor Jesus verdeeld, en liefde ontbreek by sommige van die dwalendes. Die stelling in die eerste deel van die vers dat sommige wandel in die waarheid van God wat in hulle bly, word in die tweede deel van die vers verbind aan die gebod van God, dat ons steeds in die waarheid moet wandel. God gee aan ons die waarheid as sy gawe, en eis dan dat ons volgens sy gawe lewe. As ons die openbaring van God se waarheid ontvang, is ons nie langer vry om te kies of ons dit sal doen of nie. Hoe duideliker die openbaring, hoe groter die verantwoordelikheid om dit te glo en te gehoorsaam (vgl. Amos 3:2). So word vers 5-6 voorberei.

 

5 Die oudste pleit nou by die gemeente (met die simbool ‘dame’ aangespreek) dat ons mekaar steeds sal liefhê. Die ‘nou’ volg op die kontak wat hy reeds in die verlede gehad het met ‘van jou kinders’ (4). Die dringende versoek is nie nuut nie, maar volg op die liefdesgebod wat alle gelowiges van die begin af ken (1 Jn 2:7; 3:11), wat Jesus aan al sy volgelinge gegee het (Joh 13:34; 15:12,17). In die huidige omstandighede van die gemeente word dit weereens beklemtoon. Liefde kan ‘n gebod wees, want dit is nie ‘n blote emosie nie, maar ‘n wilsbesluit, ‘n gehoorsame reaksie op God se eis dat ek myself aan Hom oorgee as die Here wat my lewe beheer. So is ‘bly in die waarheid’ ‘n opdrag tot gehoorsame toewyding aan God se openbaring van Homself in Jesus se optrede. Dit is nie bloot ‘n intuïsie oor wat waarheid is nie. Die eis om mekaar lief te hê, het met die Drie-eenheid te doen: liefde kom van die Vader (1 Jn 4:7), is geopenbaar in die Seun wat sy lewe vir ons afgelê het (1 Jn 3:16), en word aan ons geskenk en in ons gewerk word deur die Gees wat die lewe gee, as God wat in ons bly en ons in Hom (1 Jn 4:13-16). Ons word deel van die liefdeseenheid tussen die Vader en die Seun en die Gees.

6 Die omskrywing van die geestelike lewe van die gemeente word met hierdie vers afgesluit. Die twee groot sake word herhaal: wandel/lewe volgens God se gebooie; wandel/lewe in die liefde. Johannes beklemtoon dat liefde uitgedruk word in gehoorsaamheid. Sonder gehoorsaamheid aan God se gebod is daar geen ware geloof nie en ook geen egte liefde nie. Ons hele lewe moet ingerig word volgens die liefdesgebod.

Die invoeging, dat hulle die liefdesgebod van die begin af gehoor het, herhaal dat dit die fundamentele verpligting is, wat telkens herhaal moet word, en konstant uitgelewe moet word. Hier word dit andermaal onderstreep vir ‘n gemeente wat juis probleme het met die onderlinge liefde van gemeentelede, met afdwaling van die ware geloof in Christus, en die aard van die waarheid as die selfopofferende liefde van Christus verloor.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




2 Johannes – Lewe in waarheid en liefde (1-13) – Inleiding vervolg – Francois Malan

Vers 2. Die sin in vers 1 gaan voort en volg op die hoofwerkwoord in v1: ‘wat ek in waarheid liefhet…op grond van die waarheid wat in ons bly en vir ewige met ons sal wees.’ Waarheid is die dryfveer en die konteks van alle Chrstelike liefde. Terwyl vers 1 van die Christelike waarheid gepraat het as ‘n werklikheid, word hier gewys dat dit ‘n krag is wat vir altyd in ons bly (vgl. Jer 31:31 Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê). Christene het mekaar lief, nie net omdat die waarheid oor God, wat Jesus aan ons geopenaar het, ‘n opdrag bevat om lief te hê nie, maar omdat die waarheid in die kerk en die gelowige bly, en ons innerlik dring om tot liefdes-aksie oor te gaan (1 Jn 2:14 die woord van God bly in julle). Wat in Jn 14:15-17 van die Gees van waarheid gesê is, dat Hy vir ewig in ons kom woon, word hier van die waarheid self as ‘n persoonlike invloed gesê. 1 Jn 2:21 het gesê dat die gelowiges die waarheid ken, en 1 Jn 5:20 dat hulle geroep is om in Hom wat die waarheid is te bly; 1 Jn 4:16 dat die God van liefde in hulle bly, deur die Gees wat Hy hulle gegee het; ’want die Gees is die waarheid’ (Jn 5:6).

 

Die skrywer se opvatting van die waarheid is nie iets wat op sy eie los staan nie, maar betrek die moontlikheid van ‘n intieme en voortgaande verhouding met God in sy gemeenskap met sy Seun en ook met ander mense (2 Jn 4,7,10-11). Die Heilige Gees oortuig ons deur die woord van God (Jn 16:8,13-14), sodat ons besluit om te glo dat Jesus God is wat vir ons gesterf het. Deur die voortgaande inwoning van die Gees is God aktief teenwoordig in die gelowige, en tot in ewigheid by hom/haar (Jn 14:17,20,23).

 

‘…en (die waarheid) vir ewig met ons sal wees.’ Die ‘ons’ sluit almal in wat die waarheid ken (1). Die waarheid van God het gekom om in die gemeenskap van die gemeente te bly, en so lank as wat hulle die waarheid ken en aanvaar, so lank sal die onderlinge liefde in die gemeente bly. Die waarheid oor Christus is die fondament van wedersydse christelike liefde en die eenheid van die kerk as die huisgesin van God ons Vader.

 

3 Die brief-inleiding sluit met ‘n seën, wat hier ‘n belofte word: ‘genade, barmhartigheid, vrede sal met ons wees…’ met ‘ons’ sluit die skrywer homself by die belofte in, iets wat ongewoon is in die ander briewe van die Nuwe Testament.

Genade is die onverdiende liefde wat God aan sy skepsels bewys (1 Kor 15:9-10).

Barmhartigheid het dieselfde betekenis wat meer die gesindheid aandui; dit sluit ook God se getrouheid aan sy verbondsverhouding met die mens in, en, wanneer die mens ontrou word aan die verbondsverhouding, sluit dit ook God se vergifnis in (Lk 1:72). Dié twee uitdrukkings van God se liefde dui sy genade aan vir skuldiges en onverdienstelikes, en sy barmhartigheid vir hulle in nood en sonder hulp.

Vrede, die Joodse sjaloom, sluit verlossing en heelheid in, op elke terrein van die lewe, ook geestelik (Jes 26:3; Jn 14:27); dit beteken vrede met God, met ander mense en met jou self. Vrede verduidelik die karakter van ons verlossing; barmhartigheid ons behoefte daaraan; genade die vrye voorsiening daarvan in Christus. Johannes bevestig dat dié gawes van God met ons sal wees, dit sal ons deel wees. Dit is nie slegs ‘n wens nie, maar ‘n versekering dat God sy woord gestand sal doen.

 

‘…van God, die Vader, en van Jesus Christus, die Seun van die Vader…’ Die Vader en die Seun is die bron van ons lewe in liefde (1 Jn 4:19). Die ‘Seun van die Vader’ is ‘n ongewone uitdrukking, en onderstreep die unieke verhouding van Jesus met die Vader, anders as die verhouding van gelowiges teenoor die Vader (in die Johannese geskrifte word die term ‘Seun, huios, van God’ slegs vir Jesus gebruik. Gelowiges word ‘kinders, tekna, van God’ genoem). Dit word ook beklemtoon teenoor die dwaalleraars wat die godheid van Jesus misken (1 Jn 2:22-23). Jesus is nie slegs die Christus, die Joodse Messias, nie, maar die Seun van God.

 

‘…in waarheid en liefde.’ God se seën van genade, barmhartigheid en vrede word alleen beleef in die ruimte van God se waarheid en liefde (vgl. hoe die Here Hom aan Moses geopenbaar het, ná Israel se sondeval met die goue kalf, Eks 34:6-8; en God se hoogste liefdesoffer vir die sonde van die wêreld met sy Seun aan die kruis, Jn 1:29 ). Gelowiges en die gemeente word geroep om mekaar in dié waarheid lief te hê en om in liefde aan dié waarheid vas te hou (vgl. Jn 13:34; 15:12-14). Ons liefde moet nie so blind wees dat ons nie ander se afwyking van die waarheid raaksien nie. Maar ons moet die waarheid in liefde teenoor mekaar verdedig, nie in ‘n harde en bitter gees nie. Ons liefde word pap as dit nie met die waarheid versterk word nie; en ons waarheid word hard as dit nie versag word deur die liefde nie – So word die boodskap van die brief ingelei, nl. om in waarheid en liefde te leef (4-11).

Skrywer:  Prof Francois Malan