Gebed – Prof Jan van der Watt

Suzette vra:

 Die Bybel sê waar daar 2 of meer saam bid, daar is Ek. Dat God is daar as tmeer saam bid. As dit jy alleen is, word die boodskap nog as ‘n gebed opgestuur deur die Heilige Gees?

 Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Gebed is ’n manier om met God te praat, of dit nou by wyse van ’n skietgebed, ’n lang gesprek, lof, aanbidding, vra vir hulp, altyd deur bid, of iets anders is. Dit maak nie saak of jy alleen is of nie. Daar is ‘n vraag of gebed net geldig is as daar twee of drie saam bid. Inderwaarheid staan daar in Matteus 18:20 dat waar twee of drie vergader, daar sal die Here by hulle wees. Hier word nie spesifiek na gebed verwys nie, maar daar word gesê dat twee of drie ’n wettige byeenkoms is. Dit is in die lig van sekere bepalings van die Jode wat vereis het dat daar eers ’n sekere hoeveelheid mans bymekaar moes wees voor dit ’n wettige godsdienstige byeenkoms genoem kan word. Die getal ‘twee of drie’ kom heelwat in die Bybel voor as getal wat in die hof genoeg is om te getuig. Dit is ’n wettige groep (vgl. Deut 17:6; 19:15; Matt 18:16; 2 Kor 13:1; Heb 10:28). Dit word nou op die Christelike samekoms toegepas – waar twee of drie bymekaar is, daar is die wettige gemeente van die Here bymekaar. Dus gaan hierdie gedeelte oor baie meer as net gebed.

            Help die Heilige Gees ons met gebed. Waarskynlik die bekendste uitspraak in die verband is in Romeine 8:26-27 waar daar gesê word dat die Heilige Gees vir ons by God intree as ons nie weet wat of hoe ons moet bid nie. Die versugtinge van ons hart kom dan deur die Heilige Gees by God uit. Op die manier staan die Gees ons ook in ons swakheid by. Omdat die Gees in elke gelowige is, ken die Gees ons gedagtes en bedoelinge. Dit is soos ’n tweesyndende swaard: dit is goed, soos ons hierbo gesien het, maar aan die ander kant kan ons God nooit bedrieg nie. Daarom is gebed so gevaarlik – ons kan nie voor Hom vals wees as ons bid nie. Ons kan nie van Hom vra om ons sonde te vergewe, maar ons is nie regtig jammer daaroor nie. Ons kan nie vir hom vra om mense in nood te help as ons nie bereid is om sy instrumente te wees wat dit doen nie. God sal weet as ons as ‘tweegesigte’ bid. Nee, gebed vereis altyd opregtheid.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Sondebelydenis – Jan van der Watt

Martie vra:

Ek het onlangs die argument gehoor dat daar nerens in die Bybel staan dat na Jesus se kruisdood, ons nog ons sondes moet bely nie, want Jesus het reeds vir dit aan die kruis gesterf.

  1. Is dit so dat ons nie ons sondes moet bely voor God nie?
  2. Is dit so dat ons nie skuldig moet voel oor ons sonde nie?

 

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

  1. Die argument wat jy gehoor het, is nie reg nie. Kyk maar net na die bekende 1 Joh 1:7-2:2, waar daar van sondebelydenis gepraat word. Die mense van wie hier gepraat word is Christene wat na Jesus se dood aan die kruis geleef het. Hulle word aangemoedig om hulle sonde te bely sodat die bloed van Jesus hulle van hulle sonde kan reinig. God sal hulle dan vergewe, daarvan kan hulle seker wees. ’n Mens moet onthou dat belydenis van sonde beteken dat jy jou verhouding met God, wat jy deur jou verkeerde optrede geskend het, wil regmaak. Jy moet met ander woorde, weet wat jy verkeerd gedoen het, dit vir God sê, om verkoning vra en onderneem om dit nie weer te doen nie. So herstel jy weer jou verhouding met God. Ons liefdevolle God sal jou vergewe en jou sonde oorsien.
  2. Die oomblik dat ons as kinders van God gebore word, verander ons status in die oë van God – ons behoort dan aan sy familie. Ons is dan van ons sonde vrygekoop – lees maar Kol 2:11-15 waar daar beskryf word hoe die ou mens begrawe word en die nuwe mens soos Jesus opstaan, met ons sonde wat aan die kruis vasgespyker is. Ons het dus ’n nuwe status as mense wat saam met Jesus opgestaan het. Tog, net ’n paar verse verder in Kolossense (2:20-3:1-17), word daar gesê dat gelowiges, met die nuwe status as God se kinders nog foute maak, maar dat dit ’n duidelike doel in hulle lewens moet wees om soos Jesus te leef. (3:1-2, 9-10). Gelowiges kan dus nog sonde doen, maar moet aktief daarteen veg en elke dag probeer om te leef soos Jesus wil hê. Kolossense praat wel nie van sondebelydenis nie, maar gebruik die beeld van ‘klere uittrek’ – die klere is die sondige dinge wat hulle doen, waarvan hulle ontslae moet raak, terwyl hulle in die plek daarvan skoon klere (soos liefde vergifnis, vriendelikheid ens.) moet aantrek (Kol 3:5-17). ’n Gelowige moet natuurlik ongelukkig voel oor dit wat hy of sy verkeerd doen, want dit maak die Here nie gelukkig nie. Dit is nie hoe ’n kind van die Here optree nie. Aan die ander kant, as jy bewus raak van sonde in jou lewe, moet jy dit dadelik bely, want dit belemmer jou verhouding met die Here en dit is nooit goed nie. Om nie bekommerd te wees oor dit wat jy verkeerd doen en werk daarvan te maak deur sondebelydenis nie, is om in die hande van die duiwel te speel. God se vergifnis mag nooit maak dat ons gewoond raak aan sonde omdat Hy so liefdevol is om ons altyd te vergewe as ons ons sonde bely nie (Rom 6:1). Kies liewer die pad van heiligmaking deur sonde in jou lewe ‘uit te trek’.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Liggaam, Siel en Gees – Jan van der Watt

Fanie vra:

·As die mens sterf verlaat die gees die liggaam en vertoef in rus dws “slaap” tot emet die wederkoms. Dus bestaan die siel dws denke, begrip, verstand, emosie, intellek nie meer nie. Die gees word deur Hom wat dit geskep het gehou dws God. Dus is die gees geen persoon nie en kan dus nie kommunikeer met geliefdes nie. So kan niemand wat as gelowige sterf reeds in die hemel wees nie want net die gees ‘bestaan’ en moet weer deur God teruggegee word. Dus almal moet geoordeel word met die wederkoms. Dus die ‘sondaar’ se liggaam moet ook weer met sening en vlees oorgetrek word, dus ‘n nuwe liggaam en sy gees moet teruggegee word en dan kan hy die oordeel ervaar.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

·         Die reeks stellings is nie eintlik ’n vraag  nie en word geplaas vir interessantheid – lesers kan daaroor nadink en as hulle vrae het, kan hulle gerus skryf. Hier volg enkele opmerkings:

·         Dit is heeltemal reg dat volgens die Bybel ’n mens uit liggaam en gees bestaan. Dit is so van die begin van die Bybel af, naamlik dat ’n liggaam (vlees) nie lewe en mens is, voordat dit nie met die gees verenig nie. Daarom lê die Nuwe Testament ook soveel klem daarop met die opstanding op die laaste dag mense as liggaam (wel ’n verheerlikte liggaam – 1 Kor 15) en gees sal opstaan – alleen so is hulle volledig mens. In die Evangelie van Johannes word daar, byvoorbeeld, gepraat van die laaste dag as mense, wat reeds die ewige lewe het, opgewek gaan word, d.w.s. hulle liggame gaan met hulle geeste verenig word (Joh 6:39, 40, 44).

·         Die terme liggaam, siel en gees word nie deurgaans in die Bybel gebruik nie (sien die artikel in Bybelkennis.co.za oor liggaam, siel, en gees). Dit was terme, soos hierbo ook genoem word, om verskillende funksies van die mens mee te beskryf, en selfs van die Griekse filosowe (nie-Christene) het die woorde so gebruik. Die liggaam het na die fisiese deel verwys, die siel na die denke en die gees na die godsdienstige vermoeëns van die mens. In die meeste gevalle praat die Bybel egter  net van liggaam en gees om so die fisiese en geestelike dele van ’n mens te onderskei. Dit word dan gewoonlik gesê dat as die liggaam sterf en tot niet gaan, die gees bly voortbestaan. Johannes sal byvoorbeeld sê dat ons die ewige lewe het, wat beteken dat hoewel die liggaam sterf, die gees van die gelowige bly leef (Joh 11:25-26). In die Evangelies sê Jesus byvoorbeeld dat gelowiges nie bang hoef te wees vir mense wat hulle liggaamlik kan doodmaak, maar niks verder aan hulle kan doen nie. Hulle moet liewer omgee wat God (ook met hulle as mense, dus gees en liggaam) kan doen (Matt 10:28, sien ook Luk 12:4-5). Ander skrywers is bietjie meer terughoudend, maar veral 1 Kor 15 is bekend as die gedeelte wat oor hierdie dinge praat. 

·         Oor kommunikasie met geeste van die dooies is die Bybel baie negatief. Die rede is hoofsaaklik omdat dit God wil ‘kortsluit’. Wat nodig is om te weet, deel God ons mee. Kyk maar wat sê Abraham vir die ryk man in Luk 16:19-31toe hy vra dat daar deur Lasarus op ’n buitengewone manier met sy familie gekommunikeer moet word. God se woord is genoeg.

·         Oor die finale oordeel, sien die artikels in Bybelkennis.co.za. Hier kan net genoem word dat volgens Openbaring 20:11-15 alle mense finaal geoordeel sal word, soos Matt 25:31-46 ook sê. Vir gelowiges sal die laaste oordeel egter net lekker wees. Johannes sê dat gelowiges nie eers regtig geoordeel sal word nie, omdat hulle reeds deur Jesus se woorde as lewend en God se kinders verklaar is. Jesus het self gesê dat die wat in Hom glo die ewige lewe het en Hy sal nie sy woord breek nie. In 1 Joh 4:17-18 sê hy dat gelowiges die finale oordeel met selfvertroue tegemoed kan gaan. Ander, soos Petrus en Paulus, beklemtoon weer dat God vir gelowiges hulle erfdeel in die hemel hou, met ander woorde, hulle kan seker wees van die finale oordeel se uitspraak (Ef. 1:9-11; Kol 3:1-4; 1 Pet 1:3-5). In elke geval, wie kan die gelowige aankla as Jesus die gelowige se advokaat is? (Rom 8:31-39).

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Goedheid en guns – Hermie van Zyl

Dirk vra:

My tante van 89 het my gevra waar in die Bybel staan “net goedheid en guns.” Dit na aanleiding van ’n omroepster op televisie wat die nuus met dié woorde eindig. Ek het haar gesê ek glo nie dit kom enigsins in die Bybel voor nie, maar hoe stry mens met ’n 89-jarige.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Dit kom nogal wel voor, in die bekende Psalm 23:6, volgens die 1933/53 Afrikaanse Vertaling: “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe”. Die 1983-Vertaling het dit met “goedheid en liefde” vertaal, en die 2020-Vertaling met “goedheid en troue liefde”. Die goedheid en guns/troue liefde van God, wat nooit wyk nie en waarin die gelowige hom/haar koester, is bekende begrippe wat dikwels in die Bybel voorkom, byvoorbeeld Numeri 14:19; Nehemia 13:22; Psalm 52:10; 63:4; Jesaja 54:7. Almal handel oor die groot of troue liefde van God wat ons altyd omvou.

Ja, mens moet maar mooi dink voor jy met ’n 89-jarige stry.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl