Twee kinder die name van plunder en roof – Francois Malan

Vraag

‘n Leser vra

Waar staan dit dat twee kinder die name wat plunder en roof moet wees

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord

Die 2020-vertaling van die Afrikaanse Bybel is nader aan die oorspronklike Hebreeuse teks en word hier gevolg.

In Jesaja 8:3-4 staan dat Jesaja by die profetes ingegaan het en sy het swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring. Toe het die HERE vir my gesê: Noem hom ‘Vinnig-buit-spoedig-roof’ in Hebreeus maher-sjalal-gasj-baz. Want voor die seun weet om te sê: ‘Pa!’ en ‘Ma!’ sal hulle die rykdom van Damaskus en die buit van Samaria voor die koning van Assirië uitdra..

Dit volg op Jesaja 7. Damaskus, die hoofstad van Sirië, en Samaria, die hoofstad van Israel se tien noordelike stamme, het ’n verbond gesluit om Juda se gebied in te val en oor te neem, waar Agas koning van Juda in Jerusalem regeer het. Agas het toe vir Assirië ’n klomp goud gestuur wat hy van die tempel en die paleis gestroop het, om hom te kom help teen sy twee bure wat besig was om Juda se gebied oor te neem.

Die HERE het vir Jesaja gestuur om vir Agas te sê die HERE sal hom help en hy kan ’n teken vra om dit te bevestig. Maar Agas het klaar sy hoop op Assirië geplaas en gesê hy gaan nie die HERE versoek nie. Toe gee Jesaja aan Agas ’n teken van die HERE: 7:14 en 16: Kyk, ’n jong vrou is swanger, en gaan ’n seun in die wêreld bring. Sy sal hom Immanuel (‘God is by ons’) noem…voordat die kind weet om die kwaad te verwerp en die goeie te kies, sal die grondgebied van die twee konings oor wie jy verskrik is, verlate lê.

Jesaja het toe reeds by sy jong vrou ingegaan, wat swanger geword het en die seun in die wêreld gebring het. Die HERE het toe gesê hy moet die seun ‘Vinnig-buit-spoedig-roof’ noem. Dit is wat met Damaskus en Samaria gebeur het toe Salmaneser van Assirië hulle beleër het en Israel se tien stamme na Assirië in ballingskap weggevoer het (2 Konings 18:9-12). Dit het gebeur omdat die HERE by Juda was (Immanuel).

Die Griekse vertaling het die Hebreeuse ‘jong vrou’ (‘alamah) met ‘maagd’ (parthênos) vertaal en Matteus 1:23 het die Griekse vertaling se maagd op Maria toegepas oor die geboorte van Jesus as God met ons, ‘Immanuel.’

Skrywer: Prof Francois Malan




Die dimensies van God se koninkryk – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Kan julle vir die mense uiteensit wat God van praat of wat Hy bedoel met die vier dimensionaliteit van die koninkryk van God, volgens Efesiërs 3:18 en Markus 12:30. Dit is so ’n fenomenale openbaring. Die opsomming daarvan, wat die Vader my nou al gegee het, strek al oor 100 bladsye. Ek glo julle sal weet wat God alles bedoel het daarin.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek is ’n bietjie onseker oor wat ons vraagsteller presies bedoel met die “vier dimensionaliteit van die koninkryk van God” soos dit in Efesiërs 3:18 en Markus 12:30 na vore sou tree. Hy verwys waarskynlik na die feit dat in beide tekste vier dinge genoem word, maar die viertal wat in dié tekste voorkom verwys nie na dieselfde dinge nie. Die beste wat ek kan doen, is om gewoon ’n uitleg te gee van die twee tekste. Hopelik sal dit lig werp op die saak wat die vraagsteller graag aan die orde wil stel.

Efesiërs 3:18

Hierdie teks lui soos volg (volgens die 2020-Direkte Afrikaanse Vertaling van die Bybelgenootskap van SA): “… sodat julle volledig in staat mag wees om saam met al die heiliges tot die besef te kom van die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte …”

Om dié teks na behore te verstaan, moet dit in sy onmiddellike verband geplaas word. Paulus is in 3:16-19 besig met ’n gebed. Hy bid vir drie dinge: 1. Dat die gelowiges innerlik versterk mag word (v16-17). Dit gebeur wanneer die Gees werksaam is in gelowiges en Christus in hulle harte woon; 2. Dat hulle kennis van die volle omvang van God se openbaring sal toeneem, veral wat die liefde van God behels (v18-19a); 3. Dat God se volle heil in hulle lewe ’n werklikheid sal word (v19b).

Dit is duidelik dat 3:18 deel is van die tweede bede. Paulus bid dat die gelowiges tot die besef / die kennis sal kom wat “die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte” (van God se openbaring) is. Uitleggers het al baie verklarings aangebied vir wat hierdie viertal – die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte – presies sou beteken. Ek gaan hulle nie almal hier noem nie, maar slegs op die mees waarskynlike verklaring ingaan. Die agtergrond van hierdie uitdrukking lê waarskynlik in die Ou-Testamentiese wysheidsliteratuur, waar soortgelyke uitdrukkings voorkom. Vergelyk byvoorbeeld Job 11:7-9: “Kan jy die geheimenisse van God ontrafel …? Dit is hoër as die hemel … Dit is dieper as die doderyk … Langer as die aarde … en breër as die see.” Hier kry ons die gedagte dat die geheimenis van God se wese en werksaamheid onpeilbaar is. ’n Mens kan dit nie ontrafel nie; die omvang daarvan is ver bokant ’n mens se begrip. Job vergelyk dit met die onmeetbaarheid van die hemel, die doderyk, die aarde en die see. Met ’n soortgelyke viertal wil Paulus dan ook in Efesiërs 3:18 dui op die onpeilbare omvang van God se heilswerk in Christus. ’n Mens kan dit nie met jou verstand volledig begryp nie. Tog bid Paulus dat die gelowiges in staat mag wees om iets van hierdie omvang – die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte – te begryp. ’n Soortgelyk gedagte tref ons ook in Romeine 11:33-36 aan, waar Paulus wys op die diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God, dat sy oordele ondeurgrondelik en sy weë onnaspeurlik is.

Wat verder betekenisvol is in Efesiërs 3:18-19 is dat hierdie kennis van God se omvangryke heilswerk in Christus gekoppel word aan die korporatiewe kennis van die gelowiges en aan die liefde. Korporatief: Paulus sê dat hulle “saam met al die heiliges” tot die besef mag kom van God se omvangryke genade. Dit gaan dus nie soseer oor ’n individuele, mistieke ervaring van God nie, maar dat gelowiges mekaar nodig het om tot hierdie kennis te kom. Sáám moet hulle soek na God se omvangryke genade. Hoe meer ons mekaar opsoek, probeer agterkom hoe God in almal se lewe sy genadewerk uitvoer, hoe meer leer ons dit ken en hoe meer staan ons verwonderd daaroor. Maar daar is nog iets: Kennis is nie alles nie; daar is iets wat kennis te bowe gaan, en dis die liefde. Daarom dat Paulus in 3:19a bid dat die gelowiges Christus se liefde sal leer ken, wat alle begrip te bowe gaan. Kennis kan opgeblase maak, soos Paulus op ’n ander plek sê: “Kennis maak verwaand, maar liefde bou op” (1 Korintiërs 8:2). Ook die kennis van God se omvangryke genadewerk moet altyd staan in die teken van die liefde wat alles bedek (1 Korintiërs 13:7).

Om dus saam te vat: Die viertal van Efesiërs 3:19 verwys nie soseer na afsonderlike dimensies wat elkeen op sy eie geneem moet word nie, maar druk gesamentlik die totale omvang van God se genadewerk uit. Dis Paulus se gebed dat die gelowiges grondige kennis hiervan sal bekom.

Markus 12:30

Hierdie teks lui: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.” Weer eens het ons hier met ’n viertal te doen – hart, siel, verstand en krag – maar hierdie keer verwys dit nie na die totale omvang van God se genadewerk aan ons, soos by Efesiërs 3:18 nie, maar hoe ons as mense God moet liefhê. In kort beteken dit dat ons God met ons hele menswees sal liefhê; “hele menswees” word hier konkreet uitgedruk as hart, siel, verstand en krag. Markus 12:30 is natuurlik ’n aanhaling van Deuteronomium 6:5 waar Israel reeds die opdrag kry om God lief te hê met hart en siel, met al hulle krag. Markus (soos ook Lukas 10:27) voeg egter “verstand” by, hoewel by Matteus 22:37 daar net ’n drietal voorkom (“krag” word weggelaat).

Uit hierdie vier- of drietal moet ons nie die afleiding maak dat die mens uit drie of vier dele saamgestel is nie, asof die mens ’n samevoeging van afsonderlike “onderdele” is wat uiteindelik die hele mens uitmaak nie. Dit is eerder so dat elkeen van hierdie woorde die hele mens beskryf, vanuit ’n bepaalde perspektief gesien. So is die hart die bron van die menslike bestaan, van waaruit sy denke, gevoel en wil voortspruit; die siel is die menslike bestaan gesien vanuit sy vermoëns en begeertes; die verstand is die mens gesien as ’n redelike, denkende, verantwoordelike wese; en die krag is die mens gesien vanuit sy gerigtheid op ’n taak, sy toewyding. Wanneer al drie (of vier) saam genoem word, wil dit dus net sê dat die mens in sy totaliteit, in sy volle menswees, vanuit alle perspektiewe gesien, betrokke is. En so, sê Markus 12:30, moet ons God liefhê. Niks van wie jy as mens is mag uitgesluit word by jou gerigtheid op God nie. Hy eis jou as totale mens vir Hom op.

Ek vertrou dat bostaande oorsig ’n bydrae sal lewer tot ons vraagsteller se eie ondersoek.

SkrywerProf Hermie van Zyl




Waarom word Jesus nie duideliker verkondig nie? – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

Waarom word Jesus dikweks nie duideliker verkondig nie?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord

Jou vraag is die vraag wat ons almal het – waarom word Jesus dikwels nie duideliker verkondig nie, amper of mense skaam is om dit te doen (Dit laat my nogal dink aan Jesus se woorde dat as mense hulle vir Hom skaam, sal Hy Hom ook vir hulle in die hemel skaam). Jy verwys na Kolossense. In Kol 2:3 staan daar dat God se geheim/ misterie die volgende is: Christus: in Hom is al die skatte – dinge wat voorheen verborge was vir mense – van wysheid en kennis te vinde). In die konteks van die gemeente van Kolosse was die baie belangrike woorde, want in Kolosse het verskillende ‘misteriegodsdienste’ ‘n baie belangrike rol gespeel. Die misteriegodsdienste was godsdienste waarin ‘n mens in ‘n geheime groep ingelei is. Die groep het beweer dat hulle geheime kennis het wat jou in kontak met god(e) sou bring. As jy dan ingelyf is in so groep het jy dan die geheime wysheid en kennis gekry wat jou in kontak met god(e) gebring het. Dit was waaroor jou godsdiens gegaan het. Nou kom Paulus en se dat hulle nie meer na al die godsdienste toe hoef te hardloop om van God te leer nie. God se misterie, sy geheim, is Christus. As jy Christus ken, wie Hy is en wat Hy vir ons gedoen het, het ons al die wysheid en kennis wat ons nodig het. By Hom leer ons alles wat God wil hê ons moet weet, of dit nou oor die manier van lewe (die lewensspel – wysheid) gaan of oor dieper kennis van God self gaan.

As ons dus nie meer ons fokus op God se bron van kennis nie, sy geheime kennis wat ons deel van sy familie maak, wat het ons dan? Net ons eie mensgemaakte idees en godsdiens (so se Kol 2:4, 8-9). Sulke mense sal nog volgens Paulus redeneer dat hulle godsdienstig is, maar Paulus waarsku hulle dat al wat hulle sonder Jesus het is eintlik maar net ‘n klomp mensegemaakte opinies. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Waarom gebeur slegte dinge met goeie mense? – Jan van der Watt

‘n Leser  vra:

My personal question is: “Why do bad things happen to good people? There are numerous examples of believers being killed etc.

Antwoord

Prof Jan van der watt antwoord:

Hierdie is ‘n eeu-oue vraag, wat handel oor die almagtige en goeie God in wie se teenwoordigheid daar steeds bose en slegte dinge gebeur, veral ook tussen sy eie goeie mense. Waarom laat Hy dit toe? Hy is dan ‘n God van liefde – dit is tog nie liefde om jou kinders te laat ly nie, ens. Deur die eeue is daar baie antwoorde gegee. Hier gaan ek net een of twee noem wat in die Bybel sentraal staan.

1)     Die boek Job hanteer onder andere die vraag. Job was ‘n goeie man, verloor toe alles en kry baie swaar. Uiteindelik het dit weer goed met hom gegaan. Hy het juis geworstel met die vraag waarom hy as goeie, regverdige man so moet ly. Een ding wou hy nie aanvaar nie en dit is dat God hom gelos het. Nee, daar moet ‘n ander antwoord wees! Uiteindelik kom antwoord God hom, maar gee hom nie ‘n direkte antwoord nie. Hy wys vir Job die skepping en vra of Job daar was toe dit alles tot stand gekom het. Hy wys vir Job die diere – vra of Job ‘n krokodil vir sy dogter as speelding sal gee (dit is God se ‘speelding’), of waarom ‘n voël (volstruis) ‘n perd kan weghardloop, maar nie kan vlieg nie. Met ander woorde, As God werk, werk Hy ‘anders’ omdat Hy anders is. Wat Hy doen verstaan mense nie altyd nie. Ons moet besef, Hy is God en ons is mense. Daarom kan ons nie alles verstaan of verklaar nie en moet maar berus in die grootheid van God. Die belangrike punt is egter: Job se lyding was nie sommer vir niks nie. Aan die begin van die verhaal praat God met die duiwel wat God uitdaag – hy sê vir God dat Job huigel en God net vir die goeie dinge dien. Sodra God die goeie dinge wegvat sal Job vir God los. God stem nie saam nie en laat die duiwel toe om alles van Job af weg te vat. Op daardie oomblik het God sy eie eer, sy eie woord op die spel geplaas. As Job faal beteken dit God het misluk en was verkeerd oor Job – Satan was dan reg en het dan gewen. In sy lyding het Job eintlik ‘n geweldige vrag op sy skouers gedra, sonder dat hy dit besef het: hy het die eer van God op sy skouers gedra. Dit bevestig net weer: hoewel Job nie verstaan het waarom hy ly nie, kon hy as mens nie die groter plan van God raaksien nie. Hy het nie besef wat regtig aangaan nie. Vir ons vandag beteken dit dat ons nie alles sal kan verstaan of verklaar wat met ons gebeur nie. Ons moet vertrou dat God in beheer is en dat Hy die groter prentjie sien.

Dus, een antwoord is dat ons nie alles in die lewe sal kan verklaar nie. Die lewe is nie soos ‘n wiskundesom wat  ons kan uitwerk nie, bloot omdat ons die God wat ons aanbid nie soos ‘n wiskundesom kan uitwerk nie.

Deel van hierdie antwoord is ook die lewe van Jesus – as die liefde van God sou beteken dat alles net altyd goed moet gaan, sou dit beteken dat God nie vir Jesus liefgehad het nie (ook nie vir Paulus, of Johannes nie, want hulle het ook gely). Jesus het gely – gelukkig het Hy die plan van God geken. Tog sê dit vir ons dat ons nie God se liefde en teenwoordigheid direk moet koppel aan hoe dit met ons gaan nie. Die Bybel sê dit werk nie altyd so nie. Daarmee het God ons egter nie sommer in lyding gelos nie. Soos met Jesus (lees Fil 2:6-11) en Job wag daar ook in die toekoms die saligheid en heerlikheid wat niks kan oortref nie. Uiteindelik seëvier God se liefde en kry die gelowige net wat goed is.

2)     Die boek Openbaring voeg ‘n ander perspektief by: ons leef nie in ‘n perfekte wêreld nie. Die bose (Satan, die ou draak en sy metgeselle – die diere wat uit die aarde en see opkom: Open 12-13) doen alles in hulle vermoë om God se mense en sy werk in hierdie wêreld te probeer afbreek (lees maar weer Open 12-13). Die bose is dus verantwoordelik vir die gemors wat in die wêreld gebeur. Dit beteken nie dat alles buite God se beheer is nie. Nee, Open 4 vertel vir ons dat God op die troon van die heelal sit, en dat almal uiteindelik voor Hom sal verskyn (Open 20) om geoordeel te word. God is in beheer, hoewel die duiwel nog sy laaste stuiptrekkings hier op aarde gee. Waarom gaan dit so sleg? Omdat die bose nog op aarde vernietiging aanrig en die gelowiges ontkom dit nie. Tog wag daar vir hulle die nuwe Jerusalem wat alles in alle heerlikheid sal oortref.

Hier is twee antwoorde uit die Bybel. Ons kan natuurlik wonder as dinge met ons skeefloop. Tog moet ons nie te veel antwoorde hier soek nie, want God is groter as die antwoorde wat ons kan uitdink. 

Skrywer: Prof Jan van der Watt