Gaan die mense in die Amasone wat nooit van God gehoor nie het hel toe?

Gaan die mense in die Amasone wat nooit van God gehoor nie het hel toe? – Kobus Kok

Anina de Wet vra:

Ons Bybelstudie groep het ‘n vraag: Gaan almal ‘n kans hê om van die Here te hoor voor die oordeelsdag kom? Die vraag was geopper toe ons gesels het oor mense wat byvoorbeeld  in die Amasone gewoon het 100de jare gelede en nooit kontak gehad het met iemand wat hulle van die Here kon vertel nie. Wat gaan van hulle word? As almal wel ‘n kans sal hê om van Jesus en Sy verlossing te hoor, waar kan ek dit in die Bybel vind.

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Daar is reeds voorheen artikels geskryf oor “Het Jesus vir die mense in die hel gepreek” en ook artikels oor “Wat word van ander gelowe”. Daarin is baie van hierdie vraag se dimensies alreeds aangeraak en dit moet eintlik saam met hierdie artikel gelees word.

Hierdie betrokke vraag se antwoord kom basies op twee lyne van interpretasie neer.

1.       Indien mens die Nuwe Testament lees, en byvoorbeeld kyk na die laaste paar woorde van Jesus in Matteus (28:19) is dit duidelik dat ons as gelowiges in die eerste plek geroep is en dit ons primêre  taak is om die goeie nuus van die verlossing aan alle nasies te gaan verkondig. Die implikasie daarvan is dat indien ons nie gaan nie, en nie verkondig nie, die goeie nuus van Jesus en die verlossing nie deur dergelike nasies gehoor sal word nie. Die implikasie daarvan is dat indien ons ons taak versaak, baie sonder die evangelie gaan sterf omdat ons nie gegaan het en opgeneem is in God se hart vir mense nie. Dus, in die eerste plek kan ons sê dat dit my en jou verantwoordelikheid is om mense te vertel met die doel dat hulle gered kan word.

In Romeine 2 lees ons weer ʼn baie interessante teks waar Paulus van mening is dat hy nou al gesien het dat heidene dikwels kan lyk soos mense wat God ken. Hulle  het nie die wet van die Jode wat die wil van God verduidelik nie, maar hulle het iets van die wil van God op hulle harte. Hulle leef iets daarvan. En dit wil amper lyk of God se openbaring verder gaan as net die Jode, en dat God selfs iets van sy wil vir die heidene daar in die verte geopenbaar het deur die natuur en deur die dinge wat Hy gekies het om sy wil aan hulle te openbaar.

Maar dan gaan Romeine verder en sê dat mense inherent sleg is, en al lyk dit of hulle tog iets van die wil van God ontvang het, bly mense by implikasie sleg. Juis om hierdie rede het hulle vir Jesus nodig en moet hulle die volle boodskap van die evangelie hoor. Buite Jesus is daar dus nie redding nie.  Die implikasie daarvan is dat die regte manier van leef nie ʼn  mens red nie. Daarom is die Nuwe Testament duidelik daaroor dat iemand wat Christus nie ken nie, of nie aanvaar nie, nie gered kan word nie.

2.       Die tweede lyn van interpretasie wentel rondom God se prerogatief. Ons weet immers dat God nie net ʼn God van genade is nie, maar ook ʼn God is wat meer regverdig is as wat ons ooit kan dink omdat Hy God is, nie waar nie. God sal, teen die agtergrond van sy genade en sy regverdigheid op geen manier mense onregverdig in die hel laat beland nie. Hy sal regverdig oordeel, beter as wat enige een van ons kan doen omdat Hy God is, en nie ʼn mens nie.

Basies los die Bybel ons dus met hierdie misterie. Wat ons wel weet is dat ons aan die een kant die plig het om mense te vertel van Jesus en aan die ander kant kan berus in die wete dat omdat God God is, daarom vertrou ons Sy oordeel omdat ons weet dat hy regverdig en genadig is en niemand onregverdig sal behandel nie.

Outeur: Dr Kobus Kok.




Waar lees ons van Jabes se gebed?

Waar lees ons van Jabes se gebed? – Kobus Kok

G Watkins vra:

Waar in die Bybel vind ons die Jabes gebed? By voorbaat dankie

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Waar lees ons van Jabes se gebed?

Jabes se gebed vind ons in 1 Kronieke 4:10 op ‘n heel vreemde plek – so tussen ‘n reeks geslagsregisters van die stam Juda. Indien mens dit in daardie konteks sien, val dit dadelik op dat dit sommer uit plek uit lyk en juis om hierdie rede is dit vir ons so mooi – dit staan gewis uit.

Die seuns van Juda was: Peres, Gesron, Karmi, Gur en Sobal. 2Sobal se seun Reaja was die vader van Jagat, en Jagat die vader van Agumai en Lahad. Hulle is die Soranergeslagte. 3Die seuns van Etam was Jisreël, Jisma en Jidbas. Die naam van hulle suster was Selelponi. 4Penuel was die vader van Gedor, en Eser die vader van Gusa. Hulle het voortgekom uit Gur, die oudste seun van Efrata, vader van Betlehem. 5Asgur, vader van Tekoa, het twee vrouens gehad, Gela en Naära. 6Naära het vir hom Agussam, Gefer, Temni en Agastari in die wêreld gebring. Hulle was die seuns van Naära. 7Gela se seuns was Seret, Sogar en Etnan. 8Kos was die voorvader van Anub en Sobeba en van die geslagte van Agargel seun van Harum. 9Jabes het voorrang geniet bo sy broers. Toe sy ma hom die naam Jabes gegee het, het sy gesê: “Ek het hom met smart in die wêreld gebring.”10Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde:

 

“Stort u seën oor my uit,

vergroot my grondgebied,

neem my onder u beskerming

en weerhou onheil van my

sodat geen smart my tref nie.”

God het laat gebeur wat hy gevra het.

11Kelub broer van Suga was die vader van Megir. Dié was die vader van Eston. 12Eston was die vader van Bet-Rafa, Paseag en Teginna vader van Ir-Nagas. Hulle is die mense van Reka.

13Die seuns van Kenas was Otniël en Seraja, en die seuns van Otniël was Gatat 14en Meonotai, wat die vader was van Ofra. Seraja was die vader van Joab, stigter van Vakmansdal; hulle was vakmanne. 15Die seuns van Kaleb seun van Jefunne was Iru, Ela en Naäm. Die seun van Ela was Kenas. 16Die seuns van Jehallelel was Sif, Sifa, Tireja en Asarel. 17Die seuns van Esra was Jeter, Mered, Efer…………

Vir my is dit so mooi dat Jabes se eie ma beskryf hoe sy hom met smart in die lewe gebring het en dan word sy naam vir altyd “smart” . Kan jy dit glo? Hoe moes die arme mens gevoel het? Maar dan sien ons hoe Jabes hom tot God wend en hy teen dit ingaan wat mense oor hom spreek, teen die etiket wat mense om sy lewe geplak het, teen die grense wat mense vir hom gestel het en die God van moontlikhede aanroep.

En dan doen God presies dit. Hy verander sy smart, Hy verbreek die staalkaste wat mense om Jabes geplaas het en Hy verhoor sy smeekgebed, verbreed sy grense en stort sy seën op Jabes uit en weerhou onheil van hom sodat dit wat mense elke keer oor hom gespreek het as hulle sy naam noem, smart, hom nie sal tref nie. En God het dit gedoen, Hy het Jabes se gebed verhoor…


Die naam Jabes herinner aan die Hebreeuse woord vir “met smart”.

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Doen jy onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees?

Doen jy onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees? – Kobus Kok

Benita Kotze vra:

Wat word bedoel as daar gesê word: “jy doen sonde teen die Heilige Gees”, welke sonde as onvergeeflik beskou word.

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Doen jy onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees?

Benita, prof Jan van der Watt het alreeds iets hieroor geskryf op die webblad, maar ek sal graag ook kortliks vir jou wil verduidelik wat hierby bedoel word deur te verwys na ‘n teks wat mense dikwels aanhaal en wat hulle baie deurmekaar maak. In 1 Johannes 5:16 lees ons die volgende:

16As iemand sy broer sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid en God sal die broer die ewige lewe gee. Dit geld dié wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie. Daar is sonde wat tot die dood lei; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. 17Alle ongeregtigheid is sonde, maar daar is sonde wat nie tot die dood lei nie.

Ons lees ook in 1 Johannes 3:9

9Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is. 10Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.

Die maklikste om dit mee te verduidelik is deur middel van ‘n rugby metafoor. Indien jy vir die Springbokke speel teen die All Blacks is dit jou volle intensie om te wen, elke bal deur die pale te skop en geen foute te maak nie. Net so kan en wil ‘n Christen nie meer speel vir die duiwel se span nie omdat jy nou aan God se span behoort. Soms gebeur dit dat ons die bal van die lewe skeef aangee en foute maak, maar dit is wat dit is, momentele foute en ons stop sommer dadelik daarmee en maak reg, ons verval nie daarin nie. Johannes sê in 1 Johannes 7Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is; 8wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak .

Mense wat naby aan God leef weet wanneer hulle verkeerd optree en wanneer dit hulle verhouding  met God seermaak. Daarom keer hulle vinnig terug na God se hartkamer wat altyd vir hulle oopstaan soos ‘n liefdevolle Vader. 1 Johannes 1:8 sê immers dat alle mense droogmaak, maar God vergewe die wat terugdraai na Hom: 8As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Momentele sonde, daar waar jy die bal van die lewe aanslaan of iemand hoog tekkel, dit is nie sonde tot die dood nie. Sonde tot die dood is wanneer jy die God van lewe verwerp en met jou ganse wese en jou menswees keer op keer teen God kies – wanneer jy jou hart vir God sluit en hom verwerp. Dit is sonde teen die Heilige Gees en sonde tot die dood omdat jy die God van lewe verwerp en ook jou naam uit die boek van die lewe uitskryf. Sonde teen die Heilige Gees is dus ‘n bestaanstoestand waarin ek teen die Lig en die Lewe kies met my wese en doelbewus God se stem en die inspraak van sy Gees verwerp.

 

Outeur: Dr. Kobus Kok

 

 




Wie weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde…

Wie weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde… – Kobus Kok

Juul vra:

Ek het ‘n inleiding oor Jakobus 4: 13 – 17.  Ek het die Bybelgedeelte, maar soek nog voorstudie materiaal.

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Jakobus 4:13-17 is ʼn baie interessante teks en geskryf deur Jakobus die broer van Jesus Christus en belangrike leier in die vroeë Jerusalem gemeente. Die antieke mense het na hom verwys as besonders gelowig en hy het so baie gebid dat sy knieë soos die van ʼn kameel gelyk het.

In die Ou vertaling lui Jakobus 4:13-17 soos volg:

Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak- julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe?

Dit is tog maar ʼn

damp

wat vir ʼn

kort tydjie verskyn

en daarna

verdwyn.

In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.

Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd.

Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde.

 

Teenoor die selfversekerheid van dié wat vertrou op hulself en wat seker is van hul eie sukses in die toekoms, bring Jakobus die lesers weer terug aarde toe. Hy herinner hulle aan die vlugtigheid van hulle bestaan en gebruik tekenende woorde wat kunstig gekies is soos:

damp,

kort tydjie,

verdwyn

Hy herinner hulle dus aan hulle voorlopigheid, hulle broosheid en om vir ʼn slag eerlik te wees oor die realiteit. Eintlik het hulle weg gehardloop vir die realiteit en gejaag na wind sonder om te besef waaroor dit alles gaan en in wie hulle werklik hulle vertroue moet stel.

Daarteenoor reoriënteer hy die leser tot God, soos sonneblomme wat hulle gesig moet terugdraai na die son wat lewe gee. Hierdie reoriëntasie moet die leser reoriënteer – nie net tot God nie, maar ook tot ʼn nuwe manier van lewe. So ʼn lewe sal in die eerste plek gefokus wees en afhanklik wees in alles van God, omdat so iemand sal besef dat God die ware bron van lewe is en dat alles wat hulle besit van Hom af kom. Eintlik is alles net te danke aan Sy voorsienigheid. Juis om hierdie rede is die roem in jou eie vermoë nie net arrogant nie, maar ook ʼn bewys  van jou naïwiteit, naamlik dat jy dink dat die toekoms in jou hande is en dat jy die een is wat moontlikhede skep. Jakobus herinner ons daaraan dat God die een is wat alles moontlik maak.

Indien mens dan al hierdie dinge weet en jy doen  nog steeds nie die goeie nie, dan is jy ongehoorsaam en ongehoorsaamheid aan God se wil is mos sonde. Indien jy in jou selfvoldaanheid en grootpratery dus roem in jou eie vermoë wys dit eintlik iets van jou manier van dink, naamlik dat jy nie besef dat God die bron is van alles nie. Jy dink dus dat jy nog die voertuig van jou eie lewe kan en moet bestuur, terwyl Jakobus ons herinner dat Hy eintlik die bestuurder van ons lewe moet wees.

Ons kan dus aflei dat afhanklikheid die sleutel is wat gehoorsaamheid aktiveer.

 

Bronne wat jy kan lees om die teks oop te sluit is die volgende:

Martin, R. Word Biblical Commentary Vol. 48, James. Word Books (Hardcover)

Mens bestel dit sommer vinnig by amazon.com. Gaan gerus na:

http://www.amazon.com/Word-Biblical.Commentary-Vol-James/dp/o849902479.

Outeur: Dr Kobus Kok