Jesus is God

Jesus is God

Jesus was mens soos ek en jy. Maar Hy was ook meer as dit.

Hy was ook God. Dit sê Johannes byvoorbeeld reguit: Die Woord (=Jesus) was God (Johannes 1:1; 18; 1 Johannes 5:20). Tomas, ʼn dissipel van die Here, bely dit ook toe hy Jesus uit die dood sien opstaan het; hy kon nie anders nie as om te bely: “My Here en my God” (Johannes 20:28). In Hebreërs 1:8 word Jesus ook God genoem en dit nogal deur sy hemelse Vader. Boonop doen Jesus dinge wat net God kan doen, soos om mense uit die dood te laat opstaan. Immers, net God kan lewe gee. Dit is veral sy opstanding uit die dood wat Hom solied aan die kant van God plaas.

Paulus noem Jesus weliswaar nie direk God nie, maar uit gedeeltes soos Kolossense 1:15-16 waar Hy Jesus die Beeld van God en die Skepper van die heelal noem (sien ook Johannes 1:2-3), kom ʼn mens agter dat hy Jesus ook aan die kant van God teenoor die mens plaas. Hy gebruik dikwels beskrywings waar hy die Vader en die Seun en soms die Gees saam in een asem gebruik (1 Korintiërs 8:5-6; 1 Korintiërs 12:4-6).

Uitsprake soos hierdie in die Bybel het gelowiges en die kerk oortuig dat Jesus God is. Daarom bely hulle Hom as God saam met die Vader en die Heilige Gees (die Drie-eenheid).

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Jesus as mens

Jesus as mens

Jesus is die Seun van God wat mens geword het. Nou is daar mense wat sê dat Jesus nie regtig mens geword het nie, terwyl ander weer sê dat Jesus net mens was en nie God ook nie. As ons na die Bybel kyk, is een ding seker: Jesus was regtig mens gewees

Ons hoef nie ver te soek om te sien hoekom ʼn mens so kan sê nie. Jesus is soos ʼn mens uit ʼn ma gebore (Matteus 1-2 en Lukas 1-2). Hy het nie uit die hemel geval nie. Hy het tussen broers en susters in ʼn familie grootgeword. Hy het ook honger gekry en was ook dors na ʼn lang stap in die warm son (Johannes 4). Sy hart kon ook seer word, ja, Hy kon selfs huil (Johannes 11:33,38). Net soos ons het Hy ook liefgehad (Johannes 11:5) en was ook bang (Matteus 26:37). Hy het ook fisies gely toe Hy geslaan en uiteindelik aan die kruis vasgespyker is. Daar is Hy ook as mens dood.

Jesus was mens… maar Hy was ook meer.

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




God was self betrokke by die totstandkoming van die Bybel (Inspirasie van die Bybel)

God was self betrokke by die totstandkoming van die Bybel (Inspirasie van die Bybel)

In 2 Timoteus 3:16 staan daar dat die hele Skrif deur God geïnspireer is.

Hoewel Paulus waarskynlik hier net Ou-Testamentiese boeke in gedagte gehad het (die Nuwe Testament het toe nog nie bestaan nie), kan die woorde net so wel op die hele Bybel van toepassing gemaak word. God was betrokke by die totstandkoming van die Skrif. Die vraag is hoe? Hier word gesê dat Hy die Skrif geïnspireer het. Dit word natuurlik op verskillende maniere geïnterpreteer. Sommige sê dat dit beteken dat die Heilige Gees self die skrywer van die Bybel was. ʼn Mens kan jou byna voorstel dat die Gees die hand van die skrywer van ʼn betrokke boek van die Bybel gevat en daarmee “geskryf” het. Ons noem dit meganiese inspirasie. Ander sê dat die Gees nie die hand van die skrywer rondgestoot het nie, maar wel gesorg het dat die skrywer die waarheid neerskryf. Die skrywer was dus deur die Gees beïnvloed om die waarheid neer te skryf. Dan is daar mense wat sê dat die lees van die Bybel deur God geïnspireer is. Met ander woorde, die woorde op die papier is nie geïnspireer nie, maar wanneer jy dit lees, maak God die woorde en boodskap in jou kop lewendig. So is daar baie teorieë oor wat presies die inspirasie van die Skrif beteken. Hoe ons dit nou ook al mag verstaan… een ding is seker: God staan agter die boek wat ons as die Bybel ken. Dit is sy boodskap en sy woord

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Ons wete dat God sy beloftes hou (Hoop)

Ons wete dat God sy beloftes hou (Hoop)

Hoop is vir Christene belangrik, soos vlerke vir ʼn arend.

Soos vlerke die arend die ruimtes indra, dra hoop die Christen die toekoms in. Christelike hoop is nie iets soos om te “hoop dit reën” nie. Dit is nie iets onsekers nie. Nee, Christelike hoop is om seker te wees iets gaan gebeur, jy weet net nie wanneer nie. Jy kan seker wees, want Christelike hoop is altyd op die beloftes en teenwoordigheid van God gebou. Daarom is die hart van Christelike hoop vertroue. Ons hoop byvoorbeeld op die koms van Jesus… dit is seker dat Hy weer gaan kom, ons weet net nie wanneer nie. Ons hoop om saam met God in die hemel te wees… ons weet ons gaan, maar wanneer dit gaan gebeur, is nie seker nie. Daarom is hoop die Christelike eienskap wat ons laat volhard as dit swaar gaan, wat ons ʼn vaste doel in ons lewe gee. Ons weet ons kan op God vertrou. Dit laat ons die toekoms inkyk op die vlerke van die beloftes van God.

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy