Daar waar God is en ons saam met Hom gaan wees (Hemel)

Daar waar God is en ons saam met Hom gaan wees (Hemel)

Die hemel is die plek waar God is. Die mense in die Bybelse tyd het gesê dat God bo is – in die hemel. Ons bly hier op aarde en onder die aarde is die doderyk. Hoe verder jy dus van bo af onder toe beweeg, hoe verder beweeg jy weg van God af. So het hulle dit vir hulleself voorgestel.

As die Bybel nou wil vertel wat met ons gaan gebeur as die Here weer kom, word daar gesê dat ons hemel toe gaan. Dit is maar ʼn ander manier om te sê dat ons vir altyd by en saam met God gaan wees. Kyk na die volgende drie beskrywings in die Bybel:

  • 1 Tessalonisense 4:15-17: hier word gesê dat Jesus op die wolke sal verskyn en ons sal kom haal. Hy sal ons dan saamvat, die hemel in. Dit is ʼn ander manier om te sê dat gelowiges vir altyd sal wees waar God is.
  • 2 Petrus 3:10-13: hier word gesê dat die ou hemel en aarde vernietig sal word. Daar sal ʼn nuwe hemel en aarde in die plek daarvan kom. Dit beteken God sal nog in die hemel wees en die mense op aarde, met die verskil dat die mense God se wil nou volledig op aarde sal doen. Op die manier sal Hy tussen die mense wees.
  • Openbaring 21: Hierdie hoofstuk vertel hoe die ou hemel en aarde sal verdwyn en ʼn nuwe hemel en aarde tot stand sal kom. En dan sal daar iets groots gebeur: die skeiding tussen hemel en aarde sal verdwyn, want die hemel sal soos ʼn nuwe Jerusalem op die aarde neersak. So sal hemel en aarde een word. God sal dus tussen die mense kom bly.
Die drie beelde verskil, maar in al drie is daar ʼn goue draad: God sal by ons wees en ons sal by Hom wees. Daar sal nie meer sonde en boosheid wees nie. So gaan die hemel wees. Hoe wonderlik dit gaan wees kan ons ons nie nou voorstel nie. Openbaring probeer met die beeld van ʼn goue stad vir ons verduidelik dat dit iets uit ʼn ander wêreld gaan wees, ja, iets heeltemal onvoorstelbaar. Hoe dit gaan wees, is ons nie heeltemal van seker nie, maar dat dit absoluut wonderlik gaan wees, daarvan kan ons seker wees.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Daar waar die duiwel bly (die hel)

Daar waar die duiwel bly (die hel)

Waar is die hel? Niemand weet nie, maar ons weet wel wat die hel is. Die Nuwe Testament het verskillende woorde wat vir ons help om mooi te verstaan wat met die doderyk en onderwêreld bedoel word. Partymaal krap mense die woorde en gedagtes deurmekaar en dan sit ʼn mens met ʼn deurmekaarspul

  • Daar is die doderyk (Griekse woord = hades; Hebreeus = sheol). Dit is waar mense wat dood is, heengaan. Jesus is byvoorbeeld ook doderyk toe volgens 1 Petrus 3:19-20. Sondae bely ons in die geloofsbelydenis dat Jesus “ter helle” neergedaal het. Dit beteken nie dat Jesus in die hel was waar mense vir hulle sonde gestraf word nie. Nee, dit beteken dat Hy in die doderyk was. Soms praat mense daarvan as die hel en dan maak dit ʼn mens deurmekaar. Hulle moet eerder van doderyk praat. Dit word ook die “gevangenis” genoem – die doderyk word soos ʼn gevangenis voorgestel, omdat as jy eers daar is, jy nie kan uitkom nie. Behalwe natuurlik as iemand die sleutel het… en Jesus het dit. Daarom weet ons Hy gaan ons uit die dood laat opstaan. Ons gaan uit die gevangenis uitstap.
  • Dan is daar die hel (Grieks = gehenna) waar mense vir hulle sondes gaan betaal. Dit is die nare plek waar niemand wil land nie. Die Nuwe Testament brei nie eintlik uit oor wat alles daar gaan gebeur nie, behalwe dat beelde van vuur gebruik word. Dit gaan iets verskrikliks wees. Mense wat nie aan God behoort nie gaan daar vir ewig sonder Hom in hulle boosheid gestraf word.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




God dissiplineer ook sy mense (Tug)

God dissiplineer ook sy mense (Tug)

Die woord “tug” klink vir ons soos straf. In die Bybelse tyd was tug iets goeds.

Dit was ʼn uitdrukking van liefde (Hebreërs 12:5-11). Die mense in die ou tyd was groepsmense. Jou groep of familie was belangriker as jyself. Dit werk amper soos as jy in ʼn rugbyspan speel: jy gee alles vir jou span. Selfs as jy seerkry, probeer jy nog aangaan, want jy voel verantwoordelik en lojaal teenoor jou span. Hulle kom eerste. En as jy ʼn fout maak, sal jou spanlid vir jou kom sê (kom “tug”): “Hou net jou oog op die bal!” Jy sal dan nie voel hy wil jou beledig nie, maar dat hy jou wil help sodat dit beter gaan met die span. “Tug” in die Bybelse sin werk ook amper so.

Jy is deel van God se familie en God is trots op jou. Hy wil graag hê dit moet goed gaan met jou en dat jy gelukkig sal wees in die gesin. As jy iets verkeerd doen, wil God en die ander gesinslede jou help om dit reg te stel. Dikwels besef ʼn mens nie dat jy iets verkeerd gedoen het nie, of is jy miskien ʼn bietjie balhorig, dan moet jou gesin so bietjie harder met jou praat. Hulle praat nie hard met jou om jou seer te maak nie, maar om jou by hulle te hou. Hulle wil nie hê jy moet die spoor byster raak nie. Daarom wil hulle jou in liefde behou, al beteken dit soms so bietjie raas (tug). Die groep (familie) benader jou dan gewoonlik as groep (Matteus 18), omdat dit nie ʼn individuele saak is nie, maar met die groep te doen het.

Ons beleef dit vandag anders as die kerk met ons praat oor iets wat verkeerd geloop het. Ons sien dit as beterweterig en baasspelerig. Ons is mos ons eie baas. So het ons een van die belangrikste maniere verloor waarop die Here wil hê ons mekaar in liefde moet help.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Tiendes

Tiendes

Baie mense dink die kerk wil net geld hê en in kerktaal noem mense dit hulle “tiendes”. Hoekom moet ʼn mens dit doen?

Aan die begin van die Ou Testament, toe die mense nog nie Bybels gehad het om hulle van God te vertel nie, het hulle een ding besef: hulle koring groei nie vanself nie, en die lammers val nie sommer uit die lug nie. Daar moet ʼn God wees wat agter dit alles staan. Op ʼn manier wou hulle vir Hom dankie sê. Hulle het toe as gesin bymekaar gekom, ʼn deel van die koring gevat en dit “geoffer”. Dit het beteken dat hulle eintlik uit dankbaarheid saam met God “fees” gehou het. Hulle het dan dele verbrand (wat vir God sou wees) en dele self geëet. Later, toe daar heilige plekke (offerplekke met priesters) kom, is hulle na die heilige plekke toe, want hulle het geweet God is definitief daar. Die priesters wat daar gewerk het, wou ook deelneem aan hulle feeste en so was dit toe ook. Maar jy kon nie priesters afskeep nie, want hulle werk mos vir God. Netnou word die idee geskep dat jy God afskeep, en dit wil ʼn mens nie doen nie. Daarom het hulle besluit dat jy ʼn tiende van jou oes of lammers vir die priester en God sal gee. (Dis maklik om te tel. Jy pak hopies en dan meet jy dit met jou tien vingers af en gee een van die dele vir die priester). So gesê, so gedoen. Die priesters het toe te gulsig geraak en die gee van tiendes ʼn wet gemaak. Dit het nie meer oor dankbaarheid teenoor God gegaan nie, maar oor die koring en lammers wat hulle moes kry.

Toe Jesus gekom het, het Hy weer dinge balans kom gee. Hy het kom beklemtoon dat die gee van “tiendes” nie ʼn reël is nie, maar dat dit ʼn gesindheidsaak is; ʼn saak van liefde en dankbaarheid teenoor die Here. Paulus vertel dat om vir die Here te gee nooit ʼn plig of ʼn wet mag wees nie. Dit moet uit jou hart uit kom. Eintlik moet jy so graag vir die Here iets wil gee, dat jy alles vir Hom sal gee as Hy jou vra. As daar dus iemand is wat iets van jou nodig het, al sou dit meer as ʼn tiende wees, moet jy help. Daar mag ook ʼn situasie kom waar niemand op daardie oomblik iets nodig het nie, dan gee jy minder as ʼn tiende.

Die belangrike is: gee omdat jy die Here liefhet; omdat jy graag van die goedheid wat Hy oor jou uitstort vir hom wil teruggee. Bowenal: gee jou hart, jou gesindheid vir Hom

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy