Om nooit weer dood te gaan nie (Onsterflikheid)

Om nooit weer dood te gaan nie (Onsterflikheid)

G’n mens is onsterflik nie, al wil party dit so graag wees. Deur die eeue het baie mense probeer om onsterflik te wees – party het groot grafkelders met reuse grafstene gebou met die hoop dat mense hulle nooit sal vergeet nie, maar tog is hulle gou vergeet; ander het hulleself weer gode laat verklaar met die hoop dat dit hulle sal help om vir altyd daar te wees. Ook dit het nie veel gehelp nie. Dan is daar dié wat  jou wil vertel dat al gaan hulle dood, hulle nog by jou gaan kom spook, want hulle gaan aanhou leef… Dit kan nie wees nie, want ons is nie onsterflik hier op aarde nie.

God het nie mense onsterflik gemaak nie. Ons is almal maar sterflik! MAAR God kan en gaan ons eendag onsterflik maak as ons uit die dood uit opstaan as Jesus weer kom. Dan gaan ons die ewige lewe hê; en ewige lewe beteken presies wat dit sê: jy gaan vir ewig lewe. Daarom praat die Bybel van wedergeboorte. Jy word weer gebore en die keer met ʼn lewe wat nooit gaan ophou nie. En om alles te kroon, gaan dit vir die gelowiges ʼn lewe saam met God wees. Dit kom nie uit jouself nie; God gee dit vir jou.

Dit is egter nie net alles goeie nuus nie. Mense wat niks van die Here wou weet nie, gaan ook so uit die liggaamlike dood opstaan, maar nie om saam met God te wees nie. Nee, hulle gaan die onsterflikheid in sonder God. En dit gaan hel wees, glo vir my… terloops, die duiwel self gaan hulle gasheer wees.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die wonderlikste dinge wag vir ons in die hemel (die Nuwe Jerusalem)

Die wonderlikste dinge wag vir ons in die hemel (die Nuwe Jerusalem)

Baie keer as mense praat van wat vir ons wag as die Here weer terugkom en ons kom haal, dan praat hulle van die Nuwe Jerusalem. Dit is natuurlik ʼn beeld wat ons in Openbaring 21 kry. Daar word vertel dat na die laaste oordeel God by en tussen sy mense sal kom bly. Dit is wat die hemel eintlik gaan wees: God wat direk saam met elkeen van ons gaan wees.

Maar hoe moet ʼn gewone mens hom dit voorstel? Hoe gaan dit wees? Die skrywer van Openbaring sê dit gaan soos ʼn stad van goud en pêrels en allerhande edelgesteentes wees met die mooiste tuine en ʼn pragtige rivier. Wat die skrywer gedoen het, is om al die mooiste dinge waaraan hy kon dink bymekaar te sit en te sê: so gaan dit wees. Die mense van destyds was maar arm (tot 80% van hulle het nie genoeg kos gehad om te eet nie). Om te hoor dat hulle in ʼn stad van goud gaan bly met kos wat nooit gaan opraak nie en God wat self hulle trane vir hulle afdroog, was vir hulle onvoorstelbaar wonderlik. Wonderliker kon dit nie!

Met ander woorde: hoe gaan dit eendag in die hemel wees? Onvoorstelbaar wonderlik, soos ʼn nuwe Jerusalem. Wonderliker kan dit nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




ʼn Ete saam met God (die Nagmaal)

ʼn Ete saam met God (die Nagmaal)

Die aand voor Jesus gekruisig is, het Hy ʼn laaste maal saam met sy dissipels geëet. Hy het hulle toe gevra om as Hy weg is, gereeld saam te eet en dan aan Hom te dink. Hy het brood gevat en dit gebreek en gesê hulle moet die brood eet; dit is soos sy liggaam wat natuurlik vir hulle aan die kruis gebreek is. Hy het toe wyn gevat en gesê hulle moet dit drink; dit is soos sy bloed wat gevloei het om op die manier vir hulle vrede met God te maak. So moet hulle dus gedurig aan Hom en wat Hy vir hulle gedoen het, bly dink.

Die brood en wyn was natuurlik goeie tekens. Brood was destyds deel van elke maaltyd. Hulle het dit gebruik as lepels om die sous uit die bakke te skep, as servette om hulle hande mee af te vee… sonder brood kon ʼn mens kwalik eet. Om dit as teken te gebruik was ideaal, want dit was altyd deel van die ete. Net so was wyn ook gewoonlik deel van etes.

Die mense saam met wie jy geëet het, het ook destyds iets van jou gesê. Jy het nie sommer enigeen uitgenooi om saam met jou te eet nie. Jy het net jou vriende genooi. ʼn Mens kon dus sien wie jou vriende is deur te kyk saam met wie jy eet. Daarom was die Fariseërs dikwels ontsteld as hulle sien die sondaars eet saam met Jesus. Maar wat hulle nie verstaan het nie, was dat die sondaars natuurlik die mense was vir wie Jesus aarde toe gekom het. Daarom is nagmaal ook net vir gelowiges, ja, vir die familie van God.

Ons hou vandag nog nagmaal – dan dink ons spesiaal terug aan wat Jesus vir ons gedoen het. Ons doen dit as gelowiges saam, omdat ons sy vriende is.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Iemand wat namens ons ons saak by God behartig (Middelaar)

Iemand wat namens ons ons saak by God behartig (Middelaar)

Dinge kan so verkeerd loop tussen mense dat hulle niks meer met mekaar te doen wil hê nie. Hulle wil mekaar nie sien nie, nie met mekaar praat nie. Inteendeel, as hulle bymekaar kom, spat die vonke. Op hulle eie sal hulle nooit weer kan vrede maak nie. Iemand sal hulle moet kom help. Die persoon sal tussen (in die middel van = middelaar) die twee partye moet kom staan en boodskappe heen en weer dra om te kyk of  hy die probleem kan oplos.

Sonde het daarvoor gesorg dat die verhouding tussen God en mens heeltemal skeefgeloop het. Mense het so onrein geword dat hulle nie in die rein en heilige teenwoordigheid van God kon kom nie. Daar was geen manier waarop mense weer die probleme wat hulle met hulle sonde tussen hulle en God geskep het, kon regmaak nie. Dit is waarom Iemand nodig was om in die middel van die mens en God te kom staan. Jesus het dit kom doen en was so ons middelaar. Hy het die dinge wat verkeerd geloop het tussen mense en God kom regmaak. Hy kon dit doen, want Hy was die Seun van God wat toegang gehad het tot God, iets wat sondige mense nie het nie. Tog was Hy ook mens wat verstaan het hoe mense is. So kon Hy namens mense met God praat en hoor wat gedoen moet word om alles weer reg te stel sodat mense weer God se kinders kon word. Jesus het nie net by God gehoor wat nodig was om alles weer reg te maak nie. Hy het ook die prys betaal wat nodig was. Mense wat nie na God luister nie en sy liefde in sy gesig teruggooi, verdien die dood. Jesus het daardie prys as middelaar in ons plek betaal.

As Jesus nie in die middel tussen ons en God kom staan het en ons hande weer in God se hande kom sit het nie, sou daar vir ons geen pad terug na God toe gewees het nie. Dan sou ons maar in ons sonde gesterf het.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy