Die Here praat met ons deur boodskappers of profete (Profesie)

Die Here praat met ons deur boodskappers of profete (Profesie)

Profesie kan verskillende dinge beteken. Dit kan beteken dat God nou al met ons oor die toekoms praat.

Hy sê nou al dat daar eendag ʼn nuwe Jerusalem vir ons wag waar Hy vir altyd saam met ons gaan bly. Hy sê nou al dat sy kinders met die finale oordeel vrygespreek gaan word. Hy sê nou al dat Jesus weer gaan kom om ons te kom haal. Dit is alles beloftes of profesieë. Iewers in die toekoms gaan die profesieë waar word. Daar is sulke profesieë in die Ou Testament wat waar geword het, veral toe Jesus gekom het.

Maar profesie kan ook iets anders beteken. Dit kan soos ʼn gewone preek wees waar die Here vir ons ʼn boodskap gee wat by ons alledaagse praktiese situasies pas. Daar is gewoonlik ʼn voorwaarde by, byvoorbeeld, as jy dit of dat doen… dan sal dit of dat gebeur. As jy jou eerste liefde (die Here) verlaat, sal die Here jou dalk ook verlaat (Openbaring 2). Of as jy so halfhartige Christen is wat nie regtig die Here wil dien nie, moet jy nie verwag dat die Here maar net agter jou sal aanloop en soebat nie. Hy mag dalk sy rug op jou ook draai (Openbaring 3). Of dat as jy in Jesus glo, jy ʼn kind van God is. Dit klink amper soos hedendaagse preke en in die Bybelse tyd is sulke boodskappe ook “profesie” genoem.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel

Skrywer: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith

Uitgewer: Christelike Uitgewers Maatskappy

 




Iemand anders in jou plek?! (plaasvervanging)

Iemand anders in jou plek?! (plaasvervanging)

Sjoe, as God ons darem moet straf vir alles wat ons verkeerd doen, gaan ons sleg daarvan afkom.

Verskonings gaan dan ook nie help nie. Om alles nog te vererger, is God nie oneerlik nie, maar regverdig. Daarom kan en sal Hy nie sommer ons sondes oorsien nie. Wat nou gemaak?

Ons hoef nie te skrik nie, want God het ʼn plan gemaak. As jy byvoorbeeld siek word en nie in die netbalspan of rugbyspan kan speel nie, sit hulle iemand in jou plek. God weet ons kan nie regmaak wat ons verkeerd gedoen het nie. MAAR Hy weet van iemand wat dit kan regmaak: Jesus. Wat ons nie kan doen nie, kan Jesus doen. Hy kan in ons plek regmaak wat ons verkeerd gedoen het. Daarom is die gedagte van “plaasvervanging” so belangrik – daarsonder sou ons almal lelik in die moeilikheid gewees het. Maar dankie tog, nou is Jesus daar… en Hy is groot en sterk genoeg om ons te kan help waar ons self nie kan nie.

Moenie dink jy kan sommer self die hemel instap nie. Gee Jesus ʼn kans om jou te help. Vertrou op Hom, want Hy kan waar jy nie kan nie. Waar jou krag ophou, het sy krag eintlik nog nie eers begin nie. Laat Hy in jou plek die dinge doen wat jy nie kan nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel

Skrywers: Proj Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith

UItgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy

 




Opstanding van die dooies (1 Korintiërs 15)

Opstanding van die dooies (1 Korintiërs 15)

Vir Christene is die dood nooit die einde nie. Dit is moeilik om te glo as jy by die graf van iemand staan wat jy liefhet, want op daardie oomblik mis jy hom of haar so… die persoon is immers weg.

Maar God staan nooit magteloos by ʼn graf nie. Vir God is wat by die graf gebeur nooit finaal nie, want Hy kan die dood omdraai. Daarvoor is Hy sterk genoeg. Liggaamlik kan jy wel doodgaan en begrawe word, maar vir God is dit dan nie klaarpraat nie. Jy is nie vir Hom weg of vergete nie. En die rede? Mense wat aan Hom behoort, hou Hy styf in sy hand vas, selfs al gaan hulle liggame dood. Ja, iewers in die toekoms – presies wanneer weet ons nie, want dit is God se besluit – sal God ons liggame weer vir ons teruggee. Hy sal ons uit die dood laat opstaan. Ons sal ons liggame terugkry, maar hierdie keer op ʼn bonatuurlike manier. Ons sal nie meer siek word nie, sal nie meer deur die pyn en lyding van die ou aardse lewe ingehaal kan word nie, sal nie meer huil of alleen voel nie. Daarvoor sal God self sorg. Hy sal jou nuut en anders maak… hoewel jy nog steeds jy sal wees.

Dit sal alles gebeur as Jesus weer kom…!

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel

Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr. Stephan Joubert, Dr Johan Smith

Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy