Selfmoord – Francois Malan

Johan vra:

Kan n persoon wat selfmoord pleeg in die hemel kom?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die vraag is of die persoon glo in die Here Jesus as die Seun van God wat uit liefde vir hom vir sy sonde aan die kruis gesterf het. Of het hy nog nooit in Jesus geglo en hom aan Jesus verbind nie? Jesus is die weg na die Vader in die hemel. Niemand kom na die Vader behalwe deur Jesus nie (Johannes 14:6).

Oor die redes wat ’n persoon tot selfmoord lei, sal God self oordeel.

Enige moord, ook selfmoord, is nie die wil van God vir die mens wat Hy geskape het om vir Hom te lewe nie. Die wet van die Here is duidelik daaroor, bv. in die tien gebooie in Eksodus 20:13 ‘Jy mag nie moord pleeg nie;’ soos ook in Deuteronomium 5:17.

Die mens is nie die eienaar van sy lewe wat hy van God ontvang het nie, maar die rentmeester van die lewe wat God aan hom toevertrou het en waaroor die mens aan God moet rekenskap gee. Die lewe behoort nie aan ons om God se gawe van die lewe aan elkeen van ons, self te beëindig nie. God bepaal die getal van die mens se jare (Job 14:5). Selfmoord staan teenoor liefde wat ons vir God behoort te hê, om ons lewe aan Hom te wy om sy beeld en sy verteenwoordiger in die wêreld te wees (Genesis 1:27; 9:6). Met Jesus se koms na die wêreld het God ons bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê (Rom 8:29). Daarom het Jesus aan die mense wat in Hom glo, die reg gegee om kinders van God te word (Johannes 1:12). Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God (Romeine 8:14)

Die mens se verantwoordelikheid voor God vir sy eie lewe kan negatief beïnvloed word deur byvoorbeeld ernstige sielkundige versteurings, depressie, angs, vrees vir moeilikhede, lyding, marteling. Dié dinge kan die selfmoordenaar se verantwoordelikheidsin vir sy lewe teenoor God versteur. Daaroor sal God self oordeel.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Verskillende kerke – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Ek wil hoor of daar dalk ‘n kort saaklike studieresultaat is oor die magdom verskillende kerke in ons land.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord

As dit net gaan oor kort saaklike inligting behoort die volgende webblaaie waardevolle inligting te verskaf oor die verskillende kerke in Suid-Afrika:

Afrikaans: https://af.wikipedia.org/wiki/Kerke_in_Suid-Afrika

Engels: https://en.wikipedia.org/wiki/Category:Christian_denominations_in_South_Africa

By bogenoemde twee webblaaie kan mens net verder klik op elke kerk om nog meer inligting te bekom.

Die volgende webblad gee ook inligting oor die verskillende godsdienste in Suid-Afrika — getalle, persentasies, ens:

https://en.wikipedia.org/wiki/Religion_in_South_Africa

Dan het prof Johan van der Merwe op ons webblad, http://www.bybelkennis.co.za, ’n artikel oor die ooreenkomste en verskille tussen die NG Kerk, Geref Kerk, Ned Hervormde Kerk en Afrikaanse Protestantse Kerk. Titel van die artikel: “Die verskillende Afrikaanse Kerke”.

Prof Adrio König het op dieselfde webblad ’n stuk oor die charismatiese kerke in Suid-Afrikas: http://www.bybelkennis.co.za/die-groot-geloofswoordeboek-pinksterkerkecharismatiese-kerke/

Daar is op die Bybelkennis-webblad ook artikels oor ander kerke, soos die Rooms-Katolieke Kerk, die Ou Apostel-Kerk, ensovoorts. Tik net die woord “kerke” by die soekfunksie in, en volg dan die bladsye.

Ek vertrou bostaande inligting sal help.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Wat beteken Johannes 20:23? As ons mense nie vergewe nie, vergewe God hulle ook nie? – Kobus Kok

In Johannes 20:23 lees ons die volgende interessante teks: “As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

Hoe moet ons hierdie teks verstaan? Vergewe God regtig nie vir mense indien ons hulle nie vergewe nie? Of probeer Johannes iets anders uitdruk?

Inleiding

Dit is altyd handig om te kyk na die wyse waarop die vroeë kerk oor bepaalde sake gedink het. Verder moet mens altyd individuele tekste teen die agtergrond van die groter tekstuele konteks verstaan waarbinne dit voorkom. Ons verwys in hierdie verband na die mikro en makro konteks van die teks. Die vers vorm deel van die belangrike konteks waarin die opgestane Christus die dissipels die volmag gee om sy sending voort te sit (vgl. Soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle ook). Die “net so” (kathoos) skep ’n kousale verband tussen God se sending en Jesus wat sy bemagtiging van God ontvang het. Johannes se evangelie ontwikkel reeds van die begin af in die evangelie ’n bemagtigingsproses. Die eerste lesers van die evangelie het geglo dat God die bron van lewe is en dat God die enigste een is wat kan oordeel en kan vergewe. Die uitdaging vir die eerste Christus-volgers was dat hulle, teen die agtergrond van die Christus gebeure, moes verduidelik hoe Christus nou die bron van lewe word en ook sterk gekoppel word aan oordeel en vergifnis, wat eintlik primêr eienskappe is van die Joodse God! Daarom begin Johannes vroeg al in sy evangelie om te verduidelik hoe God die vermoë om lewe te gee oordra aan die Seun. Binne die diadiese en patriargale sosio-kulturele sisteem van die dag sal ’n goeie seun presies doen wat die vader graag wil hê hy moet doen en so optree dat hy doen wat sy vader doen. Mense wat hom sien sal dus sê “Hy is inderdaad soos sy vader”. So ’n persoon het eer, juis omdat hy optree soos sy vader en die wese van die familie se waardes beliggaam. Dus, het die skrywer van Johannes ook voor die uitdaging gestaan om die gelowiges ’n hele aantal sake te bewys ten einde die belangrikheid van Jesus uit te wys:

  1. Op watter wyse tree die Seun op (presies) soos die Vader
  2. Op watter wyse word die seun bemagtig deur die Vader self

In die teks van Johannes word daar reeds in die proloog met poëtiese taal gesê dat die Seun naby aan die Vader se boesem is en hom “uitlê” (Joh 1:18). Dus, die implisiete leser sien sommer van die begin af dat Jesus in ’n unieke posisie in sy verhouding tot die Vader verkeer. Ook funksioneer liefde tussen die Vader en Seun sterk (Joh 3:16) en daar word eksplisiet deur Johannes gesê dat die Vader hom alles wys. Dit lees ons veral in Johannes 5. Daar word reeds die beeld geskep dat Jesus God as sy Vader noem, iets wat mens nie gedoen het nie, omdat dit in daardie tyd beteken het jy stel jouself gelyk aan God (Joh 5:18). Juis in daardie konteks in Johannes 5 is dit dus noemenswaardig om te sien dat Johannes se Jesus dan sê: “Dit verseker ek julle, die seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so. Die Vader het die Seun lief en wys hom alles wat hy doen…” Net soos die Vader dooies opwek en lewend maak, maak die Seun ook lewend wie Hy wil… Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die oordeel het hy geheel en al aan die Seun oorgelaat…” (Joh 5:19-22).

Dan, in die volgende vers plaas Johannes Jesus se woorde binne die raamwerk van die Sendingmotief waarin eer en skaamte direk verbind word aan postiewe aanvaarding van laasgenoemde waarheid. Hiervolgens kan daar dus geargumenteer word dat Jesus deur God bemagtig is om bindende uitsprake te maak en dade te verrig met betrekking tot geestelike lewe en dood. Jesus het dus die volmag om dit namens God te doen, en dit moet binne die sendmotief verstaan word, i.e., dit was die oorspronklike bedoeling en plan van God self. Dit sien ons natuurlik reeds in die proloog en in ander gedeeltes (soos Joh 3:16) waar God die primêre handelende subjek is wat die ganse missie van die Seun geïnisieer het.  Dus, dit was Sy bedoeling van die begin af om die Seun te bemagtig om hierdie take te verrig.

Vir Johannes is die enigste manier om die realiteit van die bemagtiging te bewys deur die betrokke semeia of tekens. Dit sien mens dan in die genesingshandelinge en die vergifnis wat ter sprake kom bv. by die Samritaanse vrou (Joh 4), die lam man (Joh 5) en die owerspelige vrou (Joh 8 [twyfel bestaan egter of dit oorspronklik ‘n Joh teks is- vgl. NB manuskripte wat  nie die teks het nie]). Die “ultimate” bewys van lewe in Johannes gebeur wanneer Jesus self sy eie lewe neerlê en self sy eie lewe opneem. In Joh 10:17-19 sien ons dat Jesus self sy lewe gaan opneem en dit is dus die bewys dat hy self die bron van lewe beliggaam. Dit doen hy dan met die opstanding. Daarmee word bewys dat Jesus waarlik die bron van lewe is. Maar mens moet telkens in gedagte hou dat dit God se plan van die begin af was en dat dit deel van die ganse sendingsplan van God is. Na Jesus se opstanding verskyn hy aan die dissipels voordat hy binnekort weer terug sou gaan na die Vader. En dit is dan juis hier waar die geweldige interessante bemagting plaasvind van die gelowiges wat opgeneem word in die missie van God en Sy seun in Johannes.

 In Johannes 20:21 sê die opgestane Jesus as bron van lewe aan die dissipels: “Net soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle ook”. Die sensitiewe leser van Johannes weet egter alreeds dat ons hier te maak het met ‘n hele konstellasie van gedagtes wat ‘n koherente motief van bemagtiging veronderstel. Jesus het ook enkele dae tevore in die Evangelie se verteltyd gesê dat hy binnekort weg sal moet gaan. Hulle weet ook alreeds dat Jesus doen soos sy Vader doen. Die leser besef met hierdie woorde dat hulle nou geroep word om die aflosstokkie verder te neem soos Jesus dit oorgeneem het by God. Nou is dit hulle beurt om die stokkie verder in die aflosreis te dra en ook om dit oor te gee aan die wat gaan volg. Net soos Jesus bemagtig is, word hulle ook bemagtig. Hulle word volledig opgeneem in die missie van God en die Seun en het afgeleide uitvoerende mag in hierdie missie. Hulle tree in die naam van Jesus op. Dit lei dan na logiese gedagtes soos vergifnis. As bemagtigende agente van die missie moet hulle net soos die Seun vergewe en liefde wys. In Johannes se denke word die missie veral uit liefde gekenmerk. Die Seun word ook in Johannes elders uitgebeeld dat hy nie primêr gekom het om te oordeel nie, maar om God se liefdesmissie te bewerkstellig (Joh 3:17). Hierdie missie bestaan primêr uit ‘n agenda wat gemotiveer is deur liefdevolle redding (Joh 3:17). Dit is dus nooit bedoel om ‘n oordeelsbeweging te wees nie maar ‘n liefdesbeweging.

Dit bring ons by Johannes 20:22-23. Let hier op dat Jesus oor die dissipels blaas en hulle dan die Heilige Gees ontvang. Ek onthou Ireneus het eenmaal geskryf dat die woord vir blaas hom hier herinner aan Genesis waar God lewe in die klei Adam blaas. Daarmee vind die skepping van die mens plaas. Hier ontvang die dissipels wat in vrees en bewing verkeer het na die dood van Jesus nuwe lewe en word hulle op ‘n manier herskep en bemagtig vir hulle nuwe taak. In dieselfde asem spreek Jesus hier die woorde van vergifnis, en nie van oordeel nie. Hy stuur hulle om te vergewe, te genees, te restoureer, net soos hy in opdrag van die Vader gedoen het. Ek dink dit is waar die fokus op hierdie teks moet lê. Dit lê enersyds op die feit van die bemagtiging van gelowiges om net soos God en Jesus bindende aksies en uitsprake te maak. Maar dit moet egter teen die agtegrond van die bovermelde sendingmotief verstaan word. Dan is die performatiewe effek daarvan dat die gelowiges opgeroep word in hierdie missie om mense van vergifnis te wees – mense wat deur God se liefde gemotiveer word en opgeneem is in ‘n restoratiewe missie. Dit is die saak wat Johannes hier wil uitdruk en waarop die fokus moet lê. As gelowiges moet ons net soos Jesus so optree dat mense waarlik kan sê ons doen wat die Vader en Sy Seun doen.

Skrywer: Prof Kobus Kok




Die waarde van die doop – Francois Malan

Boodskap Teks

Uit ander antwoorde lei ek af die bediening van die doop deur amsdraers is vir die medewerkers belangrik. Ek kan daarmee saamgaan as dit is terwille van goeie orde en die sigbare handeling ingemeente.Ek is egter bekommerd dat die “doper ” verhef word tot die verbondsluiting tussen God en die mens,amper soos die katolieke kerk. My verstaan by die kinderdoop is dit die gelowige ouers wat hulle kind laat doop.verbondsluiting vind dan plaas tussen God en die kind agv van die geloof van die ouers nie die handeling v d doper nie. Selfde vir volwassens wat hulle laat doop.Kinders v ongelowige ouers of volwassenes wat nie werklik die Here aangeneem het nie tree nie in n verbond met die Here nie !

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Eers ’n opmerking oor die ‘katolieke kerk.’ Die Griekse woord katholikê beteken ‘algemeen, universeel’ en is deel van die Gereformeerde geloofsbelydenis: ‘Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, omdat alle gelowiges aan een Here Jesus Christus verbind is. Daarom word van die Roomse Katolieke Kerk gepraat om hulle van ander kerke te onderskei. 

U afleiding dat die bediening van die doop deur ampsdraers vir die medewerkers belangrik is en die doper verhef tot die verbondsluiting tussen God en die mens:

Eers iets oor die betekenis van die doop as teken en seël van die verbond van God met ons waaroor u skryf:

Volgens Paulus in Romeine 4:3,10  het die Here sy verbond met Abraham gemaak nog voordat hy besny is omdat hy in God geglo het (vgl. die Here se verbond met hom in Genesis 12:1-4 toe hy 75 jaar oud was;  en weer in 15:18-20). Romeine 4:11-12: ‘Abraham het die besnydenis as ’n seël ontvang om te bevestig dat hy op grond van sy geloof geregverdig is terwyl hy nog onbesnede was. So het hy die vader geword van almal wat glo terwyl hulle onbesny is, sodat ook vir hulle die geloof as regverdiging gereken kon word. So het hy die vader geword van hulle wat nie bloot besny is nie, maar wat boonop in die voetspore volg van ons vader Abraham, wat geglo  het toe hy nog onbesnede was’ (volgens Genesis 17:1-13 was Abraham 99 jaar oud toe die Here die besnydenis as verbondsteken tussen die Hom en Abraham ingestel het; vg. Romeine 4:19).

Romeine 4:23-25 lui: ‘Dat dit vir Abraham tot regverdiging gereken is, is nie net ter wille van hom opgeskryf nie, maar ook ter wille van ons vir wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus ons Here uit die dood opgewek het. Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer en ter wlle van ons regverdigmaking opgewek.’

In Kolossense 2:6,11- skryf Paulus: ‘Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly in Hom leef…In Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige aard weggeneem is, toe julle in die doop saam met Hom begrawe is . In Hom is julle ook saam opgewek deur die geloof in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het .’

Oor die verheffing van die doper asof hy die verbondsluiting waarneem:

Paulus skryf aan die Korinthiërs 1:14-15: ‘Ek dank God dat ek, afgesien van Krispus en Gaius, nie een van julle gedoop het nie, sodat niemand kan sê dat julle in my naam gedoop is nie.’

Orals waar Paulus gekom het, het hy ’n gemeente gestig en ouderlinge aangestel of laat aanstel wat die gemeente moes versorg. Hy beskou hulle as opsieners en bestuurders oor die huishouding van God wat hom moet hou aan die betroubare woord van God in ooreenstemming met die lering (vgl. bv. Titus 1:5,7,9; vgl 1 Tim 5:17). Vir Timotheus het Paulus self  en die ouderlinge die hande opgelê waardeur hy die genadegawe van God ontvang het omdat hy oortuig was van Timotheus se opregte geloof oor wie die gemeentes in Listra en Ikonium goeie getuienis gelewer het(1 Tim 1:5-6, 4:14; Hand 16:2). Timotheus moes hom toelê  op voorlesing, bemoediging en onderrig.

Op die Pinksterdag het Petrus vir die wat gelowig geword het en gevra het wat hulle moet doen, geantwoord: ‘Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte geld vir julle en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die die Here ons God na Hom toe roep….diegene wat sy boodskap aangeneem het, is gedoop en op daardie dag is ongeveer drieduisend mense toegevoeg (Hand 2:37-41). Volgens vers 37 sou Petrus en die ander apostels waarskynlik die doop bedien het soos Jesus ook in Mattheus 28:19 opdrag aan die 11 van sy dissipels gegee het.

In Samaria was dit Filippus, een van die apostels se helpers op wie die apostels hulle hande opgelê het (Hand 6:5-6) wat mans en vroue in Samaria gedoop het (Hand 8:2). 

Petrus 5:2 vra die ouderlinge om soos herders die kudde van God in hulle midde te versorg as voorbeeld vir die kudde en oor hulle toesig te hou (1 Petr 5:2-3) en jonges om ondergeskik te wees aan die ouderlinge (5:5).

Nêrens word verder en spesifiek gesê wie die doop moet bedien nie, behalwe Johannes 4:2 wat sê dat Jesus nie self gedoop het nie, maar sy dissipels (die woord dissipels beteken leerlinge, volgelinge) en Mattheus 28:16-20 waar Jesus aan die 11 dissipels die opdrag gee: ‘…Gaan en maak dissipels van al die nasies, doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het…’ 

In die formulier vir die bevestiging van leraars in die NG Kerk is die bediening van die sakramente deel van die leraar se amp met verwysing na Mattheus 28:19, en moet hy saam met die ouderlinge die gemeente van God in goeie tug en orde hou en regeer soos die Here dit voorgeskryf het. In die formulier van die doop word gesê dat die bedienaar van die Woord/die liturg (leier van die erediens) die doop bedien.

Die leraars as bedienaars bly dienaars van Christus wat die doop bedien op grond van die geloof van die volwasse persoon of van die ouers van die kind, geloof in Jesus Christus as die Seun van God wat vir ons sonde gesterf het. Die verbond van God met die persoon of kind word gesluit deur God wat die persoon na Hom toe getrek het (vgl. Johannes 6:29, 37, 39, 44, 65; 10:29). Die geloof kom deur die oortuigingswerk van die Heilige Gees (vgl. Joh 16:7-11, Ef 2:8). Die doop is slegs die bevestiging van die verbond. 

Skrywer: Prof Francois Malan