Die betekenis van getalle in drome – Hermie van Zyl

Vraag

Leilanie vra:

Ek wil net weet of u dalk vir my meer inligting kan gee oor getalle in drome en in die Bybel. In my droom was die getal 647.

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Drome word dikwels in die Bybel deur God gebruik om sy wil aan mense bekend te maak. So lees ons van die Here wat aan Abimelek in ’n droom bekendmaak dat hy nie by Sara, die vrou van Abraham, mag slaap nie (Gen 20:3). So ook wanneer die Here aan Salomo in ’n droom verskyn en Hy vir Salomo vra wat dit is wat hy van Hom verlang (1 Kon 3:5). En die engel wat in ’n droom aan Josef die opdrag gee om Maria as sy vrou by hom te neem (Matt 1:20), en later om Maria en die Kind Jesus te neem en na Egipte te vlug (Matt 2:13).

Drome is egter nie die normale manier waardeur God sy wil aan ons bekendmaak nie. Daarvoor het ons die Bybel. Wie dus net wil staatmaak op drome en allerlei bonatuurlike maniere om God se wil te bekom, bewandel ’n ongehoorsame paadjie. As ’n mens nie bereid is om na Moses en die profete (= die Bybel) te luister nie, sal jy ook nie luister nie al staan daar iemand uit die dood op om met jou te praat (Luk 16:31). (Lees gerus wat ons ook elders op Bybelkennis.co.za oor drome te sê het; tik “drome” in by die soekfunksie en lees die verskeidenheid van artikels wat beskikbaar is.)

Ons vraagsteller verwys verder spesifiek na getalle in drome. Dié kom nie baie in die Bybel voor nie. Ons kry wel die volgende gevalle: Josef lê die farao van Egipte se drome uit toe die farao droom van sewe vet en sewe maer koeie/koringare, wat dan uitgelê word as alternatiewelik sewe goeie oesjare en sewe jare van misoeste en hongersnood (Gen 41). So is daar ook Daniël wat in ’n visioen verneem dat daar 70 tydperke sal wees waarin Jerusalem opgebou sal word, maar dat aan die einde hiervan ’n bose koning sal kom wat die Jode wreed sal verdruk (Dan 9:20-27). (Uit die geskiedenis weet ons dit was Antiogus IV Epifanes.) In genoemde gevalle het die getalle in die drome dus spesifieke verwysings gehad na jare en tydperke.

Getalle buite die konteks van drome kom egter dikwels in die Bybel voor. In algemene kontekste, byvoorbeeld as verwysing na die afstande tussen dorpe, het dit uiteraard ’n letterlike betekenis. Maar die telwyse is soms anders as vandag. Drie is dikwels nie ’n voltal nie, maar word opgemaak uit die begin, ’n voltal en die afsluiting, waar die begin en afsluiting nie noodwendig ’n voltal is nie. Byvoorbeeld, as daar gesê word dat Jesus drie dae in die graf was, dan is dit eintlik net die Vrydagmiddag en -nag, die hele Saterdag en die vroegoggend van Sondag. Volgens ons telling eintlik nie vol drie dae nie, maar vir die antieke mens wel.

Getalle word ook baie as simboliese aanduidings in die Bybel aangewend. So het die getalle vier, ses, sewe, tien, 1 000 en 144 000 in die boek Openbaring almal simboliese betekenis. Vier in Op 4:6 verteenwoordig die hele skepping; ses is die getal van die mens, met 666 as die uiterste vorm van die mens in sy opstand teen God (Op 13:18); sewe en tien is getalle wat afgerondheid en volledigheid uitdruk (bv Op 1:20; 2:10); 1 000 (bv Op 20:3) is opgemaak uit 10x10x10 en het te make met ’n afgeronde tyd waar die evangelie ten volle sy loop neem op aarde; 144 000 is opgemaak uit 12x12x10x10x10. 12×12 verwys na die twaalf stamme van Israel en die twaalf apostels, en 10 tot die mag drie is die totale voltal van alle gelowiges.

’n Mens sou natuurlik kon sê dat hierdie getalle in Openbaring wel in ’n “droom” voorkom omdat die hele boek eintlik ’n visioen is (Op 1:10). En visioene is soms moeilik te onderskei van drome. ’n Mens kan wel sê dat drome normaalweg in ’n gewone slaaptoestand voorkom (bv Matt 1:20) terwyl visioene eerder ’n soort sinsverrukking is wat nie noodwendig aan ’n slaaptoestand gekoppel is nie (bv Hand 9:3-7). Maar na my mening behoort ons nie die getalle van die boek Openbaring te sien as iets wat in gewone droom voorkom nie, gesien die aard van Openbaring as apokaliptiese literatuur met besondere visioenêre eienskappe. Die slotsom is dus dat getalle in drome nie baie voorkom in die Bybel nie.

Laastens, wat die betekenis sou wees van die getal 647 in ons vraagsteller se droom het ek geen idee nie. Na my beste wete is dit nie ’n getal wat in die Bybel voorkom nie. Ek kan my dus nie daaroor uitspreek nie. Maar in die lig van bostaande uiteensetting, en wat elders oor drome geskryf word op ons webblad, Bybelkennis.co.za, sou ek versigtig wees om besondere betekenis daaraan te heg.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die Biddende Hande – Hermie van Zyl

Susan vra:

Kan julle asb aan my inligting verskaf of die biddende hande ’n “curse” is wat ons aanbid? Mag ek die biddende hande in my huis hê as simbool van God se liefde vir my in gebed?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Met “biddende hande” verwys ons vraagsteller waarskynlik na die bekende penskets deur Albrecht Dürer van die gevoude biddende hande waarvan daar afdrukke in baie huise hang. Die oorspronklike is ongeveer in 1508 geskets en hang tans in die Albertina-museum in Wene, Oostenryk. Oorspronklik was dit deel van ’n groter skets van ’n apostel besig om te bid. Die hande het toe later losgeraak van die groter eenheid en as ’n selfstandige skets voortbestaan. Daar word gespekuleer dat Dürer sy eie hande gebruik het as “model” vir die skets. Die punt is egter: die hande is die uitbeelding van ’n innige gebedshouding, en juis om daardie rede het dit so bekend en gewild geraak as simbool van ’n lewenshouding van opregte Godsvertroue.

Nou is daar egter sommige Christene wat allerlei sinistere betekenisse in die biddende hande probeer vind. Hulle sien dit as bedelaarshande met ’n heidens-Oosterse agtergrond, spesifiek in die Hindoeïsme of Boeddhisme, en merk dit selfs as Satanisties aan. Dit word verder ook so voorgehou dat as jy dié hande in jou huis het jy (onwetend) gekontamineer raak met heidense invloede en jy so ’n vloek oor jou huis bring. Allerlei anekdotiese verhale word dan ook vertel oor hoe sleg dit met mense gegaan het met dié hande in die huis, en die oomblik toe dit verwyder is, het dit beter met hulle begin gaan. Daar is spesifiek ook ’n finansiële konnotasie: die gevoude hande sou dan bedelaarshande voorstel wat eintlik niks van God verwag nie; daarom gaan dit finansieel sleg met mense wat dié hande in die huis het. Daarteenoor word dan die ware Bybelse gebedshouding gestel – die oopgespreide, opgehefde hande tot God (bv Ps 28:2; 134:2; 1 Tim 2:8). Slegs so – met die regte gebedshouding – kan dan ook finansiële voorspoed verwag word.

Hoe moet ons oor hierdie siening oordeel? Die volgende gesigspunte is myns insiens relevant:

  • Dit is vir my moeilik om in te sien hoe ’n erkende simbool van Christelike gebedspiëteit sonder meer in verband gebring kan word met heidense invloede. Selfs al sou daar ’n tradisie in een of ander Oosterse godsdiens bestaan van saamgevoude bedelaarshande, beteken dit nog nie dat óns daardie konnotasie daaraan (moet) heg nie, veral nie as die biddende hande van Dürer spesifiek geskets is om Godsvertroue uit te beeld. Dit klop net nie. “Beauty is in the eye of the beholder”, lui die Engelse spreekwoord, bedoelende: die waarde wat iets vir jou het, hang alles af van die waarde wat jý daaraan tóéken. Die punt is: daar is niks intrinsiek aan die biddende hande wat dit koppel aan een of ander heidense godsdiens nie. Inteendeel, die ontstaan van die skets is juis Christelik. Daar is niks inherent boos aan die biddende hande nie; dit hang af van hoe jy daarna kyk. Soos Paulus dit stel in Romeine 14:14: “… niks is vanself onrein nie. Maar as iemand iets as onrein beskou – vir hom is dit dan onrein.”
  • Dit is wel so dat opgehefde hande ’n gebedshouding is wat in die Bybel voorkom. Maar dit beteken nie dis die enigste regte gebedshouding nie. Gebedshoudings is baie kultuurgebonde; gevoude hande (soos in Dürer se skets) het veral in die Weste ontwikkel as ’n simbool van gebedspiëteit, waar die bidder sy afhanklikheid van en vertroue in God uitbeeld. Dit druk verder die gedagte uit dat jy op niks geregtig is nie, maar pleit om God se genade. Die sogenaamd Bybelse gebedshouding van opgehefde hande is dus nie beter as ander net omdat dit in die Bybel voorkom nie. Dit verseker ook nie gebedsverhoring nie. Gebedsverhoring het niks te make met jou gebedshouding nie, maar met die ingesteldheid van jou hart. Daarom het die tollenaar van Lukas 18:9-14 regverdiger huis toe gegaan as die Fariseër, al het die tollenaar nie die regte gebedshouding gehad nie. Hy het nie eens na die hemel opgekyk nie, maar op sy bors geslaan toe hy bid. En in elk geval, opgehefde hande is nie die enigste gebedshouding wat in die Bybel voorkom nie; daar is ook gevalle waar mense op die grond neerval voor God (Num 24:4; Matt 4:9). Die punt is: daar is verskillende gebedshoudings, in die Bybel en in verskillende kulture. En verder, die “regte” gebedshouding verseker nie outomaties die regte resultate by God nie; omgekeerd, ’n “verkeerde” gebedshouding kan ook die “regte resultate” lewer. Dit hang alles van die bidder se ingesteldheid af.
  • Die siening dat die biddende hande ’n heidense konnotasie het, raak ook die hele kwessie van toevallige beïnvloeding aan. Sommige Christene glo dat as jy ’n “heidense” simbool aanraak of in jou huis inbring, jy daarmee outomaties ’n vloek of demoniese binding op jou huis plaas. Godsdiens werk egter nie so nie. Natuurlik moet mens mooi dink om sommer enige afbeelding of simbool in jou huis in te bring, want waarmee jy jouself omring, sê ook iets van jouself. Maar dit het niks te make met outomatiese besoedeling of demoniese binding nie. Fisiese voorwerpe is nie as sodanig boos nie en kan nie outomaties ’n vloek op jou huis plaas nie. Die enigste manier waarop die Bose beslag kan lê op ’n mens is wanneer jy doelbewus van God se pad afdwaal en jou met die werk van die Bose begin besig hou. So ’n beslaglegging volg egter eers na ’n lang tydperk van volhardende afdwaling, en het ook nie noodwendig Sataniese binding of duiwelbesetenheid tot gevolg nie. Die gelowige wie se hartlike begeerte dit is om in liefde en toegewydheid aan God en die naaste te lewe, het niks te vrees vir die binding deur die duiwel of toevallig duiwelse beïnvloeding nie. Die Bybel wys ’n duidelike weg aan hoe om met “duiwelse beïnvloeding” te handel in die normale gang van sake (vgl Jakobus 4:7; 1 Petrus 5:8-9; Efesiërs 6:11).
  • ’n Mens moet oppas vir ’n raak nie, smaak nie, roer nie aan nie-houding. Paulus waarsku hierteen in Kolossense 2:16-23 as hy sê dat die gemeente hulle nie moet laat mislei deur ’n selfgemaakte godsdiens van danige nederigheid en van menslike leerstellings en gebooie wat ander gedurig waarsku nie: hieraan mag jy nie vat nie; daaraan mag nie jou mond sit nie; daaraan mag jy nie raak nie. Dit kan uitloop op ’n soort wettiese godsdiens waar jy jou selfgemaakte reëls aan ander opdring en ander veroordeel wat nie jou opvattings deel nie. Nee, oor sekere dinge het Christene bepaalde vryhede en keuses wat hulle mag uitoefen. En ek dink dat die afbeelding van gevoude biddende hande een van daardie dinge is waaroor ons mekaar ruimte moet gun om te verskil, sonder om wetties en rigied daaroor te raak. Ek hoef my nie te laat intimideer deur mense wat my vanuit hulle “dieper kennis van sake” probeer oortuig dat hulle siening reg is nie. Maar daar is nog ’n verdere perspektief, wat ons by die laaste gedagte bring.
  • Ons kan gerus leer uit Paulus se hantering van sake waar Christene in sy tyd radikaal verskillende sieninge omtrent die gevaar van duiwelbeïnvloeding gehad het. In Romeine 14 en 1 Korintiërs 8 handel hy oor die destyds sensitiewe aangeleentheid van vleis wat in afgodstempels aan afgode gewy is en agterna in die slaghuise vir die algemene publiek beskikbaar gestel is. Sommige Christene het geweier om van die vleis te eet omdat hulle gedink het dat mens so deel kry aan die afgodsdiens. Ander het geredeneer dat afgode in elk geval nie bestaan nie; vleis is vleis, Christene is dus vry om daarvan te eet. So tussen die reëls blyk dit dat Paulus ook so gedink het, maar hy hanteer die saak nogtans so deur daarop te wys dat hierdie verskillende sieninge nie deurslaggewend vir ’n mens se geloof is nie. Christene moet dus mekaar se standpunte respekteer. Veral diegene wat nie gewetensbesware teen die eet van afgodsoffervleis het nie moet die ander wat dit wel het se gevoelens in ag neem en nie onnodig aanstoot gee deur hulle oortuigings op die ander af te dwing nie. Dis die weg van die liefde. Toegepas op die kwessie van gebedshande: As dit vir jou ’n gruwel is, bly weg daarvan. Maar moenie ’n kruistog daarvan maak asof almal jou siening moet deel en ook sulke afbeeldings uit hulle huise moet weghou nie. As hulle nie daardeur gepla word nie – trouens, juis daardeur gestig en versterk word – respekteer dan hulle siening. Andersom: mense wat geen probleem het met die gebedshande nie, moenie dié wat dit wel het afmaak as bekrompe geesdrywers wat in alles ’n duiwel sien nie. Al stem jy nie met hulle standpunt saam nie, respekteer dit en aanvaar hulle as mede-Christene wat ook die Here liefhet.

My slotsom is: In die lig van bostaande uiteensetting hoef ons vraagsteller na my oordeel nie bang te wees dat sy ’n vloek oor haar huis bring met ’n skets of beeld van die biddende hande nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Ouer se rol in ’n volwasse kind se lewe – Hermie van Zyl

Karwen vra:

My dogter, 23, word verkeerdelik beïnvloed. Wat is my rol as ouer?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ons vraagsteller sê nie wat die aard van die verkeerde beïnvloeding is waaraan haar dogter onderwerp word nie. Dit kan enigiets wees van wat die ouer nie van hou nie maar wat nie noodwendig verkeerd of nadelig is nie, tot wat regtig skadelik is vir die dogter, trouens vir enige volwassene.

In eersgenoemde geval moet die ouer aanvaar dat verskillende opvattings en leefstyle tussen die ouer en jonger geslag maar altyd probleme skep. Dit is moeilik vir ’n ouer om te aanvaar dat sy of haar kind ’n eie leefstyl ontwikkel wat dalk nie met die ouer s’n ooreenstem nie. Byvoorbeeld, die dogter besluit om eerder ’n ander kerkgenootskap se dienste by te woon as die kerk waarin sy grootgemaak is en belydenis van geloof afgelê het. Die nuwe kerk van die dogter het ander maniere van glo en doen wat die ouer nie aanstaan nie. En nou dink die ouer die kind is onder verkeerde invloede en besig om “af te dwaal”. Groot ongelukkigheid en konflik kan hieruit voortvloei. Elke kontak met jou kind kan in ’n “armdruksessie” ontaard waarin jy probeer om haar “terug te wen”. Maar in hierdie geval moet die ouer goeie oordeel aan die dag lê en liewer terugstaan. Vra jouself af: Is my kind “verlore” net omdat sy in ’n ander kerk is of is sy steeds ’n oortuigde gelowige? Is daar steeds genoeg gemeenskaplike grond wat maak dat ons as mede-Christene oor die weg kan kom, al is haar oortuigings nie (meer) presies dieselfde as myne nie? Met ander woorde, fokus op die dinge waaroor julle saamstem, eerder as waaroor julle verskil. Laat jou kind toe om haar eie ding te doen.

Maar dan is daar natuurlik beïnvloeding waaroor die meeste nugterdenkende Christene sal saamstem dat dit op die lang duur skadelike gevolge vir die dogter kan inhou. Dit kan die gevolg wees van slegte vriende wat ’n bedenklike invloed uitoefen op jou dogter en haar saamsleep op ’n pad waarvan die einde niks goeds voorspel nie. Niks is vir ’n ouer pynliker as om jou kind op ’n gewisse pad van seerkry te sien en daar is nie veel wat jy daaraan kan doen nie. Jou kind is volwasse, het die huis reeds verlaat, verdien haar eie inkomste, kies haar eie werk- en vriendekring, en neem haar eie besluite. Dis amper soos in die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15) waar die vader voor die voldonge feit van sy jongste seun se slegte keuses en latere dekadente leefstyl gestel word, maar nie veel daaraan kan doen nie. Al wat hy kan doen, is om te wag op die seun se terugkeer. Maar hierdie wag is nie een van ongeërgde niksdoen nie; dis ’n heilige wag van genade, liefde, gebed en verlange; ’n wag wat die seun later onthou en hom laat besluit om terug te keer na sy vaderhuis toe. Dis nie die vader se afkeuring en bittere teleurstelling wat die seun laat terugkeer nie, maar juis sy vader se liefde en die herinnering aan hoe goed en veilig dit by die huis is.

Uiteraard, nie alles in hierdie gelykenis is presies oordraagbaar na vandag toe nie, maar die suigkrag van die vader se liefde, genade en verlange op die seun kan steeds deel van ons optrede vandag wees teenoor weerbarstige volwasse kinders. Die volgende kom ter sprake:

  • Hoe moeilik dit ook al is, eerbiedig jou kind se keuses. Uiteraard sal mens die slegte gevolge van die situasie waarin sy verkeer vir haar uitwys, haar daarteen waarsku en by haar pleit om aan die invloed daarvan te ontsnap. Maar hanteer die situasie so dat jou kind weet die keuses wat sy maak, is haar eie en dat sy ook die gevolge daarvan moet dra. Die beste wat mens eintlik in so ’n situasie kan doen, is om te bid en te vertrou dat die voorbeeld wat jy aan jou kinders gestel het uiteindelik die deurslag sal gee. Niemand kan die voorbeeld van liefde, volharding in en getrouheid aan die goeie wat in die ouerhuis gestel is, uitwis in die kind se gemoed nie. Hoe sy ook al daarteen rebelleer, dit is deel van haar geloofs-DNS. En een of ander tyd laat dit die pendulum terugswaai en bring dit weer koers en rigting in jou volwasse kind se lewe.
  • Moenie jou kind afskryf nie. Bly betrokke, op so ’n manier dat sy weet die ouerhuis se deure staan oop; sy kan enige tyd reken op die ouer se bystand, begrip en hulp op die pad van herstel. Hierdie betrokkenheid beteken natuurlik nie goedkeuring van haar besluite of gedrag nie, maar beteken wel dat ten spyte van jou afkeur van haar keuses die ouerlike liefde en aanvaarding van haar as persoon blywend is. Dít is juis die verstommende waarheid van die gelykenis van die verlore seun – dat die vader nie verwyt nie, maar in sy groot liefde en genade verlang na die seun se terugkeer en hom uiteindelik terug ontvang en as kind herstel in die huis. Dit help nie om verbitter te raak en te sê: Ek het jou mos gewaarsku; jy wou nie luister nie; nou het jou lewenskeuses jou ingehaal en kan jy self sien en kom klaar. Wees dáár wanneer jou kind hulp soek.
  • Daar kan natuurlik ’n ekstreme situasie ontstaan waar jou kind se lewe fisies in gevaar is – byvoorbeeld, weens dwelmmisbruik. Dan gaan dit nie net meer oor beïnvloeding nie, maar oor ’n lewensbedreigende situasie. Dit is dan klaarblyklik ’n geval waar ’n mens nie veel opsies het of keuses aan jou kind kan oorlaat nie, maar waar ouerlike liefde tot drastiese optrede moet oorgaan. In so ’n geval sal mens alles in werking stel om jou kind te laat opneem in ’n inrigting waar sy gerehabiliteer kan word, of sy dit nou wil hê of nie. Maar dít is uiterste gevalle wat waarskynlik nie ter sprake is in ons vraagsteller se situasie nie.

Gewis, die hantering van volwasse kinders wanneer hulle kennelik onder slegte invloede verkeer, is nie maklik nie. Die kernoptrede bly egter: Bly betrokke, maar op ’n manier wat hulle menswees respekteer en hulle graag na jou sal wil laat terugkeer.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Het die skeppingsverhaal en sondeval werklik gebeur. – Jan van der Watt

Oor hierdie vraag is daar heelwat artikels in Bybelkennis.co.za en die gegewens hoef nie weer herhaal te word nie. Reaksie op die vraag kan dus gerus daar nagegaan word. Tog sou net een of twee opmerkings oor waarom mense so stry oor of die skeppingsverhaal regtig gebeur het en of Jona in die vis was (lees ook die artikel hieroor op Bybelkennis.co.za). Dit is belangrik om te onthou dat verskillende literatuurtipes op verskillende maniere kommunikeer. As jy bv. nie weet ‘n grappie ‘n grappie is nie, mag jy jou bloedig vererg. Of as jy dink ‘n gedig moet presies letterlik verstaan word, kan dit jou dalk aan die wonder sit, veral as daar staan dat jou meisie se oë sterre is en haar mond heuning! Daarom moet ons seker maak dat ons weet wat se soort literatuur ons lees as ons dele van die Bybel lees. Daar is byvoorbeeld gelykenisse, wonders, psalms, wysheidsliteratuur, briewe, geskiedenis en so kan ons aangaan.

As ons dus besluit die skeppingsverhaal in Genesis 1 is letterlike geskiedenis dan moes alles in ses dae en net so gebeur het. As mens egter dink dit is ‘n gedig wat die waarhede van die skepping weergee hoef alles nie net so te gebeur het nie. ‘n Gedig probeer mos nie presiese geskiedenis te vertel nie, maar wil die waarhede op ‘n mooi manier oordra. So sal Genesis dat op ‘n mooi manier wil vertel hoe wonderlike en sistematies die skepping is en dat dit uit die hand en deur die krag van God kom.

Dieselfde geld vir Jona. As Jona presiese geskiedenis wil weergee, moes daar ‘n vis gewees het wat hom ingesluk het en dan moet mens ook bespiegel hoe hy aan die lewe gebly het. Oordeel mens dat dit ‘n mooi simboliese beskrywing is wat die boodskap wil weergee hoe Jona verder en verder van God af weggeneem word en so besef hoe nodig hy God regtig het, dat lê die klem meer op die boodskap. Lees Jona 2 mooi en kyk wat jy dink dit presies is.

Die betekenis van die gedeeltes is dus direk afhanklik van watter tipe literatuur mens dink dit is. So word die betekenis van die teks  dikwels al bepaal voor ons nog begin lees!

Skrywer:  Prof Jan van der Watt